|
Dennebos-herinnering gestroop van biograaf se byvoeglike naamwoordeErns GrundlingIngrid Jonker beeld van n digterslewe het pas by Hemel en See Uitgewers verskyn. Die ervare joernalis/skrywer/uitgewer Petrovna Metelerkamp is die samesteller van hierdie insiggewende boek. Met bykans 140 fotos, 60 briewe, manuskripte en tot nou toe verborge inligting probeer sy die sluier lig op en perspektief gee aan die hordes bespiegelings oor een van die Suid-Afrikaanse letterkunde se grootste ikone. Dit is veral die liefdesbriewe aan haar minnaars Jack Cope en André P Brink (waarvan twee ongepos was) wat die mense nou weer aan die praat het. Die boek werp ook nuwe lig op haar verhouding met haar pa, terwyl n vriendin die eerste keer praat oor die nag van Ingrid se dood. Wat hierdie boek egter onderskei van n konvensionele biografie, is die samesteller se doelbewuste afwesigheid by die interpretasie van die inligting. Die bekende biograaf John Kannemeyer meen haar werkswyse, waar sy alle beskikbare feite objektief aanbied, is iets nuut in Afrikaanse biografieë. Hy het haar poging as uiters, uiters boeiend beskryf. Ek het met Petrovna Metelerkamp gesels by Die Blikbord op Stellenbosch. Petrovna beskou haarself as die afwesige skrywer, en het onverpoos probeer om haarself te distansieer van die emosie wat saam met al die afdraaipaadjies van Ingrid se woorde en dade gaan. Sy sê dit was n groot proefneming, en dat sy selfs geen byvoeglike naamwoorde wou gebruik in haar bindingsteks of waar sy self in die boek aan die woord is nie. Byvoeglike naamwoorde heg dadelik die skrywer se interpretasie by en maak dit subjektief. Ek wou wegbeweeg daarvan. Haar ervaring as navorser het hier handig te pas gekom. Ek wou Ingrid se lewe nie interpreteer nie, en soveel waarheid as moontlik opspoor. Daar is soveel omstredenheid en onsekerheid wat ek wou uitklaar oor haar geestestoestand, moeder wees, huwelik en die groot liefdes in haar lewe. Maar hoe gemaak as die inhoud waarmee jy jou bemoei, so boeiend en emosioneel van aard is? Ingrid was immers n kultusfiguur wat met ikone soos James Dean en Marilyn Monroe vergelyk word. Petrovna hou vol dat n kliniese, joernalistieke werkswyse deurgaans gevolg is. Maar ek moet erken, dit was vir my by tye verskriklik, en baie emosioneel. Ek huil nog steeds dat die trane loop by die herlees van sekere dele in die boek. Soos waar? Sy maak oop op bl 186, by Ingrid se tweede ongeposte brief (vroeg Julie 1965) aan haar gewese minnaar André P Brink. Hierdie brief verskyn nou vir die eerste keer saam met n vloedgolf nuwe onthullings in die publiek: My liefste André En dan, heelwat later in die brief: Here, liewe kind, skatkind, ek wil vreeslik graag gesels maar voel al klaar Reserve, tension, distrust! Petrovna raak driftig. Dis vreeslik om te sien hoe deurmekaar en onsamehangend haar emosies was. Daar was nie regtig n Chris, Jan, Koos of Johan nie. Sy probeer sarkasties wees, maar kry dit nie reg nie; dit het glad nie by haar gepas nie. Die emosies meld aan; ek bestel n koppie koffie. Sy vertel daar was twee gebeurtenisse die laaste dekade wat die kollig opnuut weer op Ingrid en haar werk laat val het. Die eerste was natuurlik toe oudpresident Nelson Mandela Die Kind gelees het tydens die eerste parlementsopening in 1994. Die tweede en vir Petrovna die minder smaakvolle geval was toe dit bekend geword het dat die Nederlander Gerrit Komrij al Ingrid se persoonlike dokumente gekoop het. Die draaie en kronkelpaaie wat hierdie veelbesproke dagboeke, dokumente en etlike persoonlike besittings die afgelope dekades geloop het met die gepaardgaande kinkels, intrige en emosionele (en finansiële!) toutrekkery is op sigself nóg n boek werd. Petrovna raak van meet af opgewonde terwyl sy hierdie interessante stukkie geskiedenis, wat drup van bespiegelings en selfs n bietjie skinder, met my deel: Ingrid se dokumente en besittings is na haar dood na die National English Literary Museum (NELM) in Grahamstad. Jack Cope was nog daarby betrokke. Ingrid se ouer suster, Anna Jonker, het op n stadium al die dokumente gaan haal, want sy wou graag self Ingrid se biografie skryf. Gelukkig het NELM n volledige lys gehou van alles wat Anna gekry het, wat kort opsommings oor elke item en selfs uittreksels uit persoonlike briewe ingesluit het. Hierdie argief was van onskatbare waarde tydens Petrovna se navorsing vir die boek. Na Mandela se parlementsopening in 1994 het Petrovna n storie oor Ingrid vir Insig gedoen, en so met Anna bevriend geraak. Dis maar n occupational hazard van my om alles neer te skryf, en ek het ure se telefoongesprekke met Anna oor haar beplande biografie opgeteken. Sy wou dit graag as memoires dus n meer subjektiewe beskouing aanbied. Petrovna het ook gereeld by Anna wat toe reeds in die sestig was gaan kuier in haar armsalige woonstel in Seepunt. Ek onthou die bokse en koffers vol van Ingrid se dokumente en besittings, wat altyd in die hoek van Anna se een vertrek was. Ek het herhaaldelik vir haar herinner dat ons moet fotostate maak van die dokumente, vir ingeval iets daarmee gebeur. Sy het altyd ja-ja gesê. Anna het die oggend van haar dood vir Petrovna gebel. Sy was hewig ontsteld en wou hê ek moet dadelik Kaap toe kom. Anna het na n dokumentêre rolprent oor Ingrid gekyk en dit as smut beskryf. Sy wou dit op n manier stop en het advies gesoek. Sy was mal oor embargos. Volgens Petrovna was Anna obsessief met haar eie weergawe en bemoeienis met Ingrid se lewe, en het sy selfs embargos op die publikasie van verskeie doktorale tesisse gehad. Anna is dieselfde aand dood aan n hartaanval. Haar dogter, Catherine de Villiers, wat op daardie stadium n kothuis gehuur het in die tuin van Jan Rabie en Marjorie Wallace in Onrus, het deurgery Seepunt toe om die koffers en bokse te gaan haal. Catherine het nie haar eie stoorplek gehad nie en dit noodgedwonge by haar broer, Anthony Bairos, gaan bêre. Toe Petrovna vir Bairos bel, wou hy dadelik geld gehad het. Ek het toe vir Otto Liebenberg by die Nasionale Afrikaanse Literêre Museum (NALM) in Bloemfontein gebel, en hom gevra om in te gryp. n Lang tyd het toe verstryk. Een oggend maak ek Die Burger oop en lees dat Gerrit Komrij al die dokumente gekoop het by Bairos! Toe bel ek weer vir Otto Liebenberg. Dit was te laat ... Daarna het Petrovna vir Catherine gaan sien op Hermanus. Volgens Catherine het Bairos haar verseker dat haar ma se biografie wel sal verskyn. n Telefoonoproep van die digter Phil du Plessis het die situasie verder gekompliseer. Du Plessis was glo na aan die transaksie, en Komrij het R50 000 vir die dokumente betaal, wat n deel van Anna Jonker se biografie sou insluit. Die biografie is egter nooit gevind nie, en op Anna se rekenaar het glo net die boodskap stoned geflits. Of dit nou die destydse rekenaarvirus was, of n grap van iemand, weet nugter alleen. Ek sal nie verbaas wees as Anna Jonker dalk self haar biografie net voor haar dood uitgevee het nie, want sy sou nie toelaat dat enigiemand anders dit skryf nie. (n Jeugbiografie deur Anna Jonker wat destyds in Tydskrif vir Letterkunde verskyn het, maak wel deel uit van Petrovna se boek.) Volgens Petrovna het Anna Jonker laat blyk dat NELM op Grahamstad, sowel as die Dokumentesentrum op Stellenbosch, geregtig is op Ingrid se dokumente. Daar hang ook n paar vrae rondom die aankoop van die dokumente deur Komrij, maar volgens Petrovna is daar gewoon nie geld beskikbaar om dit verder te ondersoek nie. Komrij het klaarblyklik die dokumente gekoop om dit vir sy vriend Henk van Woerden beskikbaar te stel vir wanneer hy n biografie oor Ingrid wil skryf. Ek het vroeër vanjaar vir Henk ontmoet en ons het goed oor die weg gekom. Hy was self die laaste ruk te besig om enigsins aandag te gee aan n beplande biografie. Petrovna sê die bokse en koffers is nou op die tweede of derde vloer van Komrij se huis van marmer in Portugal. Ons kan vir nou maar net staatmaak op sy pure ordentlikheid in die hoop dat hy een of ander tyd instem om die dokumente beskikbaar te stel. Dit bly hartseer dat nie Catherine óf Simone (Ingrid se dogter) enige finansiële voordeel uit die transaksie gekry het nie. Catherine het egter nie destyds al die dokumente en fotos vir Bairos gegee nie, en dit het ook geblyk dat Anna wel gehoor gegee het aan Petrovna se versoek om fotostate te maak. Catherine het byvoorbeeld twee ongeposte briewe van Ingrid, sowel as verskeie fotostate en fotos by haar gehad. Die idee van die boek het by Catherine ontstaan, en haar eie inligting, tesame met die NELM-register op Grahamstad, het Petrovna laat besef dat daar genoeg materiaal is vir so n projek. Dit was die begin van bykans drie jaar se intense navorsing, en daar was volgens Petrovna verskeie wonderwerke. Sy kon byvoorbeeld nêrens n foto van die destydse polisiestasie naby Drieankerbaai kry nie, en eendag het die foto haar byna letterlik geroep vanuit n arbitrêre vertoonvenster in n biblioteek. Die inkomste van dié boek gaan gebruik word om vir Simone finansieel te help. Simone het ook n lewe van swaarkry agter die rug. Haar vyftienjarige dogter, Marguerita, moes laas jaar die skool na st 8 verlaat omdat daar nie genoeg geld was nie. Die gene loop so sterk; die meisie is baie intelligent en wil graag skryf en n aktrise word. Nou help sy maar haar pa om boeke en versamelitems in Kaapstad te verkoop. Dit wil voorkom asof n tragiese element altyd by die Jonkers sal wees. Petrovna glo die verskyning van die boek kan n verskil maak. Ingrid se lewe het uit soveel fasette bestaan. Ek dink mense gaan besef sy was baie meer kleurvol, nie so donker soos n Virginia Woolf nie. Daar gaan nog baie oor haar gedoen word; ek hoor daar is sprake van n internasionale rolprent, soos wat nou weer met The Hours die geval is. Baie bespiegelings word in dié nuwe boek besweer. Petrovna vertel die bekendste gerugte was dat Ingrid en haar vriendin Bonnie Davidtsz n verhouding gehad het. Anna Jonker het ook selfs die gerug versprei dat Bonnie vir Ingrid vermoor het. Dit is natuurlik glad nie waar nie, en moontlik een van die redes waarom Bonnie al die jare met niemand wou praat oor die aand van Ingrid se dood nie. Bonnie het egter vir Petrovna in haar vertroue geneem en haar weergawe is nog n fassinerende aspek van die boek. Ek dink aan die einde van haar lewe was Ingrid down n out, alleen en sonder geld of enige hoop. Marlise Joubert van die Protea Boekwinkel stap verby met n kompliment: Die manier waarop die boek geskryf is, dwing die leser om alles self te interpreteer; dit voel soos om n trommel van jou ouma te ontdek en dit te deursoek. Petrovna sê die enigste negatiewe kritiek wat sy tot dusver ontvang het, was van Breyten Breytenbach. Hy was woedend omdat ek fotos van hom in die boek gebruik het. Ek het hom egter gefaks vir sy toestemming en hy het nooit daarop reageer nie. Na al die mooi dinge wat hy oor Ingrid gesê het in die dokumentêre film Korreltjie niks is my dood, is ek nogal verbaas deur sy reaksie. Hy word in elk geval in die boek omtrent as n saint uitgebeeld. Sy is al vir dekades gefassineer deur Ingrid en haar werk, en het kort na haar dood met van haar vriende kennis gemaak. Dit was vir my so ironies toe ek in my navorsing uitvind dat Ingrid as kind mal was oor AG Visser se Purper Iris. Dit was toevallig ook my gunstelingboek toe ek jonk was. Met al die navorsing, en haar ingebore liefde vir fiksie en stories vertel, sal sy graag in die toekoms n meer subjektiewe weergawe van Ingrid se lewe wil skryf. Ek sien die hele movie voor my ... Sy begin te vertel hoe sy nou die aand begin tik het, en mens word dadelik meegesleur in die fyn sin vir detail van hoe sy die tyd herskep waar Ingrid se ma besluit het om haar man te verlaat en by vriende se huis aanklop vir slaapplek. Ek was egter self onderbreek deur iemand wat die voordeurklokkie gelui het. My karakter staan nou nog by die hekkie ... Terwyl ek terugstap motor toe, wonder ek of die klinkklare Waarheid oor Ingrid Jonker nie maar altyd effens gehul moet wees tussen wier en gras nie. Petrovna Metelerkamp se boek is myns insiens n meesterlike werk en kan beslis as n biografiese kwantumsprong in Afrikaans beskou word. Maar is dit nie tog in die aard van n ikon soos Ingrid Jonker dat bespiegelings, fluisteringe en nuwe onthullings haar altyd soos n skaduwee sal bly volg nie?
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |