|
In gesprek met ‘n ware wonderkind!Joan Hambidge
Wat vir ‘n ding is ‘n wonderkind? Veral wanneer ‘n mens luister na talle ouers, dink jy: hulle het ook ‘n wonderkind. Maar ’n “Wunderkind” is ‘n skaars verskynsel en beslis nie iemand wat jy sommer onder elke spreekwoordelike bossie uitskop nie. Roucher du Toit is die ewige wonderkind. Talentvol, briljant – en met die energie van die genie. Hy is orrelis, dirigent, komponis, tenoor en musiekonderwyser. ‘n Persoon wat soveel musiek komponeer as wat hy uitvoer, en ook jong mense oplei. Nou onlangs is Roucher genooi na Duitsland om die beroemde orrels in Riedlingen, Trier, Ulm en Ottobeuren te bespeel. Hy sal tegnies moeilike werk van Dupre, Bach en Mendelsohn-Batholdy uitvoer en terselfdertyd van sy eie komposisies aan die buiteland bekend stel. Om werklik internasionaal mee te ding is binne die musiekwêreld vandag ‘n groot uitdaging, omdat daar strawwe kompetisie bestaan. Sangers draai dikwels onverrigter sake om en die teleurstelling van vele musici in Suid-Afrika is ook opvallend. Hoeveel verdwene name is daar nie in die bedryf nie! Roucher du Toit het egter al ‘n merk gemaak en sy optredes oorsee in Salzburg, Wenen, Keulen, Zürich, Hamburg en Londen gee aan hom ‘n internasionale “handtekening”. In gesprekke verwys hy onder andere na die katedraal in Ulm. In 2000 het hy sy eerste CD uitgereik met sowel bekende orrelwerke as eie komposisies wat gereeld oor die radio gehoor en selfs al op televisie uitgesaai is. Hy beklee die pos as uitvoerende orrelis van die oudste NG Kerk in ons land, die Groote Kerk in Kaapstad. Die orrel daar is teen ‘n enorme bedrag van R1,6 miljoen gerestoureer. Die restourasie het in 2003 begin en Roucher was betrokke by die proses. Die orrel is in 1957 deur Pels und Zoon Alkmaar in Holland gebou. Wat hierdie restourasieproses uniek maak, is dat daar ‘n aantal nuwe registers by die orrel gevoeg is met Spaanse horisontale trompette. Dit bevat ook twee verskuifbare pedaalborde, met die oue van Engelse oorsprong en die nuwe uit Europa. Roucher meen: “Die akoestiek van die Groote Kerk is uitstekend weens die geboë gewelf van die dak en klipvloere; internasionale kunstenaars is baie geïmponeer met sowel die orrel as die akoestiek van die kerk.” Hy spog ook dat hierdie orrel baie goed vergelyk met, en selfs miskien beter is as, die gemiddelde orrel in ‘n Engelse en Europese katedraal! “Het ons die beste orrel?” “Nee,” beklemtoon hy, “die wêreld se grootste katedrale se orrels is wel meer imposant as ons s’n, maar jy moet onthou daar is ‘n ander tradisie ter sprake as hier by ons.” (Ek dink aan ‘n aand met John Rutter en dat die Groote Kerk volgepak was. Hoe jammer dat die kerk tans om minder aangename redes opnuut in die nuus is.) “Ek sorg wel dat beroemdes in die Groote Kerk optree. Die Britse komponis John Rutter was al hier, Eric Sohn, die Sweedse dirigent en koordirigent, Stephen Cleobury, direkteur en orrelis van die King’s College in Cambridge en die Sweedse koordirigent Cara Hanken.” Hy beklemtoon dat dit belangrik is dat ‘n mens isolasie kan teenwerk net deur groot name uit te nooi. En dat ‘n mens jouself verbeter deur jou te meet aan die name groter as jyself. Hy noem ook ‘n rits kore wat al hier opgetree het, onder andere die Ulmer Spatzen, die Ensemble Vocal Allegro van Straatsburg ... Roucher praat vinnig en noem die name van bekende orreliste wat kenners laat swymel, soos Erica Hallein van Roeselare, Kantor Jobst-Hermann Koch van St Nicolai, Waclaw Golonka van Praag en Krakow. “The blessings of freedom”, wat opgedra word aan Nelson Mandela, beleef dan sy wêreldpremière in die buiteland, waar Roucher tussen 2 Oktober en 12 November opgetree het in Riedlingen (St George), Trier (Trierer Dom), Ulm (Ulmer Münster), Zürich en in Ottobeuren (Basilika). Hy het werke van oa Dupre, Mendelssohn-Batholdy en Bach vertolk en sy eie komposisies uitgevoer. “Is dit waar dat jy ook ‘n wonderkind was?” Ek dink aan my musiekopleiding en hoe ek my klavierlesse verafsku het. Hoe my onderwyseres genadiglik besef het dat ek geen talent in klavierspel het nie en die ongelooflike bevryding toe sy my moeder opgebel het en gelag het: “Mevrou, dis ‘n straf vir haar en ook vir my!” Met Roucher was dit kennelik anders gesteld. Soos ‘n klein Mozart het hy reeds op vierjarige ouderdom klavierlesse begin neem en op tienjarige ouderdom sy debuut gemaak as seunsopraan en pianis met radio-uitsendings en lewende optredes. In sy jeug het hy onder andere vyf Unisa-beurse verower. Op sestien het hy reeds opgetree saam met die destydse Kaapstadse Simfonie-orkes en op hierdie jong ouderdom aan die Royal College of Music begin studeer en, soos dit ‘n ster betaam, ‘n driejaarkursus binne twee jaar voltooi. Tydens hierdie studietydperk het hy optredes in Engeland en Europa gehad en voor koninklikes opgetree. In sy beginjare was hy orrelis aan die St Mary’s Catholic Cathedral in Kaapstad en verower weer ‘n beurs, wat hom in staat stel om orrel- en koraalwerke oorsee te studeer. Hy besoek verskeie wêreldstede in hierdie tydperk en sy aansien begin werklik te styg. Een van die aangenaamste aspekte van ‘n gesprek met Roucher is dat hy die kultuur van vreemde stede bondig kan opsom – met ‘n paar woorde kan hy jou presies vertel wat die kern van ‘n bepaalde stad behels. Op ouderdom veertig het Roucher ook sanglesse begin neem by Marieta Napier en Loyd Strauss Smith en ‘n ander debuut gemaak as tenoorsolis met die Kaapstadse Simfonie-orkes. As musieklektor het hy onder andere toegesien dat die gehalte van musiekeksamens by skole bevorder word deur lesing-uitvoerings te gee. Inmiddels word hy lektor in musiek aan die Kaapstadse Technikon en sy werk as musiekonderwyser behels werk in sang, klavier en orrel. “Ek het gehoor dat jy ook spesialiseer in die onderrig van kinders so jonk as vier jaar. Dink jy dit het iets te make met die feit dat jy sélf ‘n wonderkind was en dalk presies verstaan waarmee hulle sukkel en hoekom hulle hul in musiek wil uitleef?” “In alle waarskynlikheid ja! ‘n Mens weet presies waarmee hulle worstel en ek glo dat sommige mense absolute wonderkinders is. Kyk byvoorbeeld na Mozart.”
Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |