|
Onderhoud met Joan Hambidge oor En skielik is dit aand (Protea Boekhuis)Louise ViljoenLouise Viljoen: Ons vier vanaand die bekendstelling van jou agtiende bundel. Dit is 'n formidabele produksie wat verlede jaar gevier is met die versamelbundel Die buigsaamheid van verdriet en nou voortgesit word met En skielik is dit aand, in 'n pragtige uitgawe deur Protea wat - moet ek byvoeg - vir die publikasie van ruim twee derdes van die nuwe bundels in Afrikaans verantwoordelik was die afgelope tyd. Volgens die motto's het jy die titel van jou bundel gevind by die Italiaanse digter Salvatore Quasimodo soos vertaal deur Wilhelm Knobel … Joan Hambidge: Ja, by Quasimodo via Knobel wat ek probeer terugbring na die Afrikaanse digkuns. Ek is tans besig met 'n projek oor vergete, verlore digters in Afrikaans. Hoekom het jy die titel gekies? Vertolk dit vir jou iets van die inhoud van die bundel? My lewe het dramaties verander met die dood van my kollega en vriendin, Lisbé Smuts, aan wie ek oa die bundel opdra. Die gedigte dra iets oor van hierdie psigologiese wending ... en waarskynlik ook iets van die feit dat sy altyd ten nouste by my gedigte se ontstaan gemoeid was. Vele van die verse kry 'n ander betekenis ná haar dood. Waar het jy Knobel se vertaling gevind? Knobel, wat 'n tydgenoot was van Breytenbach en die ander Sestigers, is op vroeë leeftyd dood: lees jy sy werk, en hoe vind jy dit? Ek lees onbekende digters, veral. Ek behandel in my lesings ook die werk van Freda Plekker. Knobel se verse is al vir jare saam met my en ek onthou as jong student aan die US het ek Opperman se poësiekursus gevolg en saans vergete, stowwerige bundels gelees, omdat die opdrag was dat ons alles moes ken. Hieroor is ek vandag baie bly - dat ek so wyd en gevaarlik gelees het. Is die aanhalings wat jy gebruik, ook 'n manier om 'n digter in herinnering te roep en te vereer? Absoluut! Ek glo soos Neruda en Cussons dat daar geen digters is nie, alleen maar die digkuns. Daar is sekere standhoudende temas in jou poësie wat jy deurlopend bly ontgin: die poësie, die liefde, die verhouding tussen die liefde en die poësie, die familieromanse, die wêreldgeskiedenis wat gemerk is deur sekere traumatiese gebeure, die mens as alleenreisiger deur die wêreld, die kunste en kunstenaars, die dood soos verwoord in jou huldiging van gestorwenes in verskillende lykdigte, en so meer. In hierdie bundel is hulle ingedeel in ses afdelings en lyk dit vir my asof die sterkste preokkupasie is met die familie en met die liefde wat immer in 'n prekêre verhouding met die poësie staan. Kom ons begin by die eerste afdeling, wat handel oor die familie. Ek het al gehoor dat daar gesê word: "When a writer gets born into a family, that is the end of the family", omdat 'n skrywer noodwendig die familie blootstel in sy of haar werk. Dink jy dit is waar? Nee. Ek dig nooit liefdeloos oor my familie nie. Ek lewer hulle nie uit nie. Inteendeel. Ek draai veral die mes op myself in. Ook in my liefdesverse is dit die geval. Gaan kyk oa na die gedig oor my ouers in Lykdigte. Daar is bepaalde ambivalensies teenwoordig in hierdie afdeling: aan die een kant is daar sprake van 'n ongelukkige jeug (soos byvoorbeeld "Ons maaltye" en "My jeug"); aan die ander kant van groot deernis vir veral die vader- en moederfigure (soos in "Huisgodsdiens"). Hoe verklaar jy dit? Vergelyk 'n reël soos "my pynlike, vernietigende, verdrietige jeug" (p 121). Ek had 'n ongelukkige jeug: ons was dikwels die nuwe mense in die buurt weens my vader se werk, en ek was boonop "displaced" om my aard en belangstellings wat anders was as dié van die kinders om my. Maar ek is nie verbitterd hieroor nie. Inteendeel. Wie het nou weer gesê: "It is never to late to have a happy childhood"? Boonop vier ek elke dag van my lewe en ontgin ek die ongelukkige, ambivalente jeug ... Ek is bly dat ek wetenskap-tabelle uit my kop geleer het en biologie bestudeer het. En my verbeelding gerek het met nonletterkundige aktiwiteite. Daar is nog 'n paradoks in hierdie afdeling: die tweede laaste gedig in die afdeling heet "This funny thing called loneliness", waarin daar baie melankolies geskryf word oor die eensaamheid van die kind wat afgewys en verstoot word; die daaropvolgende en laaste gedig in hierdie afdeling het die titel "A room of one's own" ('n verwysing na Virginia Woolf) wat suggereer dat die digter uiteindelik daardie eensaamheid of alleenheid nodig het om te kan skryf. Dink jy hierdie paradoks is belangrik in jou werk en dat in 'n mate jou poësie voed? Jy kan net dig as jy kan alleen wees. As jy sonder om te skroom jou ellendes diep en vas in die oog kyk. Poësie skryf Lorca Poësie, skryf Lorca Die tweede afdeling funksioneer amper soos 'n narratief oor 'n verhouding wat skipbreuk ly en die rol wat die skryf van poësie daarin speel. Dit is soos 'n verhaal waarin die verskillende momente herhaaldelik vanuit verskillende hoeke bekyk word. Een van die deurlopende temas in hierdie afdeling is die feit dat die digter deur die geliefde verwyt word dat die liefde in gedigte uitgelek word (p 38), dat die privaatheid van die verhouding geskend word (p 54). Wat is jou siening oor die intieme liefdesgedig as skending van die privaatheid van 'n liefdesverhouding? 'n Gedig is nie 'n getuigskrif nie. En 'n gedig handel nie net oor 'n bepaalde verhouding nie; dan was alle mense digters! 'n Gedig ontstaan uit 'n bepaalde insident en kry 'n lewe van haar eie. As mense 'n gedig ervaar as 'n skending van privaatheid, moet hulle wegbly van skrywers of nooit weer praat of lees óór die liefde nie. Maar ek wil nie hieroor te lank praat nie, omdat 'n mens altyd klink asof jy op die verdediging is. Ms Otis regrets Diegene wat hulself sien Die postmodernistiese digter het die neiging om die grense tussen werklikheid en fiksie te laat vervaag. Is dit iets wat jy ook in jou gedigte doen? Hopelik ja. En boonop: die gedig skryf sigself; die digter is maar alleen die medium vir die vers wat self koers kies. Dit is interessant dat die gedigte oor die liefde jou in 'n sekere sin ook uitbring by die huishoudelike, by die kombuis, en word daar by geleentheid selfs verwys na die lesbiese girl wat kan lamstjops braai of kerrie en osstert kan gaarmaak. Elisabeth Eybers het indertyd gewonder of die frase huishoudelike poësie nie 'n contradictio in terminis was nie; syself en digters soos Krog het gewys dat dit inderdaad gedoen kan word. Voel jy jou enigsins verbonde aan hierdie vrouedigters in Afrikaans? Natuurlik. Eybers het pragtig hieroor gedig in "Die digteres as huisvrou", en Krog antwoord haar fyn in Otters in bronslaai, my gunsteling Krog-bundel, waar die huishoudelike onverwags beeldend ontgin word. In "En skielik is dit aand", nes in "Ruggespraak", was ek pens en pootjies terug in die gesinsverband. Kosmaak is immers 'n belangrike roetine in 'n gesin ... Die tweede afdeling bestaan uit 'n enkele reeks gedigte getiteld "Affaire" wat ook soos 'n narratief verloop, terwyl die derde afdeling ook oor die liefde handel, maar ook buite die private kring daarvan beweeg. Dit bevat byvoorbeeld baie mooi gedigte oor ander pare: Leonard en Virginia Woolf, Wallace en Elsie Stevens, Diego Rivera en Frida Kahlo. Wat is dit byvoorbeeld wat jou gefassineer het aan die verhouding tussen Leonard en Virgina Woolf (p 95)? Dat Leonard altyd ruimte geskep het, onvoorwaardelik, vir sy Virginia. Dat sy kon terugkeer na hom. Hy het haar skryfdemone begryp en hy was nie bedreig deur haar intellektualiteit of grensoorskrydende verhoudings nie. Wallace Stevens aan Elsie: 'n ongeposte brief Geliefde Bo-peep, Dit is 'n vers wat die klagte van die private versus die openbare ondersoek. Opperman het Stevens aan my voorgestel en hy loop reg deur my oeuvre. Ek het dan ook my eerste bundel, Hartskrif, geskryf in New Haven toe ek navorsing daar gedoen het. Stevens se "An Ordinary Evening in New Haven" het my ook gelei na Harold Bloom, my ghoeroe, wat besonder insigryk skryf oor digterlike gesprekke, misreading en Freud. Ek het verlede jaar 'n kursus aangebied oor Stevens en sy Kuba-obsessie en natuurlik na Kuba gereis! Ook my Dickinson-reeks, 'n ander obsessie, word met Stevens-motto's begelei. Jy eindig die vierde afdeling in die bundel met die reël: "Dis beslis die laaste reël oor my geliefdes." Is dit waar? Natuurlik. Vir die oomblik. Die vyfde afdeling bevat 'n gedig "My reistasse"; jy skryf ook 'n reisrubriek in Die Burger. Hoe belangrik is reis in die letterlike sin van die woord in jou lewe en hoe belangrik is dit as tema in jou werk? Wat beteken dit alles vir jou? My werk ontstaan dikwels in die buiteland. Dis asof ek 'n beter perspektief kry op Afrikaans en vanuit 'n nostalgiese ervaring dig. Met watter bekende reisigers uit die wêreldletterkunde identifiseer jy jouself? Odusseus. Vanweë jou passie vir die poësie en jou nering as akademikus is jy besonder lief om ander digters aan te haal in motto's en in die verse, en ook om in gesprek te tree met hulle. Watter digters het jou geïnspireer met die skryf van hierdie bundel? Is daar sommige digters aan wie jy ewig verknog sal bly en ander wat jy by wyse van spreke ontgroei het? 'n Mens is soms verlief op sekere digters ... Inderdaad ontgroei jy ook sekeres. Maar ou liefde roes nooit. My liefde vir Plath, Louw, Cussons ... te veel om op te noem … sal altyd duur. Waar lê die lyn tussen eie kreatiwiteit en napraat in die geval van aanhaling? Wat doen jy as digter om ander digters se werk sinvol en kreatief by jou eie werk te integreer? Hoe werk die proses van omgaan met jou mededigters se werk? 'n Mens neem oor as dit allemansgoed is; anders moet jy kreatief verwerk en timmer aan die oorspronklike gedig. Maar wat is werklik oorspronklik? Tristia is oa herskrywings van klassieke tekste; die grote Opperman herdig aan ou tekste ... Dink jy jou poësie het oor die jare verander? Dat En skielik is dit aand anders is as jou eerste bundel Hartskrif? Dit moet jy as literator vir my vertel. Maar ek dink ek sal waag ... Ek dink my eerste verse was uit die hart. Toe het ek in die middelperiode speelse parodieë geskryf, en nou's ek weer terug by die hart. By dit wat werklik saak maak. Jy begin die bundel met 'n gedig wat verwys na die presiese punt waar jou poësie begin het en eindig dit met 'n gedig waarin jy bely dat die poësie jou enigste en eintlike huis is. Jy eindig die bundel met woorde wat herinner aan Achterberg: "Met hierdie vers/ verval alle vorige verse." Wat beteken dit? Die eerste en laaste verse sluit om die ander gedigte: hoe ek begin skryf het en hoe ek alles weer ontken, herskryf, weggooi - met ander woorde, die leser waarsku dat ek dalk weer 'n ander bundel mag publiseer!
Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |