Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Haar naam klink so heilsaam soos outydse soetkoekies en oorgroeide anysbosse op wit rivierbeddings. Maar dis ook ’n naam wat terselfdertyd swaar dra aan sy Afrikanerskap, aan tradisie en aan Calvinisme. Dis Christina Landman.
Lirieke van die liefde
Koop nou!

Woorde wat heel maak
Koop nou!

Sonder fênsie leestekens

Jansie Kotzé

Sy lyk meer soos ’n skamerige tannie in haar olyfgroen pakkie met ’n rooi hempie daarby as ’n formidabele universiteitsprofessor wat telkens met omstrede uitsprake ’n volksdebat veroorsaak. Soos ’n jaar of twee terug toe sy voorblaaie gehaal het — selfs in die Engelse pers — met haar voorstel dat die Afrikaner na poligamie moet kyk as ’n moontlike oplossing vir ons hoë egskeidingsyfer. Daarna was daar weer ’n storm oor haar kritiek teen die “pienk” dagboekies waarin vroue in alle erns vertel word hoe om gedienstig, gedweë en gelukkig te wees. Sy het egter min tyd om haar te steur aan die debatte wat telkens om haar kop losbars. Haar dae is vol. Sy is ’n dosent in teologie by Unisa, ma van ’n elfjarige seun, student, ’n terapeut wat inspring en haar pasiënte prakties bystaan en help werk en skuilplek soek. “’n Mens kan nie met praatjies ’n probleem oplos nie, ek soek na strukture om die mense te bemagtig.”

Haar emosies word grotendeels op die agtergrond geskuif sodat sy haar kan toespits op die taak wat sy opgelê is. Ten spyte hiervan slaan die seerkry deur wat vrouwees in ’n manswêreld veroorsaak, van intellektueel wees in Pretoria, en van enkelloperwees waar dit verkieslik is dat ’n vrou van haar jare (forty something) in ’n permanente verhouding is of ten minste die begeerte uitspreek. Haar lofsange vir die enkellewe sing sy egter met oortuiging en entoesiasme.

Sy was nie altyd ’n alleenloper nie, elf jaar gelede was sy vier maande getroud, maar was reeds geskei voor die geboorte van haar seun. “Miskien het ek my verbeel ek was eensaam,” sê sy half moedeloos. Sy gun haarself min ruimte vir foute of swakhede. Ek kry die indruk sy is nog steeds half uit die veld geslaan deur haar onvermoë om binne die eiesoortige beperkinge van ’n huwelik te funksioneer. Gewoonlik is die projekte waarby sy betrokke is, uiters suksesvol. Sy voer aan dat eerder “die verkeerde persoon” in die verhouding was as wat dit ’n geval was waar sy met die verkeerde persoon getrou het.

Prof. Christina Landman het beslis ’n dubbele stel van standaarde. Die eerste stel is vir ander mense en die tweede een pas sy op haarself toe. Ander vroue neem volgens haar ten onregte van hulself verantwoordelikheid vir hul gebroke huwelike. Die feit dat dit presies is wat sy besig is om te doen, ontwyk haar blykbaar miskien vanweë haar meedoënlose kompassie. Sy wys ’n radelose stukkendheid wanneer sy oor haar vroulike pasieëte praat wat altyd maar net te bereid is om die verantwoordelikheid van ’n gebroke huwelik te aanvaar. “Afrikaanse vroue aanvaar vreeslik maklik skuld vir ’n egskeiding. Ons is ’n eienaardige gender.” Sy blameer die eiesoortige godsdiens van ons kerke vir hierdie kapasiteit vir selfmarteling.

Ter illustrasie van die kerk se destruktiewe invloed: Verweerde vroue strompel voortdurend haar spreekkamer binne. Een van haar pasiënte het groeisels op haar baarmoeder. Die pasiënt is oortuig daarvan dat God haar nou straf omdat haar man haar gelos het en sy toe begin drink het. Sy weier om vir behandeling te gaan, want sy moet haar afgemete straf soos ’n man vat. “Vroue kom by my aan en sê ‘my kind teken swart prente, nou sê die dominee my kind is ’n satanis, hoekom is my kind ’n satanis, wat het ek verkeerd gedoen?’”

Geen wonder sy word sommer vies wanneer sy oor die teologie begin praat nie. “Ons het ’n ou kak gereformeerde teologie wat no use is.” Soos die godvresende leser weet, as ’n teoloog eers begin vloek, dan moet sy regtig die moer in wees. Christina is ook sommer vies vir die dominee waar sy vroeër die oggend orrel gespeel het by ’n kerkdiens. Voor sy begin speel, het sy voorgestel die gemeente nooi aangename dinge die kerk binne, soos gemoedelikheid en dankbaarheid. Toe die dominee instap, begin hy sommer dadelik te doom en gloom, en daar is al die positiewe ligte goed sommer by die kerkdeur uit.

Christina is nie self georden as ’n dominee nie. Toe sy destyds afgestudeer het, kon vroue nog nie georden word nie. Sy het haar studie voortgesit. Vandag is sy dankbaar dat haar lewe hierdie rigting ingeslaan het. Sy is besig met ’n doktorale kursus in pastorale terapie. Dis haar sewende graad en haar tweede doktorsgraad.

Haar formidabele intellek het haar nog nooit daarvan weerhou om tussen die gewone en gebroke gemeenskappe in te gaan en self te gaan hoor wat hul probleme is nie. Onlangs het sy tydens haar vakansie (“soos ’n regte Calvinis kan ek nooit vakansie hou nie”) haar kar en haar kind gevat en Philippolis se mense se kerkgeskiedenis gaan neerskryf. “Die kerkgeskiedenis soos dit op die oomblik opgeskrywe is, bevat net opgawes van dié sinodevergadering en daai kerkringbyeenkoms. Die mense van die gemeente is effektief uit die geskiedenis uitgeskryf.” Dit is met humor en deernis dat sy hierdie selfopgelegde taak benader. Sy vertel van die bruin mense op Philippolis wat hulle groente plant op die plek waar die witmense se toiletreste destyds gestort is. Wanneer die groente ryp is, gaan verkoop die bruinmense dit in die wit buurte en vat hulle geld met die een hand terwyl hulle agter die ander hand lag. Dit is hierdie alternatiewe verhale van bemagtiging wat sy wil boekstaaf. “Maar dit moet altyd meer as net ’n gesprek wees, dit moet ’n heelmaakproses wees. Alle werk wat ek doen, moet op heelmaak uitloop.”

Christina glo sterk in die krag van stories. “’n Mens se storie is jou storie, en alle stories is waar,” verklaar sy onomwonde. Ongelukkig is baie ontneem van ’n stem om hul stories te kan vertel. Dit is aan hulle wat sy haar stem verleen.

Sy glo dat die afwesigheid van die vrouestem in die kerk toe te skryf is aan die feit dat die vrou nog steeds as ’n onderdeel van ’n heteroseksuele kerngesin geëien word. “Die kerk beskou nog steeds sy kliënte as die standaardgesin. Dit sal moet verander, want dit lei tot ’n geweldige neurose by gesinne wat nie in hierdie vorm gegiet is nie. In elk geval, die meeste heteroseksuele verhoudings wat ek sien, is in chaos. Een uit elke drie huwelike verbrokkel. En vroue weet nie hoe om op hulle eie te cope, om krisisse te hanteer nie. Die huidige godsdiens kan vroue nie deur ’n krisis soos ’n egskeiding help nie.” Vroue in hulle laat veertigerjare beland telkens in Christina se spreekkamer. “Miskien sal die nuwe geslag vroue beter cope,” mymer sy hoopvol.

Die Christina-standaardestel slaan weer toe. “Vroue maak my seer, want daar is baie kompetisie, veral in die akademie, tussen vroue. Daar is the competition for the public voice. Ons vroue het nog nie geleer om mekaar te bemagtig nie. Ek is ook maar skuldig. Ek moet ook maar myself aanspreek. Ek het die natuurlike gevoel om sterk vroue plat te vee,” sê sy met ’n effense glimlaggie terwyl sy vir my koffie betaal: “ — anders voel ek asof ek al weer ’n vrou uitbuit. Ek moet leer om sterkte in ander vroue te verdra. Magsjagse vroue werk op my senuwees. Hulle gebruik nie hul posisies om ander vroue te bemagtig nie. Die regtige toets vir feminisme lê juis daarin om ander bemagtigde vroue te verdra.”

Die gedig wat aan Christina Landman opgedra sal word, sal waarskynlik ook ’n kaalvoet-gedig wees wat, net soos sy, sonder fênsie leestekens sal wees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.