Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uit die perd se bek

Lize Odendal

Favory Merlin, nege jaar oud.

Die dansende wit Lipizzaners van Kyalami is dekades al deel van die ingewikkelde laslap van kulture wat ons Suid-Afrika noem. Lize Odendal het met die ster van die Kyalami Lipizzaners, die negejarige Favory Merlin, gesels oor hul besoek aan die Kaap*1. Merlin is ‘n uitsonderlike perd deurdat hy al op so ‘n vroeë ouderdom as soloïs optree.

Waar kom die naam Lipizzaner vandaan?

Ene Charles, aartshertog van Oostenryk, het in 1580 sy koninklike stalle in Lipizzan, naby Trieste in vandag se Slowenië, ingerig... Anner perde sê ons was al in 1565 op die toneel. Ons is nie vulletjies nie.

Het jou ma jou die storie van Hannibal se tog oor die Alpe vertel?

Die storie van Hannibal en die Lipizzaners is ‘n legende, jy weet. Hannibal het blykbaar van ons voorvaders, Spaanse perde, gebruik gemaak om in 218 vC die Alpe oor te steek. En Richard die Leeuhart het van dieselfde perde gebruik gemaak om die Sarasene te oorwin. So sê die geskiedenisboeke. Julius Caesar skryf oor hulle in sy De Bello Gallico – nie dat ek weet wat dit is nie ...

Dis Julius Caesar se boek oor sy oorlog van nege jaar in Gaul

Daar het jy dit nou.

Plesier. Is julle nie eintlik Spaanse perde nie?

Eintlik is ons ‘n bietjie soos die reënboognasie. Ons is ‘n lekker mix van drie bloedlyne: Andalusies, Arabies en Vilano’s. Die More het die merries met hul woestynhingste gekruis en dis seker maar hoekom ons nog so Moors lyk. Toe Spanje gekersten is, is ons met die Vilano’s van die Pireneë gekruis – hulle was ‘n langer en sterker perdefamilie. Dis hoekom ons nou sterk én vlugvoetig is.

Hoe sou mens ‘n Lipizzaner beskryf?

Wel, ons is eerlik, openlik, bedaard, rustig maar vurig, lojaal en saggeaard. En, natuurlik, uiters intelligent. Fisiek het ons diep borskaste, groot, sagte oë, ‘n lang en breë rug, ‘n lae skof, sterk bene; ons hoewe is goedgevorm; en ons staan so 14 na 15 hande hoog. Ons is aantreklike diere. Sommiges noem ons Barok-perde.

Tussen hakies, hoekom sê ons iets kom uit die perd se bek?

Omdat ons weet waarvan ons praat. Eintlik weet ons tande ...

Julle tande …

Uhh, ja. “Uit die perd se bek” beteken mos dat jy die inligting kan glo wat iemand jou gee. Dit kom uit doerie tyd toe dit eintlik beteken het as jy ‘n man is wat op die perde wed, jy maar die tip kan glo, want dit kom uit die perd se bek. Jy kan mos aan ‘n perd se tande sien hoe oud hy is. So, as dit uit sy bek uit kom, is dit die waarheid, want sy tande lieg nie ...

Vir sulke trotse Europese perde het julle ‘n eienaardige kinkel in die kabel wat julle oorlewing betref.

Wat bedoel jy?

Wel, wie sou kon dink dat generaal S Patton se manne van die van die 2de Kavallerie jou … uhh … voorvaders sou red?

Ja, nè. Lekker storie, nogal. Kolonel Alois Podhajsky, hoof van die Spaanse Ryskool in Wenen, was bekommerd dat die perde nie die doodsnikke van die oorlog sou oorleef nie en het hulle na ‘n ander deel van Oostenryk verskuif. Die Amerikaners was juis in St Martin toe een van die manne die perde erken het en genl Patton laat weet het hulle is in die dorpie. Patton en Podhajsky was albei Olimpiese ruiters. In elk geval, Podhajsky reël toe dat Patton ‘n spesiale vertoning van die perde bywoon en dié is toe so beïndruk met die vertoning dat hy daar en dan belowe die perde sal onder die voogdyskap van die Amerikaanse leër wees tot hulle weer kon terugkeer Wenen toe. En so gaan die storie toe nou aan met oral kinkels en kabels en die Duitsers wat die Amerikaners help (hulle was bang die Russe eet die perde), want die hingste en die merries en die ponies was nie saam in St Martin nie, ens. Ook nie die eerste keer in die geskiedenis dat dit met ons gebeur nie, maar in elk geval … dis ou nuus ... behalwe dat dit vanjaar presies 60 jaar is nadat Patton verseker het dat daar altyd Lipizzaners in Wenen sal wees.

Julle is vol airs en graces, sê die mense.

Hmm … mense wat nie weet wat dit beteken nie, duidelik. “The airs above the ground” is die naam van sommige van die passies wat ons uithaal. Soos die lavade, waar ons kastig ons ruiter uit sy aanvaller se swaard se pad wil hou. Ek staan op my agterbene, so 35 grade van die grond af, en trek my bene in. Nou hou ek my balans. Dit lyk of ek terugsak op my agterbene. Jy moet deksels sterk wees om dit te kan doen. Dit sit nie in enige perd se broek nie. In die courbette lig ek my voorbene van die grond af, hou dit netjies voor my bors opgevou en hop so ‘n paar treë vorentoe. As jy regtig sterk is, kan jy so vier hoppe maak. In die capriole spring ek van my agterbene af reguit in die lug in (so met my voorbene teen my bors gevou) en land dan op al vier my bene. Dis nogal iets om te sien.

Levade.

Franse name, sien ek.

Reg.

Hoekom?

Geen idee nie.

Uhh, wat doen julle nog?

Wel, die klassieke dressage, en hier by Spier trek ons koetse en perdekarre en dans saam met Spaanse dansers en so aan. Net om die show so bietjie lewe te gee.

Wat maak jy in Suid-Afrika? Dis deksels ver weg van Oostenryk.

Jy bedoel, afgesien daarvan dat ek hier gebore is en grootgeword het?

Um, ja ...

Wel, in 1944 is ‘n handvol van ons deur graaf Jankovich-Besan in Oostenryk gered (dit was gedurende die oorlog, soos jy kan sien aan die datum) en hierheen gebring. Dit was my stamvaders. En stammoeders, natuurlik. Ons word in Gauteng geteel (by wyse van spreke) en dan trek ons af Touwsrivier toe waar ons by mnr en mev Johan Roodt op die plaas Lettaskraal grootword tot ons so drie jaar oud is. Ons is die enigste Lipizzaners buite die Spaanse Ryskool in Wenen wat toegelaat word om onder hul vaandel op te tree en hul naam te gebruik. En hier in Suid-Afrika is al die ruiters nog vrouens ook.

Hou jy daarvan?

Dis my ruiters, nie my merries nie. Gedra jou.

Hmmm, as jy so sê. Maar jy het darem al vier vullens … Mense hou van julle, nè?

Jip. Keiser Josef II het vereis dat die eienaars by die ryskool in Wenen weekliks ‘n verslag moes skryf oor hoe dit met elke Lipizzaner gaan.

Julle maak ou bene.

Inderdaad. Dis niks snaaks vir ons om op 25 nog te perform nie. Ons is ook die beste leermeesters vir jong ruiters. Ons vat hulle maar deur hulle passies, al dink hulle hulle doen die werk. Vriend Siglavy Beja in Oostenryk is al 35 jaar oud.

Wel, sukses met julle opvoerings by Spier. En so tussen hakies, pla die jagluiperds julle nie?

Dankie. Kom kyk gerus. En nee. Het jy al ‘n jagluiperd langs ‘n Lipizzaner laat staan? Dis soos gogga maak vir baba bang ...

Tien Lipizzaner-feite

1. Suid-Afrika se Lipizzanerperde is die enigste groep in die wêreld wat onder die vaandel van die Spaanse Ryskool in Wenen, Oostenryk, mag optree en hul naam mag gebruik. Ruiters en telers kom gereeld hierheen om kwaliteit te verseker en perde word ook tussen die ryskole uitgeruil vir teeldoeleindes.

2. Lipizzanerperde word donkerbruin of swart gebore. Teen hulle tiende verjaarsdag is hulle spierwit. Elke nou en dan word daar ‘n Lipizzaner gebore wat nooit wit word nie, maar donkerbruin of swart bly. Suid-Afrika het tans twee sulke perde.

3. Hierdie “swart Lipizzaners” word as gelukbringers vir hul land beskou. Die geloof is dat solank daar ‘n swart Lipizzaner in Wenen is, alles in Oostenryk goed sal verloop. Met Hitler se inval in hierdie land was daar geen swart Lipizzaners nie ...

4. Lipizzaners is deur Alexander die Grote gebruik om sy vyande se koppe af te skop ... hetsy as straf of gedurende ‘n geveg.

5. Lipizzaners is ‘n suiwerbloedlynperd wat nou al vir eeue nie met ander bloedlyne gemeng word nie. Die meeste ander perde wat vandag in dressage gebruik word, is “warmbloedige perde” maw perde wat ‘n mengsel van ou karperde en resiesperde is.

6. Daar is ses basiese bloedlyne: Conversano, Favory, Maestoso, Neopolitana, Pluto en Siglavy. Al ses die bloedlyne word in Suid-Afrika geteel.

7. Die perde se bloedlyne word op hul linkerwang gebrandmerk.

8. Hannibal het van Lipizzaners se voorvaders gebruik gemaak toe hy die Alpe oor is.

9. Julius Ceasar skryf oor dié perde in sy De Bello Callico.

10. Lipizzaners word gemiddeld tussen 24 en 35 jaar oud.

1. Favory Merlin en sy span besoek tans die Spier-landgoed buite Stellenbosch. Hulle tree vanaf 14 tot 23 Oktober, om 3 nm op Vrydae, en om 11 vm en 4 nm op Saterdae op. Bespreek by Computicket.


LitNet: 14 Oktober 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.