|
Die onverskrokke biograaf …Johann KotzeDie mense oor wie John Kannemeyer se werk as biograaf handel, is beroemd, en sy eie naam is amper net so bekend. Maar wie is hierdie man wat so onverskrokke dik op dik boek navors en skryf oor ons Afrikaanse letterkundige helde? Stap jy in John Kannemeyer se woonplek in, is jy skielik omring deur n magdom boeke, almal netjies gerangskik op die rakke wat strek tot bo teen die dak. Kyk jy na die indrukwekkende aantal akademiese werke daar is 60 titels in die Universiteit Stellenbosch se Gericke-biblioteek blyk dit duidelik dat hierdie man ernstig is oor die skryfkuns en om daaroor te skrywe. Maar hy is nie bloot die bedrywer van n akademiese boekery vir n klein groepie akademici nie. Sy boeke, veral die meer onlangse werk oor Leipoldt en sy nuwe Uys Krige-biografie, Die goue seun, is bekend onder n wyer leserspubliek. John se storietoere en rubrieke in Die Burger is sy poging om die Afrikaanse letterkunde en die mense oor wie hy skryf, te populariseer. Self voel hy dat hy as biograaf op die spoor van n soort Holy Grail is, op soek na die wortels van Afrikaans. Kannemeyer het as student en aan die begin van sy loopbaan noue bande geniet met die laaste van die ou-skool-grotes soos DJ Opperman, en was ook goed bevriend met die groot Sestiger, Etienne Leroux. Hy het dus n besonder wye beskouing van die Afrikaanse letterkunde wat nie tot die gange van n enkele akademiese instansie beperk is nie. Sy eie akademiese loopbaan het hoogty geniet gedurende die laat sewentiger- en tagtigerjare toe hy onder meer die redakteur was van Standpunte. Inderdaad is sy lang loopbaan as akademikus by al die groot Afrikaanse universiteite van die land een van sy groot bates, al het hierdie rondskuiwery veel te make gehad met sy berugte rusiemakery met kollegas en andere. Hierdie beeld as n rusiemaker onder sy vyande, en as kontroversiële polemiekmaker onder die wat hom meer goedgunstiglik beskou, pla hom skynbaar min. Hy skroom nooit daarvan weg om sy saak te stel nie, en hy sal hardkoppig, selfs ten koste van hegte vriendskappe, sy siening van n situasie verdedig. Sy loopbaan is deurspek met kontroversie, akademies kollegiaal sowel as op vriendskaplike terrein. Sy loopbaan by Wits, waar hy die laaste keer professor was, was ook die einde van n lange vriendskap met Ernst Lindenberg. Gesels jy egter met Kannemeyer die biograaf, word dit duidelik dat hierdie vetes moontlik bedenkinge kan plaas oor sy kollegiale verbintenisse, maar nooit oor sy integriteit as biograaf nie. Vir hom kom niks voor hierdie waarheid nie; inderdaad beskou hy die werk van die geskiedkundige biograaf juis as die van morele waghond nie van die nouer beperkende morele aard nie, maar van wat hy beskou as sy grotere waarheid. Sy verklaring is op die man af: Onverskrokkenheid is hier belangrik; ek sal my deur niemand laat keer nie, hoe naar of aaklig die gevolge ook al mag wees duidelik nie n kenmerk wat n lewenspad van gemaklike menseverhoudinge bevorder nie. In hierdie verband haal hy dan ook die biograaf Desmond McCarthy aan: n Biograaf is an artist upon oath. Weer die waarheid waarop hy so sekuur gesteld is. Natuurlik is een mens se waarheid nie n ander se waarheid nie, n situasie wat duidelik tot struwelinge sal lei wanneer die opponerende partye verskil oor die feite onder bespreking. Kannemeyer se sterkpunt is dat hy skynbaar heeltyd probeer om n groter oorsig te verkry op sy literêre speurtogte deur na soveel hoeke van waarheid as moontlik sy onderwerp na te vors. En die groter prentjie van Afrikaans is altyd vir hom die wenner in hierdie debatte. Op n vraag/stelling of hy n stryder vir Afrikaans is volgens enige uitsluitlike/spesifieke ideale van bv die taalpuris soos hy dit sien, of die meer oorkoepelende Afrikaans soos gepraat deur bv die jonger geslag alternatiewe skrywers, het hy duidelik kon antwoord, en ook weer sy eie werk gemotiveer. Beslis vir n oorkoepelende Afrikaans. Omdat ek verkies om my van georganiseerde taalveldtogte weg te hou, is my bydrae deur middel van my boeke. John het n reputasie as harde werker. Toe ek vra of hy n kompulsiewe werker is, het hy eenvoudig geantwoord: Beslis nie; ek werk net met dissipline, erns en n sisteem ek staan elke dag baie vroeg op, werk dan deur die oggend en rus dan lekker in die middag. Lina Spies meen dat hy oor n verbysterende gedrewenheid om te werk beskik, en in staat is tot groot oorsigte in Afrikaanse letterkunde. En dis tog juis wat hy doen. Lina vertel hoe sy eens in gesprek met Opperman genoem het dat (sy) wens (sy) kon so hard werk soos John, waarop hy geantwoord het dat niemand so hard soos John kan werk nie. Kannemeyer se eerste groot deurbraak in hierdie groter Afrikaanse wêreld was met twee volumes getiteld Die Geskiedenis van Afrikaanse literatuur (1978 tot 1983), en was die begin van sy akademiese aansien onder die groter publiek. Self voel hy egter dat sy heelwat dunner werk as sy groot werke, die meer beskeie werk oor Etienne Leroux, Op die weg na Welgevonden, n persoonlike hoogtepunt was, en n haunting ervaring was. Lees jy die aanhaling voor in sy memoires, Die rym neem ook n hele lewe in beslag, word die agtergrond waarteen sy werk afspeel, n bietjie duideliker, besef mens dat elke skrywer, hetsy die biograaf of die letterkundige skrywer, se skeppingsproses n haunting ervaring is, of behoort te wees. Hy vertaal die genoemde aanhaling vrylik: Geen gids het my gelei nie, behalwe my eie gemoed; niemand het my gesteun behalwe enkele troue hande nie. Kyk jy nou tussen die lyne van hierdie insiggewende boekie, dan verskyn daar n ander Kannemeyer. Meer dinge word duidelik. Sy selfkritiese persoonlikheid is indrukwekkend, maar word maklik snydende kommentaar teenoor andere wat volgens hom nie die mas opkom nie. Heelparty van sy oudstudente het opgemerk dat hulle ten minste nogal versigtig was vir John. Hoewel Kannemeyer n helder skrywer akademies is, is hy geen charismatiese woordsmid nie. Amper droog, nie n rasend opwindende skrywer nie, maar duidelik ferm in beheer van sy werktuig, iemand wat met erns met die woord omgaan. Hoewel daar tekens van ligte oomblikke is (bv die spotprent van homself op die omslag), wonder mens of hy juis so moeilik is omdat hy so ernstig is oor sy werk. Net soos met ons onderhoud verklap hy min van homself tussen die blaaie, sonder om iets weg te steek of stekelrige vrae te vermy. Ek vra hom uit oor sy seuns, oor Anton van die berugte Bittercomix. Hy is ooglopend trots op Anton, en ook Mark, wat beide sterk loopbane in die kunstewêreld beleef. Ek vra hom oor sy gevoel van die rol wat Bittercomix gespeel het in die Afrikaner-psige van die 90s, enige kommentaar daarrondom, en oor sy seuns se eie werk. Ja, ek is natuurlik trots op Mark en Anton. In die verlede was daar morele en ander besware teen veral Anton se werk, maar as iemand wat gekant is teen alle vorme van sensuur, sal ek my nooit daaroor in die openbaar uitlaat nie. Ek gun hulle die vryheid om hulle kuns volgens hulle oortuigings te beoefen. Volgens Mark het hulle maar commix gebruik as ontsnappingsroete van n ou bestel; hoewel hulle pa hulle aangespoor het om te lees (in Afrikaans), was hy baie besig met sy werk en nie baie nou betrokke by hulle nie. Anton self was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Verdere vrae aan Kannemeyer onthul steeds min; vir persoonlike detail gee hy nie veel om nie. Sy boek dra nie sy hart op die mou nie. Lang vrae kry kort, bondige antwoorde: Wat is jou motivering agter jou sorgvuldige biografieë probeer jy die sluier lig van jou onderwerp, of probeer jy hulde bring aan persoonlike helde; is dit n blote taak, n roeping/lewenstaak, of verkenning van n belangstellingsveld? Waar is John in jou werk en in jou openbare lewe na buite is die werk waarvoor jy bekend is, n verskansing van jouself, of n uitkykpunt of toring om persoonlik op te staan? Sy antwoord: Tot n mate skryf biograwe tog ten einde die self te ontdek, en is tot meerdere of minder mate in werklikheid outobiografies. Om agter die man se private denkwyse te kom is moeilik. Sonder om speletjies te speel of onduidelik te wees bly hy getrou aan sy oortuiginge; hy kom voor as n ontwyfelende, sterk persoon. Tog is dieselfde goed-verskuilde deernis vir sy onderwerp, beide die persoonlike skrywer en werk, en die land, die agtergrond waarteen ons almal leef, aanwesig. En moontlik lees jy in sy eie werk die sterk self, n kritiese analise van sy eie werk/self wat hom juis so snydend en krities jeens andere maak. Kyk mens dan verder na hierdie deeglike vakkundige en geskiedskrywer as juis dit n geskiedkundige vakkundige verskyn daar n amperse bleekheid van filosofiese uitkyk, begin die prentjie te vorm van n skrywer wat skryf sonder enige duidelike persoonlike teorie bloot kronologiese opnames sonder n persoonlike geskiedenisteorie. Hoe wyd dink Kannemeyer dus? Soek jy vir tekens van die vernuwende aspekte van moderne filosofies intellektuele skrywers, vind jy min neerslag in sy styl. Binne die bestel van die ou raamwerk was hy sekerlik liberaal van denke, maar skynbaar is hy glad nie filosofies eksistensieel/spiritueel ingestel nie. Empaties is daar min bande met sy leser, student of die wêreld buite die oogklap van die geskiedenis te bespeur. Hierdie moontlike beswaar ten spyt, vorm die Kannemeyer-oeuvre ongetwyfeld n wonderlike voetnota as letterkundige verwysing. Sy deeglikheid sonder persoonlike foefies met sy werk blyk n refleksie van sy feitelike skryfstyl te wees. Sy antwoorde op vrae hierrondom beaam hierdie aanname, maar nie sonder ontsnaproetes nie skynbaar is dit eenvoudig sy werksetiek om so te skryf. Vrae soos, Is daar selfrefleksie teenwoordig in jou werk? of Is jy n buitestaander tot jouself? is beantwoord met: Die emosionele verbintenis met die onderwerp bestaan beslis daar is dus n affiniteit, n betrokkenheid. Hy vertel ook dat hy daarvan hou om oor mense te skryf wat n donker kant ook het mense met sterk individuele vermoëns, kreatiewe persoonlikhede en krag. Integriteit by die onderwerp is vir hom n absolute. Slegs Uys Krige is n uitsondering op die donker kant-reël; hy was altyd positief en lig. Maar dis die dinge wat my boei. Jan Rabie is juis so n tipe mens, en navorsing oor hom is reeds op die werkstafel. John is dus duidelik onderweg daarna om nog van die groot, dik boeke oor al hierdie fassinerende skrywers te skryf. Sy populariseringsdrang, sy passie om die groot skrywers aan die publiek voor te stel, sy liefde vir sy land en taal maak die moeilike en verskanste John meer toeganklik. John voel dat die letterkunde gebind word deur n bodemgesteldheid, die rede vir sy werk, om te dokumenteer daar waar die onderwerpe se oorsprong is. Dit is dan ook n tipe bottom line vir hom: skryf eerlik en in erns oor die land en sy skrywersmense, niks meer of niks anders nie. Sy bodemgesteldheid is dan ook inspirasie vir die storietoere wat hy saam met Wium van Zyl aanbied. Hierdie storietoere is vir Kannemeyer n noodsaaklike oorsprong en uitvloeisel van sy geskrewe werk, en dis hier waar sy werklike liefde vir die land, en ook sy sosiale en partytjiegees na vore tree. Hy sê dat hy dit geniet om so kuier-kuier na te vors en sy navorsing te deel. Hierdie toere het reeds in 1993 beslag geneem. Dis ook n vorm van klasgee, merk John op. Ek is juis besig met n boek oor die Karoo. So is sy hele lewe dan al draaiend om die wêreld van die geskiedenisskrywer gevorm. Sy bodemgesteldheid is immers om soveel as moontlik van die letterkundige wêreld om hom neer te skryf.
Stellenbosch, Junie 2002 |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |