Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die bitter here

Willem de Vries

Conrad Botes, Anton Kannemeyer en ander se “komix vir volwassenes” lok uiteenlopende reaksie uit. Van hulle werk is tans te sien as deel van ’n reeks uitstallings onder die titel Comics galore wat deur Bitterkomix, die Franse instituut van Suid-Afrika, Pro Helvetia en die Witwatersrand Technikon georganiseer is. Die reeks uitstallings strek oor ’n paar maande en is in Kaapstad, Johannesburg en Durban te sien.

Op ’n vraag aan ’n universiteitsdosent na sy mening oor Bitterkomix het hy gesê hy het elke liewe uitgawe, maar bêre dit op ’n hoë boekrak sodat sy kinders dit nie in die hande kry nie.

Maar wat sê die here van Bitterkomix self oor hul werk? Willem de Vries was per e-pos met Anton Kannemeyer en Conrad Botes in verbinding.

WdV: Hoe het julle op die idee gekom van Bitterkomix?

AK: Ons het die aand voor Bitterkomix 1 printer toe is, baie vinnig op ’n naam besluit — iets wat ons opinie destyds sou saamvat. Bitterkomix werk goed in verskeie tale — ’n goeie Duitse illustreerder het onlangs vir my gesê dat dit ’n briljante naam is — so internasionaal.

CB: Ek en Anton het saam studeer en het ’n liefde vir komix gedeel. Kort voor lank het ons begin om komix te teken en ons eerste storie is in Stet geplaas. In ons eerste jaar as honneurs-studente het ons besluit om ons efforts te publiseer. Bitterkomix was die gepaste naam.

WdV: In sy toespraak by Bitterkomix se retrospektiewe uitstalling in 1999 het Johann Rossouw gesê een van die dinge wat die minste aangeroer word en wat belangrik is, is die Afrikaner se stryd om aansien en ’n bourgeois-hemel. Met Bitterkomix word gewys op dinge wat baie mense liefs versweë sou wou laat bly. Beskou julle Bitterkomix as ’n moralistiese publikasie?

AK: Ek dink enige satiriese werk het ’n moralistiese basis. Die ding is, myns insiens, dat ’n mens die morele oorwegings amper moet verdoesel — die leser moet dit soek. Dikwels gebeur dit by nadenke.

CB: Ek twyfel of ’n mens Bitterkomix as ’n morele publikasie kan beskou. Om die waarheid te sê, dis al dikwels as immoreel beskryf. Ek dink die rede hiervoor is dat ons probleme aanspreek, maar nie noodwendig ’n oplossing gee nie. Ons hou daarvan om so bietjie in die oop wonde te krap, debat te stimuleer. Beslis nie om ’n moralistiese boodskap teen die einde van elke verhaal in te gooi nie.

WdV: Die humor in Bitterkomix is eg Afrikaans. Hoe ervaar buitelanders die vertaalde weergawe? Is die soort humor meer toeganklik vir ander lande se mense as wat ’n mens sou verwag? In hoeveel tale is Bitterkomix al vertaal? Wat is mense se reaksie in die Nederlande, Frankryk en die VSA?

AK: Ek dink Bitterkomix vertaal moeilik, en sommige stories vertaal hoegenaamd nie, soos “Liefde en Missiele” in Gif (Afrikanerseks-komix en een van die min publikasies wat na 1994 verban is, vanweë die eksplisiete uitbeeldings). Die verwysings is soms te eng, te Afrikaans. Dit is ’n probleem vir enige kunstenaar — ten slotte wil mens graag internasionaal wees en tot ’n groter gehoor spreek. In Frankryk doen ons werk goed — ek weet egter nie hoe goed dit vertaal nie. Bitterkomix is nou al in Engels, Nederlands en Frans vertaal. Volgende jaar word dit in Duits vertaal. Die reaksies wissel. In België het vrouens na ’n toespraak vir my en Conrad vertel dat hulle onder die indruk was dat ons slegs “naughty boys” is, maar na ons die konteks verduidelik het, was hulle heel beïndruk.

CB: Ek dink nie dit is die humor wat die buitelanders soseer interesseer nie. Sommige dinge in Bitterkomix kan mens nou eenmaal nie vertaal nie. Ek dink wat vir hulle interessant en nuut is, is watter onderwerpe ons gebruik. Ons gebruik ’n medium waarmee hulle baie bekend is, maar ons benadering tot die inhoud is miskien meer konfronterend of severe. Hulle belangstelling in Bitterkomix vloei uit ’n belangstelling in Suid-Afrika.

WdV: Conrad, met die onderhoud op die televisieprogram Skuur het jy vertel julle weergawe van die Foster-bende is gebruik as storyboard vir die fliek wat oor die Foster-bende geskiet word. In Bitterkomix word baie filmiese idees gebruik. Is julle enigsins betrokke by animasiewerk?

CB: Ek twyfel of ek ooit sal animasiefilms maak. Dis egter waar dat daar heelwat ooreenkomste is tussen films en strips. Beide gebruik dialoog en teks en beide funksioneer met visuele narratiewe beelde. Ek sou eerder geneig wees om te sê dat strips films inspireer en nie andersom nie. Kyk maar na hoe baie films wat uit die Hollywood-worsmasjien kom, is op comics gebaseer. Wat my betref, is daar genoeg om in die stripkuns nog te ontdek om my nog baie jare besig te hou.

AK: Ek stel nie vreeslik belang in animasie nie. Ons het egter al verskeie projekte vir animasie gedoen, soos advertensies en websites. Vir die geld ...

WdV: Is stripkuns geskik vir die internet, of bly die boekformaat steeds koning?

CB: Boek bly baas.

AK: Ek is mal oor boeke. Dit moet op ’n rak staan. Die hele leeservaring is anders as digitaal. Jy sien byvoorbeeld onmiddellik ’n double page spread se begin en einde. Selfs die stof van boeke sal ek duld.

WdV: In watter mate is Bitterkomix beïnvloed deur die Underground-stripkuns van die 60’s in Amerika? Watter invloed het Robert Crumb, een van die groot bekendes van die komix van daardie tyd, op Bitterkomix?

CB: Ja, ek sou sê hulle anargistiese benadering tot ’n medium wat gewoonlik (destyds) vir kinders en juveniles gemaak is, het ons baie geïnspireer. En Crumb is natuurlik ’n groot held.

AK: Stilisties is Bitterkomix meer deur die Franse beïnvloed. Maar die Underground-comics van die sestigerjare in Amerika was konsepsueel baie belangrik. Daar is egter vandag nog verskeie invloede van die Amerikaanse “alternative” strippe en van Frankryk.

WdV: Telkens is daar Amerikaanse en Europese invloede in Bitterkomix te bespeur. Hoe voel julle oor die Japannese komix soos Akira en ander Manga-stripkuns?

CB: Ek lees feitlik geen Manga nie. Barefoot Gen, die Japannese strip wat ek wel gelees het, is briljant. Dit is gebaseer op ’n ware verhaal en handel oor ’n seun se wedervaringe na die Nagasaki-bom.

AK: Manga is baie anders as die Westerse tradisie. Dit spreek nie baie tot my nie — dit het ’n obvious visuele impak, maar ek vind dat die inhoud dikwels ontbreek in wat ek gelees het. Ek moet erken ek ken Manga nie baie goed nie.

WdV: Op ’n keer is gesê daar is nie hoë of lae kuns nie, alleen bruikbare kuns. Waarmee sal julle nie werk nie? Wat is vir julle taboe?

CB: Al wat vir my taboe is, is om strips te maak wat vir my vreemd en oneerlik aan myself is. Ek sal byvoorbeeld nie ’n strip teken oor township-lewe nie, want ek dra nie genoeg kennis daarvan om so iets aan te pak nie.

AK: Iemand het onlangs vir my gevra of ek ’n morele streep êrens trek. Oscar Wilde het gesê: “There are no moral or immoral books. There are only good and bad books.”

WdV: Bitterkomix is al, volgens Sue Williamson, “something of a national institution”. Watter stripkunstenaars in Suid-Afrika tickle julle? Vir wie moet ons op die uitkyk wees?

CB: Dis moeilik om te beantwoord, want daar is omtrent geen stripkultuur in Suid-Afrika nie en weinig of geen gereelde strip-publikasies nie. Ek hou baie van Zapiro se werk, maar dit word eerder geklassifiseer as “political cartooning” as strips.

AK: Ek werk met baie jong stripkunstenaars. Hopelik sal daar binnekort nog goeies in Suid-Afrika verskyn. In Januarie is daar ’n uitstalling in Art on Paper in Melville en ek sal my nege of tien favourite huidige stripkunstenaars van SA daar uitstal.

WdV: Behalwe Bitterkomix is julle betrokke by ander projekte ook ...

CB: Nadat ek ’n lewe probeer maak het as vryskut-illustreerder en dosent by verskeie kunsdepartemente, is ek nou al twee jaar lank skilder van beroep. Ek paint om geld te maak en teken komix.

AK: Ja ... hopeloos te veel. Eintlik moet ons net comics teken.

WdV: Oorsee is graphic novels al opgeneem in die letterkunde, ter plaatse nog nie, of is daar al veranderinge in dié verband?

CB: Nee, daar is nie en ek sal op my rug val as dit wel gebeur. Tinus Horn en Allistair Finlay het ’n graphic novel uitgegee by Queillerie, as ek dit nie mis het nie. Soos ek verstaan, het dit nie goed verkoop nie en nou is uitgewers meer skepties as ooit in dié verband.

AK: Met die Comics Galore Festival en huidige belangstelling sal dinge hopelik in die nabye toekoms verander. Dit is egter nie ’n groot industrie in die Engelssprekende lande van die wêreld nie, slegs in Europa en Japan. Amerika se superheroes-industrie is ook redelik groot. Die sg letterkundige strippe is klein oor die hele wêreld. Die grootste tot dusver was Maus van Art Spiegelman.

WdV: In 1994 het die regering verander. Hoe het die magsverskuiwing die inhoud van Bitterkomix geraak?

CB: Voor 1994 was ons fokus magsmisbruik, nou is dit wanhoop en verval. Dit is ten opsigte van die Afrikaner, nie my persoonlik nie, ek is glad nie wanhopig nie.

AK: Nie die magsverskuiwing nie, nee. Ons blootstelling aan die Europese mark sal op die lange duur ...

WdV: Alles ontwikkel of stagneer. Hoe sien julle het Bitterkomix ontwikkel?

CB: Ek sou graag nog ’n Suid-Afrikaanse weergawe van Dante se Inferno wou teken.

AK: Hoe meer ’n mens teken, hoe meer verstaan ’n mens die medium. Die ontwikkeling is moeilik om te bepaal as kunstenaar (wat daarby betrokke is). Ek dink Bitterkomix 8-10 het ’n hoë standaard. Bitterkomix 7 is ’n laagtepunt vir my. Bitterkomix 11 werk nie so goed nie. Bitterkomix 12 het baie Franse werk in. Dit maak dit nie noodwendig beter nie. Ek sal hierdie vraag oor so tien jaar beter kan beantwoord.


Besoek Bitterkomix op LitNet

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.