|
Dine van Zyl se tweede roman, Slagoffers, is op die kortlys van die Sanlam/Insig/Kwêla-Romankompetisie. Coenraad Walters het met haar gaan gesels by haar huis op Rooi-Els. Ek skryf nie agter giere of modes aan nie: ek skryf omdat ek n storie het om te vertel, sê Dine van Zyl. In die groot woonkamer kyk n mens deur groot vensters na Rooi-Els se see en berg (vandag agter misreën versluier). Sy lê op die bank met net soveel entoesiasme as wat sy normaalweg lewe, pas sy haar rug op na n operasie van n maand gelede. Hoewel sy dus nie met groot gebare praat nie, hoor n mens die geoefende saamtrek en ontspan van gedagtespiere onder die gelykmatige stem-vel. Ek doen dinge omdat dit interessant en opwindend is, omdat dit vir my lekker is. Ek was nog nooit verveeld nie! Haar naam is bekend aan lesers van Wynboer en van resepteboeke: haar Potjiekos van 1983 was die eerste boek oor dié kookstyl. Sy eet graag, sê sy, enigiets, ook eenvoudige kos. Maar dit moet lekker wees. Dis nét soveel moeite om lekker kos te maak as slegte kos. Jy moet nog steeds die uie skil. Selfs vis en tjips moet lekker wees! In die middel-tagtigerjare was sy radio-joernalis by die destydse Afrikaanse radiodiens. Sy het n opspraakwekkende hoorbeeld oor die lewe van n blanke Afrikaanssprekende prostituut saamgestel, wat aan haar onder meer n Artes besorg het. Na hierdie fantastiese jare het ek my eie rolprentmaatskappy gestig wat veral korporatiewe en dokumentêre films vervaardig het. Hierdie aktiwiteit het haar in die laat-tagtigs na die oorloggeteisterde gebiede van Angola en die destydse Suidwes-Afrika geneem; ook na onrusgebiede binne Suid-Afrika. Ons begin gesels oor die Angolese oorlog, want dis waaroor haar tweede roman, Slagoffers, handel. Nee, nuanseer sy dadelik, dit gaan oor n spesifieke aspek van oorlog. Dit gaan nie oor die redes daarvoor, of die soldate, of die verloop, of selfs die afloop daarvan nie. Dit gaan oor daardie groep mense wat altyd ly, en wie se ervarings meestal geïgnoreer word: die vroue, die onskuldige vroue en die kinders. Hoe dikwels lees jy in n artikel so n weggooisin oor byvoorbeeld rebellemagte wat n dorpie verwoes en die vroue en kinders weggevoer het? Die meeste lesers dink nooit weer oor daardie mense nie maar nadat jy Slagoffers gelees het, sal jy weet wat so n groep vroue en kinders moet deurmaak. Ek loop nou al 15 jaar met die storie ek was net nog nie vroeër reg om dit te skryf nie. Daardie mense met wie ek onderhoude gevoer het in Namibië en Angola … Ek het stelselmatig besef hiers n storie om te vertel. Die meeste joernaliste daar het die oorlog gedek die soldate, die wapens, die gevegte … Maar ek het saam met die vroue mielies geëet; ek het skole besoek waar die kinders geleer is tussen die ontwrigting deur; ek kon hulle vertroue wen en hulle stories hoor. In Suid-Afrika was daar omtrent nie n (blanke) gesin wat nie deur die oorlog in Angola geraak is nie. Hoeveel dienspligtiges was nie deel daarvan nie? En hulle het almal stories om daaroor te vertel. Maar hulle was nie daar om die mense te leer ken nie; hulle moes oorlog maak. Daarom weet hulle so te sê niks van dié sy van die oorlog af nie. En dis waar van alle oorloë. Sy vra my om Time van 19 Maart 2001 aan te gee en wys my n artikel daarin oor die oorlogsmisdaadverhore oor die gebeure in Bosnië. Kan jy glo dat geweld teen vroue, en spesifiek verkragting, nou eers as n oorlogsmisdaad beskou word? Vandeesweek is drie Bosniese Serwiërs vir die eerste maal in die geskiedenis daaraan skuldig bevind dis n groot deurbraak en ek is baie opgewonde daaroor! Maar ek twyfel of dit gou sal gebeur met Afrika se oorlogsmisdadigers. In ander wêrelddele word n oorlog ondersoek, herdenk met seremonies en monumente, en mense skryf en maak rolprente daaroor. Maar in Afrika? Afrika is donker: die wêreld wil nie weet nie. En die Angolese oorlog is die vergeetste oorlog van almal! Is Angolese vroue se lyding minder erg as dié in Bosnië? Is n menseslagting in Rwanda meer aanvaarbaar as n menseslagting in Kosovo? Slagoffers is dus geskryf vir meer as net die Afrikaanse lesers. Ek hoop van harte dat dit wyer bekendgestel kan word deur vertalings. Ek hoop regtig dat dit mense tot nadenke sal stem, dat dit sal help om Afrika-vroue se oorlogslyding onder die aandag van mense te bring. Kan fiksie dan die wêreld verander? Fiksie kan persepsies beïnvloed. n Mens kan elke dag in n koerant lees of op televisie sien wat tydens oorloë gebeur, maar jy kan onbetrokke bly. In fiksie kan die leser die mense leer ken. n Skrywer kan in n roman dinge verwoord wat in niefiksie ongesê bly. Jy kan in fiksie dinge vertel wat lesers van niefiksie nie sal glo nie. Besef jy dat daar in Angola n hele geslag mense is wat niks anders as oorlog ken nie? Besef jy dat die kinders se liedjies oor oorlogshelde gaan? Dat hulle op skool allerlei vaardighede leer wat hulle help om die oorlog te oorleef? Ons praat kortliks oor die oorlog wat steeds voortduur, en die politieke agtergrond daarvan, waarvan sy sê dat sy min weet. Sedert haar besoeke in die 1980s was sy nog nie weer daar nie, maar sy reken sake is nou erger as vroeër. Suid-Afrika benodig UNITA nie meer as n bolwerk teen SWAPO nie; die VSA benodig Savimbi nie meer om Suider-Afrika te red van Kommunistiese oorname nie. Die oorlog word gevoed deur diamante, olieregte, invloed in Afrika, mag. En onthou, nou sit hulle ook nog met VIGS, TB, polio, malaria, cholera, landmyne … Hoe mense oud genoeg word om te gaan veg, is n duister saak! En deur dit alles wil die vroue teel en kind grootmaak, kosmaak en huishou, mielies plant in die regte seisoen. Maar baie van hulle kan nie lande toe loop nie, want hulle het hulle bene verloor. Ander het nie meer hande en arms om mielies mee te stamp nie. Dan het hulle bloedmin om voor te leef. En wanneer hulle nog mielies aan die groei kry, kan dit maklik gestroop word deur enige groep vegters wat verbykom. Is vroue altyd net slagoffers? Nooit oorlogsmisdadigers nie? Nee, vroue kan groot oorlogsmisdadigers wees. Daar was n berugte vrou by Auschwitz, byvoorbeeld. Onthou, vroue is baie sterk. Hulle kan ontsettend baie ly as hulle in n saak glo. Kyk na die vroue tydens die Anglo-Boere-oorlog: hulle het dit uiters swaar gehad in die kampe, maar as die Britte n hensopper in n kamp geplaas het, het die vroue hom deeglik bygekom! In Angola is daar n sterk bewussyn, ook onder die vroue, dat daar Geveg word om die Vryheid van Angola! Die vroue en kinders word ook, nes die soldate, opgesweep. En tog is daar ook baie vroue wat geen idee het van die saak nie, wat net rondgestoot word. Ons bespreek die Anglo-Boere-oorlog verder, en sy vertel van haar boeke (nie onlangse publikasies nie, maar Africana) wat verslag doen van die vroue se ervarings, die kinders wat gebore is, die veneriese siektes … Tydens die Victoriaanse tyd is misdade soos verkragting natuurlik nie aan die groot klok gehang nie. Skielik besef ek dat ek nog al die jare geglo het aan die Britse mite van die gentleman-soldier! Hoekom kon Slagoffers nou eers geskryf word? As n mens onbetrokke is by die mense met wie jy onderhoude voer, dan is jy n klip. Jy móét betrokke wees, anders vertrou die mense jou nie. Maar n beskermingsmeganisme is nodig om te keer dat jy ineenstort. Slagoffers is fiktief, dis fiksie, maar dis gebaseer op die onderhoude wat ek gevoer het, op dinge wat ek self gesien het. Wanneer n mens daaroor skryf, word jy gedwing om dié dinge weer te deurdink, om insig daarin te ontwikkel. Of om die insig wat jy reeds daarin het, maar ontken het, te aanvaar. Dis hierom dat die tydafstand so belangrik is. Is Slagoffers vir die romanwedstryd geskryf? Genugtig, nee, glad nie! Ek het geweet van die wedstryd, maar ek het dit nie oorweeg om in te skryf nie. Eers toe ek vir Charles Fryer van Tafelberg sê die manuskrip is amper klaar, stel hy voor dat ek inskryf. Maar ek was nog lank nie klaar nie! Ek het deur die hele kreefseisoen gewerk, behalwe op Krismis, en dit was net betyds klaar sodat ek dit op die inlewerdatum (2 Januarie 2001) kon ingee. Hoe voel sy daaroor om op die kortlys te wees? Ek was stom verbaas. Jy kon my met n veertjie omtik! n Mens sal jollie gelukkig wees as jy wen: R30 000 is baie geld. En n nuwe rekenaar! Maar ek loop al baie lank met die storie: die wedstryd was nie die groot energie agter die skryf daarvan nie. Dit was eerder my man. Hyt gesê dis tyd dat ek weer iets skryf, ek begin hom irriteer! Ek begin té besig raak in die huis as ek nie skryf nie: mure wat geverf moet word, en so. Haar man, André Wagener, kom tuis en stel my voor aan Knibbel, hulle Duitse herdershond. Volgens Dine is Knibbel nie n hondekind nie; hulle twee is eerder deel van háár trop! Sy is n afgerigte beskermingshond een rede waarom die buitenste hek gesluit bly. André maak vir ons Kolombiaanse koffie. Hoewel ek nooit koffie drink nie, is ek nuuskierig oor dié besondere soort. (En ek sal seker nooit Kolombië se ander groot uitvoerproduk kan of wil beproef nie …) Dis heerlik en geurig, en laat my die hele res van die middag effens bewe. As my man vir jou koffie maak, slaap jy vir drie dae nie! sê Dine. Watter rol speel André in haar skryfwerk? Hy is nie my muse of my kritikus nie. Hy is die kennis wat ek nie het nie. Omdat hy so wyd belese is, help hy my om meer belese te wees. Tog lewer hy soms kommentaar. Oor Annerkant-die-Berg het hy gesê: Maar geen van dié karakters is net nice nie! Maar dis tog waar, sê ek toe vir hom, niemand is ooit net nice nie. Die enigste karakter in die letterkunde wat ek ken wat net nice is, is Dickens se Little Dorritt. Annerkant-die-Berg is Dine se eerste roman wat in 1998 verskyn het. Dis moeilik om te glo dit kom van dieselfde skrywer as Slagoffers. Sy sê trouens self dis asof twee verskillende mense die romans geskryf het. Annerkant-die-Berg vertel van n wyndorp wat n wynfees reël om meer van sy wyn verkoop te kry. n Mengelmoes van kleurryke dorpenaars, en n beeldhoudster uit Kaapstad, bevolk die boek. Maar die leser wat n eenvoudige, lekkerlees-feesboek verwag, mag onkant gevang word deur die dieper, donkerder dinge wat gebeur: n hartseer miskraam, en die jag op die tier wat onder die vee vang (almal weet dis n luiperd, maar almal noem dit n tier!). Ten slotte word die wynfees onderbreek deur n aardbewing. Tog groei die erns uit die luim sonder om die weefsel van die vertelling te skeur. Waar kom dié storie en sy mense vandaan? Ek het op Robertson grootgeword. Hoewel Annerkant-die-Berg nie outobiografies is nie, is baie van die karakters op werklike mense geskoei, en baie van die gebeure in die roman het regtig plaasgevind: die bul wat doodgeskiet word, die vrou wat haar suiplapman uitlooi … Word die mense gestraf vir hul ingryping in die natuur? Is die aardbewing n straf vir die skiet van die tier? Nee, dit gaan ek nie sê nie. Ek het geleer dat elke mens se boek anders is, en dat hoe ek dit geskryf het en hoe jy dit lees, vreeslik baie van mekaar kan verskil. Dit gebeur dat twee vriende gaande is oor dieselfde boek, dink hulle het iets gemeen, en dan begin hulle vir mekaar boeke aanbeveel. Dit kan die einde van die vriendskap wees! Albei romans het baie navorsing geverg; tog word Annerkant-die-Berg nie n mini-ensiklopedie nie. Is navorsing vir haar belangrik? Ek lees baie wyd oor n onderwerp voor ek daaroor skryf. Ek glo daar moet baie verskuilde inligting in jou gedagtes beskikbaar wees sulke skaduwees wat om jou storie beweeg. Jy weet nooit wanneer jy skielik iets uit n emmer moet ruk nie jy moet altyd meer weet as waaroor jy skryf. Vir Slagoffers was dit byvoorbeeld nodig om oor slawerny op te lees. Die Wes-Indiërs wat ons nou so sien krieket speel, is direkte afstammelinge van slawe uit Angola. En met al die rondskuif van mense in Afrika is slawerny nog lank nie uitgewis nie. Dis vir my belangrik om my boeke byderhand te hê sodat ek my kan inlees in n onderwerp. My passie vir die natuur sluit ook in dat ek baie daaroor oplees, eintlik verder studeer! Kyk net na wat jy alles hier buite sien: die see, die berg waar ons elke dag tien kilometer gaan stap (behalwe natuurlik die afgelope rukkie). Ons ken die bobbejane hier by die naam, aan hulle persoonlikhede. Die leier is Charles, want hy het ore soos n sekere prins. Hier is otters, fisante; ek kan sien wanneer die witkruisarende bokant hulle nes sweef. Daar hang n foto van n muskeljaatkat wat n paar weke in ons huis gebly het. Ek woon in n plantwonder, een van die uniekste gebiede in die wêreld! Wat meer kan ek vra?! Al hierdie dinge is navorsingsgebiede, stories op hulle eie, en ek lees en leer graag soveel as wat ek kan. Na alles wat oor oorlog en lyding gesê is, is sy n pasifis? Nee, weet jy, ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Om die waarheid te sê, ek voel veel sterker teen die politici wat n oorlog veroorsaak en dan dikgevreet terugsit terwyl die weermag die stryd voer en die gewone bevolking ly. Op pad huis toe tref dit my wat n voorreg dit is om soos hierdie vitale vrou geen eerstehandse oorlogservaring te hê nie. En twee dele wat sy my uit die manuskrip van Slagoffers gewys het, bly my by. Eerstens die motto, n uitspraak van Kaptein Rebelo, een van die karakters:
Tweedens die toneel met die boeke. (Jy is mos n bibliotekaris, motiveer sy haar keuse.) Die verteller luister met groot aandag na die lewensverhaal van n onderwyseres op die Angolese platteland. Wanneer sy aanbied om later vir haar n geskenk te bring, vra die onderwyseres vir boeke. Met baie moeite en logistieke geluk slaag die verteller daarin om n krat boeke by die skool te besorg. Binne die rietskerm wat as personeelkamer dien, word die krat uitgepak. Die onderwysers is verwonderd oor die ensiklopedie, die romans, digbundels en die ander wat uit die krat te voorskyn kom. Hulle gee nie om (of merk nie op) dat van die kinders ook die ruimte binnekom nie en die kinders is ewe verwonderd oor die boeke, oor die woorde wat hulle daarin kan herken. Die wonder van boeke verdryf vir n wyle die oorlog. Ja, dink ek in die stilligheid, miskien kan boeke fiksie wel die wêreld verander. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |