Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Een van die virtuele sprekers tydens LitNet se Afrikaanse skrywersberaad, die bekende kultuurkritikus Hein Willemse, gesels met Marguerite Black. Hou LitNet dop vir Hein se referaat wat tesame met die van 39 ander skrywers en denkers eksklusief op LitNet gaan verskyn. As LitNet leser sal jy jou reaksies op referate aan SêNet kan stuur, om sodoende aan die gesprek deel te neem. Laat van jou hoor.

Meester van dekonstruksie

Marguerite Black

Hein Willemse het ’n aura van ’n diep denker om hom. Maar dis nie ’n intimiderende intellektualiteit nie, want hy is ook baie menslik en kommunikeer met my op ’n persoonlike vlak. “Ons moes nie verwag dat alles utopies sou wees na apartheid nie,” begin Hein Willemse met ’n kenmerkend kritiese benadering. “Ons is op die oomblik besig met regskikking, besig om vas te stel wie of wat ons in hierdie land is. Voorheen was daar kernaspekte van mense se bestaan waarmee hulle hulself nie gekonfronteer het nie. Die latente probleme van die verlede kom nou na vore. Dis soos ’n situasie van getroudes in ’n huwelik: aanvanklik sien die geliefdes nie mekaar se foute nie, maar later begin die probleme opduik. Mense het in die verlede, met die oorgang tot demokrasie, verkies om die land se latente probleme te ignoreer. Nou sien mense daardie latente strydpunte raak. Die proses van regskikking is belangrik. Die aanpassings kan ten goede wees.

“Bedinging rondom kultuur is belangrik. Die gesprek rondom Afrikaans of die omvang van Afrikanerskap is belangrik. Vir myself weier ek egter om etnies-spesifiek te dink, ek weier om Afrikaans-spesifiek te dink. Ons kan nie toelaat dat ons, soos in die verlede, keer op keer terugkeer net na een aspek van ons sosiale wêreld in Suid-Afrika nie. Ek weier om my taal as ’n begrensing tussen my en ander mense te sien. Ons moet daardie grense ophef, anders gebruik ons taal as ’n skild van afbakening.”

Mosaïek van my identiteit

“Ek het in my eie agtergrond ’n veelvoud van identiteite en ek weier om een identiteit ten koste van ’n ander te verhef. Ons moet aan onsself dink as mense met ’n magdom identiteite: ons het nie net een funksie of plek nie, maar ’n magdom funksies en ’n magdom potensiaal. Ek het geen probleem daarmee dat mense my ’n swart mens noem nie, want ek het vanweë my agtergrond dit nog altyd as ’n positiewe term ervaar.”

Die twee k’s: kategorisering en konteks

“Ek het ernstige probleme met die wyse waarop swart mense vandag in Suid-Afrika gekategoriseer word. Ontkennende terminologieë soos ‘nie-blanke’, ‘anderskleuriges’ of ‘agtergeblewenes’ bevat altyd ’n element van gebreklikheid, ’n implikasie dat jy tekort skiet van die norm. In wese het ek nie ’n probleem met rasterminologieë nie. Mense kan my ‘Kleurling’, ‘hotnot’, of wat ook al noem. Dit gaan oor ’n konteks, oor die omgewing waarin sulke terme gebruik word. Binne ’n politieke konteks skep raspejoratiewe terme ernstige probleme. Wanneer vriende egter vanuit dieselfde agtergrond kom, byvoorbeeld Joodse mans, en sê: ‘We, Jew boys’, is dit aanvaarbaar vir hulle. Maar die oomblik dat ek, wat nie ’n Jood is nie, dieselfde woorde — ‘those Jew boys’ — gebruik, dan is dit raspejoratief, want dan bevat dit elemente wat vernederend en polities problematies kan wees.”

Politieke korrektheid soos spaghetti

“Jou reg eindig waar ’n ander mens se reg begin. Die oomblik wanneer jy doelbewus skade begin berokken aan ’n ander mens, moet jy besluit of jy nie liewer politieke korrektheid moet toepas nie. Ek het onlangs werk van ’n polemiese aard gedoen, waarin ek byvoorbeeld die term ‘kaffer’, gebruik het. Dit sal net ’n dom-onnosele ou wees wat dit nie in ’n kontekstuele verband gaan sien nie. Ons moet versigtig wees rondom terme wat in die openbaar aanstoot kan gee.

“’n Lesbian mag nie daarvan hou om in die openbaar ’n ‘dyke’ genoem te word nie, maar sy mag die term onder haar vriende gebruik. Dis reg, dis fine. Dit is soos ons wêreld is. Politieke korrektheid moet gekwalifiseer word. Dit kan geen vervanging wees vir die basiese reg tot vryheid van spraak nie. Dis die reg wat ek voorop sou stel.

“Persoonlik was ek nog nooit bang om my sê te sê nie — selfs in tye toe dit moeilik was. Baie mense wat deesdae hoog opgee oor politieke korrektheid, het stilgebly toe dit belangrik was om te praat.

“Oor ’n kwessie soos magsmisbruik in die staat moet die gewone burger absoluut alle reg tot die waarheid hê. Politieke korrektheid moet nie die gewone burger se verhouding met magsinstellings belemmer nie. Dit is byvoorbeeld noodsaaklik om te kyk wat gebeur met die manipulering van inligting oor die staat. Neem die debat rondom ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika.

“Alle koerante aanvaar byvoorbeeld dat ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika net kan geskied binne die totaal vrye kapitalistiese stelsel. Die meeste koerante praat van globalisering in positiewe terme. Maar hulle doen baie min om krities die implikasies van globalisering of ongebreidelde kapitalisme te ondersoek. By koerante is daar byna ’n aanvaarding dat ons nie in enige ander terme oor die ekonomie kan praat nie.

“Die Engelse pers het dikwels ’n jingoïstiese houding ten opsigte van Afrikaans of Afrikanerkwessies. Dié soort houding benadeel en beïnvloed Engelssprekendes se perspektief negatief op debatte in Afrikaans of oor Afrikaanssprekendes.

“Die Afrikaanse pers is ook nie uitgesluit van soortgelyke houdings nie. Onlangs in ’n hoofartikel van die Die Burger word geskryf oor plastiekstrooiing in die land. En wat noem hulle plastieksakke? ‘Transkeiblomme’. Dit is ’n blatante oorskreiding van goeie joernalistiek. Dit is ’n misbruik van mag, want deur plastieksakke ‘Transkeiblomme’ te noem, word op ’n indirekte wyse ’n hele boel onverantwoordelike en negatiewe dinge oor swart mense gesê.”

Vermorsing van menslike talent: die gevolg van stereotipering

“Die essensiële aspek van stereotipering is dat dit die uitdrukking van ’n magsituasie is, dat jy jouself in ’n posisie bevind waar jy oor die Ander kan oordeel in terme van jou eie waardes. Die tweede aspek daarvan is dat jy nie individualiseer nie, maar dat jy na ’n mens as deel van ’n kollektief of groep kyk. Jy sien nie individuele kenmerke nie, maar slegs groep-eienskappe.

“As ek nou terugdink aan die geskiedenis van apartheid, dan was my eie verset nie net noodwendig teen ’n sisteem van politieke, sosiale of ekonomiese onreg nie. Wat my nog altyd getref het, was dat apartheid ’n verskriklike vermorsing van menslike talent tot gevolg gehad het. Dit is vir my die grootste aanklag teen apartheid. Dis die grootste misdaad van apartheid.

“Daar is ’n verskil in my interpretasie van apartheid en mense wat dit doodgewoon in terme van die opheffing van raskategorieë analiseer. Mense soos Praag of die Groep van 63. Hulle begryp nie dat die verandering wat nou in die land teweeggebring is, voorheen benadeeldes ’n honderd persent beter kans gee om hul talente te verwesenlik nie. So, kwessies soos die regte van taal en kultuur word dan sekondêr, ten gunste van ekonomiese en sosiale bemagtiging. Die land het groot ekonomiese en opleidingsprobleme, maar teoreties is dit nou vir mense moontlik om hul talente te verwesenlik. Teen dié agtergrond word die debat rondom Afrikaans beperkend en ’n geploeter in die kalfhok.”

Tussen-in-ras: ’n eie skepping?

“Ek dink dat die populêre opvatting van ‘té swart vir die vorige regime, té wit vir die huidige regering’, ondeurdag is. Ek ontken nie dat daar by bruin mense ’n persepsie van ’n ‘tussen-in’ identiteit bestaan nie. Of dit binne die staat noodwendig so is, is ’n ander vraag. Deur daardie persepsie skep ons dikwels ons eie realiteit. Omdat ons apart voel, skep ons in ons denke aparte plekke vir onsself, maar ons doen werklik min om dié soort houdings te ondermyn.

“Daar is baie mense wat kennelik gekleurd is, maar waarskynlik nog nooit daardie ervaring gehad het nie. Neem byvoorbeeld Walter Sisulu, wat met ons beheptheid met afkoms, waarskynlik as ’n Kleurling gesertifiseer moes word. Ek twyfel of hy ooit daardie ‘tussen-in’-ervaring ernstig opgeneem het. Hy het ander politieke en sosiale keuses gemaak.

“Terwyl ek nie die ‘jêm-in-die-toebroodjie’-teorie ontken nie, ontken ek dat dit ’n inherente deel van ons bestaan moet wees. Dié houding is ’n aangeleerde, sosiaal-gegewe produk wat ons gebruik en dikwels teen ons gebruik word. Dit is ’n strategie van differensiasie en ons kan besluit hoe geldig daardie differensiasie is. In die sewentigerjare toe ons studente was, was daar ’n aktiewe wegdink van etniese klassifisering, ’n aktiewe ondermyning van raskategorieë.

“In die openbare gesprek projekteer Afrikanersegsmanne en -segsvroue dikwels hul behoeftes en versugtinge op die bruin Afrikaanssprekendes. Hulle sê: Omdat ons Afrikaanssprekend is, en julle Afrikaanssprekend, is julle verwagtinge dieselfde as ons s’n en daarom is ons verbintenis en toekoms gekoppel. Daarom moet julle met ons saamstaan.’ Dit is die eenvoudige sillogisme wat gebruik word.”

Identiteit

“Dit is nie noodwendig so dat bruin, wit, Indiër of swart Afrikaanssprekendes dieselfde behoeftes het nie. Daar is drastiese verskille. Dit is ’n denkfout om talige assosiasie te lees as politieke of ekonomiese assosiasie. As ’n mens byvoorbeeld vir swart Afrikaanssprekendes, van wie daar ’n kwartmiljoen in die land is, vra wat hul verhouding met die huidige regering is, het ek ’n vermoede dat ’n groot persentasie van hulle sal sê: ‘Ons is baie na aan die ANC,’ of ‘Ons het hoë verwagtinge van die ANC.’ Dit mag nie dieselfde wees vir wit of selfs bruin Afrikaanssprekendes nie. Ons moet ernstig besin oor die manier waarop ons met alle mag talige identiteit bo-alles wil verhef, want ons ontken dikwels daarmee ander meer dwingende materiële verskille. Partykeer is dit daardie verskille wat eers aangespreek moet word.”

Die globalisering van kultuur

“As ons identiteit gelykstel aan taal, dan is daar ’n gesprek. Maar as ons praat rondom kultuur, is dit so dat kultuurassosiasies toenemend verskuif. Ons is almal moderne mense van die een-en- twintigste eeu. Die moderne tegnologie is die gemene deler tussen kulture. Die stabiliteit wat ons rondom kultuur sou hê, verskuif deurentyd dramaties. Kultuur as ’n stabiele faktor is ’n oudmodiese konsep. As jy aan kultuur dink in terme van ’n stel rituele, selfs dan toon dit ooreenkomste tussen verskillende kulture. Byvoorbeeld, neem die ‘rites of passage’ by Moslem, Xhosa of Joodse mans: die soenat van Moslem-seuntjies, die abakwetas, die jong Xhosa-mans wat bos toe gaan of die besnyding van Joodse seuntjies. In die breër sin van die woord, egter, ondermyn moderne tegnologie die stabiliteit wat ons aan kultuurbeoefening geheg het.

“Dit beteken nie dat ons wat spesifiek is, nie moet waardeer en uitbou nie. Selfs al is dit iets soos die Kaapse Klopse. Die Klopse as spectacle is nie onbekend nie. Die karnaval is ’n wêreldwye konsep, in die verlede was dit die tyd wanneer die proleteriaat, die gewone burger, na die sentrum van die stad gekom het. Dit is ’n eerbare ou tradisie. Ek dink deesdae minder krities oor die Kaapse Klopse. Dit ’n tradisie wat herontdek en herontwikkel moet word. Dit sal goed wees as daar ’n groter historiese bewustheid by en rondom die Kaapse Klopse ontwikkel. Die hele konsep van ‘the clown who is coming to town’ of die gekleurde as ‘raccoon’, is ’n uitgediende siening. Daar is ’n element van self-affirmasie wat ek dink, ontwikkelingsmoontlikhede het.”

Die kompas is weg

“Die rol van die Afrikaner: Ek kan en wil nie vir of oor Afrikaners praat nie. Die konsep ‘Afrikaners’ is problematies, omdat baie wit mense hulself nie as Afrikaners beskou nie. Jonger mense, vanuit Afrikaner agtergronde, soek deesdae assosiasie met jong mense met ander agtergronde in die nuwe politieke bestel. Maar terselfdertyd is daar ook ’n herbesinning van wat ‘Afrikanerskap’ is. Ek dink byvoorbeeld aan die beweging wat Breyten Breytenbach en Van Zyl Slabbert onderweg het. Dis iets van ’n herskepping van Afrikaner identiteit. Dan is daar ’n meer negatiewe gevoel onder Afrikaanssprekendes, wat nou weer van voor af Afrikaner identiteit om hulself hang. Ek meen die groep rondom Dan Roodt doen dit.

“Skuld is ’n moeilike kwessie, want dit hang weer eens van perspektief af. Dis maklik om mea culpa te sê, maar die vraag is hoe leef jy daardie verskoning uit en wat beteken die proses daarna?

“Ek het ’n probleem daarmee dat ons van individue verwag om jammer te sê, want die verpligting lê op die skouers van die vorige regering, die leiers van die ekonomie, staat en kerk. Die politieke leiers van die Nasionale Party, wat ek aanneem verteenwoordigend is van Afrikaner-nasionalisme, het hul navolgers sonder ’n vastrapplek in die nuwe Suid-Afrika gelaat. Hul beskermde politieke identiteit en sosiale en ekonomiese assosiasies is weggeneem, maar hulle is nie ’n kaart vir die toekoms gegee nie. Dit is hoekom daar so ’n geskarrel in Afrikaner-geledere is.”

Lyding ter wille van lyding

Oor Breyten Breytenbach se stelling, “wedywering vir victimhood”, voel Hein Willemse dat mens maar die poëtiese overstatement moet sien vir wat dit is. “As ’n mens kyk na die arme, verslonste mense in hierdie land is debatte oor wie nou seerder gekry het, absolute strooi. Ek het net nou die dag by my vrou gehoor van ’n man in ons omgewing wat tering het, wat sewe dae laas geëet het. Al die teoretiese gesprekke oor wie nou kwansuis die meeste sou gely het, is teen daardie agtergrond van geen betekenis nie, nie as jy na die haglike armoede, uitgeslotenheid en onkundigheid van ons mense op die grond gaan kyk nie.”

Hein Willemse is ’n man wat niks deur sy vingers laat glip nie, want hy sif en wik en weeg en balanseer en meet en wonder en dink. Hy dekonstrueer alles wat as vanselfsprekend aanvaar word deur die samelewing. Na die onderhoud voel ek verward en onseker, want al die grense wat ek tot dusver vir myself geskep het, het vervaag: niks is meer absoluut nie. Ek wonder selfs of ek nog bestaan en knyp myself, net om seker te maak.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.