Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Johann Rossouw die waaksame filosoof

Jansie Kotzé

Dit is ’n slegte week om ’n onderhoud met Johann Rossouw te voer. Hy is waaksaam teenoor al wat ’n joernalis is. Hy het die afgelope maand sy media-vuurdoop gehad. Hy kla dat “hulle” hom al ambisieus en chauvinisties genoem het. Hy klink seergemaak en wil nie oor homself praat nie. Ek neem aan die joernaliste het gedoen wat joernaliste doen: hulle gee voor om jou nuwe beste vriend te wees om soveel as moontlik uit jou te kry, en maak dan ’n storie daarvan.

Die inligting wat hy wel afstaan, is dat hy 29 jaar gelede in Pretoria onder die teken van die Skerpioen gebore is. Ná skool studeer hy BA sielkunde en Honneurs in Filosofie aan Tukkies met beurse en behaal daarna sy Meesters in Filosofie aan Unisa. Die afgelope vyf jaar werk hy by die Franse Instituut. Hy verwys so gereeld en met soveel gesag na die werke van Nietzsche en Foucault soos ’n dominee na Die Bybel verwys. Maar soos hy gewaarsku het, praat hy nie oor homself nie. Wat nie beteken hy is sku vir praat nie, inteendeel, hy gesels ’n hond uit ’n bos.

Hy gebruik woorde soos insgelyks en desnieteenstaande en maak graag van die digotomale komposisies gebruik waarmee sy Westerse geleerdheid hom toegerus het. Hy beskryf homself, as volg: “Ek dink ek is iemand wat gedoem is tot onttrekking en betrokkenheid. Ek plaas ’n hoë premie op alleenheid en insgelyks in-die-wêreld-lewe.” Alhoewel hy aanspraak maak op die feit dat die lewe hom in beslag neem, is daar ’n merkwaardige jonkheid van psige. So asof die lewe hom nog nie lekker beetgekry en geskud het nie. Hy verklaar sommer onomwonde dat mense wat weet wat met hulle gaan gebeur ná hierdie lewe “nonsens praat”. Hyself is “geslaan met verwondering” oor die lewe en het nie tyd om aan die hiernamaals te dink nie.

Die dinge waaroor hy hom verwonder, vind hy teenwoordig in Suid-Afrika daarom oorweeg hy dit nie eens om die land te verlaat nie — om twee redes: “Een, ek is onsettend lief vir die land, en die tweede rede is dat die soort vrae wat my interesseer, almal teenwoordig is in Suid-Afrika soos identiteit, landskap, lyflikheid, trauma, etiek en globalisering.” Diep.

Hy vertel vir my ’n storie wat vir hom mooi is: In ’n klein dorpie in Japan het ’n ongehude meisie swanger geraak. Toe die dorpelinge vra wie die pa is, verwys sy hulle na ’n monnik wat op die rand van die dorp bly. Toe haar kind gebore word, ruk die hele dorp op na sy huis en stop hom die kind in die hand. Hy neem toe maar gedweë besit van die babatjie. ’n Paar jaar later lap die ma uit dat die monnik eintlik nie die pa is nie, maar die bure se seun. Weer ruk die hele dorp op na die monnik se huis op die rand van die dorp, en lê beslag op die kind. Gedweë staan die monnik toe maar weer die kind af.

Toe iemand hom vra hoekom hy elke keer ingegee het op die dorpenaars se wil, sê hy dat dit nie in die kind se belang sou wees om hulle teen te staan nie, want niemand wou hom in elk geval geglo het nie.

Ek moet erken dat ek glad nie die storie verstaan nie, en ook nie vir Johann Rossouw heeltemal kon kleinkry nie. Miskien probeer hy sê dat hy soos die monnik is, of miskien het hy maar net ’n storie vertel om die dood vir ’n bietjie langer van ons altwee af te weer. Hoe dit ook al sy, met die storietjie aangelas, het ek seker nou genoeg woorde om hierdie stukkie skryfsel as ’n artikel uit my e-nes te gooi.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.