|
n Kaapse (kuns)Dokter wat die hele nasie wil bedienDie tonge is reeds aan die klap oor die nuus dat nóg n Afrikaanse kunstefees by die bestaande sewe gaan aansluit, en dit nogal in Kaapstad van alle plekke. Maar die Suidooster-kunstefees, n deurlopende projek wat met n hooffees van 2 tot 5 Oktober 2003 by die Universiteit van Wes-Kaapland gaan makietie hou, beloof om n fees met n verskil te wees. Erns Grundling het met dr Christa van Louw, koördineerder van diversiteit aan die Universiteit van Stellenbosch, en ook ondervoorsitter van die feesdireksie, by die Julians koffiewinkel op Stellenbosch gesels ... Waar kom hierdie Suidooster vandaan? Is dit n (Tafel)berg- of n seewind? Christa lag. Ek dink dit waai van albei kante, die berg en die see. Dis eintlik n goeie metafoor vir wat ons wil bereik. Waar die pole eers verwyderd was van mekaar, waai ons nou na mekaar toe. Sy meen die fees is n doelbewuste poging om die verskillende stemme in Afrikaans te erken. Die Ander Stem wat bewustelik uitgehou is en op die kantlyn was moet nou na vore kom. Maar wat is hierdie Ander Stem, en aan wie behoort dit? Volgens Christa is dié stemme sedert 1994 meer ingekleur as ooit. As mens na definisies moet kyk, word daar deesdae gepraat van swart, bruin en wit stemme. Vir my het dit niks te doen met kleur nie, maar met die ideologiese oorwegings wat daarmee saamgaan. Sy sê van die eerste vrae wat by mense opgekom het met die nuus van dié fees, is of dit n Bruin fees gaan wees. Dit wys net dat baie mense nog vasgevang is in n ou denkpatroon, die konstruksies van gister geld vandag nog. Hoekom wil mense weet of dit n Bruin fees is? Word daar by ander kunstefeeste gevra of dit n wit fees is, of word dit maar eenvoudig aanvaar? Mens moet ook kyk wie dié vrae vra. Ek weier egter om deel te wees van enige streng, etniese onderskeid. Nee, die Suidooster is NIE n Bruin fees nie, dit is wel n erkenning van diversiteit. Die fees word geposisioneer as multikultureel. Afrikaans is die gemene deler, en kan mense byeenbring en bydra tot nasiebou. Dit is dan ook gepas dat Adam Small se klassieke toneelstuk Kanna hy kô huis toe die vlagskipproduksie van die fees gaan wees, en reeds tydens die bekendstellingsfees op 28 Februarie en 1 Maart 2003 op die planke gebring gaan word. Behalwe dat dié toneelstuk aanstaande jaar deur graad 11s bestudeer gaan word, het Christa self ook die boek destyds op skool gelees. Nou kan ons almal huis toe kom. Die Nuwe Suid-Afrika bied n tuiste vir ons almal, maar ons moenie weghardloop van mekaar, of van wie ons is nie. Die direksie het heelwat navorsing gedoen oor die behoeftes van Afrikaanse mense regoor die spektrum. Die kunste word onderbenut, en dit kan direk bydra om n sin vir menswaardigheid te skep. Daar is baie potensiaal wat nie erken word nie, en dit is nou die tyd om daaraan aandag te gee. Volgens Christa is die huidige Afrikaanse feeste in Potchefstroom, Oudtshoorn en Bloemfontein baie goed georganiseer, en die kwaliteit van die produksies deurgaans hoog. Dis ook baie goed om te sien hoe gelukkig en jolig die mense is, maar dis jammer dat dit nie meer verteenwoordigend is nie. Die huidige Afrikaanse feeste is te wit. Dit was sekerlik nie doelbewus nie, maar daar het uitsluiting gekom. Sy meen egter dit sal n groot fout wees om nou byvoorbeeld n pienk fees teenoor n blou fees te reël. Ons het besluit om die proses van feesvier aan te spreek en dit oop te maak as n Suid-Afrikaanse fees. Dit moenie in isolasie van die ander feeste beweeg nie. Van die produksies wat einde September by Aardklop op Potchefstroom opgevoer word, gaan ook daarna n draai maak by die Suidooster-hooffees. Die ontginning van opkomende talent is ook een van die Suidooster se doelwitte. Maar is opkomend dalk gelyk aan agtergeblewend? Nee, beslis nie, sê Christa. Hoewel mens moet aanvaar dat daar voorheen belê is in n wit gemeenskap, en dat die norm vandag, ten spyte van al die verandering, nog steeds bepaal word deur die stem van gister. So word die erkenning en potensiaal van baie mense steeds misken. Maar daar is baie talent wat nou ontgin moet word. Hoewel die fees hoofsaaklik op n Afrikaanse gehoor gemik is, maak dit ook voorsiening vir tweede- en derdetaalsprekers in Afrikaans. Xhosa en Engels moet ook deel uitmaak van die fees. Die belangrikste is dat dit n ruimte bied waar Suid-Afrikaners werklik by mekaar kan uitkom. Die skole in die Wes-Kaap word ook vanaf Januarie betrek by n koorkompetisie. Die beste kore gaan dan teen mekaar meeding en uiteindelik soek ons n massakoor van elke denkbare kleur en geur om in Oktober by die hooffees op te tree. Dan is daar ook Klanke op die Vlakte, waar Brasse vannie Kaap en ander musiekgroepe n groot geraas gaan maak! Verskeie universiteite gaan ook betrek word by die Diskoers-reeks, waar studente gedurende die jaar aan debatte gaan deelneem en die wenners sake gaan uitspook tydens die hooffees. Hoekom het hulle op die UWK besluit? Die UWK met sy gevestigde infrastruktuur is die ideale plek vir die Suidooster-fees. Dié universiteit het n groot rol in Suid-Afrika se politieke verlede gespeel, en daarom sien ons uit na n vredespiekniek op Freedom Square. Hoe voel sy oor die regse Afrikanergroepe wat deesdae so gereeld in die nuus is? Die media gee eintlik aan hierdie misdadigers n stem met al die nuusdekking, maar ek ervaar deesdae n nuwe hoofstroom Afrikaners, wat hier wil wees. Sy glo in die drie herre. Die Suidooster-kunstefees bring die winde van verandering, soos die Kaapse Dokter, en streef na die herposisionering, herdefiniëring en herbesitting van Afrikaans deur almal. n Genesing in Afrikaans … Dis n baie bold ding om te doen, sê ek terwyl ons vir die kelnerin wag. Christa vat n trek aan haar sigaret, kyk my stip in die oë, en sê met n vasberade glimlag: Watch ons!
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |