Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

“Ek is die afstand”

Erns Grundling


Karel SchoemansKarel Schoeman IS net — hy voel ’n totale fok vir enigiets anders.

Gun my die kans om te verduidelik, voor iemand die klag van literêre heiligskennis aan my nederige tuinwoonstel se voordeur vasspyker.

Die geleentheid: Die 9de DJ Opperman-gedenklesing, gisteraand (17 September 2003) by die US Kunsgalery in Dorpstraat, Stellenbosch. Die uitnodiging verklaar onomwonde: “Meneer Schoeman het aangedui dat dit sy laaste openbare optrede sal wees” — saam met waarskuwings oor die gebruik van “persoonlike kameras” en “dat daar geen versoeke vir handtekeninge sal wees nie”.

Dis alles seker goed en wel — almal weet die geniale Schoeman voer ’n kluisenaarsbestaan op Trompsburg in die Vrystaat en dat hy wegskram van kontak met die publiek, media, en veral akademici. Om hom in lewende lywe te kan sien én hoor is ’n rarigheid.

Laat ek ruiterlik erken: ek is nie ’n Schoeman-kenner nie; ek belowe trouens al maande vir iemand dat ek Op ’n eiland sal aanskaf. So wat hier volg, is bloot my belewenis van die aand; ek gaan nie eers probeer om dit in verband te bring met sy komplekse oeuvre nie.

Enkele minute voor die verrigtinge begin, skarrel die gaste haastig rond vir ’n sitplek. Almal is hier: uitgewers, skrywers, sakemanne, joernaliste, redakteurs, akademici, lesers, fans, nuuskieriges ... darem geen “I love Schoeman”- of “Will you marry me?”-T-hemde nie. Ek dink dadelik aan Leonard Cohen se “The Guests”: “One by one the guests arrive / the guests are coming through / the open-hearted many / the broken-hearted few.”

Die saal, wat later die week vir ’n kunsuitstalling gebruik moet word, is tot oorlopens toe vol. ’n Paar kunswerke hang verspreid teen die mure, langs my ’n reeks foto’s met die onderskrif: “Development of pubic hair, as well as underarm hair ...”

Die gehoor is onrustig, skuifel rond.

’n Man giggel hardop: “Is hierdie dalk die laaste Afrikaanse paneelgesprek?”

“Gelukkig hoef hy nie die paparazzi af te weer nie,” weerklink dit vanuit ’n paar rye agter my.

Iemand verwys na die kerksaaltjie se groot vensters. “Dit help nie om vensters oop te maak nie; as die Heilige Gees eers hier is, bly hy binne.”

Karel Schoeman stap op die verhoog, ’n lang en maer man (met ’n groen trui). Saam met hom is die paneellede, Louise Viljoen en Jakes Gerwel.

Elize Botha, doyenne van die Afrikaanse letterkunde, is eerste aan die beurt. Sy vertel meer oor die gedenklesing se geskiedenis, en noem dat vanaand se gehoor toehoorders en getuies van ’n besondere geleentheid is. “Hoewel die lig in die verlede bly val het op Opperman self, het daar nou ’n wending gekom in die koers van die reeks.” Haar laaste woorde is ’n aanhaling van Virginia Woolfe: “Only connect.”

Gevleuelde woorde.

Die eerste vraag aan Schoeman is redelik veilig, oor of hy vir Opperman geken het. Schoeman staar so half in die niet, praat dromerig, plek-plek prewelend.

Hy vertel van ’n kosbare herinnering waartydens Opperman en sy vrou — na ’n laaste besoek — by hul hek vir hom totsiens gewuif het. Hy het groot bewondering vir Opperman, maar sy werk het nooit tot hom gespreek nie.

“Ek het meer aanklank by Van Wyk Louw gevind, maar bewonder steeds vir Opperman. Dit is vanaand ’n besondere eer om in sy skaduwee te kan optree.”

Op ’n vraag van Gerwel oor hoe Schoeman vir Nelson Mandela beskou, sê Schoeman tergend: “So dis vir my om te sê en vir julle om uit te vind?” Die gehoor lag senuweeagtig. Hy praat dan wel oor Mandela se merkwaardige bydrae, veral in die lig van die afgelope 300 jaar se geskiedenis. “Van Wyk Louw het ook daai charisma gehad van iemand wat uitstyg bo die bodem. Hy kan met Goethe vergelyk word.”

Toe Viljoen by hom wil weet oor die prominensie van vrouefigure in sy werk, verklaar hy doodluiters: “Want dis die helfte van die mensdom.” Weer die senuweeagtige laggie uit die gehoor. “As onbegrypende kind het ek by die huis geleer om vanuit ’n vrou se standpunt te praat. Daar is altyd klein dinge wat meer veelseggend is van groter dinge, dis in die detail, soos ’n koppie wat skeef neergesit word op ’n piering. Dit vorm alles deel van die verlede se weefsel.”

Hy raak dadelik (en duidelik) geïrriteerd wanneer hy oor sy eie skryfproses gepols word: “Hoe skryf ’n mens ’n boek? Ek weet nie, ek gaan sit en ek skryf. Dis nie my werk om my eie werk te analiseer nie, dis julle werk.”

As dit kom by ontwykende antwoorde, is Karel die Grote.

Op ’n vraag oor die verskil tussen romanskryf en niefiksie: “’n Roman is iets wat gebeur. Niefiksie is iets wat jy rekonstrueer. Hoekom moet ek oor myself dink? Ek is, ek is,” roep hy verbete uit.

In my geestesoog sien ek Moses se destydse openbaring in ’n nuwe gedaante: ’n brandende bos buite Trompsburg. ’n Vriend herinner my aan Neil Diamond wat basuin: “I am, I said, to no-one there.”

Die antwoorde word al hoe meer ontwykend, maar is nietemin ’n openbaring:

“Hoekom moet mens ’n doel hê, hoekom kan ek nie net lewe nie? Dalk is dit my isolasie op die platteland. Dalk is ek te Boeddhisties ingestel. Maar ek hou nie daarvan om alles in kompartemente te plaas nie. Die moderne mens is reeds te gefragmenteerd.”

Schoeman vind aanklank by Jung se idee van die eenheid van die wêreld. “Dit is soos een steen, met duisende fasette.”

Hy praat direk met Viljoen: “Die lewe is eenvoudiger as wat jy dink, as mens eers deur al die vergissings kyk.”

Hy beskou romanskryf as iets outomaties wat nie berus op enige rasionele besluite nie. “Ek is heeltemal aan die onbewuste oorgelaat. Al die verduidelikings staan reeds in die gegewe, dis julle taak om die gegewe te vind, wat uit die onbewuste kom.”

Gerwel wil by hom weet of ons weer ’n roman gaan sien.

“Ek dink nie ek het die krag daarvoor nie, ek sien nie hoe dit moontlik is nie. Ek wil my kragte eerder vir niefiksie gebruik. Daar is ’n geweldige behoefte om te verstaan wat in hierdie land gebeur het. Hoe die koppie skeef neergesit word op die piering.”

Hy hoop dat sy romans nog lank gelees sal word. “Dalk word van my romans eendag in ’n kartondoos op ’n solder gevind, langs ’n katkisasieboek. Dis hoe mens bly lewe, as jy gelees word.”

Vir Schoeman is ritme die belangrikste oorweging by skryf. “’n Skrywer se rol is nie om betekenis toe te ken nie. Ritme is belangriker as betekenis. Hopelik het ek in 30 jaar bygedra om die Afrikanervolk te leer hóé om te lees. In my boeke gebeur daar niks nie, dalk het die lesers geleer om op hul tande te byt en deur die boeke te worstel. Want daar gebeur wel iets, tussen die lettergrepe, tussen die lyne.”

Dis geen geheim dat hy nie veel tyd het vir akademici nie. Hy erken hy hou nog ’n “ou beeld” van akademici voor, van “dogmatiese mense wat die wet neerlê, verkondig. Prof Dr so-en-so ...”

Schoeman lees nooit Afrikaanse boeke nie, en weet glad nie wat verskyn nie. “Ek lees wat ek wil lees. Ek is byvoorbeeld nou besig met Vergilius. Ek het so min Afrikaans gelees dat ek eintlik nie maklik daarin lees nie. Maar deesdae gooi die mense in elk geval woorde soos houtblokke bymekaar.” Hy beskou ook die toenemende gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse geskrifte as “bietjie erg”.

“Die laaste Afrikaanse romans wat ek gelees het, was voorgeskrewe werk in matriek. Dit was swak romans, eintlik erbarmliks. Die laaste tyd het die boeke se voorkoms egter verbeter, dis aanloklik vir mense om Afrikaanse romans op te neem en daarna te kyk.”

As skrywer bly hy buitestaander. “Ek mag hulle sien en waarneem en oor hulle skryf, en dis ’n wonderlike voorreg. Dit gaan nie oor een of ander verskriklike drama van outsiderskap nie. Afstand is nodig; ek is die afstand.”

Amen.

Dalk is dit net ek, maar Schoeman het bietjie sy mes ingehad vir Viljoen, hoewel dit seker maar ’n simptoom was van sy groter irritasie met analise. Wanneer sy hom pols oor die noodwendige narsissisme van die skryfproses, in teenstelling met die selfaflegging van Boeddhisme, sê hy: “Jy wil weer verdeel. Ek wat skryf, skryf maar net. Alles wat ek doen, is ek. Jy kom nie weg van ‘ek’ nie.”

Hy beveel haar om hardop uit sy boek se inleiding oor die mikrofoon te lees, ten einde ’n onduidelikheid oor die keuse van sy outobiografie se titel uit te stryk. Hy vertel bietjie meer oor dié lywige boek: “Die boek was ’n lang afskeid van ’n wêreld wat verby is, ’n onthegtingsproses.”

Die Laaste Afrikaanse Roman is ook nie noodwendig sy laaste boek nie. “My niefiksie behoort lesers nog lank besig te hou met Kersgeskenke.”

Vertalings van sy werk is ook ’n sensitiewe onderwerp.

“Kom ons swyg eerder ... letterkunde is nie vertaalbaar nie, dit gaan oor verskillende klankwêrelde. Aan die ander kant sal mens nooit vir geld nee sê nie. As die geld kom, sê ek dankie, en kyk nie na die vertaling nie. Ek wil rus en vrede op my oudag hê, dan is almal gelukkig.”

Hy is weer haaks met Viljoen as sy hom vra oor die verhouding tussen geskiedenis en letterkunde. “Jy wil weer verdeel, afspeel. Daar is een werklikheid, een wêreld. Die wêreld is eenvoudiger as wat jy dink ...”

Gerwel herinner hom dat alles in die wêreld nie so eenvoudig is nie, dat daar baie lyding is. Schoeman erken dit. “Ek weet dis maklik vir my om te praat, ek het die voordeel dat ek nie daarna hoef te kyk nie; ek hoop tog dat diegene in hul pyn en verdriet sal besef daar is iets agter dit, verby dit.”

Ten slotte word die verlede weer geopper. “Die verlede is nie in ’n glaskoepel verseël nie. Wesenlike probleme is wesenlike probleme. Die probleme van menswees is deurlopend.”

En so eindig die Laaste Afrikaanse Paneelgesprek. ’n Verligte Marlene van Niekerk is op haar stukke met pittige bedankings, en die eregaste verlaat die saal terwyl die Hungarian Trio se stryk- en blaasinstrumente weergalm.

In die saaltjie langsaan, waar die onthaal plaasvind, is die reaksies fassinerend.

“Arme Jakes, arme Louise,” fluister een in die verbygaan.

“Dis presies wat ek verwag het,” sê ’n ander.

“’n Interessante oefening,” hoor ek iemand sê.

Die sjampanje vloei, ek raak verstrengel in cocktail-gesprekke oor die Average Male, Milan Kundera en Jim Carrey se legitimiteit. Schoeman sit in ’n hoek, half afgesonder, rustig met ’n glas. Nou en dan kom groet iemand versigtig.

Die Hungarion Trio marsjeer paraat soos wafferse stiervegters met hul strykinstrumente. ’n Paartjie begin dans. “Ek is die afstand!” roep iemand uit. Die mense skater. “Ek is die piering,” dink ek hardop.

My oë soek vir Schoeman ... maar hy is reeds weg.

Terug na Trompsburg, waar die koeie blomme in die stofstrate vreet. Na sy heiligdom, die ontwykende gebied tussen die koppie en die piering. Only connect, only connect.

Karel Schoeman, it was a night to remember. Ek wens jou hier, vanuit die afstand van die kuberruimte, alle vrede en voorspoed toe.

Want op die keper beskou, is die toekoms ook ’n ander land ...

Lees die resensies van Die laaste Afrikaanse boek deur Hennie Aucamp, André Brink en Chris van der Merwe

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.