|
Kô, lat ons sing (in Nederlands)Peter Snyders is bekend as digter, dramaturg en rubriekskrywer, en het ook onlangs gedebuteer as kortverhaalskrywer met Brunch met twee. Wat egter nie so algemeen bekend is nie, is dat hy ook onder die kombers n liedjieskrywer is. Clinton V du Plessis het per faks met Peter n onderhoud gevoer oor dié aspek van sy kunstenaarskap.
PS: Ek skryf deesdae liedjies in Nederlands. Aanvanklik het ek liedjies in Engels geskryf, toe skryf ek in Afrikaans. Ek vertaal ook my Engelse liedjies in Afrikaans en nou vertaal ek vanuit Engels en Afrikaans in Nederlands. Ek skryf ook die wysies. Mens kan mos nie n liriek vertaal sonder dat jy die wysie ken nie. CdP: Waar het dit alles begin? PS: Ek het my eerste liedjie in 1957 geskryf. Dit was na my eerste liefde van vier dae! Die titel van die liedjie is Dont Say a Thing. Sy Afrikaanse weergawe heet Sê liewer(s) niks. Ek moet dit nog in Nederlands skryf. CdP: En die Nederlandse lirieke? PS: Ek het my eerste Nederlandse liedjie in 1980 geskryf toe ek Afrikaans-Nederlands deur Unisa geswot het. Afrikaans het ek n paar jaar vroeër begin skryf. Die titel van my eerste Nederlandse liedjie heet Nu zie ik jou weer. Dit is vertaal uit Nou sien ek jou weer. Daar is nie n Engelse weergawe nie. CdP: Kan jy werklik net eenvoudig n liedjie vertaal of oorsit in n ander taal? Wat van nuanse-verskille? PS: Ek glo nie jy kan streng gesproke n liedjie van een taal na n ander vertaal nie. Dit is eerder n aanpassing by die klanke van die teikentaal. Op n manier is liedjie-vertaling nogal moeilik. Die teikentaal het ander klanke en n ander ritme. Die verwerker van n liriek moet ook die aksente reg laat val tussen die skuinsbalke.
CdP: Wat is dus jou werkswyse? PS: Jy moet maar eksperimenteer. Ek doen eers n direkte vertaling vanuit Engels in Afrikaans as die liedjie nie oorspronklik in Engels geskryf is nie. Dan kom die moeilike deel om die korrekte lengte tussen die skuinsbalke te kry. Die rymklanke veroorsaak dat die tema wel dieselfde bly, maar die betekenis van die reë1 kan soms nogal heelwat anders as dié van die brontaal wees. CdP: Vir die leek mag dit lyk asof dit maklik is om in Nederlands te vertaal, maar ek dink tog dit is nie so nie. Stem jy saam? PS: Ja, Nederlands is nogal nie maklik nie. Afrikaans het byvoorbeeld slegs een verlede tyd, terwyl Nederlands meer as een het. Ek gebruik dus die Engelse liriek vir hierdie tipe grammatika, omdat Engels ook meer as een verlede tyd het. Ek moes Nederlands van nuuts af leer. Nadat ek die Nederlandse vertaling het, neem ek dit na n Nederlandse moedertaalspreker wat dan die verskille tussen Afrikaans en Nederlands aan my uitwys. Ek gaan dan terug en probeer weer om die Nederlandse klanke en ritmes (soos met Afrikaans) aan te pas. Dit is nogal n lang en moeisame proses, maar dit word al hoe makliker namate ek leer. CdP: Was daar nie persone wat aanvanklik skepties was oor dié idee nie? PS: Ja, die meeste het gesê dat jy nie na n vreemde taal kan vertaal nie. Hulle het dit ook gesê toe ek vertaling as n subvak van Afrikaans aan UWK geswot het. Maar ek kan enigiets doen as ek my hart daarop sit. CdP: Is jy altyd tevrede met die vertaling? PS: Ja, Nou sien ek jou weer en Nu zie ik je weer klink nogal dieselfde. Die idee is om Nederlands so na as moontlik aan Afrikaans te gebruik. Ek hou dus die Nederlands eenvoudig vermy woorde wat vreemd vir n Suid-Afrikaanse sanger of luisteraar sou klink. As ek n liedjie aan iemand stuur, kry hy of sy drie manuskripte en drie lirieke. Die sanger kan dus enige woorde waarvan hy onseker is, vergelyk met óf die Engelse óf die Afrikaanse lirieke. Dit geld ook vir Nederlanders wat in Afrikaans wil sing. Reg toegepas, kan Nederlands en Afrikaans nogal min of meer dieselfde klink. CdP: Skryf jy ook die musiek? PS: Ja, ek skryf die notasie (die gholfstokkies) self uit. Ek lê die manuskrip ook so voor. As die sanger nie musiek kan lees nie, moet hy maar iemand kry om dit vir hom te speel. As ek drie manuskripte moet uitskryf, dan gebruik ek sommer ook die geleentheid om die harmonie drieërlei te skryf. So sal jy in een taal se manuskrip baie eenvoudige en beperkte akkoorde vind, in die tweede taal se manuskrip sou daar dikwels meer en ietwat gevorderde akkoorde wees, terwyl daar op die laaste manuskrip n ietwat progressiewer harmonie sal wees. Die orkes of band kan dus self besluit watter harmonie hulle verkies, of n mengelmoes van die drie maak of hulle eie harmonie gebruik. CdP: Kry die kunstenaar n demo van jou? PS: Nee, ek doen nie demos nie. As ek, demos moet maak, kan ek net sowel my eie CD sny van die nommers wat oorbly. CdP: Is daar voordele verbonde aan vir n kunstenaar om na jou vertalings te kyk? PS: Die voordeel van n wysie in drie tale, ja. Kyk, vandag moet n CD so n uur of langer wees. Dit beteken dus die kunstenaar moet ongeveer twintig liedjies hê. Om die CD op te vul doen hulle tot drie remixes. Soms is dit nogal moeilik om die verskille te sien. Nou kan die kunstenaar dieselfde backing track gebruik, maar hy sing die liedjie in drie tale. Hy bereik dus n groter mark, en vul ook sy CD. CdP: Kry jy jou idee verkoop? PS: Ek dink ek is uniek in dié opsig. Dit is n nis wat ek raakgesien het. Dit is baie harde werk, maar daar is reeds belangstelling vanuit Nederland en België. CdP: Sal dit aftrek kry in jou teikenmark? PS: Ek was drie keer binne n bestek van twaalf maande na Nederland genooi. Dáár het ek gesien hoe hulle ons taal akkommodeer. Ek het selfs in Kaaps my gedigte voorgedra. As Belge en Nederlanders Suid-Afrika besoek, doen hulle altyd moeite om iets in ons eie taal te doen. Maar ons doen weinig moeite om iets in hulle taal te doen. Nou kan ons wel iets in hulle taal doen. Soos dit maar is as n vreemdeling moeite doen om in iemand anders se taal te verkeer, meen ek dat Afrikaanses wat ook Nederlands in hul repertoire insluit, voorkeur sou vind as kunstenaars na Nederland en België genooi word. Ja, en Nederlanders en Vlaminge het nou ook n bron waar hulle Afrikaanse liedjies kan bekom. Ek kan ook Nederlandse liedjies in Afrikaans verwerk as n Nederlandse spreker dit sou verkies. CdP: Pas jou styl noodwendig in by n spesifieke kunstenaar se styl? PS: Styl sien ek nogal nie as n probleem nie. Ek het die sanggroep, Die Ambrosias, na my liedjies laat luister. Hulle het keuses gemaak en hul eie styl op my liedjies toegepas. Yolanne was n blitsverkoper. Die groep Shaft het dieselfde gedoen met She loves me en Language I Dont Understand dit was ook n groot sukses. Ek dink die sukses was toe te skryf aan hul eie oorspronklike styl en my liedjies wat hulle in staat gestel het om slegs geringe aanpassings te moes maak. Die resultaat was n nuwe, eie, oorspronklike styl wat byval by die kopers gevind het. CdP: Vind jy nie die musiekbedryf is baie voorskriftelik nie, wyk nie maklik af van n suksesresep nie? PS: Ja, die musiekbedryf is baie indoktrinerend. Die groot platemaatskappye wil hê die kunstenaars moet die Amerikaanse style aanvaar. Maar n goeie kunstenaar wil altyd innoverend wees. Die maatskappye steek egter vas in n gekopieerde uitheemse styl. CdP: Jou mening oor die Afrikaanse musiekbedryf? PS: Daar is wonderlike dinge wat in die Afrikaanse musiek besig is om te gebeur, maar daar is ook nog steeds kunstenaars wat nie uit hul groef kan kom nie. Nou is daar egter n uitkomkans. CdP: Enige spesifieke voorkeure wat musiekstyle betref? PS: Ek skryf in verskillende musiekgenres ballads, rock, jazz, enigiets. Weer eens is dit n kwessie van kreatiwiteit. Ek het n vriend, Lloydd Kerchoff, wat byvoorbeeld Three Blind Mice in enige styl kan speel. Ek het hom hierdie liedjie hoor speel as n ballad, calypso, Suid-Amerikaans, bossa nova, rock n roll, wals, quickstep, samba you name it. Die probleem lê nie by die goeie komponis nie, maar by die versitaliteit van die musikante. CdP: Behoort n liedjieskrywer die basics van musiek te ken, of is n goeie oor en skryftalent voldoende? PS: Ja, jy moet die basics van musiek aanleer. Die tye verander. Om te oorleef moet ons al hoe meer kundig word. Voorheen was dit oraait om n oormusikant te wees. Vandag is daar vyf musiekskole binne n vyf-minuut-ry-afstand van my in Athlone. Daar is musiekskole in Mitchells Plein en elders. Die kleurlingjeug leer nou om musiek te lees. En die ouer musikante wat nie wou musiek leer nie, bevind hulle nou op die sideline.
CdP: Is musiek moeilik om aan te leer as jy nie ook n aanvoeling daarvoor het nie? PS: Musiek is n universele taal. Ek kan met enigeen in die wêreld musieksgewyse kommunikeer. En dit is die maklikste taal om aan te leer. Jy hoef net tot by drie of vier te kan tel en meestal breuke van n kwart te kan hanteer. CdP: Enige invloede? PS: Die musiek wat ek skryf, het n eg Suid-Afrikaanse kleur. Maar, ja, ek was seker maar beïnvloed deur die rock-era en die musiek van later jare maar soos ek gesê het, dit gaan oor versitaliteit, dit gaan oor phrasing en rephrasing van die melodie, soos al die all-time greats en jazz doen. Ek is bly om te sien dat rhythm & blues weer lirieke oor die liefdesverhouding tussen man en vrou, seun en meisie gebruik. Ek dink die Vigspandemie gaan mense, veral die jeug, terugdwing na die ou waardes soos verwoord in die liefdes- en poëtiese vers. Die era van die sinlose Oe-bybie-lirieke is verby. Die wêreld se oorheersende gees dwing ons tot nuwe (of renaissance-agtige) waardes. Jou eie verhale in Brunch met twee is n bewys van die all-time low wat ons morele lewe in is. CdP: Om op te som, is jy dus n liedjieskrywer uit die ou romantiese skool? PS: Romanties? Eks nie seker nie, miskien ... Ek dink daar is tog te veel snert wat op die mark kom. Daar is te veel mense wat liedjies skryf wat glad nie die moeite werd is om op te neem nie. Ja, hulle skryf dalk een of twee goeie liedjies, maar die res is n verleentheid. Ons moet teruggaan na die professionele liedjieskrywer. Skryf jou eie liedjies, ja, maar doen dit soos die bands in die sestiger- en sewentigerjare dit gedoen het. Hulle het jou n plaat gegee waarna jy oor en oor kon luister. Hulle het hul eie swak liedjies self afgekeur en goeie liedjieskrywers se werk gebruik. Dit is waarom die radios nóú nog so baie van die liedjies van daai tyd gebruik.
Tel.: 021-6375019 |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |