Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Te wonderlik vir woorde: ‘n Besoek aan Ina Rousseau, 1996

Johann de Lange

Ina Rousseau (foto deur Philip de Vos) Die straat
Ek sit in my kar in Hofstraat voor die digteres se meenthuis en kyk op my horlosie. Aan die oorkant van die straat is Spes Bona, ’n mauve-kleurige drieverdieping met die jaartal 1915 op die gewel; ’n entjie hoër op, die besadigde ou Volkshospitaal. Kyk ek by die motorvenster uit en op, stuit my blik teen die gegroefde voorkop van Tafelberg wat blaak in die suinige winterson.

Vyftien jaar gelede, en nog voordat ek gedebuteer het, het ek by die RGN fotostate van Ina Rousseau se manuskripte aangevra – twee onthou ek: “Die vleisvark” en “Welwitschia bainesii” – en daarna vir dae na die spykerige letters en tikskrif sit en staar, oortuig daarvan dat die geheim van skryf in daardie kompulsief bekrapte bladsye moes lê. Dit was soos om te kyk na die pragtige, ingewikkelde uurwerk van ’n horlosie wat op die punt staan om soos ’n goue hart te begin klop.

Ina Rousseau se verse het nog steeds dieselfde uitwerking op my: verwondering en ’n misterie wat tergend helder en naby is, maar net-net buite bereik. Dit is verse wat hulle ontstaan en binnewerk met die nuuskierige leser deel sonder om hulle geheime prys te gee. Soos horlosies in glasomhulsels waarvan jy die ratte en haarfyn vere kan sien beweeg.

Met daardie eerste kennismaking op papier het Ina Rousseau (onwetend) een van my vroegste mentors geword, ’n “poet’s poet”, een by wie ek in die leer kon gaan. Ander het mettertyd ook daardie rol vervul, maar ek het straks die meeste omtrent tegniek geleer uit die byna programmatiese verse in Taxa.

Ek het my eerste bewonderaarsbrief geskryf en ons korrespondensie het begin. Haar skraps bewoorde kaartjies – onderteken met “I.R.” in dik swart viltpen – was altyd ’n plesier om te ontvang.

Ina Rousseau is een van daardie ongelukkige digters wie se werk allerweë waardeer, maar nooit heeltemal na waarde geskat is nie. Tot nou. Met die toekenning van die Hertzogprys aan haar sluit sy aan by die geselskap van my ander gunsteling-vrouedigters wat al met dié prys bekroon is: Sheila Cussons, Elisabeth Eybers, Antjie Krog en Wilma Stockenström.

Die meenthuis
Ina maak die deur byna dadelik oop nadat sy my deur die sekuriteitshek van die kompleks binnegelaat het. Sy het ’n stemmige rok aan en steil gryswit hare omraam haar vriendelike gesig. Ek wys haar aanbod van bier van die hand en sy gaan maak vir ons tee. Drink sy self bier? Ek sou my nie verbaas nie. Uit my vriendskap oor baie jare is my indruk van Ina Rousseau dié van ’n eksentrieke mens. Straks onbedoeld eksentriek, maar nietemin.

Terwyl sy in die kombuis besig is, kyk ek rond. Op alle beskikbare oppervlakke is stapels boeke en koerante (lg gee sy vir haar buurvrou, Babs Laker, sodra sy hulle deurgewerk het). ’n Kniehoogte stapel telefoongidse staan op die vloer langs die telefoontafeltjie. Teen die een muur is ’n groot doek, onderteken “Noel”. Sou dit haar oorlede man wees?

Na ’n week van deurdringende reën is die tuin gestroop. ’n Wintertuin. Die sitkamer is reeds skemerig met net die laatlig wat deur die vensters en die hoë bome binneval.

Sy kom rinkelend met die skinkbord binne.

Die gesprek

Vertel my iets van die tydperk toe jy verbonde was aan die WAT.

Ja. Dit was baie interessant. Dit was eintlik donkiewerk. Ek was die tegniese assistent. Ek het hoofsaaklik met die kaartjies gewerk. Elke trefwoord was op ’n kaartjie, jy weet, met aanhalings uit tydskrifte en koerante om te wys wat die gebruiksfrekwensie van die woord is. Man, dit was verskriklik interessant.

Was daar ander mense wat publikasies deurgewerk het om woorde op te teken?

Ja. Nou jy weet, ons het elke dag ’n klomp kaarte ingekry wat mense ingestuur het. Dan moes ek dit nou alfabeties rangskik. En dan het ek dit in die kluis geplaas. En ek lees ook koerante, jy weet, en dan onderstreep ek woorde. Die opstellers het ook die koerante gelees en woorde onderstreep, en dan het ek hulle onderstrepings op kaartjies geplaas. Dan het ek ook geëkserpeer, boeke wat ek moes lees, en dan het ek ook daaruit stof gekry. Ek moes al die Afrikaanse digkuns lees. Dit was interessant. So enige aanhalings in die ou woordeboek uit die digkuns, dit het ek oorspronklik in die kluis gesit.

Het jy in dié tyd enige ongewone vondste gemaak? Interessante woorde? Het jou werk daar jou ook as digter goed te staan gekom?

Ja, luister, dit het. Want ek is lief vir woorde – ek was nog altyd. En dan sien ek nou daar ’n woord, dan sit dit iets aan die gang, jy weet. ’n Sekere woord sit dan die hele skeppingsproses aan die gang.

Woorde soos wiebel en smeuig.

Ag Johann, weet jy, miskien moes ek dit [smeuig – JdL] nie gebruik het nie. Dis eintlik ’n Hollandse woord. Ek vergeet nou wat die Engelse woord is. Ek dink ek het die Engelse ekwivalent nageslaan in woordeboeke, maar ek het ’n idee dit kom tog wel voor in ’n Afrikaanse woordeboek. Maar ek weet ek het ook nog nooit iemand anders teengekom wat die woord gebruik het nie.

Daar is sulke idiosinkratiese woordgebruik by ander digters ook. Woorde waarvan die betekenis nie altyd dadelik duidelik is nie.

Ja, soos met Blum se gedigte. Jy weet, dit beteken niks, maar daar’s iets in verband met die woord se aura wat jou intuïtief laat voel wat hy eintlik daarmee bedoel het.

Daar’s ’n vers van Cussons waarin sy die ontstaan van ’n gedig beskryf aan die hand van ’n beeld van ’n toutjie wat in suikerwater hang en waaraan stadigaan ’n kristal vorm. Hoe werk dit vir jou?

Dit gebeur op verskillende maniere, maar gewoonlik begin dit by ’n frase. By ’n woordgroep. ’n Woordgroep wat aan mens gegee word. Aan my altans. En dan skryf ek dit gewoonlik neer, en vergeet daarvan, en dan groei dit oor die jare. Dit is gewoonlik ’n kwessie van jare. Maar dan is die vraag ook nou weer: Wie’t dit vir my gegee?

Maar ek moet jou sê in verband met die woordeboek, in daai tyd wat ek baie kwatryne geskryf het. Dit was die tyd voor Die verlate tuin, en nou ja, hierdie is ’n bietjie snaaks. Ons kry toe die woordelys met Afrikaanse toneelterme, en dan moes ek nou vir elke woord ’n nuwe kaartjie maak en in die kluis sit. Sommige van hierdie woorde, jy weet, het onmiddellik ’n proses aan die gang gesit. Soos souffleur of figurant. Nou kwatryne vorm baie vinnig. Dis ’n kwessie van minute. Daar het ek in die kantoor baie kwatryne geskryf as gevolg van hierdie toneelwoordelys. Op grond hiervan het Kannemeyer in sy gids soveel van my belangstelling in die toneel gemaak. Hy doen dit nou nog. Hy kan nou nog nie daardie toneelgoed vergeet nie. ’n Gedig wat ek taamlik onlangs geskryf het, dit was in Heuningsteen, dink ek, “Tableau vivant” … nou ek het hoegenaamd nie aan toneel of wat ook al gedink nie, maar hy het in sy resensie weer genoem hier’s nou weer iets oor die toneel. Iemand wat daai kwatryne lees, sal seker dink hierdie vrou stel baie belang in die toneel, of was ’n aktrise of wat ook al. Maar dit was nie hoe dit gebeur het nie.

Benewens die tydsverloop tussen Die verlate tuin en Taxa is daar ook ’n radikale verandering wat betref styl en inhoud tussen die twee bundels. Wat het met jou gebeur in daardie sestien jaar?

Ek het so baie beleef in daai tyd. Met Die verlate tuin het ek nog in Stellenbosch gewoon. Ek was elf jaar daar en ek het nooit gedink ek sal daar weggaan nie. Ek het trouens gesê ek wil die res van my lewe daar bly. Maar my lewe het so totaal verander.

Net ’n paar maande nadat ek nogmaals in my dagboek geskrywe het ek wil nooit hier weggaan nie, toe’s ek in Grahamstad. Nou ja, toe ek my weer kom kry, is ek getroud, en toe’t ek ’n kind. Toe woon ek in Zimbabwe, wat ’n totaal ander wêreld is. Waar ek feitlik geen kontak met Afrikaanssprekendes gehad het nie. Jy weet, daar was geen sielsgenote nie, behalwe my man. Alles was totaal anders.

Jy is getroud tussen Die verlate tuin en Taxa. Waar het jy jou man ontmoet?

Op Grahamstad. Hy was verbonde aan die universiteit.

Daar is in Taxa ’n bewus-wees van die mens se plek in ’n groter ekosisteem, van die natuur. Hou dit verband met julle verblyf daar?

Ja, onthou my man was ’n natuurkundige. Kyk, hy was ’n plantkundige, maar sy ander vak was dierkunde. Ons het baie daar rondgery en eksperimente aan die gang gehad. Jy weet, dit was onmoontlik om nie bewus te word van die natuur om jou nie.

Kannemeyer meld jou vertaalwerk. Watter tale is jy magtig?

Die Singer is vertaal uit Amerikaans en Die lewe van meneer Prikkebeen is uit Nederlands. Maar dit was in rymvorm, so dit was nie vreeslik maklik nie. Maar ek ken Duits en Italiaans. Ek dink my Italiaans is taamlik verroes. Ek kan ook ’n bietjie Frans lees. Dis eintlik al.

Enige ander vertaalwerk wat nie gepubliseer is nie?

Ek het daar in 1972 ’n klomp ou Middeleeuse Italiaanse sonnette vertaal, sommer net vir die aardigheid. Maar ek het nou die dag daarna gesoek en kon dit nie kry nie. Kon dit nêrens kry nie, maar dit moet hier iewers wees. Jy weet, ek hou daarvan om te vertaal, maar daar is altyd ander dinge wat belangriker is. Ek het ook kindergoed vertaal. So ’n paar jaar gelede van Jenny … Jenny … ek het nou haar van vergeet. Oor Spioenkop. Oor die slag van Spioenkop. En dan nog ander kinderverhale, Bybelverhale.

Dis interessant dat jy die ou Italiaanse sonnette vertaal het, want jy is self lief daarvoor om die sonnetvorm te gebruik.

Ja, dit was ’n uitdaging. Ag, ek moet dit tog kry. Ek moet gaan soek. Ek stel baie in die sonnet belang. Jy weet, baie ingewings wat ’n mens kry, as dit in ’n mens uitgewerk word, dan neem dit daai vorm aan, van twee kwatryne en twee tersines. Dit werk eintlik so uit.

Ronnie Belcher maak dieselfde waarneming in sy gepubliseerde studie oor die sonnet: dat daar ’n sielkundige noodwendigheid aan die sonnetvorm is, dat die meeste ingewings of gedagtes binne die bestek van veertien reëls uitgewerk en opgelos kan word. Dalk is dit een van die redes waarom die sonnetvorm steeds populêr bly, dat dit vir elke nuwe generasie steeds iets te sê het.

Ek het dit nooit gelees nie. Nou ek moet sê, in die afgelope tyd het ek soms ’n ingewing gekry, iets wat ’n sonnet wou word, maar dan het ek doelbewus nie daarvan ’n sonnet gemaak nie, omdat ek die idee gekry het mense hou nou nie meer daarvan nie. Maar baie van hierdie goed wat sonnette genoem word, is maar net veertien reëls, en ek kan nie mooi die sin daarvan insien nie. Baie van Robert Lowell se sonnette is, sover ek kan agterkom, maar net veertien reëls.

Wanneer het jy begin skryf? Jou vroegste herinnering.

Ek dink ek was elf, toe’t ek ’n gedig geskryf “My blomtuintjie”. Jy weet, dis vir my baie snaaks dat ek nog die hele tyd gebly het by die tuinmotief. Toe’t ek dit geskryf; dit was vir my so lekker. Toe’t ek besef dit is wat ek wil doen, jy weet, dit is nou wat ek vir die res van my lewe wou doen. Toe ek in die hoërskool kom, toe ek nou veertien was, het ek baie begin skryf.

Het jou ouers jou aangemoedig? Was daar baie boeke in die huis? Het jy baie gelees?

Ja, ons huis was vol boeke. Ek het verskriklik baie gelees, maar ek dink nie my ouers het baie van die idee gehou dat ek ’n boekwurm is nie. Ek kan nie sê dat hulle my juis aangemoedig het nie. My pa was ’n onderwyser.

Jy het self ook skoolgehou?

Ja, vir ’n baie kort rukkie. Hulle kon glad nie ’n Afrikaans-onderwyseres kry nie, toe’t ek dit vir twee kwartale gedoen. Twee, drie kwartale het ek klas gegee op Grahamstad, vir klein klassies net nadat die skool daar geopen het. Ek het dit baie aangenaam gevind. Die kinders was vir my so interessant. Dit was standerd ses en standerd sewe. Maar natuurlik, ek was glad nie ’n onderwyseres nie en ek dink ons het meer pret gehad in die klas as enigiets anders.

Wie het jy destyds gelees?

Ek het hoofsaaklik Engelse gedigte gelees. Kyk, ek het begin – wag, ek het eers die Afrikaanse gedigte gelees van ou dr SJ Pienaar … jy weet, die ou digters. Jy weet, die onderwyseres het vir ons “Aan ’n seepkissie” voorgelees, in standerd twee, en dié ding het my so ontroer. En dit was net voor kleinspeeltyd. Nou toe ons nou so uitloop, toe staan sy nou nog daar met die boek en toe ek verbyloop, kyk ek en ek sien op die ander bladsy is daar “Die ou blikkie”. Man, ek wou so graag “Die ou blikkie” lees en weet jy, ek het daai boek so begeer. As ek net daai boek in die hande kon kry. En eendag kom ek daarop af by die huis, in my pa se boekrak. Toe was ek nou in standerd twee. Ek kon dit nie glo nie. En toe het ek dae aaneen, en op daai ouderdom, het ek vreeslik gelees. Ek het nie alles verstaan nie. Ek weet een gedig het begin: “Maagde-mooie dag kus die heuwels groen …” Kan jy dink daar was ’n Afrikaanse gedig wat so begin het? Ek dink die digter se van was Maree. En jy weet, al hierdie ou goed, dit was vir my so mooi.

Daar was ook gedigte in die badkamer. Ek het in die bad gesit toe ek sien daar … nou lees ek daarso die titels daar van boeke wat in ’n boekrak was met glas voor: p-o-e-m-s. Nou wat is dit nou? Poems? [Sy spreek dit in Afrikaans uit om te rym met ploems – JdL.] Het ek nou gaan kyk. Tennyson. Toe’s dit nou Tennyson se Poems. Nou toe het ek Tennyson verskriklik baie gelees. En toe – ek was so in standerd agt – toe het ’n onderwyseres, toe ek op kosskool was, toe leen sy vir my ’n Nederlandse bloemlesing deur Van Leeuwen, De Nederlandsche dichtkuns sedert 1880 … O, weet jy, dit was nou vir my ’n belewenis. Toe lees ek nou Kloos en Perk en Gorter. En hulle’t ook hoofsaaklik sonnette geskryf.

Ek het destyds vreeslik baie geskryf, maar heeltemal op ’n ander manier, jy weet, ek het sommer net geskryf wat in my gedagtes opkom. Die gedigte het baie vinnig ontstaan, maar ek dink nie hulle was veel werd nie. Maar toe ek vyftien was, toe kry ek dr Frans Malherbe se boek. Weet jy, dis baie snaaks, hy lê nou daar [sy wys na die boek waar dit op die donker eetkamertafel lê]; die rede is ’n vriendin van my wou dit leen, en ek het dit daar gesit om dit vir haar te gee. Nou dit het my vreeslik geïnspireer.

Jare gelede, voordat ons mekaar ontmoet het, het ek kopieë van jou manuskripte by die RGN aangevra. Wat my opgeval het, is hoe jy ’n gedig oor en oor tik terwyl jy daaraan werk. Telkens as jy ’n klein verandering aangebring het, dan het jy die héle gedig oorgetik sodat jy dit in geheel kan sien met die verandering. Dit het my verras, want dit is presies hoe ek ook te werk gaan. Gebeur dit ooit dat jy gedigte nie klaarmaak nie?

Ag, Johann, ek dink omdat ek so stadig werk, ek dink nie ek verwerp maklik ’n gedig nie. Jy weet, as hy nie werk nie, dan sit ek hom nou eenkant. Dan later neem ek hom weer op.

Ek was so vies, dit was ou dr Petrus Nienaber wat daai goed uit my gekry het, jy weet, teen my sin eintlik. En daarna het ek ’n embargo daarop geplaas, want jy weet, ek het gedink dit het nou niks met iemand te doen nie. Ek gee nie om dat jy dit gesien het nie.

Maar hierdie ou bundeltjie [sy tel my kopie van Onbekende jaartal op – JdL], kyk net hoe klein is hy. Maar weet jy, hier bo is daar ’n pak papier, dit is so dik (sy beduie met haar twee hande).

Hou jy jou variante?

Ag man, kyk, ek hou dit nou voorlopig. Ek weet nie wat om daarmee te maak nie. Soms wil ek dit weggooi, maar John Kannemeyer hou aan ek moet dit vir Stellenbosch Universiteit gee. Maar ek wil nie hê mense moet daar insae in hê nie, en eintlik het ek nog nie besluit nie. Met dié dat ek so baie papier gebruik. Skoon papier, jy weet, dit is eintlik vir my heilig; ek kan dit nie verdra as mense papier mors nie. Nou wil ek nie hierdie ou variante op skoon, duur papier tik nie, nou tik ek dit agterop goed wat reeds gebruik is. ’n Onderwyseres wat ek ken, bring vir my ’n pak papier, jy weet. Agterop is daar goed vir standerd twee, afgerolde goed. En die stapel gebruik ek nou, en ek tik daarop vryelik, want dan voel ek nou nie ek mors papier nie.

Werk jy altyd dadelik op die tikmasjien of skryf jy eers met die hand?

Ek skryf die frases neer in my boekie en dan wanneer ’n gedig begin ontstaan, dan gaan sit ek voor die tikmasjien. Dan skryf ek maar direk op die tikmasjien. Ek kan nie so vinnig skryf as wat ek kan tik nie. Ek dink dis ’n kwessie van snelheid. Ook dat ’n mens ’n beter visuele beeld kry. Jy weet, die visuele beeld van ’n gedig is vir my belangrik. Daar’s sekere gedigte wat ek nie kan verdra nie, jy weet, die manier waarop hulle lyk op papier. Man, hierdie ou goed, hierdie oop gedigte, ’n frase hier en die volgende daar, jy weet, so “staggered”. [Sy verwys hier moontlik na die sg “projective verse” wat beroemd gemaak is deur onder meer die Amerikaanse digter Charles Olson – JdL.] Daai ou soort goed, ek kan dit nie verdra nie.

Al jou boeke, behalwe Die verlate tuin en jou laaste twee boeke, Grotwater en Onbekende jaartal, is opgedra aan A.R.A.N., jou man. Wat was sy houding jeens jou skryfwerk?

Man, hy’t dit baie aangemoedig, en hy’t self ook gedigte geskryf, in Engels natuurlik, en ek het hierso bo so ’n lêer met sy goed in. Ek wil vir iemand vra om bietjie daarna te kyk. Ek is nie seker omtrent die gehalte nie. Maar hy’t dit nou nie baie ernstig opgeneem nie, jy weet, sý werk nie. Maar hy’t verskriklik baie belanggestel in myne. Hy was Afrikaans nie goed magtig nie. Weet jy, dis baie eienaardig, maar as ek ’n gedig geskryf het, het ek dit gewoonlik vir hom voorgelees in Engels. Ek weet dit klink absoluut snaaks. Maar hy’t gewoonlik ’n begrip daarvan gehad en dan’t hy soms kritiek gelewer. Moet dit liewer nie aanhaal nie. Hy kon Afrikaans praat, maar hy was te skaam om dit te praat. Ons het Engels in die huis gepraat. Hy’t probeer om Afrikaans te praat, maar dan is sy uitspraak so verskriklik dat ek nie weet wat hy sê nie. So ons het maar liewers Engels gepraat.

Van hom het jy jou belangstelling in diere, en veral voëls. Hoekom interesseer voëls jou so?

Jy weet, ek het geen wetenskaplike kennis van voëls nie, en ek kan nie eintlik onderskei tussen die verskillende spesies nie. En ek stel ook nie vreeslik belang in watter voëls … hierdie is ’n rooibekkie, hierdie is ’n wat ook al of so nie. My belangstelling is hoegenaamd nie wetenskaplik nie.

Maar daar’s net iets in verband met hulle wat vir my te wonderlik vir woorde is. Ek weet nie wat dit is nie, maar daar is so ’n affiniteit tussen ons, en weet jy, dis ongelooflik hoe goed hulle vir my verstaan, hierdie voëls hier buite. Jy weet, somtyds dan dink ek ek gaan nie nou weer vir hulle kos gee nie. Ek gáán nie. Maar jy weet, nou staan hulle daar so bedremmeld, en dan dink ek skielik, jy weet, dan dink ek, ag nou ja goed, laat ek maar vir hulle nog ’n bietjie krummels gaan haal. Skielik is hulle opgewonde, jy weet, kom hulle nader. Hulle’t my gedagtes gelees. Ek bedoel wat anders kan dit nou wees? Weet jy, as ek vir hulle kos strooi en ek lig my hand te hoog op, dan vlieg hulle verskrik weg. Of as ek ’n groot … ek het al vir hulle krummels gebring op ’n skinkbord; dit het hulle so bang gemaak. Weet jy, ek moet nie ’n groot bord of ’n ding hê nie, dan maak dit hulle bang.

Watter digters lees jy vandag? Of is daar digters na wie jy telkens terugkeer?

Ag Johann, daar’s so baie. Ek vind dit nou moeilik om iemand uit te sonder. Rilke bly maar ’n gunsteling. Daar’s ’n hele klomp digters van wie ek hou. Seamus Heaney. Ek hou ook van Robert Lowell.

Theodore Roethke?

Nee. Of ja. Iemand van wie ek nie hou nie, is Stevens. Wallace Stevens.

Sylvia Plath?

Ja, jy weet, sy wou eintlik ’n skryfster, ’n prosaskryfster wees. Sy’t hierdie gedigmakery beskou as tydmors, jy weet, sy’t dit nou maar gedoen omdat sy lus gevoel het, maar al die tyd het sy gevoel sy mors haar tyd – sy behoort prosa te skryf.

Thom Gunn?

Ja, ja, ek hou van hom. Johann, onthou jy jy het vir my so ’n mooi gedig gestuur van Thom Gunn, “My mother the falconress”? O man, dit was pragtig. [Dit was eintlik ’n gedig deur Robert Duncan – JdL.] En ’n ander ding van Thom Gunn wat so mooi is, ek dink die naam is “Falcon”, oor die valk wat praat … “Your love has blinded me …”

’n Ander digter van wie ek vreeslik hou, is Herbert, die ou Engelse digter George Herbert. Daar’s ook iets besonders in verband met hom.

Hy het ook sg “konkrete” gedigte geskryf, gedigte waarvan die vorm op papier aansluit by die inhoud. Jy het self so ’n gedig geskryf in Taxa, oor die dood van jou broer in ’n vliegongeluk. Die gedig het letterlik die vorm van ’n vliegtuig.

Jy weet, dit was eerlikwaar nie my bedoeling om dit te doen nie. Ek wou maar net die gevoel van die vliegtuig vasvang, jy weet, wat so opgaan en hoër en hoër … dit was nie doelbewus nie. Ek moet sê, ek hou ook nie baie van dié soort gedig nie. Daar’s iets geforseerds in verband daarmee.

Stiebeuel was ’n baie belangrike publikasie. Van ons beste skrywers het hulle debuut daarin gemaak.

Ja, dis reg. Sheila Cussons en Watermeyer. Wie nog? Ek het Opperman ontmoet kort na Stiebeuel. Jy weet, ek onthou ek het vir hom destyds toe hy nou gedigte wou gehad het, ’n dik pak gedigte gestuur. Toe’t hy nou daardie een daaruit gekies. En ek het nog sommige van daardie gedigte hier. Maar weet jy, ek het die lêer uitgehaal nou die dag en ek wou my siek lag, jy weet, oor hoe swak hulle was. En daar was die ongelooflikste, belaglikste goed in. Nou natuurlik, ek wil dit nou vernietig, maar dan dink ek ek wil net nog een keer hieroor lag, jy weet, voordat ek dit heeltemal vernietig.

Kyk, dis nou een van die gelukkige dinge wat gebeur het dat my pad nou met Opperman s’n gekruis het. Ek het al dikwels gewonder hoe sou dinge gewees het as ek hom nooit ontmoet het nie. Maar hy’t vreeslik baie vir my beteken, en ek het vreeslik baie van hom gehou. Maar hy het ook baie verander as mens …. Kyk, ek het hom in 1947 ontmoet en teen die einde van sy lewe was hy ’n heeltemal ander mens, dink ek.

Hoe voel jy oor letterkundige laboratoriums?

Nee, jong, ek moet erken ek hou nie baie van die idee nie. Dis nie vir my reg nie, jy weet, ek hou nie daarvan nie. Vir my is die skryf van poësie ’n absoluut eensame aktiwiteit. Die gedagte om saam met ’n klomp ander mense te sit … nee, nee, ek weet nie, ek hou nie daarvan nie.

As skryf ’n eensame aktiwiteit is, dan moet publikasie die teenoorgestelde daarvan wees?

Ja. Ek het daarmee ook ’n probleem. Ek het voor die tyd, voor Stiebeuel, dink ek, het die gedagte om te publiseer nooit … ek het geen begeerte gehad om te publiseer nie. Ek het nou nie juis gedink aan ’n gedig … wat daarvan word agterna, nadat hy klaar geskryf is nie. Maar ek het so ’n gevoel gehad dit is ydel om te wil publiseer. Dis seker maar my Calvinistiese agtergrond – jy weet, dat jy nou gaan spog, en vir die mense gaan wys wat jy gedoen het. So ek het ook maar ’n probleem met publikasie. Maar voor die tyd, vir my nou, is dit iets heeltemal privaat. Maar ek het wel gedigte vir Opperman gewys voor die tyd. Ek het toe nog sy raad gevra. En dan ook vir sommige ander mense. Op Pietermaritzburg die Nienabers. Soms het ek hulle raad gevra oor iets.

Hoe belangrik is skryf vir jou? Antjie Krog het op ’n keer gesê as sy moes kies tussen haar skryfwerk en haar gesin, dan kies sy haar gesin.

Johann, nou, jy weet … dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Toe ek nou nog my gesin gehad het, dink ek het ek gevoel soos Antjie. Ag jy weet, nou ook, die poësie is nie vir my belangriker as die lewe nie, en daarmee bedoel ek dit wat sin gee aan ’n mens se lewe. Maar ek moet sê, ek vind dit al hoe moeiliker om klaar te kom sonder om te skryf. Weet jy, ek weerspreek my nou, maar eintlik is wat jy nou sê, ook eintlik waar, dat lewe en skryf nie los staan van mekaar nie. Ek dink op die oomblik is dit die belangrikste. Maar vroeër, toe my man nog gelewe het was dit nie.

Weet jy wat, my kind trou om vieruur Britse tyd. Nóú. Met ander woorde om vyfuur hier is dit vieruur daar. Hoe laat is dit nou? [Ek antwoord: “Twintig oor vyf.” – JdL] So hy’s nou seker al klaar getroud … ek het nou ’n skoondogter. Hy is 37. Hy het baie lank geneem om te kies. Hy bly op die platteland.

Slot
Ons staan buitekant haar meenthuis en kyk na Tafelberg.

“Jy weet, die laaste keer wat ek teen Tafelberg uit is, met die kabelkar, was in 1950, saam met Peter Blum.”

Sy bly ’n oomblik stil. “Soggens vroeg as ek uitgaan om die oggendkoerante te kry, dan sien ek ’n enkele ster daar op die punt van Tafelberg brand. En dan besef ek dis die lig van die kabelstasie. Maar dit bly nog steeds mooi.”


LitNet: 3 April 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.