|
Anton Kannemeyer: Man van skoon lyneAndré-Pierre du PlessisEk was nie lus om hom te ontmoet nie. "Ag komaan, hy ken jou mos." Nee, hy doen nie. Ek het net 'n strip wat ek en 'n vriend gemaak het vir hom gestuur vir kritiek. Sy kommentaar was reguit. Ons narratief was goed maar ons kan nie teken nie. Hy was reg. "Maar jy móét hom ontmoet." Soos twee ou tannies het my kunsvriendinne so geneul oor dat ek na sy kantoor toe moes gaan en dat ek geen ander keuse gehad het nie. Ek is nie 'n kunsstudent nie. Ek wou net sien hoe lyk die nuwe deel van die Departement Beeldende Kunste. Ek wou hulle nuwe cool Apple Macs sien. Ek het per ongeluk vir Anton Kannemeyer ontmoet. Kannemeyer is vroeër vanjaar aangestel as Senior Graphic Design Lecturer - of so lees die A4-bladsy wat teen sy kantoordeur vasgeplak is. Voor hy hier aangestel is, het hy illustrasie by die Wits Technikon gedoseer. "Ek onthou Andreas van Wyk het destyds vir Gregg Kerr (vorige hoof van die Departement Beeldende Kunste) gesê dat ek nooit 'n aanstelling in hierdie universiteit sal kry nie (nadat 'n "Christen" van my werke in die NSA Galery in Durban met spraypaint bygekom het en al die koerante op hol was oor die 'omstrede kunswerk')." Ek het aan die kantoordeur geklop en ingegaan. Al wat ek kon onthou, was dat daar 'n lang man met skoon lyne regdeur sy liggaam, gekomplementeer en geframe deur 'n loodswart bril, in die vertrek gestaan het. Ek wou sien hoe lyk sy kantoor, maar daar was te veel lig in die vertrek. Ek kon nie my oë op enigiets anders spits as op hom of op sy twee studente wat soveel aansien het vir hulle dosent dat hulle net daar langs my gestaan en gesmile het nie. Daar was ooreenkomste tussen Bitterkomix se Joe Dog-karakter en die kunsdosent hier voor my. Dit moes my seker verstom dat die stripkarakter nou lewensgroot voor my staan, maar dit het nie. Iets anders het my oorval. Vir die medeskepper van Bitterkomix het ek 'n minder versorgde man verwag, dalk vanweë Bitterkomix se omvang. Sy oë was sag en amper onskuldig. Ek het verwag dat sy handdruk 'n tengende klam greep sou wees, soos die een wat 'n Bic-pen in sy hand hou terwyl hy vloekwoorde op 'n skoolbank uitgraveer. Dit was nie. Toe weet ek hoekom die tydskrif Insig van Kannemeyer gesê het: "Bitterpen beteken nie bitterbek nie." Bitterkomix het in 1992 ontstaan toe Kannemeyer en Conrad Botes op Stellenbosch kuns geswot het. Saam het hulle ook posters ontwerp en gedruk vir onder andere Koos Kombuis, Valiant Swart en onafhanklike filmfeeste. "Voorgraads het ek polities baie betrokke geraak. Ek het meetings en optogte van die ECC (End Conscription Campaign) bygewoon, is deur Wilgenhof-koshuisgangers met eiers of tamaties bestook, ensovoorts. Ek het dit baie geniet om gedurende daardie tyd in die kunste betrokke te wees - ek het onder andere ook in 'n band gespeel (Anton L'Amour was lead guitarist)." Voordat Kannemeyer kom swot het, het hy vir twee jaar na skool in Duitsland gebly. Hy het nooit beplan om ooit terug te kom nie. "Die twee jaar in Europa was baie goed vir my. Witmense in Suid-Afrika dink baie keer dat hulle nogal spesiaal is. Daar is min van ons en ons het ruimte en geld. In Europa is jy skielik een van 250 miljoen witmense. Jy staan nie uit nie. Skielik is daar 'n miljoen ander mense in die straat wat dieselfde cute blommetjiegesiggie as jy het. Jy woon in stede en kan jouself gelukkig ag as jy in 'n flat woon wat 65 vierkante meter groot is. Dit het my werklik gemotiveer om goed te doen in my studies terug in Suid-Afrika. "Ek het in die oggende (tussen halftwee en halfvyf) koerante afgelewer in Berlyn. Een deel van my skof was reg langs die muur wat Berlyn verdeel het. Ek het elke oggend gekyk na die Oos-Berlynse wagte in hul wagtorings op die muur. In die winter van 1986/87 was die koudste temperatuur in Berlyn -27°C. Ek het daai tyd as baie depressing beleef. Voor dit het ek vir drie maande op 'n perdeplaas in die suide van Duitsland gewerk. Dit was beter. Elke oggend sistematies al die stalle skoongemaak. Buite lê die sneeu dik, so die perde kan nie uitgaan nie. "Die rede hoekom ek hierdie tyd nie romantiseer nie, is omdat ek gedurende daardie tyd nooit gedink het dat ek sal terugkom Suid-Afrika toe nie. Dit was my nuwe tuiste. Een van die vele dinge wat my verblyf in Europa my geleer het, was om Suid-Afrika polities beter te verstaan. Ek het in 1986 'n Free Nelson Mandela rock concert in Duitsland bygewoon. Dit was die eerste keer wat ek van Mandela gehoor het." In 1994 is Kannemeyer en Botes verantwoordelik vir een van die enigste publikasies wat na ons demokratisering in 1994 verban word. Gif ("'n Afrikaanse sekskomix") was maar net een van die vele maniere wat dié twee Suid-Afrikaanse heilige koeie met groot lemme geslag het. As jy wil, kan jy Kannemeyer se ouers blameer vir sy omgang met Afrikaans. Sy pa is, after all, die argivaris van Afrikaans, na my mening. JC Kannemeyer het dit reggekry om figure in ons taal vas te vang in biografieë oor Die Goue Seun, Uys Krige; oor ons Neelsie, CJ Langenhoven, en in die mees onlangste biografie oor Jan Rabie. Kannemeyer (junior) is daarom blootgestel aan van ons land se grootste denkers soos Etienne Leroux. "Ek assosieer Etienne Leroux met die winterlandskap van die Suid-Vrystaat. My pa was nie vreeslik skaam om sommer vir weke aaneen daar te kuier nie (tydens die wintervakansies). Ek en my broer het elke oggend perdgery. As laaities moes ons die miershope gebruik om op of af van die perde te kom. Etienne Leroux het lang gesprekke met my pa (en dikwels ander letterkundiges) op die agterstoep gevoer. Ons mag glad nie in sy studeerkamer (wat agter 'n kroegtoonbank weggesteek was) ingegaan het nie. Hy het eendag Magersfontein vir ons gaan wys. Hy het die hele slag verduidelik, die vlak loopgrawe uitgewys en dinge bespreek wat nie heeltemal klop nie. Hy het altyd 'n onmoontlike stapel sigaretdosies met hom saamgedra. Die essay 'Vormloos soos die Landskap' in Tussengebied bring werklik die gevoel van daardie tyd terug na my." Die Africana-afdeling in die Universiteit van Stellenbosch se JS Gericke-biblioteek, wat baie skaars geskrifte in Afrikaans, soos dié van Leroux, beskerm, is deur Anton Kannemeyer genader om 'n comic-versameling te begin. "Ek het reeds in Johannesburg kontak gemaak met die hoof van 'n stripversameling by die Universiteit van Michigan. Hulle het aan my voorgestel om 'n versameling te begin in (Suid-) Afrika by 'n akademiese instansie (dit sou aanvanklik na Wits gegaan het, maar die persoon wat dit daarheen sou neem is ontydig afgedank). Ek het onmiddellik gedink om dit na Stellenbosch se Spesiale Versameling te bring, aangesien dit so goed geadministreer word onder leiding van Hanna Botha. Behalwe vir die uitruilskema en skenkings wat ons dus van die Universiteit van Michigan ontvang (meer as 500 stripboeke is al ontvang), het ons reeds meer as 150 hedendaagse stripboeke bestel. Ons het ook op twee stripjoernale ingeteken. Hierdie versameling is uniek in Suid-Afrika. Daar is slegs een ander stripversameling in Afrika, maar dit is in 'n Franssprekende land." Saam met hierdie stripboeke is elke uitgawe van Bitterkomix, waarvan die meeste uit druk is, in die Africana-afdeling opgeneem. Een besondere vonds. Ons onderhoud is verby. Dis amper 'n maand sedert ek daai eerste keer saam met my vriendinne in sy kantoor ingeloop het. Die folio teen sy kantoordeur is weg, 'n netjiese swartbordjie met skoon wit lyne lees: Mnr. A Kannemeyer. Hy is op pad na die opening van Comics Brew in Durban. In samewerking met groot internasionale kunsliggame bied Comics Brew (waarvan Kannemeyer die organiseerder is) konferensies en werkswinkels aan wat blootstelling bied aan stripkunstenaars en internasionale akademici op die gebied van die stripkuns. Hy vergesel my uit die Kunsdepartement uit en ek vra hom of hy Conrad Botes beny. Kannemeyer se partner in crime het onlangs die ABSA Atelier Prys gewen wat R100 000, gratis verblyf in Frankryk, en gratis toegang tot alle galerye in Parys insluit. "Wie sou hom dit nie beny nie? Ses maande in Parys, die doos!"
LitNet: 02 Desember 2004 |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |