Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Levi's®/LitNet Origins of songs
Moontlik gemaak deur/Supported by: Levi's®


In ons volgende bydrae vertel Piet Botha van Jack Hammer-faam hoe “O my Heiland” ontstaan het en beantwooord vyf vinnige vrae.

Piet Botha Piet Botha
“ ... die natuur is ‘n onuitputlike bron van inspirasie, en gegewe die feit dat daar baie meer energie in die ongerepte natuur is, behoort mens meer moeite te doen om in die boendoes te kom.”

Oor songwriting en “O my Heiland”

Piet Botha

“Songwriting” is ‘n eienaardige vakgebied, veral vir diegene wat meer progressief te werk probeer gaan. Van jongs af was dit altyd ‘n soeke na melodieë en lirieke wat bymekaar pas en op een of ander manier sin maak. Gewoonlik sal mens met ‘n klompie lirieke of gedigte gaan sit en met die kitaar probeer om melodie en vers te omskep in ‘n nuwe entiteit, iets wat sy eie identiteit sal hê. Van Morrison beskryf dit nogal op ‘n cool manier in sy song “Philosopher’s Stone”, waarin hy dit vergelyk met ‘n alchemis wat lood in edelmetaal probeer verander.

Maar daar is baie ander faktore wat met songwriting te doen het, en baie keer kan die mees eienaardige goed gebeur as mens in aanraking met die transendente kan kom. Party noem dit byvoorbeeld die “collective subconsciousness”, en dan is daar ook die immerbeminde “muse” en ander weird handlangers. Dit kan gebeur dat mens binne ‘n paar minute ‘n hele song, of ten minste die “body” van die song, kan kry uit niks nie. Sulke goed gebeur baie keer as mens vreeslik geïnspireerd is deur ‘n gebeurtenis wat jou raak. Dit kan ook gebeur na ‘n deurnagdiens saam met die verkeerde vriende.

Ook die natuur is ‘n onuitputlike bron van inspirasie, en gegewe die feit dat daar baie meer energie in die ongerepte natuur is, behoort mens meer moeite te doen om in die boendoes te kom. Elke keer as ons van Mosambiek af terugkom, is daar nuwe rifs en idees. Of van Jeffreysbaai af.

Dit help ook as mens verskillende instrumentasie kan gebruik, byvoorbeeld akoestiese kitaar (wat seker die meeste gebruik word in moderne tye) teenoor ‘n elektriese kitaar met baie overdrive en ‘n Marshall amp. Die klavier is ook ‘n heel ander plek om te gaan soek na kombinasies en toorgoed.

Soos mens maar aanstap met die pad, probeer jy dieper delf. Dit help my baie keer om in verskillende sleutels te probeer skryf, want die akkoorde kry nuwe lewe as dit onbekend is; byvoorbeeld eerder as om in Cmaj te speel kan mens in Emaj speel en dan kry jy vars klanke en akkoorde soos C#min en F#min ens. Wat andersins miskien ‘n boring sequence in C maj sou wees kry ‘n ander lewe. Ek kan dit nie eintlik logies verklaar nie, maar dit werk beslis.

Die moeilikste ding is om met eenvoud iets gewigtigs te kan oordra. Daar is deur die jare heelwat songwriters wat dit kon regkry, soos Dylan, Neil Young, John Lennon en veral Bob Marley.

As mens jonger is, probeer jy seker maar om mense te imponeer en sodoende kan jy ‘n song heeltemal opfoeter met te veel tierlantyntjies .

Met rockmusiek is daar natuurlik die wonderlike ding wat mens ‘n “rif” noem. Goeie rifs maak goeie songs. Dink maar net aan die Rolling Stones en Led Zeppelin en Deep Purple. “Smoke on the water” is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Die blues is ook ‘n goeie leerskool, want al klink baie daarvan vir mens dieselfde, is daar ‘n onuitputlike bron om uit te soek. Veral mense soos Robert Johnson het ‘n merk op rockmusiek gemaak wat vir ewig sal bly.

Wanneer jy besig is met nuwe werke en jy hoor iets bekends, moet jy baie versigtig wees. Dit kan maklik gebeur dat ‘n ou deuntjie onbewustelik insluip in jou soeke na iets nuuts. Die aangewese optrede is natuurlik om dit dan te staak en van voor te begin.

Lirieke skryf is vir my die moeilikste ding en dit raak al moeiliker met die tyd. Die moderne popmusiek is so swak wat lirieke betref dat mens eintlik nie daarna kan luister nie. Veel beter om moeilike werke te lees en te bestudeer en dan inspirasie daaruit te kry. Die probleem is egter dat mens nie hoogdrawende en akademiese taal kan gebruik nie, so weer eens moet jy probeer om iets wat substansie het, met eenvoud te skep. Daar is baie “partnerships” in songwriting deur die jare, soos Bacharach/David, Jagger/Richard en Taupin/John, om ‘n paar te noem. Bernie Taupin was natuurlik Elton John se liriekskrywer. So as mens sukkel met die liriek, kan jy ander se woorde en gedigte gebruik. Mits hulle natuurlik erkenning kry daarvoor!

Die heel moeilikste deel is egter die feit dat jy nie kan voorspel waar en wanneer die towertyd jou gaan tref nie. Jy kan nie soos met ander jobs op kantoor sit en verwag om elke dag ‘n goeie song te fabriseer nie. Miskien as jy elektroniese MIDI-musiek bedryf, maar ek twyfel. Mens moet ook nie moed verloor as dinge nie vlot nie. As jy nie gelukkig is met die song nie, gooi weg en begin voor. Met genoeg energie sal jy wel iets in die myn kry. Indien jy ‘n kollega het in die band wat ook skryf, is dit baie keer fantasties om saam te werk en so nuwe werke te produseer. Baie mense is egter te skaam of te sku of te befoeterd om saam met ander te skep.

Die song “O my Heiland” is op die album Die Mamba en baie mense het my al gevra wat nou eintlik hier aan die gang is. Eerstens dan die lirieke.

O my Heiland

Daar’s ‘n kêrel wat staan by die deur
Ge-collar en ge-tie
En hy soek geld
Voordat hy gaan waai
Sy oë die kan jy nie sien
Oor die bril wat hy dra
Hy is baie ernstig
Hy gaan nie weer vra

Maar niemand weet wie wat moet betaal
En niemand weet hoeveel
Maar die wiele moet draai
Want die mense wil speel
In huise van hartseer
Strate van reën
Op paaie sonder grense
Oor en weer
En weer ‘n keer
Liefde moet gaan dans vanaand
Met die man wat daar buite staan
O my Heiland wat nou?

By die bushalte net duskant Matlapeng
Het die profeet gesit en gewag
Maar die bus wat vir hom moes kom haal
Het in die donker verdwaal
En toe hy die volgende dag eers daar opdaag
Was daar niemand wat meer vir hom wag
O my Heiland wat nou?

Die idee vir hierdie song het by my ontstaan na ‘n hewige dosis Nick Cave. Die manier om die religieuse, tradisionele in ‘n rock- idioom te plaas. Ver weg van gospel. Amper donker. Skemerwêreld.

Die karakter wat die skuld kom invorder is natuurlik ou Satan of een van sy gesante. Liefde is ‘n meisie se naam, een van die kinders wat in hierdie huis woon waar die tyd nou uitgeloop het en die skuld betaal moet word. En so is dit die arme Liefde wat saam met die duiwel se gesant die nag moet in, want niemand in die huis wil skuld aanvaar nie, trouens hulle weet nie eintlik wat hulle verkeerd gedoen het nie. Maar die prentjie is veel groter: die moderne samelewing wat materialisme najaag en moreel bankrot is. Dan sal die liefde ook verkas.

Ons oumas en oupas het wonderlike sê-goed gehad, soos “stomme sondaar”, “o my genade” en ook “o my Heiland”. Dit is gewoonlik gebruik wanneer ‘n onaangename gebeurtenis plaasgevind het of wanneer mens raadop was. So is die verteller raadop en wend hom tot die eeue-oue kreet.

Die laaste vers is ook oor die “tirannie van die onmiddellike”. Die profeet was te laat vir die oomblik. Die bemarking was gerig op ’n spesifieke tyd en plek en toe hy laat is, is dit nie meer van belang wat sy boodskap is nie. Popmusiek is ook so. Sekere trends word blindelings gevolg. Die modewêreld is sekerlik die beste voorbeeld van hierdie verskynsel.

Die liedjie gaan dus eintlik oor ‘n hele spul goed, nie net iemand wat moet gaan dans met ‘n duistere karakter nie. Ek het ‘n video van die song in my skedel, maar ek weet nie of dit ooit die lig sal sien nie. Ek ken egter van die karakters goed en sal hulle kan kry om in die video op te tree.

Die song is uit Emaj uit. Die musiek is baie eenvoudig met die verse wat uit Emaj, F#min, C#min en Bmaj bestaan. Die chorus is Amaj Emaj C#min en Bmaj. Dis ‘n lekker sleutel om in te eksperimenteer met kitaarsolo’s.

Ek hoop hierdie paar gedagtes het darem vir iemand sin gemaak. Aluta continua!

Piet Botha met Jack Hammer

Vyf vrae

Wat maak jou opgewonde oor die SA musiekindustrie?

Die plaaslike musiekindustrie het seker maar soos elders in die wêreld sy goeie en slegte kante. Wat my altyd opgewonde maak, is die aantal jong bands wat altyd opduik met wonderlike rock ‘n roll. Ook as mens jong talent sien ontwikkel wat nie aan die nabootsing van oorsese giere gekoppel is nie. Bacchus Nel is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat geweldig groei.

Wat maak jou moerig oor die SA musiekindustrie?

Wat mens moedeloos maak is natuurlik die groot hoeveelheid swak musiek wat in mense se keelgate afgedwing word deur platemaatskappye wat enigiets sal uitbuit vir wins. Ons weet almal van hierdie verskynsel.

Doen SA radiostasies genoeg vir local musiek?

Party van ons radiostasies doen baie vir plaaslike musiek, party doen niks. Radio 2000 is byvoorbeeld ‘n wonderlike stasie wat plaaslike talent uitsaai. Stasies soos Jacaranda en KFM en OFM en so aan is suiwer kommersieel en voel vere. Daar is bitter min behoorlike platejoggies oor. Van die “swart” stasies is daar sekerlik heelwat goeies wat plaaslike talent bevorder. Maar die hele media-ding is ‘n duistere koninkryk wat op winsbejag ingestel is, so mens kan eerder maar soos altyd uit ander bronne op goeie musiek afkom. Die internet is ‘n reuse nuwe diskoteek en gaan sekerlik die hele musiekindustrie nog op sy kop draai.

Gee in een sin advies vir 'n aspirant-liriekskrywer

As ek in een sin moet raad gee vir aspirant-liedjieskrywers, is dit eenvoudig maar net om aan te hou om oorspronklik te probeer wees. En om nooit moed te verloor nie.

Wat kan kunstenaars doen om groter bewustheid rondom MIV/Vigs te vestig?

Deur die verloop van tyd is musiek dikwels as sosiale kommentaar aangewend en selfs as inspirasie vir sosiale verandering. Met die geweldige hartseer en ellende wat die MIV/Vigs-epidemie dwarsoor die wêreld veroorsaak, is dit sekerlik ook musikante se plig om mense se bewussyn aan te raak oor die kwessie. Maar as die groot media en platemaatskappye nie ook hulle deel doen nie, sal daar niks gebeur nie. Daar is baie wat gedoen kan word, byvoorbeeld om op elke cd wat verskyn, ‘n logo te druk wat mense die heeltyd bewus maak. Ook om op gereelde grondslag konserte aan te bied vir fondsinsameling. Ook om protesmusiek te skep om die regering se onvermoë in hierdie verband te beklemtoon en sodoende druk toe te pas vir ‘n beter beleid.

Klik hier vir 'n lys van Piet Botha en Jack Hammer se optredes in Augustus en September.


Skryf aan ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za



LitNet: 08 Augustus 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.