|
PG du Plessis – uit die ivoortoring tot binne-in die binneplaasJaco Botha
PG du Plessis is veral bekend vir sy karaktervolle TV-reeks Koöperasiestories en die humorstorie-program, Spies en Plessié, waarvan hy in die tagtigerjare mede-aanbieder was. Hy is egter nie bloot ‘n entertainer nie – PG du Plessis beskik oor ‘n doktorsgraad in Afrikaans en het tussen 1970 en 1973 met sy toneelstukke Die nag van Legio en Siener in die suburbs al die groot Afrikaanse literêre pryse, waaronder die WA Hofmeyr-prys, die CNA-prys en die Hertzogprys, gewen. Hy is gevolglik iemand met ‘n geweldig wye bandwydte. Jaco Botha het by hom op sy plaas, Muiskraal, gaan kuier om meer uit te vind.“Ná die dam, wanneer jy teen die bult opry, is daar ‘n bordjie links wat sê Rysmierbult,” verduidelik PG oor die telefoon die pad na sy plaas toe. Dit het mooipraat gekos om hom te oorreed tot ‘n onderhoud, siende dat hy nou al deur die jare meer as duisend interviews moes trotseer en hy en sy vrou Marie hulself eintlik nou onttrek het aan sowel die literêre as die toneelwêreld “om weer ‘n bietjie mens te word”. Die plaas is ‘n plek waarheen mens kan tuiskom – sit knap teen die Mooirivier, met ‘n vriendelike, stowwerige werf en dennebome aan die agterkant om die Augustuswind uit te hou. Indien die stadsgebiede van Roodepoort en Krugersdorp, al met Ontdekkersweg langs, as die Bybel-belt bestempel kan word, dan woon PG-hulle sekerlik op die gulp. Tog dalk ‘n raak beskrywing, dink ek terwyl ek agter sy studeerkamer gaan water afslaan. “Hier pie die mans buite.” Die ou cowboy “Ek is opgeskryf, gatvol geskryf,” sê PG du Plessis moeg en vertel dat dit seker die honderdste onderhoud is wat in daardie studeerkamer van hom alleen gevoer word. Hy is pas klaar met die skryf van Dryfsand, ‘n “skiet, skop en donder”-reeks vir KykNet, en daar is ‘n halfklaar roman wat op hom wag. Ek laat my egter nie deur sy aanvanklike weerstand en oënskynlike korrelkoppigheid afskrik nie en vra dat hy my sy plaas gaan wys. Dis dan ook nie lank voordat hy begin ontdooi nie – PG du Plessis is in wese ‘n vriendelike en gasvrye mens. Hy wys ons die plaasopstal met sy lekker voorstoep (‘n bietjie soos dié van Koöperasiestories). Hy wys ons die hoenders en die netjiese klein kwekery en vertel van die delwerye, hier op en onder die plaas. Die bogrond moet aangevul word, want dit kom diep uit die aarde en bevat min organiese voedingstowwe. Of hy nou wil of nie, PG is ‘n natuurlike storieverteller en soos hy praat, visualiseer ek die gate – die leeggedelfde ondergrond onder ons voete en wonder of dit dalk ‘n allegorie is. Hierdie vermoede word versterk wanneer PG vertel oor hoe mooi hierdie wêreld oor ‘n paar weke sal wees – “Julle sal dit nie ken nie,” sê hy – en dan iets mompel oor: “Wanneer ek die dag weer wil, sal ek kringe om julle jong mannetjies skryf.” Ek lag terwyl hy stram-stram met sy 71-jarige lyf weer om die huis, vooruit stap. ‘n Man in sy plek Terug in sy studeerkamer (‘n wonderlike, koel klipgebou met sy eie sitkamer, badkamer, direksietafel en houtplafon – miskien ‘n bietjie lekkerig as dit reën, maar in ieder geval ‘n skrywersvesting wat PG self gebou het) vertel hy entoesiasties van ‘n opstel wat sy kleinseun geskryf het. “Hy is nou in matriek en dra my name, en hel, hy kan skryf,” vertel PG opgewonde en lees dan vir ons die opstel voor. “Vir ‘n kind in matriek,” spog die trotse oupa voort – en hy het rede: die ou kan skryf. Dan gaan sit ons