Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Êrens tusssen ’n kaalgat keiser en ‘n miskende genie

Charl-Pierre Naudé is pas met die M-Net-prys vir Poësie bekroon vir sy tweede digbundel, In die geheim van die dag. Jaco Botha het saam met hom in Melville gaan pub-crawl om meer uit te vind oor hierdie eiesoortige digter.

Êrens tussen ‘n kaalgat keiser en ‘n miskende genie – daar is Charl-Pierre Naudé. Dit is my aanvanklike gevolgtrekking na die eerste lees van sy nuwe digbundel.

Ja, sê Charl, hy vind dit ’n interessante metafoor – miskien sien sommige mense hom so, want daar is dalk ’n bietjie verwardheid ten opsigte van die insette wat sy nuwe werk bring.

En so begin een van die aangenaamste gesprekke wat ek in ‘n lang tyd gehad het.

7de Laan, with a difference

Dis eers later in die aand, wanneer die wyn al so ‘n bietjie meer rigting, flair en ja, ook waarheid, aan ons geselsies gebring het, dat ons die belangrikheid van die beginpunt van ons gesprek besef.

Dis omtrent halfvier op ‘n sonnige wintermiddag in Johannesburg wanneer ek en Charl in 7de Straat opstap op soek na ‘n lekker fotogeleentheid. In die hoek van ‘n tweedehandseboekwinkel, tussen duisende boeke, vind ek ‘n goeie spot om foto’s te neem, en wanneer Charl (in ‘n refleksbeweging) sy hand na die rak langs hom uitsteek, kom ons ná die neem van die foto agter hy het sy hand onwetend op een van Etienne Leroux se vertaalde romans, One for the Devil, geplaas.

Dit is juis hierdie per abuise raakvat van ’n skrywer wat met mites en ikone gewerskaf het, wat ’n belangrike tematiese invalshoek bied op Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag. Soos die leser verderaan ook sal sien.

Lesersweerstand
Ek bieg aan Charl dat die eerste lees van sy digbundel nie vir my maklik was nie. Ek vertel hom hoe my oë al hoe meer skeel getrek het oor die ellelange verse en hoe ek myself gevang het dat ek in die stem van Casper de Vries se Oom Callie vra: “Hoe nou? Wat nou? Wat gáán hier aan?”

Charl antwoord: “Dit gaan oor verwagtingshorison, Jaco. Die verwagtingshorison vir poësie in Suid-Afrika is maar flippin’ eng, hoor. Jammer om te sê. As jy – byvoorbeeld – The Vintage Book of World Poetry, wat verlede jaar herverskyn het, gaan deurblaai, of enige bloemlesing van Eurposese poësie, of jy gaan lees die gedigte van iemand soos die Noord-Amerikaner Raymond Carver, sal jy sien my gedigte is nie uitsonderlik lank nie. En as hulle was, wel wat daarvan? Daar is meer as een vorm van digtheid. Ek werk juis nie primêr met die idee van tekstuurdigtheid nie, hoewel dit ook in die prentjie kom. Die digtheid by my verse lê in die eerste plek op die vlak van die verbeelde scenario in die gedig.

“En een ding wat hierdie gedigte nié is nie, is ‘analities’. Hulle werk bloot maar met ’n elliptiese soort verbeelding, en verg dus dat die leser sy/haar intellek sowel as die hart gelyktydig moet inspan. (Dit op sigself is nie nuut in Afrikaans nie, en veel minder in die wêreld. Byvoorbeeld, Breytenbach se beste verse soos in Yk, of Buffalo Bill, vra dieselfde inspanning. Hoeveel mense lees hom werklik na wense? Ongelukkig is hy meer bekend vir sy vroeë bundels, wat myns insiens erg gedateer het.) In elk geval moet mens nie te hard probeer om poësie te lees nie. Dit sal wees om te sê: ‘Ek gaan nou hard mediteer’, of ‘Ek gaan nou daadwerklik aan die slaap raak.’ Raak liewer werklik aan die slaap.”

Fluisteringe en oorprobleme
Die Nederlandse vertaler Robert Dorsman, met wie ek hieroor gesels het, beskryf Charl-Pierre se poësie as “on-Suid-Afrikaans”. Hy voel hierdie “erg mooi” gedigte vind veral aansluiting by die Europese en Poolse tradisie en noem die name van Zbigniev Herbert, Czeslaw Milosz en Wislawa Zymborska. “Hy speel 'n besonder belangrike en broodnodige vernuwende rol binne die Suid-Afrikaanse poësiewêreld,” meen Dorsman.

“Ek lees nogal wyd,” sê Charl, “nie noodwendig so vreeslik baie nie – en wanneer ek lees, lees ek deeglik. Die huidige bundel is wel beïnvloed deur die verhalende verse van iemand soos Carver. Maar hoe sentraal daardie invloede staan, weet ek ook nie. Die kadens van ons verse is heeltemal anders. Syne is colloquial. Myne lyk my meer mymerend. Ek skryf maar vanuit myself, en my eie omgewing. Punt. En ek voel die manier waarop dinge tot dusver in die Afrikaanse poësie gesê was, kan nie meer die ervaring wat op hande is, behoorlik verwoord nie. Die struktuur van Suid-Afrikaners se ganse leefwêreld het radikaal verander in die afgelope tien jaar – waarom moet die poësie dan so knaend dieselfde bly?

“Van my vroegste rigtinggewende invloede was Pablo Neruda en die Griekse kommunistiese digter, Yannis Ritsos, albei nou saliger. Laasgenoemde het ek jarre laas gelees, maar sy invloed was definitief bepalend. Die neurose van Ritsos se sosiale erfenis en my eie as Suid-Afrikaner het sekere ooreenkomste.

“Maar die literêre erfenis van Afrikaans is nie iets wat ek wil agterlaat nie! Dit kán nie. Dis altyd, altyd met my. Dis ’n fluistering wat gedurig met my praat en my ook teister, amper soos ’n binneoorprobleem (‘Ja, Ouma, ag fok, gaan slaap nou Ouma …’).

“Behalwe dat dit BB is wat die venster op die wêreld, en ook op bogenoemde twee digters, vir ‘n jong Afrikaanse leser oopgesluit het, skryf ek tog uit my eie tradisie ook. Gaan kyk maar na die klankstrukture van my nuwe verse: dis iemand soos Johann Lodewyk Marais wat my verbind met die voorafgaande Afrikaanse tradisie. Dis ’n besef wat ek eers vanoggend gekry het. Niks val uit die lug nie, nè? Behalwe jou eie geboorte.”

Fopspene en goud
“Ek is self nogal as skrywer deur Carver se fiksie beïnvloed,” noem ek.

“Ja, dis interessant,” voeg Charl mymerend by, “dat Robert Dorsman ‘n Poolse invloed sien, want Carver was juis deur daardie tradisie geïnspireer.” Die laatmiddagson val oor sy kakebeen en ek neem nog ‘n foto.

“Die Nederlandse poësie het self maar eers oor die laaste dertig jaar oopgegaan vir ‘vreemde’ invloede, volgens die digter K Michel. En soms voel ek hulle verstaan my beter as baie Afrikaanse lesers. Ek twyfel,” sê hy dan terwyl hy effe triestig na die son in sy glas kyk, “of iemand soos, sê maar, die Russiese digter Josef Brodky ooit as digter in Suid-Afrika sou kon gepubliseer het as hy nie reeds iewers anders bestaan het nie – daarvoor was ons resepsie tot dusver oor die algemeen te ingegord, te uitsluitend. Maar dis iets wat besig is om te verander. Tog, die mediaan swaai nog maar sy septertjie van fopgoud. En ek sê dit ten spyte van die heelparty uitmuntende kritici oor wie Afrikaans nog altyd beskik het.

“Onlangs, tydens ’n vertalerswerkswinkel tussen Nederlandse en Afrikaanse digters, het een van die Nederlanders aan my opgemerk dat hy dink ek is die enigste van die Afrikaanse digters teenwoordig wat ‘moderne’ poësie skryf. Dis miskien bietjie oorbeklemtoon, want een van die digters daar was Louis Esterhuizen, wie se poësie myne miskien in sommige opsigte voorafgaan. Maar, ons moet kennis neem van sulke indrukke as ons ons posisie in die breë literêre wêreld wil konstrueer. Helaas moet mens darem onthou dat ‘moderne’ poësie nie noodwendig beter is as ‘tradisionele’ poësie nie.”

’n Poësie van versplintering?
“Met die eerste deurlees het ek veral die beelde tot ‘n groot mate versplinterd, ‘n bietjie van ‘n acid trip, gevind,” sê ek aan Charl en vra of daar ooit substansie in die alchemie van sy skryfproses betrokke is. Hy dink vir ‘n oomblik (Charl dink en drink ewe behoedsaam) en sê dan dat die “acid trip”-gedagte vir hom werk. Maar nee, sê hy, daardie soort substansie is tot sy jong dae beperk …

“Nie ‘versplinterd’ nie, eerder ellipties, soos ek hier bo sê. Met ander woorde, die metafore werk nie A=B nie, maar A=C. Die middelterm is weg. Dis waar die surrealistiese effek vandaan kom, reken ek.

“‘Versplinterd’ is juis wat hulle nie wil wees nie. Ek sien die gedigte as baie spesifiek afgestem op ’n baie bepaalde doel. Die gedigte beteken sommige dinge en nie ander dinge nie (in soverre mens dit kan sê van gedigte …). En omdat die gedigte werk met die geheimsinnigheid van die realiteit, is dit nodig dat dit gekombineer word met helderheid. Misterie moet nugter aangebied word, anders is dit mistifikasie.”

Van oop en toe gaan en geraas maak
Hy voel dus dat daar wel “samehang” en “binding” is en noem ook dat my indruk van “versplintering” miskien ‘n natuurlike uitvloeisel is van ons “sensueel-gebombardeerde” tyd – of dalk ‘n nalatenskap van die “vertelstrategieë” van die postmodernisme.

“Maar,” stel hy dit baie duidelik, “hierdie is nie juis bedoel as ’n postmodernistiese bundel nie” (in die eng sin van die woord) en ons albei is dit eens dat die postmodernisme reeds in die laat tagtigs oral in die wêreld, behalwe miskien in Suid-Afrika en Pakistan, al afgeloop het. Nou praat ons nie van Postmodernisme met ’n hoofletter nie, wat filosofies eerder as “letterkundig” verstaan moet word. Dis die breë tydsgreep waarbinne ons leef, en wat al min of meer na die Eerste Wêreldoorlog stadig begin het, en as sodanig is ALLE skrywers vandag Postmodern, of hulle dit wil wees of nie.

“Ek dink strominge soos postmodernisme in die letterkunde, soos ook die avant-garde neigings van die sestigs en sewentigs, het ’n kleiner, provinsiale letterkunde soos die Afrikaanse letterkunde nie altyd so goed getref nie. Ons het nie genoeg teenpole gehad om daardie oorrompelende invloede na behore te relativeer nie. Die goed het heeltemal verband uitgeruk. Voeg daarby die feit dat Suid-Afrika dekades lank aan ’n kulturele boikot onderworpe was en dus afgesluit was van die wêreld wat aan postmodernisme sy naam gegee het. Daarom kan die betrokkenheid van buitelandse literatore by Afrikaans vir ons net goed wees. Kan daar nie ‘n jaarlikse beurs ingestel word vir bright Nederlanders om elke jaar hier nagraads te kom studeer nie of klas te gee nie? Pleks van dat hulle afgeskrik word soos deur die redelose aanval wat ’n UK-literator nou die dag op Alfred Schaffer gedoen het oor sy resensie van my bundel. Waarom ’n konteks – ons letterkunde – wat hard probeer om oop te gaan, weer so genadeloos probeer toeslaan?

“Nederlanders het beslis ook baie om by ons te leer. Die diep, klowende psigiese omwentelinge waaraan ons in ons daaglikse politieke handel en wandel onderworpe is, is miskien minder sterk aanwesig in hul huidige bestaan. En om ’n provinsiale letterkunde te wees is nie ‘n belediging nie. Die Ierse letterkunde is tog ook een. Dit beteken net dat die spanninge wat ’n skrywer mee werk, verskil van die Engelse of die Russiese, ens.”

Die onderstebo loop wat regop is
By gebrek aan ’n meer vindingryke term besluit ons dat die era waarin ons tans lewe, beskryf kan word as ‘n soort “retro-postmodernisme”.

“Ons weet al lankal bo is nie meer bo nie en onder ook nie altyd onder nie,” sê Charl. “Maar ons loop nog steeds regop by die deur uit (dis nou as ons nie te diep in die wingerdmedisyne getrap het nie), sit die glas steeds op die tafel neer en nie onder die tafel nie, ens. Dis insiggewend dat die enigste dierasies wat in hul optrede lyk of hulle die postmodernisme vir ewig ernstig sal opneem, die vlieë is: loop mos teen die dak asof dit die vloer is ...”

“Ja, en al is kak koolstof, bly kak steeds maar kak, hè?” beaam ek joviaal.

Hy lag lekker, knik en praat verder. “Die postmoderne bewussyn is lankal deel van hoe ons praat en dink, maar tog neig ons terug na die magiese, die onverklaarbare, die mite en die ikoon in hul onontgogelde vorm – die onderstebo loop wat regop is. Eugène Marais bly vir my ’n belangrike verwysingspunt.”

Charl het ‘n honneursgraad in Filosofie en “daardie ‘benaderings’ speel in ’n mate waarskynlik ’n rol by hoe ek die lewe sien,” erken hy.

“Laat ek jou ’n voorbeeld gee van wat ek dink die “mixed blessing” is van die postmodernisme-stroming op Afrikaans: die neiging om te demitologiseer, om te “debunk”, was miskien goed om ons vry te maak van sommige verdrukkende opvattings in die apartheid-tyd. Maar ons het nie hier te lande die lang, gevestigde geheue van die ou, Europese kulture nie. Demitologisering het dus ons skrapse, versplinterde kulturele geheue net verder versplinter. Maar terselfdertyd maak die postmodernisme die deure oop na bewuste mitologisering – en dis waar ek my nou as skrywer bevind.”

“Dink jy,” vra ek hom, “dat Filosofie as vak jou beïnvloed het om ‘filosofies’ te skryf?”

“Minimaal. Ek dink ook nie ek skryf ‘filosofies’ nie. ‘Reflekterend’ is ’n beter woord. En hierin verskil ek nie van vele Europese digters nie. Ek wil my juis nie beperk tot die onmiddellike indruk nie, maar peil waar dit vandaan kom.”

Inisiasie as simbool vir ’n veranderende identiteit
“Op die voorblad,” begin hy geduldig aan my te verduidelik, “is ’n figuur uit ’n Xhosa-inisiasie.” In die geheim van die dag is in wese ’n bundel wat sosiale oorgang, van een toestand na ’n ander, onder die loep probeer bring.

“In Die Nomadiese Oomblik is daar ’n gedig met die titel “Inisiasie” teen die einde van die bundel. Die voorblad van In die geheim van die dag sluit regstreeks daarby aan. Daai gedig gaan oor die gevoel van identiteitsverandering van ’n ‘blanke’ persoon – ek self – in Suid-Afrika. Die politieke verandering word in die gedig beleef op die vlak van die intens private (dmv ’n droom), soos in die meeste van my gedigte. Die voorblad is gebaseer op ’n foto, deur die Suid-Afrikaanse fotograaf Caroline Suzman, van ’n Xhosa-jongman. Hy het verby ’n bekende landmerk in die Oos-Kaap, die veselglas-pynappel by Bathurst, geloop, op sy pad na die inisiasieskool. Die pynappel in die agtergrond herinner aan die ikoniese voorstelling van ‘’n Afrikaan voor sy hut’, maar pleks van ’n hut is daar nou ’n pynappel!

“En soos jy hier bo jou eie reaksie op van die verse beskryf: ‘Huh? Hoe nou gemaak?’, die ikoniese beeld kom wacky en droomagtig voor. Dit lyk ‘superimposed’. Maar die foto is ongemanipuleerd, van ’n wérklike belewenis, dit het net so gebeur, en is miskien tiperend van die soort beeld in die bundel – daarom dink ek die woord hiperrealisme is miskien meer gepas vir dele van die bundel as surrealisme.

“En wat lê agter die foto? Daai pynappel is ’n reklame-pynappel, vir die soort boerdery in die streek – die hedendaagse en die tradisionele skuif oor mekaar in.”

“Miskien die oorgang van een poëtiese tradisie na ’n ander?” vra ek.

Hy knik. “As jy so wil. Maar ek dink nie een poëtiese tradisie hoef ‘n ander te vervang nie; hulle kan mekaar wel aanvul. Daarom is dit jammer dat daar nie meer ontvanklikheid is vir die nuwe en die onverwagte in die huidige Suid-Afrikaanse letterkundige sfeer nie – so ’n krampagtige geklou aan die oorbekende. Die goeie werk wat gedoen word tersyde, is daar binne die breë literêre konteks in Suid-Afrika tans twee kampies waaraan ek ’n broertjie dood het: die ‘Anything goes’-kampie en die ‘Só moet dit wees, híérdie is die aard en oorsprong van die poësie’-kampie. Ek vind albei hierdie benaderings kragteloos. Miskien is albei reaksies die uitvloeisel van die onsekerheid wat ’n postrevolusionêre tydsgewrig aan ’n letterkunde opdring. Ek sou wou sê: bly tog asseblief by die intuïsie, bly oopkop. As ek so vermetel mag wees om ’n reël uit een van my eie gedigte te parafraseer: ‘die oorsprong van die poësie lê nie in die verlede nie, maar in die toekoms.’”

Twee soorte poëtikale impulse
“Na ek jou digbundel gelees het, het ek nie meer lekker verstaan wat poësie presies is nie – ek is seker maar ’n bietjie van ‘n barbaar,” spot ek. “Wat sien jy as poësie? Hoe definieer jy dit?”

“Tradisioneel in die Suid-Afrikaanse poësie, Afrikaans en Engels, kom betekenisse tot stand dmv die tekstuur van die woord. Dis veral die geval by Breytenbach, en ook die vernaamste verskil tussen sy ‘surrealisme’ en myne. Ek gebruik gewone woorde en hou by die spreektaaltekstuur, maar dit beteken nie dat die klankaspekte agterweë moet bly nie. Dis bloot op die agtergrond geskuif, ‘n bietjie versink. ’n Mens hoef mos nie heeltyd herinner te word aan hoe ’n horlosie werk om die tyd af te lees nie.

“Jy het genoem daar is twee soorte poësie – een wat hoofsaaklik werk met die tekstuur van die taal en ’n ander wat werk met beelde. Vertel my meer hieroor, Charl.”

“Ek kan ’n bepaalde verskil – tussen ‘tekstuurgedigte’ en ‘verbeeldingsgedigte’ – tussen my gedigte en dié van (die meeste van) my voorgangers in die Afrikaanse poësie – belig deur te verwys na die voorwoord deur die Amerikaanse kritikus JD McClatchy in sy onlangs herverskene bloemlesing The Vintage Book of Contemporary World Poetry (ISBN 0-679-74115-1). Daarin sê hy jy kry twee soorte inspirasies in die digkuns, die ‘invented’ en die ‘received’. Eersgenoemde werk met die ‘technical apparatus and rythmical instincts (of a language) … the whole echo chamber of a (particular) tradition.’ En so praat hy oor die tweede inspirasie: ‘The second inspiration is the ‘received’. Hegel thought that the true medium of poetry is not words but ‘poetic ideas’ … (the poem) as a manifestation of an invisible poem, written in a language beyond languages. Such invisible poems reveal themselves less in the actual lines of a poem than in the figures those lines conjure up.’

“Die Afrikaanse tradisie tot nou toe werk hoofsaaklik met die eerste inspirasie. My gedigte werk veel meer met die tweede inspirasie, ‘the received’. Maar albei impulse is dikwels gelyktydig in die poësie teenwoordig. Dis net die ‘mix’ wat verskil.”

’n Sonnetskrywer incognito?
“Jy skryf ’n baie sterk prosagedig – brei asb uit oor waar, indien mens sou wil, jy ’n streep kan trek tussen prosa en poësie.”

“Ek het ’n agting vir prosagedigte. Maar hierdie gedigte sien ek glad nie as prosagedigte nie. ’n Prosagedig is ’n gedig wat in paragraafvorm verskyn. My gedigte boots wel die vorm na van prosa, maar is dit nie. Ek sien dit nie eers as vrye vers nie, hoewel dit miskien ook na vrye vers mag lyk. En dis miskien hier waar ek van Carver verskil, en nader is aan die Italiaanse digter Cesar Pavese. Breytenbach en Krog, byvoorbeeld, skryf vrye vers. Ek het onlangs ’n vrye vers geskryf vir die Julie-weergawe van INSIG. Dis iets anders.

“Nee, ek is nog steeds die sonnetskrywer van ouds, hoor, net incognito. Die moeilikste aspek van hierdie gedigte was die metrum: langer reëls, om ’n hipnotiese ritme te verkry sonder dat die reëls kantel. Waar die reëls breek, is ontsettend belangrik, en het lank geneem – vier jaar – om reg te kry.”

Charl se voorkop groef weer soos wat hy dink en dan sê hy: “Dit werk ’n bietjie soos chemie – ’n mens kan ’n atoom se samestelling verander na ‘n gans ander element deur slegs een elektron by te voeg. Ek het gedigte geskryf wat prosaïes lyk, maar dit kort nog ‘daai ander elektron’ – wat die samestelling radikaal sou verander na prosa.

“Wat miskien interessant is,” sê hy, “is dat die eerste gedigte van In die geheim van die dag oorspronklik ‘private liefdesverse’ was wat in Engels geskryf was. Die eerste literêre weergawes wat tot stand gekom het, was in Afrikaans, maar die bestaan van daardie eerste ‘private drafts’ het aanleiding gegee tot ’n parallelle Engelse bundel van dieselfde gedigte. Dit was ’n geweldig ambisieuse projek, want die metrum en ritme van Afrikaans en Engels werk heeltemal verskillend. Onderliggend is die begeerte om ’n groter gehoor te bereik. Ek sal nie omgee om met my nie-Afrikaanse landgenote in gesprek te tree nie … Die voltooide Engelse bundel is nog nie formeel voorgelê aan ’n uitgewer nie.”

Van Boerneef en mbongi’s
“Sou jy sê Breytenbach het jou beïnvloed? Ek het soms so gevoel by die lees van jou vorige bundel.”

“Hy was my vroegste bepalende invloed. Maar ek het dit nou ingeruil vir die invloede van Neruda en ander Suid-Amerikaners. Ek dink egter Breytenbach is ’n formidabele woordkunstenaar. Maar kyk na sy vroegste, ongebundelde verse: Breytenbach groei myns insiens uit Boerneef. Dis die eksperiment met die woordklank wat sy surrealisme voortdryf. Dis die diskonneksie tussen die gedagtes in die gedig wat betekenis bepaal. By my is dit die konneksies wat tel, en hoewel daardie konneksies ellipties is, is hulle logies.

“Breyten is dus vir jou amper ’n soort Boerneef op steroids?” vra ek.

“Ha! En miskien is ek ’n soort Johann Lodewyk Marais by ’n fancy dress party. Wat opdaag as ’n palmboom. In die vere van ’n mbongi. En ’n gumboot lapdansie uitvoer.”

“Op acid natuurlik …”

“Op die punt van ’n naald,” lag hy.

“Sonder om af te val, hopelik.”

“En wikkel en sing: ‘Solank as wat die lepel in die pappot staan …’”

“Skryf jy ook prosa?” bring ek ons gesprek na ’n meer nugtere vlak terug.

“Ja, dis iets wat min mense weet. Ek het al ‘n bundel kortverhale en twee romans geskryf, maar tot op hede nog nêrens voorgelê nie.”

Die ding met uitgewers
Ek vra hom: “Hoekom het jy na Protea as uitgewer verhuis?”

“Ek het eers wel by my eerste uitgewer, Tafelberg, voorgelê. Die bundel se eerste voorlegging is afgekeur. Hulle wou wel ’n tweede voorlegging hê, maar ek het gevoel die keurders projekteer verkeerd wat ek beoog. Maar ek is vandag bly daardie weergawe is afgekeur, hoewel ek ook besef ek en daardie keurders skryf in verskillende wêrelde. En Protea het my ’n editor van die gehalte van Jeanette Ferreira gegee.

“Dis jammer,” sê ek, “maar tog ook natuurlik – miskien kom hulle (daardie keurders) uit ‘n ouer tradisie? Mens moet ook nooit vergeet ons elkeen het maar ons eie verwysingraamwerk nie. In jou leeftyd, self al lees jy flink, gaan jy maar ongeveer 4 000 boeke lees. Daar is dus ’n goeie kans dat jou boeke van my boeke mag verskil en so ook hoe ons dink en wat ons kosbaar vind.”

Hy knik en ril. “4 000 is nogal min.”

’n Beach in Diagonaalstraat
“Wat,” vra ek ten slotte, “is die essensie van Charl-Pierre Naudé?”

“Ek het ‘n private Johannesburg in my kop. Diagonaalstraat is die hoofstraat. Sonder die beurs. Met die effekte. En ’n beach. En in daardie straat smous ek met Ware Noord. Sê dit iets?”

Hy het my vir ‘n oomblik weer verloor, maar dit maak nie meer regtig vir my saak nie – ek is in my eie snoesige klein wynwêreldjie en loer na ‘n paar meisies wat in die straat verby loop – hul parfuum ruik na … wat kan dit wees?

“Kan jy in ’n neutedop iets sê oor wat jy probeer bereik het met die bundel, indien enigiets?” vra ek dan tog ook.

“Ek wil die identiteitsbelewenis van Afrikaanse mense so bietjie help skuif. Hierin sluit ek my aan by die goeie voorbeeld van Antjie Krog, Breytenbach ea. Ons is almal kleurlinge, hetsy met of sonder ’n tan. Die klank van Afrikaans is nie Nederlands nie, dis myns insiens eerder Indonesies met ’n sprinkeling Khoisan. Wie het nie al gehoor nie van Suid-Afrikaners wat terugkeer van Indonesië met sulke stellings: “Dit klink of die mense almal Afrikaans praat, maar dan maak hulle of hulle jou nie ken nie ...

Kleurling is ’n mooi woord nè? Dis baie mooier as ‘polkadot grysling’. En minder laf. Die keuse is ons s’n.”

Bring vir dié clora nog ‘n dora, dink ek. (Dis tog ook poëties, of hoe?)

Naskrif
Met die insigte wat my gesprek met Charl-Pierre Naudé gebring het, gaan lees ek weer sy bundel. Hierdie keer stadiger, met TS Eliot se beginsels van “close reading” in die agterkop. En dan, asof deur ‘n openbaring, begin die teks vir my oop te gaan en ek besef dat hier wel ‘n uiters knap, uiters deurdagte digter en ja, ook ‘n digter met ‘n hart is, wat hier aan die woord is. Mens met net geduldig wees.

Die laaste woord behoort dan ook aan hom:

“Iemand SMS my nou die dag – seker oor die verwysing na break-ups in die bundel – en sê hy hoop dit gaan darem beter met my in die toekoms … Ek hoop maar mense lees ook die hiperboliese, teatrale kant van die verse raak, wat humoristies bedoel is. Die volgende gedig ter illustrasie …”

’n Saak van erns

’n Oomblik gelede was albei die ene klokgelag.
Toe steek hy sy hande uit en sy streel oor
sy arms; hulle voel-voel mekaar. En skielik, dié erns.
Haar wimpers sak, en vee oor die wangbene,
vee, o wee, soos die besems van Vader Tyd.
Die purper van plegtigheid. O rou van lanfer!
Hoe het ons ooit in hierdie situasie beland …
Die Sanhedrin vergader. Iemand gaan gekruisig word.
Maar dis ’n ope geheim dat stemmigheid snaaks is:
Sy klim op hom soos op ’n motorfiets, die een
met die hooidakkie, met die stukkende koplamp,
wat nêrens heen gaan nie. Ja, die een met
’n krimpvark, wat wakker word in die petroltenk.
En sy skop hom aan die brand met soveel, sóveel
deernis, mens sou sweer hy’s ’n mallemeuleperdjie.
En hy, die pryswennertuinier, stoot ’n kruiwa
van porselein met sulke Picasso-handvatsels in die
vorm van voete, wat wiebel en kerm en
halfpad vasdraai, voor die gruis soos ’n kuif stort.
Die tentoonstelling neem ’n wending. Hier het ons nou ’n
Victoriaanse bad, die stewige rondings
balanseer op vier fyn gewriggies, weg van die vloer.
Net ’n sweem van fiemies, vir ’n ou poeletjie water.
Die allerlaaste skoudag, voor die wêreld eindig.
Sy lig ’n fluit uit sy lap. Vir ’n requiem, natuurlik.
Swart, swart. Die begrafnis van alle dinge.
Oral, oral net ingehoue trane;
sweerlik gaan iemand uitbars van die lag.
Swaarwigtigheid; gravitas; waan; liefde
wat meedoënloos aan die speel gaan.





LitNet: 19 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.