Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Clinton V du PlessisOor e-boeke, pessimisme en ’n plekkie in die son

Christelle du Toit

’n Onderhoud met Clinton V du Plessis, mede-outeur van Brunch met twee

Om met die heel logiesste te begin, hoe het die samewerking tussen jou en Peter Snyders teweeg gekom? En waar het die titel vir Brunch met twee vandaan gekom?

Brunch met tweeBeide Peter Snyders en ek gee tot ’n groot mate ons eie werk uit — dit is waar die aanvanklike kontak vandaan gekom het. Ons het dieselfde probleme ondervind as klein uitgewers en begin om gedagtes uit te ruil. Ook is ons skrywers wat ons eie ding doen, loop nie noodwendig enige groep na nie, bepaal ons eie agenda, bemark onsself. Sonder ’n groot begroting vir bemarking is ons albei al na Nederland genooi (hy al ’n paar keer). Daarna vir Peter by feeste begin raakloop en ons het al meer gemene delers begin vind, soos byvoorbeeld ons afkeer van Suid-Afrikaanse academics en kwasi-intellectuals.

Presies 20 jaar gelede (1981) het daar ’n versamelbundel gedigte verskyn van Etienne van Heerden, Daniël Hugo, Peter Snyders en Andre Letoit (weet nie of hy hom toe al so genoem het nie) onder die titel Brekfis met vier. Hulle het self die bundel uitgegee, omdat die hoofstroom-uitgewers nie destyds daarvoor kans gesien het nie!! Dus het ons besluit om die verhale Brunch met twee te noem, in antwoord op Brekfis.

Die navorsing waarna jy my verwys het, praat van jou as ’n “evangelis van die nihilisme” en jou werk is dan ook merkbaar meer pessimisties as die van Snyders — hoe het dit jul interaksie beïnvloed (indien enigsins) dat jul lewensvisies skynbaar so uiteenlopend is?

Daar is ’n ouderdomsverskil van ongeveer 24 jaar tussen myself en Peter, dus sal daar by Peter ’n meer wyser kyk na dinge wees, terwyl ek meer sinies is. Hy’t byvoorbeeld onlangs op Oudtshoorn vir my gesê, “Moenie kom statements maak nie, looi hulle saggies met humor, soos ek.” Die gehore wat daar kom luister, na veral die poësievoorlesings is, om Komrij se woorde te gebruik, hoofsaaklik blank, bejaard en beangs. Dit is dus maklik om hulle te vervreem. Tog het ek en Peter iets anders gemeen: ons is nie skaam om na ons as bruin skrywers te verwys nie — ons noem ons eintlik Djollie Hotnots Inc.

Al vier jou vorige publikasies was poësiebundels — hoekom nou die beweging na prosa? In tekste soos “Fuckdotcom” is daar nog ’n besliste poëtiese inslag te sien, maar “To have and to hold” kom byvoorbeeld uit ’n roman-in-wording — voel jy dat prosa as medium jou die kans gee om meer te doen met jou werk?

Daar was ook al ’n solo-bundel kort-kortverhale, getiteld Kort van draad, wat Joan Hambidge in Beeld laat wonder het: “Hoe kom dit dat ’n hoererige boekie Afrikaans bevorder?” Ek begin al meer wegbeweeg van gedigte skryf. Wessel Pretorius het opgemerk dat jy net deur puberteit moes gaan om gedigte te kan skryf, maar dat jy ’n stuk lewe moes geleef het om prosa te kan skryf. Ek stem daarmee saam. Jy’t die kans om ’n groter leserskorps met prosa te bereik, kan dit makliker vertaal. Tog is jy reg as jy verwys na ’n “poëtiese inslag” in van die verhale — dis die stem van ’n digter wat prosa skryf.

Dwelms en prostitusie figureer sterk in amper al jou tekste — waarom hierdie skynbare fiksasie? ’n Intense disillusionment met geloof, en spesifiek die Bybel, is dan ook te sien in tekste soos “Losing my religion” en “The full catastrophe of life.” Is daar ’n skakel?

Dwelms, seks en geloof gee dikwels die skyn van ontvlugting van die werklikheid. Daar is nie noodwendig ’n disillusionment met geloof en die Bybel as sulks nie, maar met die tipe beoefening daarvan en omgaan daarmee. Nêrens is dit meer ooglopend as in van die charismatiese bewegings nie, soos oa vergestalt deur Jimmy Swaggart, en andere. Soms kyk ek na van die bewegings se televisiedienste en word getref deur die aangeplakte vulgêre passie wat ooreenkomste toon met die aangeplakte passie in byvoorbeeld porno-flieks. Het probleme met die notion dat jy enigiets aan jou medemens kan doen, net berou moet toon en dan vergewe sal word. Daar is walglike, ongoddelike dinge in Rwanda en hier gedoen in die naam van God. Aan die ander kant is die “fiksasie” met prostitusie; hier het ons te doen met mense wat hul lywe verkoop, maar nie noodwendig hul siele nie — hoe behou jy daardie balans, wanneer kruis jy die lyn? Daar is ook in ander skrywers se werk ’n kyk na die sekswerker se leefwêreld: Johan van Wyk, Deon Opperman, ongepubliseerde werk van Fanie de Villiers.

Jy begin jou afdeling van Brunch met twee met ’n Leonard Cohen-uittreksel en baie van jou werke lees dan ook meer soos woordmusiek as prosa/poësie. Het musiek ’n sterk invloed op jou kunstenaarskap/kreatiwiteit?

Definitief. Dylan, Springsteen, goeie hardegat-rockers.

Het van jongs af na Bruce Springsteen geluister wat sing oor die werkersklas, oor mense met gebroke harte, stukkende drome, flenter verhoudings, mense wat in klein dorpies agterbly waar die fabrieke toemaak en die werk nooit weer terugkom nie. Die scenario is aan my bekend , het grootgeword in ’n tyd (op Cookhouse) toe die Spoorweë talle dorpies gevoed het, bestaansreg gegee het, nou roes die spore, die grensdrade is slap, op stasies kan jy nie meer die naamborde lees nie, die mense is agtergelaat, oorgelaat aan hul eie lot, die hele sosiale netwerk stort in duie, iemand het in die proses van down-and-rightsizing van die mense vergeet.. Tipies Springsteen-stuff. Springsteen was reg: “We’ve learned more from a three-minute record baby, then we’ve ever learned from school.”

Jy gebruik dan ook ’n groot aantal intertekste in jou werk (Leonord Cohen, ’n TRC report, die Bybel, John Coegar Mellencamp, Joe Cocker, Jennifer Warnes, The Sex Pistols). Is daar enige redes vir die keuse van juis híerdie versameling as intertekste? Wat is vir jou die doel daarvan om intertekstuele bande neer te lê in jou werk?

Dit is nie ’n doelbewuste literêre truuk nie — dit kom natuurlik. Ook ’n poging om te sê, ons bruin skrywers het ’n wyer verwysingsraamwerk as net apartheid en die struggle.

’n Teks soos “Gross Violations” is heel duidelik eksplisiet polities en ’n taamlik negatiewe interpretasie van die post-1994-fase in Afrikaanse literatuur (veral as jy dit vergelyk met Snyders se meer optimistiese inslag). Tog, in die inligting waarna jy my verwys het, word jy as “nie-polities betrokke” beskryf? Dink jy dis moontlik vir enige Afrikaanse skrywer na 1994, ongeag van kleur, om níe politiek in sy werk in te bring nie? Voel jy ons is al uit die fase van bestekopname uit, of word dieselfde politiese gegewens nog steeds gebruik, maar nou net met ’n ander doel onder oë? Indien wel, wat is daardie doel?

Eksterne faktore (veral die politiek) beïnvloed ’n skrywer. Ek’s nie polities betrokke in die sin dat ek ’n card-carrying member van enige party is nie. ’n Skrywer wat dit doen sal nooit vir die keiser kan sê hy is kaal nie. Die keiser, as die geleentheid hom voordoen, sal homself altyd vergryp aan mag — mag is die ultimate aphrodisiac — enige leier wat sy bakkies op ’n munt of noot sien, voel soos ’n god. Politiek het as basis die verspreiding van leuens, lank genoeg, gereeld genoeg, totdat die mense later nie meer die onderskeid kan sien nie. Het onlangs weer Orwell se Animal Farm gelees en opnuut besef hoe die geskiedenis homself herhaal. Ek hou van anargiste — Andreas Baader, Ulrike Meinhoff, Bobby Sands, Steve Biko, mense wat bereid is om gevaarlik te lewe ten einde die leuen aan die kaak te stel. Geen staat hou van mense wat vrae vra nie, en skrywers vra die meeste vrae, ongemaklike vrae.

Waarom die keuse om in e-boek-formaat te publiseer? Wat is vir jou die voordele/nadele daaraan verbonde en hoe het dit gebeur? Veral as mens kyk na die vorm waaarin “in god’s country: no 2-21” gedruk is, is hierdie immers ’n radikale verandering. Jy eksperimenteer dan ook verder met die vorm van poësie dmv jou gebruik van “konkrete gedigte” — kan jy dalk iets meer daaroor sê?

Dit is opwindend om te kan deel in die nuutste tegnologie, veral vir persone soos ek en Peter wat die heeltyd probeer om vernuwend in ons werk te wees. Ek hoop die e-boek maak meer geleenthede oop vir skrywers om hul werk die lig te laat sien. Ek het die onderhoud met Joan Hambidge op Pasella gesien oor haar e-boek (die eerste in Afrikaans) en toe vir Carina gekontak. Binne ’n week is die bundel aanvaar — dit is ook wat ek so geniet, die oombliklike terugvoering via e-pos, die oordrag van die manuskrip elektronies, ens. Die maandelange wag deur van die tradisionele uitgewers het my soms wanhopig gemaak. Geen duur posgeld om die publikasie oorsee te stuur nie, net die kliek van ’n muis en jy koop die boek. Opwindend.

Taal is ’n baie interessante besprekingspunt wanneer dit by jou werk kom — reeds in Snyders se gedeelte word die verskil tussen sogenaamde “Afrikaans” en “Kaaps” beklemtoon, en in die agtergrondinligting oor jou is daar ook ’n sterk fokus op die hoeveelheid Engels in jou werk. Hoe sien jy Afrikaans as taal in Suid Afrika? Is dit ’n taal waaroor jy nog lank passievol sal bly (en ek beskou in hierdie vraag Standaardafrikaans en Kaaps beide as deel van die Afrikaanse spektrum)? Volgens jou agtergrondinligting voel jy “hierdie land is in sy moer genaai”, maar as ek kyk na “To have and to hold” kan ek nie anders as om tog ’n optimistiese klankie te vind nie, al is dit dan in ’n alternatiewe liefdesverhouding (of miskien juis …)?

Ek het onlangs as volg op LitNet geskryf oor my ervaringe op die KKNK-fees.

    Ek sien volstruise langs die pad, die hele lyf swart, met net enkele wit pluime bo teen die boude. As Afrikaans besef dat dit sy toekoms is, nie meer die oorheersende nie, maar tog ’n integrale deel van die groter geheel, dan is daar niks om te vrees nie.

Niemand het meer rede gehad om Afrikaans te verafsku as die bruinmense nie. Hulle is uitverkoop deur die wittes, hulle eie leiers en ook deur die swartes. Noudat Afrikaans nie meer die lingua franca is nie, nie meer gesubsidieer word en bloedskandelik wit vertroetel word nie, nou, juis nou, kom daar vanuit die bruin skrywersgemeenskap van die beste literêre skeppings. Al wat ons vra is, gee ons ’n plek in die son.

Die invleg van Engels in die verhale kom ook doodnatuurlik — dit is hoe die mense praat tussen wie ek beweeg.

Ek is van nature ’n pessimis, maar ook eintlik ’n romantikus, ’n siniese romantikus,

Geloof, hoop en liefde … of the father, the son and the sceptic? (Alanis Morisette)

Wat is vir jou die einddoel van jou skrywery? Is dít wat vir jou “die volgende rush” gee?

Niks kom by daardie high as om iets klaar te geskryf het nie, dit dan weer later te lees en vir jouself te kan sê: Hel, maar daai was donners nice, amper soos goeie seks, maar veel beter … en veel meer bevredigend.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.