om die ronde direksietafel, die tafel waarrondom menige fliekvergaderings al gehou en waarskynlik ‘n halwe sinkdam brandewyn uitgedrink is, en PG begin my te vertel waar hy vandaan kom. Hy is in 1934 in Boshof gebore, waar sy pa onderwyser by ‘n plaasskool was. “Ek is daar gevang deur ou suster Kruger, en volgens my ma was die eerste ding wat ek gedoen het, ‘n moerse pie.” Hy het gematrikuleer by die Heidelberg Volkskool – “’n slegte matriek, want ek het die lewe ontdek,” verduidelik hy – en vandaar is hy Tukkies toe. Na hy graad gevang het, het hy gaan skoolhou in Johannesburg, “in die suburbs”, en toe ook deeltyds onder NP van Wyk Louw se leiding sy honneursgraad by Wits voltooi. Dit was die begin van verdere studie in die letterkunde en ook ‘n pos as dosent by Wits. Na ’68 is is hy RGN toe, waar hy onder andere groot standpunt ingeneem het teen die sensuur van Afrikaanse boeke. “Ek self het nooit daaronder gely nie,” onthou hy, “maar het tog my deel gedoen om te help dat skrywers se werk kon bly verskyn.” Ek noem aan PG dat iemand hom uit daardie tyd ken en beskryf het as ‘n verwoede tafeltennisspeler. Hy ontken dit egter en sê: “Ek was ‘n swak sportman, maar dit was vir my lekker – ek het dit geniet, ja.” Die begin van ‘n uitgebreide oeuvre PG het relatief laat in sy lewe met sy skryfwerk begin. Dit was eers in 1970, op ouderdom 36, dat sy debuuttoneelstuk, Die nag van Legio (Legio) verskyn het. “Chris Barnard (goeie vriend en verstommende prosaïs) sê altyd vir my ek moet die liewe Heer dank dat ek so laat begin skryf het, want hy het vroeë werk (jeugsondes) wat hy nie graag wou gemaak het nie,” vertel PG. Dit was egter die begin van ‘n roemryke loopbaan: eers as ernstige toneelskrywer (wenner van al die groot pryse) en toe later ook as movie-maker en televisiedraaiboekskrywer by uitnemendheid. PG begin vertel oor die los stukke wat hy voor 1970 geskryf het, en wanneer ek oor die ontstaansgeskiedenis van Legio begin uitvis, sê hy: “Toe wou ek nog altyd iets geskryf het en toe het daar nou een nag met my ‘n ding gebeur, maar dit het ek al baie kere vertel.” Hy lyk nie lus vir verder vertel nie. “Maar die jongmense weet dit nou nog nie,” probeer ek hom laat ontsluit. “Ag, maar God man, hulle behóórt nie te weet as hulle nie weet nie,” speel hy weer die rol van die moeilike ou oom. Dan gee hy my egter grasie en begin behoedsaam vertel: “Nee, ek was daai tyd reeds klaar met my doktorsgraad, maar ek het baie by Van Wyk Louw aan huis gekom. Hy’t een aand ‘n ding gesê: ‘Aan daardie kritikus hoef jy jou nie te veel steur nie, hy’s ook maar ‘n kween.’ En ek het kwene geken – dis baie butch ooie wat nie wil ram vat nie. Die man van wie hy gepraat het, kon dus self nie produseer nie. Toe probeer ek maar, en toe’s daar Legio. Waaraan ek in daardie nag van die skok begin skryf het. “Ek het met groot vrees die ding vir Van Wyk Louw gewys en hy het gunstig gereageer en dit vir Truida (Van Wyk Louw se vrou) gegee en ‘n week daarna toe teken ek kontrak by TRUK (die ou Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste). Toe voer hulle hom op en toe doen ek nou maar die ander.” Die jong dramaturg In die 1970’s was PG du Plessis direkteur by die RGN en het hy geskryf aan toneel- en rolprentdraaiboeke soos Siener in die Suburbs en ‘n Seder val in Waterkloof. Hy was ook betrokke by verskeie televisieproduksies, “’n paar goed uitgedraai wat gewerk het, en ‘n paar wat nie gewerk het nie en that was it. “In die dae toe ek as jong dramaturg begin werk het, het TRUK beskik oor ‘n besonder bekwame en talentvolle ensemble spelers en Francois Swart was daar – ‘n baie goeie regisseur – so ek was baie gelukkig om dit te gehad het. Die stukke is goed opgevoer. “Toe’t ek stadig in die filmwêreld in beweeg. Siener was byvoorbeeld maar meer ‘n verfilmde toneelstuk,” vertel hy verder. “Toe het ek ook ‘n paar ligter draaiboeke geskryf. Ek glo nie mens moet jouself te erg aan die literêre gedoe ophang nie. ‘n Ou is nie bloot ‘n sogenaamde kunstenaar nie, jy is ook ‘n craftsman. Jou slegte goed leer jou meer as jou goeie goed. As jy ‘n goeie ding geskryf het, dan leer jy niks uit hom nie. Film het my een ding geleer en dit is: óf hy werk, óf hy werk nie. [Klink ‘n bietjie soos die huwelik, dink ek.] “Koöperasiestories het gewerk,” sê hy. “Ja, dis volksbesit, soos ‘Sarie Marais’,” stem ek saam. “Ons was baie gelukkig om die drie goeie hoofkarakters te kry. Ek meen, die SAUK wou eers nie byt aan die feit dat Mietie direk in die kamera in praat nie. Maar wat, hulle het toe later gesien die ding werk en toe het ons maar aangegaan daarmee.” (So is natuurlik ‘n nuwe “vertelstrategie” op TV ontwikkel.) Die roman oor die ontroue man PG het nog net een roman geskryf, The married man’s guide to adultery, “waaroor Joan Hambidge toe mos die kat gekry het – en nog ‘n ander ou – twee vreeslike stink resensies. Die res van die resensies was nogal heeltemal gaaf, maar die boek se titel skep ongelukkig verkeerde verwagtings,” sug hy. “Tafelberg kan darem nie kla nie – ek dink hulle het hul geld teruggekry.” Op die vraag hoekom daardie roman juis in Engels geskryf is, antwoord hy: “Ek het hom in Engels geskryf omdat ek hom nie in Afrikaans kon skryf nie. Want hy is soms rof. En hy het maar net in Engels by my aangekom. Hulle kla vreeslik oor die grammar, so hier en daar, maar dis ook maar seker so. En die ding is deur amper ‘n dosyn taalversorgers wat net so hier en daar ‘n strepie getrek het! Ek vra nie verskoning nie – dit het Van Wyk Louw my geleer. Jy vra nooit verskoning vir enige van jou werk nie; of hy nou goed is of sleg, jy staan pa vir hom.” PG is tans besig met ‘n nuwe roman, “maar ek wil eintlik nie daaroor praat nie,” sê hy. Soos wat ons gesels (ons praat maar baie stront ook tussendeur die gestruktureerde vrae), groei die hope sigaretstompies in ons onderskeie kontinentale asbakke. PG rook hou vir hou saam met my en dis indrukwekkend, want ek is ‘n strawwe roker en sy longe darem ‘n goeie twee maal die ouderdom van myne. “Wat is jou gunsteling van al die stukke?” vra ek dan. “Ek kies nie tussen die goed nie,” sê PG met sekerheid. “Terwyl ‘n ou ‘n ding doen, moet jy altyd glo hy is alright, anders sal jy ophou. Daarna gooi jy hom vir die wolwe en dan hang dit maar af waar vreet hulle aan jou. “Jy weet, daar is ook fenomene waarmee jy moet vrede maak: soos jy verouder, beweeg jy weg van die avant-garde en jy is nie meer geïnteresseerd in die mode nie. En jy is nie meer daarin geïnteresseerd om dag en bleddie nag te sit en gesels in die kunskafees en al die probleme van die wêreld in een magtige sin op te los en jou vooroordele as opinies rond te gooi nie – jy word te oud daarvoor. So, daar’s nie ‘n enkele skrywer wat so met die veroudering nie ‘n bietjie eenkant geskuif word nie. Maar jy moet dit voor die tyd weet en dit so aanvaar. “Ek was baie dankbaar om hierdie nuwe KykNet-reeks te gekry het en nou werk ek weer in ‘n genre (skiet, skop en donder) waarin ek nog nie vroeër gewerk het nie. Maar ek probeer altyd iets anders doen – net so ‘n bietjie van die norm afwyk. Dis darem net te saai om in die ou sepiestyl aan te ploeter – as tant Sannie ‘n koekhaar verloor het, dan is dit drie episodes. Dis ook hoekom ek al so baie my moer gesien het, omdat ek altyd iets nuuts probeer verken het.” Hy dink skielik aan iets, en toe ek weer sien, sit “my oupa” regs van my: “Ek sê nou vir jou een ding vandag, jongman, hierdie klomp skrywers wat deur daai meul gaan van die soapies … hulle gaan baie leer van die craft, hulle gaan baie leer. Daar is nie so ‘n ding soos minderwaardige werk nie. Dis ‘n geweldig heilsame leerskool. Dis soos ‘n ou wat Hamlet wil speel. Hy moet eers deur ‘n paar Franse komedies werk.” Om die tonnelvisie te breek Met die skryf van sy Koöperasiestories-rubrieke en later TV-programme het PG glo ‘n interessante tegniek gebruik om die inhoud van ‘n nuwe episode te stuur. Hy het die oggendkoerant oopgeblaai en op ‘n lukraak plek met sy potlood gedruk. Dan het hy die woorde wat hy raakgedruk het, gebruik as basis/inspirasie vir die volgende episode. “Ek het dit vir my studente ook geleer,” vertel hy. “Dit help om ‘n mens se tonnelvisie te breek. Die probleem met skryf is dat wanneer iemand vir jou sê: ‘Skryf ‘n liefdesverhaal’, dan dink jy aan elke bleddie Mills & Boon wat jy ooit gelees het. Hierdie tegniek dwing jou tot buite daai perseptuele tonnel.” ‘n Kosbare besitting PG lig ‘n houtkissie van die rak af en haal daaruit vier handgeskrewe, geraamde gedigte. “Hierdie is my kosbaarste besitting,” sê hy. Dit is NP van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland”. “Die man wat vir my die meeste in my lewe beteken het, is Van Wyk Louw,” sê hy, “maar, my liewe Here man, ek is nie sy ou skoene werd nie. Hy was egter ‘n geweldig inspirerende faktor in my lewe, al sou hy dalk nie alles wat ek gedoen het, goedgekeur het nie.” Die afkook van die meeste dinge Op die vraag of hy nog enige kunsteoretiese sieninge handhaaf, sê hy: “Nie meer nie. Ek het baie gehad, maar dit is deur die jare afgekook tot doodgewone praktyk. Ek het hulle sien kom en gaan, deur die jare in die taalkunde en die letterkunde. So ek is maar sinies oor literêr-teoretiese basisse. Uit die teorie maak jy niks. As ‘n ou jou eie stem wil hê, moet jy jou eie benaderings volg, al is jou stem nou maar ‘n bietjie sleg.” Hy kyk op sy horlosie; dis amper tyd vir middagete en Marie het glo lekker rys en vleis vir ons gemaak. “Dis nou maar wat ék gedoen het,” sê hy; “ek weet nie hoe goed of hoe sleg ek gewerk het in my lewe nie; who cares?” Ek is seker daar is baie mense wat van hom sal verskil – dat PG du Plessis ‘n werklike impak op veral ‘n groot gedeelte Afrikaanse TV-kykers gemaak het. Dat hy dit kon regkry om iets te skep wat toeganklik is, maar ook steeds iets van wesenlike gehalte en baie hart – “karakter” is eintlik die woord. “Verteerbaar, ja,” dink ek, en “kos”, terwyl ek kyk na die moeggeskryfde skrywer regs van my. “Ook maar mens,” sou Mietie seker gesê het, en “Ja, wêreld,” sou Veldsman sug. Miskien sal een of ander flink M-student in die Antropologie (dalk die Argeologie) van Afrikaans, oor 500 jaar bevind dat hierdie volkskrywer so ‘n impak op “gewone” sprekers van Afrikaans gehad het dat die woord plesierig inderdaad van Plessis afgelei is. Wie sal weet?
Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |