Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Donker Man

Freek Kats kap ’n es saam met Francois Weideman, hoof van Fenomeen Publikasies en loan shark extraordinaire

(Die stem wat my aan die ander kant van die lyn begroet, is sag. Hy praat in sarsies.)

“Weideman.”

“Jis,” sê ek. “Freek Kats hier. Ek bel oor die onderhoud.”

“Middag.”

“Dankie vir die aanstuur van die bundel. Het jy die vrae gekry wat ek gemail het?”

“Ja. Ek het dit ingevul en alles.” Pouse. “Maar my internet is moer toe.” Pouse.
“Luister, ek print dit vir jou uit en dan kom drop ek dit na werk by jou. Ons kan sommer ’n bier iewers gaan drink, dan kyk jy dit gou deur.”
Face to face met die loanshark-uitgewer. Oukei.

“Oukei. Ek bly in …”

“Ek weet waar jy bly.”

Vir ’n oomblik is net die gesuis van die lyn hoorbaar.

“Hoe?” Dis uit voor ek dit kon keer.

“Jy het laasweek jou adres vir my gegee,” sê hy droog. “Dis hoe ek geweet het waarheen om die bundel te pos.”

“Natuurlik.”Ek begin naarstiglik na my sigarette soek.

“Sê so halfses.” Hy klink kortaf.

Die gesprek word met ’n klikgeluid beëindig.

’n Almagtige stilte heers in die Volla. Ons ry deur die nat strate, op die uitkyk vir die eerste en beste kroeg. Die print-out wat hy my so pas in die hand gedruk het, voel klam. Toe hy uiteindelik praat, is sy stem sag, net bo die reën.

“Mense het die verkeerde indruk van loansharks,” sê hy, en ek voel die kyk wat hy na my kant toe gooi. “Eintlik hou ek nie van daardie woord nie. Kontantlenings is deesdae ’n algemene ding, jy weet; dis legit. Ons is nie boelies wat deure afskop en knieë breek nie. Daar is ’n beskaafde manier om dinge te doen. Dis in elk geval maar basies net kantoorwerk. Dis lang ure.”

Ek knik, gretig om die een of ander gesprek aan die gang te kry. Ek tik met my vinger op die interview. “En die boek, en die uitgewery en goed? Waar kry jy tyd daarvoor?”

Hy steek ’n sigaret op. “Mens máák tyd. Die cash loans is bloot ’n manier om die pot aan die kook te hou. Vir nou.” Die rook trek dik uit sy donker baard. “Woorde is my passie. Woorde, woorde, woorde.”

En daarmee droog sy woorde op. Die Volla se ruitveërs skwiek links en regs, links en regs, links en regs. Die stilte duur voort asof dit nooit gebreek was nie. Ek loer solank na die interview.)

FK: Die Stellenbosse uitgewery Fenomeen Publikasies het onlangs met ’n knal die literêre arena betree. (Die rede hiervoor is dat Fenomeen pa staan vir uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange, ’n omvattende bloemlesing waarin nuwe gedigte uit die penne van Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel en Tertius Kapp opgeneem is.) Dit mag dus blyk dat dit ’n nuwe uitgewershuis is, maar na wat ek verneem, doen Fenomeen al vir ’n geruime tyd sy ding. Hoe lank bestaan die maatskappy al?

FW: Fenomeen Publikasies maak in werklikheid deel uit van ’n groter prentjie — behalwe vir die publikasie-arm is daar ook Fenomeen Produksies, wat die vervaardiging van verhoogproduksies behartig. Saam vorm die twee helftes dan die beslote korporasie Fenomeen Skeppende Kunste. Fenomeen Publikasies (as konsep) het in 1998 ontstaan. Aanvanklik was dit ’n naam waaronder ek my eie gedigte gepubliseer het, maar sowat ’n jaar later het ek die naam as bk geregistreer, ander skrywers aan boord geneem en vir eers wegbeweeg van selfpublikasie — vandaar die projek uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange.

FK: Ons sal uit die aard van die saak later meer oor uit die stof gesels. Watter ander publikasies het al onder Fenomeen se vaandel verskyn?

FW: Hier sal ek doelbewus ’n onderskeid moet tref tussen formele en informele publikasies.

Aan die informele kant — dit wil sê sonder enige redakteurswerk of formele keuring — het daar vyf digbundels uit my eie pen verskyn: Die lewe loop somtyds deur my vingers (1998), 13:13 (1998), Uitgespoel op T.V. (1998), Die 4de ry spieëls (1999) en Winter 1999 (2000). Verder het ek Robert Bolton se bundel Honest Betrayals (2000) en drie uitgawes van ’n minipoësietydskrif, genaamd Vlerk, uitgegee.

Aan die formele kant het daar dan uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange (2001) verskyn: die vlagskip-projek.

FK: Gooi die woorde “kleiner uitgewer” voor die deursnee-geselskap en mense sien ’n enkele, oorwerkte siel op ’n donker solder besaai met halfwas manuskripte, swetend en swetsend agter ’n proesende dieseldrukker. Hoe sien die fisiese infrastrukuur van so ’n uitgewery, en in dié geval meer spesifiek Fenomeen, in werklikheid daar uit?

FW: In Fenomeen se geval is al die bogenoemde wel teenwoordig — behalwe vir die solder en die dieseldrukker. Ons is ’n klein span ja, maar ons werk lekker saam. Wat die fisiese produksie van publikasies aanbetref, maak ’n mens maar gebruik van private instansies buite die maatskappy. Die keuring vir uit die stof is byvoorbeeld deur onafhanklike vryskutkeurders behartig, terwyl die druk- en bindwerk deur US-Drukkers (Universiteit van Stellenbosch) gedoen is.

(“Ekskuus?” Ek kyk op.

“Ek sê, sal ons sommer daar by De Akker ’n dop gaan drink?”

Ek knik. Hy stuur die Volla behendig deur die strate. Ek kry ’n sigaret aan die gang.

“So, is jy oorspronklik van Stellenbosch?”

Die reën ruis sag op die kar se dak. Hy gee geen aanduiding dat hy die vraag gehoor het nie.

Ek draai die ruit effens af, blaas die rook deur die skreef na buite. Dan wys ek weer na die print-out in my hand.

“Jy sê hier jy skryf self?”

“Hmmm.”

En minute tik verby.

Well. Ek skiet die stompie by die venster uit. Ek het probeer.

“Gee jy om as ek solank hier deurlees?” vra ek dan maar.

Nee, beduie hy met ’n leë hand.)

FK: Laat ons reguit praat: besigheid is besigheid. En uitgewery in die Republiek, en veral in Afrikaans, is ’n klipharde storie. Die grotes word groter en die kleintjies, wel, kleiner. Voeg hierby dat ons plaaslik met ’n interessante situasie sit: die dominante Afrikaanse uitgewershuise en die dominante Afrikaanse gedrukte pers, word deur enkele finansiële reuse bestuur. Dit hou noodwendig vernietigende implikasies in vir die skraler uitgewerye wat nie aan die monopolie behoort nie. Big boys play rough, en dis goed so. Tog, hoe beoog Fenomeen om teen die swaargewigte staande te bly in dié vuurwarm kryt?

FW: In werklikheid dink ek nie dat dit tans goed gaan met selfs die sogenaamde “reuse” nie. Om te wil uitgewer wees in Suid-Afrika, is moontlik dieselfde paljas as om digter te wil wees, of skilder, of  of  En ek voel nie juis bedreig deur die swaargewigte in die bedryf nie. Op die ou end van die dag is dit die kwaliteit van jou produk wat tel. As dít eers daar is, kan niks en niemand dit van jou wegneem nie. Ons doen ons eie ding in die kryt. En die feit dat Fenomeen tans in ’n ander gewigsafdeling baklei, maak nie van hom ’n beter of ’n swakker bokser nie.

Finansieel kan dit wel ’n nagmerrie wees, maar geloof in die projek en realistiese doelwitte is die twee faktore wat tans help om Fenomeen stadig maar seker te laat grootword.

FK: Soos reeds gesê: besigheid is besigheid. En die groter uitgewershuise sien oor die algemeen nie kans vir die finansiële risiko’s wat die publikasie van poësie tans inhou nie (al is daar enkele uitsonderings). Tafelberg, met al die gevestigde infrastrukture tot sy beskikking, het 1 200 kopieë van nuwe Stemme 2 gedruk. By Fenomeen het 1 000 eksemplare van uit die stof die lig gesien. Dui dit dalk op ’n Fenomeen-entoesiasme vir poësie se potensiaal as verkoper? Hoe voel jy presies oor dié kunsvorm se huidige posisie in die mark?

FW: Poësie kan nie eens naastenby as ’n geldmaakskema gesien word nie; die lesersmark is tans eenvoudig te klein. Oor die moontlike redes hiervoor gaan ek nie uitbrei nie.Vir my gaan dit oor die verspreiding van goeie gedigte aan die handvol daarbuite wat honger is daarvoor — en dit kan waardeer. As uitgewer is dit in elk geval vir my belangriker om in gevoel te bly met die digters self — hulle behoeftes is en bly prioriteit. As mens verby die die blaaie, woorde en letters kyk, is daar sensitiewe en andersdenkende mense daaragter. Op die einde van die dag is dit vir hulle wat ek hierdie tipe van projekte aanpak. En tot in ’n mate ook vir myself, natuurlik. Die belangrikste is dat almal wat by ’n projek betrokke is, dit met passie benader; dan sal daar ’n kwaliteit produk uit die proses ontstaan.

FK: Dat nuwe digbundels skaarser as hoendertande is, is ou nuus. En niemand weet dit beter as die aspirantdigters daarbuite nie. Wanneer ’n instansie soos Fenomeen egter ’n vars en dinamiese bres vir poësie slaan, verwag mens dat einste digters ’n vonk aan die einde van die tonnel kan sien — waar daar dalk nie een is nie. Dis swaar tye. Die moontlikheid moet bestaan dat Fenomeen dalk as ’n nagskuiling deur die verdwaalde digtersiele daar buite gesien kan word. Hoe voel jy hieroor?

FW: Swaar tye, ja. Soos reeds genoem, staan ek simpatiek teenoor digters. Maar dis geensins ’n geval van “give me your tired, your hungry, your poor” nie. Kwaliteit is die bepalende faktor. Nodeloos om te sê, is enige digter welkom om ons te nader, maar indien die werk nie van die hoogste standaard is nie, sal dit uit die aard van die saak afgekeur word. Kan ’n digter wel iets spesiaals met sy/haar werk bied, moet mens ’n manier vind om dit daarbuite uit te kry. Dis my werk.

FK: “fe’no’meen’. 1. Verskynsel. 2. Buitengewone, seldsame gebeurtenis; wonder.”
Mens sou kon sê dat Fenomeen, met uit die stof, tot dusver sy naam gestand gedoen het — dis inderdaad ’n besonderse uitgawe. Wil Fenomeen spesifiek voortgaan met die produksie van die buitengewone, die radikale, die effe aweregse publikasie? Of word daar ook in jou toekomsplanne na die makker, en gevolglik die meer kommersieel haalbare, mark omgesien?

FW: Dit is so dat as Fenomeen wil volhou as uitgewer, daar beslis na kommersiële projekte gekyk moet word. Soos reeds genoem, is kwaliteit egter die wagwoord. uit die stof is besonders ja, hoofsaaklik omdat die projek homself laat lei het deur die besondere werke wat daarin opgeneem is. Ek dink nie daar kan werklik van ’n doelbewuste poging om aweregs of radikaal te wees, gepraat word nie. Om konstant publikasies, van watter aard of in watter vorm ook al, daar te stel wat van die hoogste kwaliteit is — dís buitengewoon, dís seldsaam.

FK: Fenomeen se handelsmerk of -ikoon, wat op die voorblad, rugkant en titleblaaie van uit die stof verskyn, is ’n Sjinese inskripsie. Direk vertaal, beteken dit letterlik “op my manier”. Uit die aard van die saak dui dit op ’n sterk individuele benadering. Wat maak Fenomeen se benadering, in die breë sin van die woord, juis anders as dié van ander uitgewershuise?

FW: Een van Fenomeen se doelwitte is om so ver moontlik die skrywers wat in ’n publikasie opgeneem is, betrokke te hou by die fisiese produksie van die publikasie — teksversorging, uitleg, grafiese ontwerp en dies meer. In die huidige mark gaan daar volgens my te veel geld in die verkeerde sakke in. As mens soveel as moontlik van die produksie binneshuis, saam met jou skrywers, kan voltooi, kan ’n groter outeursfooi op die ou einde van die dag betaal word.

Soos dit hoort.

Om die skrywers/digters se kreatiewe energie in die produksieproses self ook te gebruik, hou heelwat voordele vir alle betrokkenes in. En dis maar een van die baie aspekte wat Fenomeen anders maak. Oor die res gaan ek op hierdie stadium niks verklap nie. Kom ons sê maar net dat Fenomeen totaal onafhanklik is van enige groter instansie. Dit beteken dat ek letterlik dinge op my manier kan doen.

(Sy selfoon lui. Hy antwoord haastig, die sagte stem selfs meer gedemp. Die gesprek, waarvan ek niks bo die gedruis van die reën kan uitmaak nie, duur enkele sekondes.

“Detour,” sê hy toe die foon weer in sy baadjie verdwyn. “Ek moet net gou iets gaan optel. Besigheid. Dit sal nie lank vat nie. Ek hoop nie jy gee om nie.”

Al raak ek nou bitter lus vir daai bier, sou teëstribbel niks gehelp het nie. Hy het klaar reeds in ’n systraat opgedraai, terug in die rigting vanwaar ons gekom het.

“Ja oraait.” In die lees trek ek my skouers op.)

FK: Kom ons gesels dan in meer diepte oor uit die stof self. Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel en Tertius Kapp is daarin opgeneem. Hoewel die bundel in meer as een aspek uniek is, is die “vier-vorm” reeds vantevore gebruik. Brekfis met vier het in die vroeë tagtigs by Uitgewery Skoppensboer as debuutbundel verskyn — met die gedigte van vier onbekende kêrels genaamd André le Roux du Toit, Daniël Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden wat daarin opgeneem is. The rest, as they say, is history. Maar terug na die hier en nou: uit die stof se bydraers kan geensins as groentjies beskou word nie — veral Gert se teenwoordigheid getuig hiervan. Hoekom is juis die “vier-vorm” as model gekies?

FW: Die “vier-vorm” was nie vooraf beplan nie. Aanvanklik is daar agt digters (waarvan die meeste reeds gepubliseer het) genooi om manuskripte voor te lê. Die manuskripte is daarna aan buitekeurders gestuur, en toevallig het vier van die agt die regmerkie gekry. Met ’n versamelbundel soos uit die stof kan mens baie maklik voor die versoeking swig om meer digters in te sluit — so kan mens ’n groter mark bereik. Dit is egter my gevoel dat ’n digter se oeuvre nie voldoende in vier of vyf gedigte weerspieël kan word nie. Daarom het ek besluit om by die keurders se besluit te hou en sodoende minder digters en meer gedigte van elk in te sluit.

FK: Siende die tradisie dat die hedendaagse versamelbundel so “kosmopolities” moontlik moet wees, breek uit die stof as ’n t ware uit die tuig. Die eksklusiewe insluiting van vier blanke mans kan in alle werklikheid in die huidige klimaat as “polities inkorrek” beskou word. Wat het ons hier — ’n doelbewuste wegbreek van ’n groeiende tendens? Of ’n tuiskoms na die siening dat bloot die kuns, blind vir kleur, ras en geslag, die enigste en bepalende faktor is?

FW: Ja-nee. Dit is te verwagte dat mense ’n polities inkorrekte boef onder elke bos wil uitskop — en daarmee saam polities korrekte engele wil ophemel. Dit is nou maar eenmaal nie waaroor dit vir my gaan nie. Die kortlys van agt digters wat ek aanvanklik uitgenooi het, was inderdaad relatief “kosmopolities”. Die manuskripte wat ek ontvang het, is toe afsonderlik genommer en as anoniem aan die reeds genoemde keurders gestuur. Die res van die storie ken jy al. Die gekose digters is alleenlik op meriete ingesluit. Soos enige kunstenaar dit sekerlik sou wou hê.

FK: Terug dan na die inhoud self. Kan daar in uit die stof se geval gepraat word van ’n tematiese eenheid onder die viertal? Of sou jy dit eerder beskou as vier versamelings in die kleine?

FW: Ek dink die oorpronklike doel was om vier aparte versamelings in een boek te plaas, maar op die einde van die dag is daar tog duidelike temas wat, onbewustelik en baie effektief, regdeur die boek uitstaan. In hierdie versameling gaan dit myns insiens nie juis oor wat gesê word nie, maar oor hoe dit gesê word.

FK: uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange … die titel is een van die aspekte wat die afgelope tyd baie uiteenlopende reaksies uitgelok het. Sal jy omgee om effens uit te brei — op die reaksie en die titel self?

FW: Die titel is as’t ware ’n kort gedig — en moet as sulks gelees word. Tegnies hou dit sterk verband met die konsep en tematiek wat in die bundel opgesluit lê — die leser wat aandagtig na die inhoud van die versameling gaan kyk, sal gevolglik sien hoe sinvol die titel daarby aansluit. Dis werklik baie fyn en knap gedoen. Op die einde van die dag gaan die krediet daarvoor aan Jac Kritzinger, maar soos al die ander aspekte van die boek is dit die gevolg van ’n langer proses. Almal wat betrokke was by die projek kon voorstelle maak vir ’n titel. Elke voorstel is bespreek en geweeg en daar is besluit op uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange. Soos reeds gesê, staan die titel op sy eie as gedig, en dus moet die leser sy of haar interpretasie voeg tot die gesprek en die betekenis.

FK: Siende die konteks en konsep van die bundel, kan die relevansie van die naakte Dawid-beeld op die omslag manalleen ’n filosofiese debat oor manlikheid en kuns ontlok. Tog is daar nou maar eenmaal diegene wat warm raak oor die doelbewuste fokus op die jong Dawid se geslag (verwysende na die voorblad). Andere weer maak dit af as ’n verkoopsfoefie. Hoe laat dit jou, as vader van die projek, voel?

FW: Beelde, net soos woorde, het ’n bepaalde betekenis — ’n groot deel hiervan is die kyker of leser se eie interpretasie. Dit is as ’n t ware ’n gesprek tussen kunstenaar en kyker. Indien iemand die gebruik van die beeld as verkoopsfoefie sien, is dit sy/haar bydrae tot die gesprek.

Die visuele gebruik van die Dawid-beeld dui dalk daarop dat dit hier oor hoë kuns gaan. Dit dui dalk daarop dat manlikheid, deur middel van (woord)kuns, esteties kan wees. Die naaktheid dui dalk op die emosionele blootstelling wat die manlike stemme in die gedigte ervaar. Die gefragmenteerde afbeelding op die voorblad, wat oorloop tot die volledige uitbeelding op die agterblad, dui dalk op die lae van persepsie wat in die gedigte aangetref word. Die lys gaan aan en aan. Soos reeds genoem, is dit die kyker se werk om vir hom- of haarself te besluit wat dit “beteken”.

FK: ’n Ander aspek wat dié versameling van die groot gros onderskei, is die gemaklike vermenging van Afrikaans en Engels. Hierdie vermenging kom dan nie net in die inhoud van sommige van die gedigte self voor nie, maar in die samestelling van die bundel as ’n geheel — Bolton skryf in Engels en Kritzinger in Afrikaans, terwyl Nel en Kapp dié tale met verrassende effek kombineer. Voel jy dat hierdie “tweetaligheid” tot ’n groter mark daarbuite spreek? Lê die toekoms van die versamelbundel dalk in hierdie tipe diversiteit?

FW: Of dit tot ’n groter mark sal spreek, kan ek nie sê nie. Ek weet net dat taal nou maar eenmaal nie iets is wat lank konstant bly nie; in Suid-Afrika is ons nog net aan die begin van ’n groter verandering. Kulturele diversiteit word weergegee in taal, en dus dink ek dat daar oor ’n paar dekades miskien nog ’n spreektaal in Suid-Afrika sal wees. Mens kan moontlik in die toekoms uitsien na ’n vermenging van meer as twee tale. Hoe dit ook al sy, digters (en ander woordkunstenaars) sal altyd hulle vingers op die pols van hierdie veranderinge hê — en sal versamel- en individuele bundels daarvolgens hul verskyning maak.

Wat uit die stof aanbetref, is die vermenging van tale in sommige van die digters se werk, sowel as die tweetaligheid van die samestelling van bydraers, iets wat spontaan sy ontstaan gehad het in hierdie verandering. Daar is nie gepoog om doelbewuste stellings te maak nie.

En ek het die grootste respek vir Afrikaanse puriste. Tog wil ek vir hulle vra: het Afrikaans nie maar uit vermenging ontstaan en sterk geword nie?

FK: Om af te sluit: soos dit uit al die bogenoemde blyk, is die bundel weliswaar in vele opsigte uniek — en daarom opspraakwekkend. Die boek is geseën, of vervloek, met daardie “iets” wat mense aan die praat sit. Sover ek kon aflei, is die reaksie op die publikasie selde lou; dis óf baie warm, óf baie koud. Laasgenoemde word dan ook deur die menings van kritici gereflekteer — in die resensies wat tot dusver in die pers verskyn het, het die hamer drasties en uiteenlopend geval. As buitestaander tot die reeds genoemde uitgewer-en-media-monopolie, hoe voel jy oor die impak wat resensente (in diens van die monopolie) op die sukses van ’n onafhanklike uitgawe soos uit die stof kan hê?

FW: Ek gaan nie my hande vuil maak deur hier te reageer op moontlike politieke gekonkelry in literêre kritiek nie. Resensies is ontsettend belangrik om die boek aan die wyer publiek bekend te stel. Die resensent neem die gesprek na ’n groter gehoor en weerspieël ’n enkele opvatting oor die boek. Hy of sy tree dus op as eerste skakel tussen kunstenaar en leser, en gee as ’n t ware ’n subjektiewe voorsmakie. Mens moet ook onthou dat ’n resensie ’n enkeling se opinie is, en dat almal op ’n (“geleerde” of “ongeleerde”) opinie geregtig is. Dit is dus nie so belangrik om ’n positiewe resensie te kry nie — wat belangrik is, is dat die argumente volledig moet wees sodat die gesprek kan voortgaan. As resensente nie hul argumente, positief of negatief, kan motiveer nie, beteken kritiek niks — en is dit water van die eend se rug af.

FK: Dankie. Dit was lekker om met jou te gesels. En alle sterkte vorentoe.

FW: Dankie wel. Dit was my plesier.

(Dit lyk goed, dink ek verlig, so te sê reg vir produksie. Not bad at all. Die man kan sy sê sê as hy die slag moet. Ek skik die blaaie in my skoot.

Ek kyk op. Ek weet nie hoe ons so vinnig tot in Die Vallei gekom het nie. En as ’n ou nie elke dag hier deur ry nie, kan die plek nogal hard wees op die oog. Ek ry nie elke dag hier deur nie.

Die huisies aan weerskante van die pad is karig; hier en daar draf ’n druipnat straatbrak in die skemer rond. Die wêreld lyk armer, eerliker, gevaarliker.

“Uhm … Francois?”

“Yo.”

“Waarheen gaan ons?”

“Die ou’s ’n kliënt van my. Dis net hier voor.” Hy ry stadiger. Die Volla kom voor ’n skreeupers huis tot stilstand. Binne brand ’n lig.

Hy draai in sy sitplek na my om. Staalblou oë. “Bly sit.”

Don’t mind if I do.

Hy klim haastig uit, sy kop laag teen die reën. Toe hy oor die straat draf, sien ek vir die eerste keer hoe skraal hy is.

Ek kyk rondom my. Die huise staan almal stug, stoepligte skyn dof bo die deure. Die meeste van die heinings is met doringdraad gespan.

En iewers hoor ek ’n sirene. Sweer.

Toe ek weer sien, is hy so te sê by die voordeur. Hy haal sy selfoon uit, skakel ’n nommer. In die huis hoor ek ’n telefoon lui. Dit word opgetel. Sekondes tik verby. Dan blaf hy so hard in daardie selfoon dat my lyf ruk.

Dorothy, we’re not in Kansas anymore.

Die selfoon verdwyn weer in sy sak. Hy wag daar, arms gevou, op die voorstoep.

My ore voel warm. Ek steek ’n sigaret op. En sluit die Volla se deure.

Die voordeur gaan oop. ’n Blok van ’n man verskyn. Sy gesig is strak. Nie een sê ’n woord nie. Hulle staan net daar en staar vir mekaar. ’n Minuut, dalk vyf. Dis moeilik om te sê. Die Blok, en die skraal Shark.

Dan verdwyn Die Blok se hand in sy broeksak. Hy bring ’n pienk, ’n piénk, koevert te voorskyn. En hou dit na mnr Francois Weideman uit. Wat dit met ’n knik van die kop by hom neem.

Die deur klap toe. En dis dit.

Sy klop aan die ruit laat my skrik. Ek sluit — effens bewerig — die deur vir hom oop.

“So,” vra hy terwyl hy agter die wiel inskuif, “is jy tevrede?”

Wat? My mond voel droog. “Wat …?”

“Die onderhoud. Is jy tevrede?”

“Ja,” kry ek dit uit. “Dit lyk goed. Dankie.”

Vir ’n oomblik is daar net die reën se gedruis op die dak. Dan kry hy die Volla aan die gang.

Ek ruk myself reg. “En jy?” vra ek dan. “Is jy tevrede?”

Hy skakel die Volla se dakliggie aan. “Ja,” sê hy terwyl hy die koevert oopskeur en die blou note sorgvuldig tussen sy vingers tel. “Ja ek is.”

Die pienk koevert verdwyn in sy binnesak. Hy wys na die print-out in my skoot. “Ek het hom vir jou op stiffie. Bier?”

Ek knik. En sien vir die eerste keer ’n glimlag in die baard.

Wat kan ’n mens sê, dink ek terwyl hy die Volla in eerste druk.

Die man doen dinge op sy manier.)

Freek Kats is denker, poësieliefhebber en vryskut-joernalis.


uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange
Bestel by Fenomeen Publikasies, Posbus 1300, Stellenbosch 7599,
fenomeenbk@hotmail.com. R99.46 minus 30% korting.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.