|
Anton Vorster gesels met Nuwe stemme 2 se Melt MyburghJou afdeling in Nuwe stemme 2 begin met die reeks gedigte Om Federico. Waar kom die fassinasie met Lorca vandaan? Dis Hennie Aucamp wat my op Lorca se spoor gesit het. Hennie was een van my dosente in my HOD-jaar op Stellenbosch, en hy het eendag vertel van die klomp gedigte wat Lorca glo aan n anonieme gay minnaar geskryf het, en wat sy familie nie wil laat vrystel nie. Of dit waar is of net n mite, weet ek nie. Dit maak eintlik nie saak nie; dis n wonderlike romantiese idee om mee te speel. Ek dink Lorca is vir my n soort objective correlative (nie dat ek mooi weet wat die woord alles impliseer nie!). Dis eintlik meer sy lewe as sy skryfwerk wat n rol in my poësie speel ek identifiseer met hom onder andere omdat hy gay was, omdat hy ook in n klein gemeenskap grootgeword het, in n omgewing met landerye, kanale en dies meer. Ek probeer om my landskap te laat gel met syne. Waar het jy grootgeword? Karos, so veertig kilometer buite Upington. Dis seker een van die lelikste landskappe in Suid-Afrika, maar tog baie dramaties. Aan die een kant het jy die magtige Oranjerivier, en aan die ander kant die semiwoestynwêreld met sy rooi duine. En dan die een landery op die ander met die kanale. Dis n baie geïsoleerde wêreld, een wat nog nie eintlik oopgeskryf is in die Afrikaanse letterkunde nie. Nie dat ek self n heroic mission het om dit te doen nie, maar tog vorm dit op n manier n vertrekpunt vir al my skryfwerk daardie intense isolasie. Het jy as kind baie gelees? Ja, nogal. My ouers was nie geleerde mense nie hulle het albei standerd agt gehad. Maar hulle het gesorg dat daar boeke was om te lees. Ek onthou dat daar eendag n smous daarlangs gekom het en my pa het n hele vrag boeke by hom gekoop, onder andere omtrent al die Afrikaanse sprokies. Maar dis een van my tantes wat onwetend vir my n literary consciousness gegee het. Sy t op n dag André P Brink se Kennis van die aand by die biblioteek uitgeneem en toe al die geurigste en kleurigste gedeeltes daaruit kom voorlees! Ek was toe so sestien, en daardie ervaring het my min of meer ontmaagd wat die politiek betref. Ek het self skelmpies die boek begin lees en n groot bewondering vir Brink ontwikkel ek het besluit ek wil soos hy wees en ook skryf! Tog skryf jy hoofsaaklik poësie en nie prosa nie. Ek het eenkeer n kortverhaal vir n kompetisie voorgelê, en die reaksie was die tipiese dit kom nie uit die verf nie wat heeltemal waar is. Ek het al n paar keer n roman probeer aanpak, en so by bladsy sewe rond uitgeskryf geraak. Maar ek gee nou weer tentatiewe treetjies op die gebied van die prosa … ons sal maar sien wat gebeur.
Dit was vir my n belangrike aanmoediging ek het gesien ek kan darem iets skryf wat aanvaar word. En op n beskeie manier het ek n slag geslaan vir dagga, deur van die hoofkarakter n roker te maak! Snaaks, ek dink dagga-rook is nog nie rêrig ontgin in ons letterkunde nie … Hoekom skryf jy? Is dit vir jou terapie? Dis n drang wat ek nie kan verklaar nie. Dit help my aan die gang bly. Al geniet ek die onderwys baie, kan dit alleen my nie ten volle bevredig nie. n Mens kan dit seker n vorm van terapie noem, maar ek dink nie ek is werklik in dié stadium so n committed skrywer dat dit groot terapeutiese waarde kan hê nie. Dit sorg wel vir n moerse adrenalien-rush as jou goed aanvaar word. Mense begin jou ernstig opneem. Moenie n fout maak nie, skryf is ook n groot power game. Daar is n groot mate van berekendheid betrokke. Maar n mens neem ook n groot risiko; jy kan maklik jou gat sien … Jy woon nou al n hele paar jaar op Grahamstad. Is jy gelukkig hier? Ja, nogal. Dis n baie verdraagsame gemeenskap, wat jou toelaat om te wees wie en wat jy wil. En ek het n baie lekker onderwyspos hier. Maar ek sal ook nie hier wil oud word nie. Ek dink die tyd om te beweeg kom al nader … Dink jy gay-letterkunde is besig om in n nuwe rigting te beweeg? Ek dink die tyd vir reaksionêre of militante gay-letterkunde is besig om tot n einde te kom. Wat nou moet gebeur en dis wat ek ook probeer doen is dat skrywers n gay-idioom moet ontwikkel. Die gay-identiteit moet onder meer neerslag vind in eiesoortige metafore en beelde. Wat dit betref, dink ek dat Hennie Aucamp sy tyd ver vooruit was. Ek neem aan jy werk nou aan n solo-digbundel. Ja, maar ek gaan dit nie afjaag nie. Ek wil hê dit moet n geslypte stuk werk wees. Ek dink darem my poësie begin nou uit die verf kom. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |