Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bestel hier

Hier is Marita van der Vyver se antwoorde op ons lesers se vrae. Marita het aanbeveel dat die wenkopie van Vergenoeg gaan aan vraesteller nommer 6 vir die vraag oor Survivor. Baie geluk!







LitNet-lesers se vrae aan Marita van der Vyver

1.

Ek het nog altyd baie respek vir jou as skrywer en as ma gehad. Dit vat baie van ’n mens om in die vreemde te skryf in Afrikaans en ’n nuwe kultuur aan te leer.

Dit sal baie vir my beteken as jy my kan inlig hoe om getrou te kan wees aan Afrikaans in die vreemde, en waar kry jy jou idees vir ’n nuwe boek?

Marita: Die beste manier om getrou te bly aan jou taal, is om in jou taal te bly skryf. En te probeer om goed genoeg te skryf dat mense sal aanhou om jou taal te lees. Idees vir ’n nuwe boek was nog nooit vir my ’n probleem nie. Alles wat ek belewe, alles wat in die wêreld om my gebeur, selfs ’n simpel klein beriggie in ’n koerant, kan aanleiding gee tot ’n storie. Die enigste probleem is om die tyd te vind om al die stories te skryf wat ek nog wil skryf.


2.

Vandat ek ’n 5-jarige dogtertjie was, het lees en skryf, wat eintlik maar onlosmaaklik deel van mekaar is, my gefassineer. Ek kon ure in ons klein plaaslike bibliotekie deurbring en myself verplaas na plekke sonder grense. Soos wat ek ouer geword het, het skryf die grootste uitlaatklep van my emosies geword. Aanvanklik meestal humor en deesdae bra enige iets, maar ek het net een groot probleem, en daaruit vloei my vraag.

Hoe diep lê die skeidslyn volgens jou eie skrywes tussen fiksie en niefiksie? Na my mening is dit amper vergelykbaar met ’n inkleurprent, waarvan die niefiksie-deel die getekende prent is, reeds vasgevang op die papier, en die fiksie die gedeelte wat ek met inkleurpotlode nog moet byvoeg! As die prent voltooi is, is die geheelbeeld so onlosmaaklik deel van die ander ... Sou ’n mens na jou mening dit ooit kon skei? Sou jy dus saamstem, geen storie wat jy skryf is net fiksie of net waarheid nie? Of kan jy tog wel die twee skei?

Verskoon dat ek dit so half analities probeer beskou; miskien moet ’n mens nie, maar aangesien ek van teenstrydighede hou — juis omdat dit my denke stimuleer en my elke keer ’n nuwe “draad” vir ’n storie gee — sou ek graag wou hoor hoe dink jy, Marita, daaroor. Die vraag is slegs ter nabetragting, want terwyl ’n mens skryf, of jou denke vlerke gee, is dit die laaste gedagte wat jou pla, dan rol die woorde in alle geval sonder grense ... Sou graag jou denke rondom dit wou hoor.

Marita: Ek hou van jou beeld van die inkleurprent. Die Kanadese skrywer Robertson Davies het op ’n keer gesê: “To ask an author who hopes to be a serious writer if his work is autobiographical is like asking a spider where he buys his thread.” (’n Uitspraak wat toevallig ook aansluit by die draad vir die storie waarna jy verwys.) Ek kan net amen sê. Alle skrywers put uit hulle eie ervarings. Sommiges vermom hulle eie ervarings net beter as ander. Deur hulle karakters ’n ander ras of geslag te gee, in ’n ander eeu te laat lewe, dinge te laat doen wat hulle self te bang is om te doen. Maar die draad kom altyd uit jou eie lyf.

3.

Indien jou boeke dieselfde taalpad as byvoorbeeld Daar’s vis innie punch volg, sou mens dalk met ’n titel soos Griet script ’n sprokie te doen kry. Wat’s jou input oor Afrikaans en Engels wat dieselfde sin deel?

Marita: Ek raak hierdie kwessie aan in ’n lesing wat ek binnekort by ’n jeugboekkongres in Antwerpen moet gee, dus is ek reg met my antwoord! As ek dialoog skryf, is die belangrikste maatstaf vir my lewensgetrouheid, opregtheid, geloofwaardigheid. En ons weet almal dat vele Afrikaanses, jonk én minder jonk, hulle spreektaal deurspek met Engels. Dus laat waai ek soms met Engelse woorde in stukke dialoog. Solank dit pas by die karakter wat aan die woord is. Maar as dit by die res van die teks kom — alles rondom die dialoog — draai ek briek aan voor elke Engelse woord, vloekwoord, doelbewuste taalfout ter wille van lewensgetrouheid, en ander stylgoggas. Want in dialoog is dit ’n karakter wat praat, maar in die res van die teks moet die skrywer se eie stem — en styl — na vore tree. Dit beteken nie ek verbied myself om Engelse woorde te gebruik nie — die hemel behoed my teen sulke selfsensuur — maar ek sorg dat ek ’n rede het vir elke Engelse woord.


4.

Marita, As jy na ’n kuier in SA weer teruggaan Provence toe, voel jy ook jy gaan huis toe, of laat jy na elke kuier ’n stukkie van jou hart agter in SA?
Marita: Elke keer as ek Tafelberg sien, voel ek nóú is ek tuis. En elke keer as ek terugkeer na Provence, waar my gesin en my boeke en die vier mure van my huis op my wag, en ek sien ons naaste berg, Mont Ventoux, voel ek nóú is ek tuis. Dis die berge wat dit vir my doen. Hulle sê jou huis is waar jou hart is, en my hart is blykbaar in twee geskeur. Die een helfte het ek teen Tafelberg vergeet, die ander helfte tel ek aanmekaar teen die hange van Mont Ventoux op.


5.

In al jou vorige boeke kon ek sodanig met ’n karakter (gewoonlik die hoofkarakter) identifiseer dat dit vir my gevoel het die boek is rondom my geskryf! Dat dit ek is waaroor die boek nou eintlik gaan. Is dit in jou nuwe boek ook die geval?


Marita: Dankie, dit bly vir my die mooiste kompliment wat ’n leser aan ’n skrywer kan gee. Jy’t oor my geskryf. Dis ek daai. Ek sal graag wil hoor met watter van die twee susters in Vergenoeg jy identifiseer …


6.

As jy Survivor moes speel met al die karakters in Wegkomkans, wie sou jy eerste van die eiland afskop en hoekom?

Marita: Oorspronklikste vraag wat ek in jare gekry het! En moeilik, want my karakters raak ’n bietjie soos my kinders, en ’n ma kan mos nie tussen haar kinders kies nie. Aan die ander kant, ’n ma vergeet nooit haar kinders se name nie, selfs al is hulle lankal uit die huis, en ek vergeet gereeld my karakters se name as ek eers klaar is met ’n boek. (Ek moet hulle uitskop om plek te maak vir die volgende karakters in ’n volgende boek.) Dus moet ek bieg dat ek eers gou na die “foto” voor in Wegkomkans moes kyk om jou vraag te beantwoord. As jy my nou rêrig gaan dwing om te kies, sou ek seker maar vir Philip opoffer. Ek het hom klaar laat doodgaan in die storie, en die res het sonder hom aangegaan, dus sal hulle seker ook op ’n eiland sonder hom kan aangaan?

7.

Beskou jy jouself as ’n “literêre” skrywer, of skryf jy vir ’n ander mark?

Marita: Ek beskou myself as ’n skrywer. Ek het vrede met enige byvoeglike naamwoorde behalwe goeie. Ek sou graag eendag deur ander as ’n goeie skrywer beskou wou word.

8.

Wat dink jy van die toekenning van die Nobelprys aan JM Coetzee?

Marita: Ek het so ’n rare opwelling van patriotisme gevoel toe die Franse TV aankondig dat die Nobelprys deur un ecrivain sud-africain gewen is. Raar, want ek voel nooit juis patrioties as Ernie Els op die gholfbaan presteer of as die Springbokke ’n rugbywedstryd wen nie. Eintlik wantrou ek patriotisme. So ek het daaroor gaan wonder. Is ek só uitgehonger dat Suid-Afrika ook op kulturele gebied ’n slag iets van wêreldgehalte voortbring? Of het dit te doen met Coetzee se weggesteekte Afrikaanse wortels? Ek wonder steeds …

9.


Wie is jou vyf gunstelingskrywers?

Marita: Ek het gunstelingboeke eerder as gunstelingskrywers; ek hou nie ewe veel van elke boek van selfs die briljantste skrywer nie. Maar daar is sekeres wat my deur die jare so gereeld bevredig het dat ek enigiets nuuts van hulle sal lees.

Ek bepaal my nou by lewende skrywers, anders word die veld te wyd. Kanadese soos Michael Ondaatje en Margaret Atwood. Britte soos Ian McEwan en Martin Amis. Amerikaners soos Toni Morrison en (net om te wys ek het nie ’n subjektiewe voorkeur vir skrywers wie se naam óf van met ’n M begin nie) een van die heel grootstes, Don DeLillo. Vir my was Underworld The Great American Novel van die tweede helfte van die twintigste eeu.


10.

Wat beteken dit om ’n “exile”-skrywer te wees? Sien jy jouself as deel van ’n wêreldwye verskynsel?

Marita: Ek sal myself nooit as ’n exile beskryf nie. Dit sou aanmatigend wees, veral as jy aan die onlangse Suid-Afrikaanse verlede dink. ’n Exile is iemand wat nie mág teruggaan nie. Ek beskou myself bloot as ’n expatriate, met die eenvoudige betekenis van ‘buite die vaderland’. En ja, skrywers wat buite hulle vaderland lewe, om watter redes ook al, is nie net ’n wêreldwye verskynsel nie, dis ook ’n eeue-oue verskynsel. Dit het lankal ’n soort occupational hazard geword. Soos alkoholisme en depressie en waansin.


11.

Ondergaan jou Afrikaans ’n verandering in die vreemde — dalk heel subtiel (omdat jy dit nie heeldag hoor nie)? Afrikaans ontwikkel heeltyd, sê die taalmense. Hoe gaan jy oor twintig jaar skryf as jy so ver buite die taal leef? Is jy nie bang dat jy uiteindelik dan ’n soort outydse taal gaan gebruik nie?

Marita: Ek dink nie my skryftaal word deur my verblyf in die vreemde beïnvloed nie. Met my vorige besoek aan Suid-Afrika het vriende wel opgemerk dat die ritme van my spreektaal verander het, sagter en meer melodieus geword het, maar miskien is dit hulle verbeelding, omdat Frans veronderstel is om sagter en meer melodieus te wees. Ek weet nie hoe ek oor 20 jaar gaan skryf nie; ek kan nie my lewe so ver vooruit beplan nie. Vra my weer in 2023. Maar ek is nie bang vir ’n “outydse” taal nie, nie in hierdie era van blitskommunikasie nie. Ek is immers nie soos die arme Robinson Crusoe op ’n eiland afgesonder nie. Ek kry elke dag e-pos van Afrikaanse vriende en kennisse, ek lees Afrikaanse koerante en tydskrifte op die Internet, ek kry Afrikaanse boeke deur die pos kort nadat hulle verskyn het, en les bes, ek vlieg gemiddeld twee keer ’n jaar na Suid-Afrika.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.