Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eindelose weë
Koop nou!


Die Jogger
Koop nou!


Die hamer van die hekse
Koop nou!


Inteendeel
Koop nou!


Sandkasteel
Koop nou!


Mal en ander stories
Koop nou!

Met LitNet se skrywersberaad wat om die draai lê, het Marguerite Black gaan gesels met André P Brink, wat onlangs met die Hertzogprys vir Drama bekroon is.

André P Brink: die koplig skyn

Marguerite Black

As meisietjie het ek tot op die ouderdom van tien in Grahamstad gewoon. Ek het beswaarlik geweet van Verwoerd en groot woorde soos rassediskriminasie, maar ek was tog intens bewus van die armoede in die lokasie op die heuwel, wat ek probeer wegskuif het na die periferie van my Lego en Barbiepop wêreld. Ek wou nie eers daaraan dink nie; en die amper absurd-sigbare manier waarop dit gejukstaponeer was met die wit mense se domein — die eintlike dorp — het my ontstel. Op dié manier het ek en André Brink ’n aanknopingspunt.

In die tyd toe André op die dorp was en gedoseer het by Rhodes Universiteit het dit hom beslis ook opgeval, dat dit eintlik ’n fisieke bewustheid was wat sy struggle-skryfwerk onteenseglik beïnvloed het. Wat die vuur nog meer gestook het, was dat “die Oos-Kaap die tradisionele slagveld was waar wit en swart ontmoet en geveg het. Daar was allerhande nuanseringe, soos die Boere en Xhosas wat eenkeer saamgestaan het om die Engelse in die see in te dryf, wat dit des te meer boeiend maak.”

In die eerste week van April van hierdie jaar, het prof Brink twee gesogte literêre pryse ontvang, naamlik die Hertzogprys vir Afrikaanse Letterkunde en die Nasionale Boek Joernalis van die Jaar toekenning.

My eerste vraag aan André is wat sy opinie is oor die gebruik van die terme wit, bruin en swart Afrikaanssprekende. Hy klink teneergedruk wanneer hy sê dat dit maar een van die ongelukkige uitvloeisels van die apartheidsera is, wat mense gekondisioneer het om altyd in terme van ras en kleur te dink. “Maar dit het ook ’n noodwendigheid geword. Omdat sekere gemeenskappe gepenaliseer is deur apartheid en agtergebly het (dis ’n onbevredigende term), is daar ’n sekere nuttigheid vir ’n mens se benadering tot sekere tekste, om te weet uit watter konteks dit kom. Veral in die postmodernistiese tyd waarin ons leef, is ’n kontekstuele lees baie belangrik. Mens kan dus verstaan waarom die etikettering nog daar is. Solank ’n mens as ideaal behou, dat ’n mens al hoe meer in die rigting beweeg van blote skrywer wees. Mens moet maar ondertussen met die beslommernis opgesaal sit, dat hierdie terme nog ’n sekere kontekstualiseringswaarde het.

“E.K.M. Dido is ’n interessante voorbeeld: sy het nie ’n bepaalde rasse- agterdoek waarteen sy skryf nie, omdat sy nie uit ’n ras-spesifieke milieu kom met ’n geskiedenis daaragter nie. Dit maak dit eintlik makliker om doodgewoon as ’n skrywer tussen ander skrywers bekend te staan. “ In enige konteks, synde ras, gender of nasionaliteit, gee dit lesers ’n sekere houvas op die werk om te weet watter historiese agtergrond daar is en nie is nie, maar ’n mens moet versigtig wees, want jy kan patroniserend wees of iets dergeliks. Dit gaan nie soseer oor die goed of sleg daarvan nie, maar om jou te help met die begrip daarvan. Geen teks kan ’n mens meer vandag bloot as ’n teks in sy eie reg sien nie, maar teen ’n bepaalde tekstuele agtergrond .”

Die albatros van apartheid

As wit, manlike Afrikaanssprekende lyk André soos die aangewese persoon om die vraag te beantwoord of die wit Afrikaanssprekende altyd die Kaïnsmerk van Apartheid sal moet dra. Hy sê dat hy baie versigtig is oor die woord “altyd” en dat ons in Suid-Afrika en in Afrikaans nog méér spesifiek, in ’n oorgangstyd is. “Hoe lank die oorgang sal wees, sal ons nie weet nie. Dit moet nog ’n ruk lank voortduur. Gelukkig met die wegval van apartheid, wat ’n onvermydelike bevoorregting meegebring het vir blankes in enige konteks — dus ook vir die blanke skrywer — is veel van daardie stigma, dink ek, eintlik al klaar verby. Dit word makliker om in die breër konteks van “Suid-Afrikaansheid” te leef. Vir ’n eerste stap tot begrip is dit nodig om die voortduur van ou rasse-onderskeidings toe te laat, maar ek dink daar is al klaar meer van ’n oopheid in ons benadering. Omdat Afrikaans een taal tussen baie ander is en nie meer spesiale behandeling kry nie, dra dit nie meer die las wat vroeër daaraan verbonde was nie. Daar is nog steeds mense wat met die bevoorregting probeer voortgaan deur kamma te stry vir die regte van ’n taal terwyl dit einlik gaan oor die behoud van ou politieke en sosiale voorregte.”

Ek wonder of hy verwys na pro-aktiewe aksies soos die Praag optog en of hy voel dat dit eintlik ’n poging is om ou koeie uit die sloot te haal. Hy beaam dit en voel dat dit juis dié tipe ding is wat Afrikaans in ’n gevaarlike posisie gaan plaas.

“Die taal as sodanig, in terme van die gebruikersgemeenskap, is sterk genoeg. Daar is genoeg mense wat Afrikaans as moedertaal in hierdie land praat, om te verseker dat dit sal bly voortbestaan — miskien meer streekgebonde as andersins, want dit word nie algemeen oor die hele land ewe sterk gepraat nie. Daarin, in die geesdrif van mense om die taal te bly praat en pogings wat aangewend word om die ou ‘brandmerke’ en beperkings af te skaf — daarin lê vir my baie waarde.

“Maar om dit kunsmatig te probeer bevorder en bevoorreg, is a ‘kiss of death’. In dié opsig is Antjie Krog se opmerking vir my die sinvolste: ‘Afrikaans sal eers gered word as dit gered word van die mense wat dit probeer red.’”

André dink wél die “Kaïnsmerk” gaan verdwyn en dat op baie gebiede pogings aangewend word om die stigma te ondergrawe, soos die Kwêla uitgewery wat aan ’n verskeidenheid stemme wat daar is, die geleentheid gee om gehoor te word. Sulke geleenthede moet geskep word, solank dit nie ’n onnatuurlike gestoot en gestamp is nie.

Die wit Afrikaner was vir so lank die sondebok van die wêreld, dat dit wil voorkom asof hulle ’n tipe “underdog-status” kry of daarop aanspraak maak in die post-apartheidsera. André het, egter ’n weersin in die kwessie van “slagoffer” wees en is ook baie skepties daaroor. Dit geld veral vir Afrikaners wat in ’n minderbevoorregte posisie as vroeër is, maar ’n mens sien dit ook onder swart mense op die politieke terrein wat so maklik verkondig dat hulle die slagoffer van die verlede is en daarom voel dat die wêreld hulle alles skuld. As Afrikaners op dié manier op die straathoek gaan sit, grawe hulle net hul eie gaatjie ’n bietjie dieper.”

Die weeskinders van ons land

André skryf dikwels oor “bruin” Afrikaanssprekendes. Die slawe in Houd-den-Bek, Adam in ’n Oomblik in die Wind en Josef in Kennis van die Aand was almal stiefkinders van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. Baie voel dat hulle nog steeds is en André stem tot ’n hoë mate daarmee saam. “Hulle was in die verlede te swart vir die blanke bewind en nou is hulle te wit. Hulle word op die skouers geslaan as daar ’n verkiesing is, maar kyk waar bring dit hulle. Ek is bevrees dis die een groot kritiek wat ek teen die ANC-regering het (alhoewel ek hulle ook in baie opsigte steun). Maar die manier waarop die ‘bruinmense’ as tussengroep nie toegelaat word om te voel dat hulle êrens behoort nie, is een van die skandes van ons land.”

Oor die nuwe rassisme wat na vore kom van bruin teenoor swart, voel André dat dit die taal kan skaad, maar in ander opsigte daaraan ’n nuwe lewenskrag kan gee om in ’n ander konteks ’n stryd te bly stry. “Afrikaans as taal, het eintlik altyd die beste gevaar wanneer dit strydvaardig was.” Die stereotipering waaraan “bruinmense” soms onderwerp word, byvoorbeeld dié van die “jollie Hotnot” of Kaapse Klopse, is ’n rol wat sommige teen hulle sin moet speel en wat veroorsaak dat hulle nie kan uiting gee aan hul eie identiteit nie. André stem saam dat dit ongetwyfeld so is.

“Die oomblik dat ’n mens bewus raak van ’n masker, weet jy daar moet iets daaragter wees. Die probleem vir mense in so ’n situasie is dat so ’n masker dikwels geïnternaliseer word en dat mense hulle tot so ’n mate daarmee identifiseer, dat die identiteit wat daaragter skuil, baie dikwels verdwyn. Die uitgangspunt bly een van ontkenning en miskenning; dit skep ’n groot probleem wanneer ’n hele groep mense onder so ’n opset moet ly. Maar omdat Afrikaans so ’n uiteenlopende verskeidenheid van kulture en rasse huisves, skep dit vir enige bepaalde groep ruimte om hul menslikheid minder bevange uit te leef en weg te kom van hierdie ou stereotiperings en onderdrukking van werklike identiteit.

Ons jammersê is kunsmatig

Post-apartheidsliteratuur het dikwels ’n apologetiese toon of inslag van boetedoening. Vir André lê die probleem daarin dat so baie mense van die mea culpa ’n soort bandwagon gemaak het en dat dit lyk asof dit maklik is om te skree: “Ek is skuldig — ek het verkeerd gedoen.” En daarmee is alles verby.

“Ons het nog nie werklik slaags geraak met wat daardie skuld van die verlede behels nie. Soos die Amerikaners dertig jaar na Viëtnam werklik eers konstruktief daarmee begin werk het, sal dit op dieselfde manier in Suid-Afrika in ’n nuwe gedaante na vore tree. Solank as wat dit ’n lippetaal-ding gaan bly, weet ek nie of dit ons werklik gaan help nie. Op die oomblik is lesers en skrywers net ’n bietjie moeg en siek en sat van wroeg en kerm. So, dis miskien ’n gesonde verskynsel dat daar ’n rukkie in ander rigtings beweeg word en dat ander moontlikhede in die literatuur na uiting kom, sodat, wanneer daar ’n bietjie afstand gekom het, daar op ’n eerliker manier probeer word om daarmee slaags te raak. Miskien sal daar dan wegbeweeg word van ’n wroeging en beheptheid met skuld en sal ’n besef van verantwoordelikheid meer algemeen word. (Hulle raak aan mekaar, maar hulle is nie dieselfde nie.)

“’n Gemeenskaplike verantwoordelikheid teenoor die verlede beteken nie dat ons in ’n steriliteit van skuld-skuld-skuld vasgevang moet word nie.”

Oor die tendens onder jong mense om apaties teenoor die politiek te staan, sê André dat dit ’n doodnormale verskynsel is en dat dit selfs gesond mag wees. Hy voel dat hierdie ’n fase is waardeur hulle moet gaan om eerliker te staan teenoor die verlede. As jong mens is ek geneig om van hom te verskil en sê ek dat daar nie regtig ’n ontkenning van die verlede is nie, maar ’n blote a-politiese houding wat spruit uit die feit dat ons nie deel van die struggle was nie.

André kan dit insien: “In daardie opsig sien ek nie werklik ’n probleem daarmee nie, maar hulle moet net nie maak asof dit nie gebeur het nie. Jy kan aanvaar dat dit gebeur het sonder om in sak en as te gaan sit. Daar moet net ’n gesonde besef wees dat, al was jy nie daarin nie, jy medeverantwoordelikheid het.

“As daardie verantwoordelikheid gepaard gaan met medelye, dan kan jy eers werklik kreatief met die verlede, werklikheid en hede omgaan.”

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand

Afrikaanssprekendes is bekommerd daaroor dat daar dalk nie plek vir Afrikaans is in die internasionale arena nie en dat dit dalk net as ’n gemeenskapstaal sal ontwikkel. André sê dat dit sal afhang van wat in Afrikaans gedoen word en dat g’n mens dit kan voorspel nie.

“As daar werke is wat die moeite werd is om die wêreld in te stuur — selfs in vertaalde vorm — dan het ons ’n manier om ons staanplek eenvoudig af te pen, te sê: ‘Hier is ek!’ Maar ’n mens sal ook in ag moet neem dat in ’n wêreld wat al hoe meer globaliseer, daar nie meer plek is vir die klein taaltjies nie. Met die Veramerikanisering van die wêreld staan klein tale soos Sweeds en Nederlands al klaar ’n trappie agter die Engels van Amerika. Maar aan die ander kant moet ’n mens ook besef dat daar ’n soort teenwig is vir die hele globaliseringsproses en dat daar oral oor die wêreld, byvoorbeeld in Bosnië en Armenië, ’n al hoe sterker bewustheid is van die hier, die streeks-hier om die balans te probeer handhaaf. Op die oomblik word hulle ongelukkig as eksklusiewe keuses gesien: jy verval in jou streek of jy verraai as’t ware jou streek ter wille van globale aanvaarding. Tog kan nie een gemis word nie; die een het die ander nodig. Daar is al klaar tekens hiervan op wêreldvlak: die Europese Unie erken kleiner tale soos Nederlands, wat aandui dat globalisering nie maar net eenrigtingverkeer is nie.”

Oor tyd en eeu stroom alle woorde aaneen

Ek wonder of dit nie heelwat moeiliker is vir André, wat sy naam gemaak het as een van die bobaas-skrywers van die struggle, om na apartheid sy plekkie in die son te vind nie. Maar hy verseker my dat hy seker nog sal flou val van hitte-uitputting.

“Nou is dit nog baie meer avontuurlik om skrywer te wees as voor die afskaffing van apartheid. Ek kan nie sê dat ek die een bo die ander verkies nie. Daar was wél redes hoekom skryf meer opwindend was tydens apartheid as gevolg van die manier waarop die owerheid daarteen gewerk het om skrywers te probeer stil hou. Dit het dan juis die teenoorgestelde uitwerking gehad: ’n Geweldige gevoel van solidariteit het onder skrywers — swart, wit, Afrikaans, Engels, alles — ontstaan en daardie vlak van elektrisiteit het dan eintlik verminder.

“Nou kan jy oor enigiets skryf en dis gesonder, want nou word jy beoordeel volgens die kwalitiet van jou werk en nie op grond van die saak wat jy ondersteun nie.

“Ek dink nie dat, tydens apartheid, enige skrywer wat sy/haar sout werd was, geskryf het teen apartheid omdat hulle verplig gevoel het nie. Dit was werklik deel van ons alledaagse lewe en mense het geskryf oor wat hulle naaste aan die hart lê. Tydens apartheid het ’n mens tog plek gemaak vir politieke kwessies en ander kwessies na die agtergrond geskuif. Noudat daardie hiërargie nie meer bestaan nie, kan ’n mens nou letterlik skryf waaroor jy die graagste wil skryf en teruggaan na dinge wat jy destyds eers laat oorstaan het. Dinge is nie so vanselfsprekend en voor die hand liggend nie. Toe het jy ’n bepaalde vyand gehad teen wie jy kon skryf. Noudat dinge so oop is, word die uitdaging van groter subtiliteit en nuansering gestel.

“Die sin vir ontdekking en avontuur en moontlikheid wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis bied, is ongelooflik en daar lê ’n weelde van stories wat in ’n twintig leeftye nie ontgin sal kan word nie.” Ek kyk na die mynwerker van formaat voor my en dink oor die ambivalente rol wat hy deur die jare speel: ondermyner asook ontginner van die verskuilde dele van die Suid-Afrikaanse psige. En as ek so na hom kyk, dan weet ek dat hy nog baie in die mou voer en die koplig vir lank nog gaan laat skyn. Die end is glad nie in sig nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.