LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Anna M Louw: Wolftyd (1991)

Chris van der Merwe

Dis ’n interessante ontwikkeling wat Anna M Louw se werk oor die jare deurgegaan het. Haar vroeër werk was, wat lewensbeskouing betref, in baie opsigte tradisioneel: Christelik, patriargaal en blank-gesentreerd. Die hoogtepunt van hierdie vroeër werk was haar roman oor Paul Kruger: Die groot gryse. In Kruger was baie van die ou ideale saamgetrek: die Christelike, die nasionale en die patriargale.

Hiervandaan het die skryfster haar eie verdere ontdekkingsreis gemaak. In Kroniek van Perdepoort is die plaas aan die verval, die idilliese ou Afrikaner-wêreld, oor vyf geslagte heen, aan die agteruitgaan. Haar roman Op die rug van die tier handel nie oor ’n Afrikaner-held, soos Die groot gryse nie, maar oor ’n doodgewone mens in sy alledaagse gesukkel, in sy moeisame reis na wysheid en betekenis. In Wolftyd — vir die eerste keer in haar romankuns — staan die vrou in die sentrum. Waar haar vorige werke gekenmerk is deur ’n wyse ou man wat êrens sy intrede maak, is hier nie ’n wyse ou man nie, maar (ten slotte) ’n wyse ou vrou. Hier is ’n vroulike verteller, ’n vroulike gesigspunt, en ’n tipies-feministiese tema van die vrou wat deur die man gebruik word en die slagoffer van sy bedrog is.

Die titel Wolftyd word ten dele vooraf deur die outeur verklaar. Wolftyd slaan, in die Germaanse mitologie, op die tyd net voor die godeskemering — die wolftyd was ’n tyd waarin mense soos wolwe geword het: “die familieliefde het vergaan, ’n era van oorlog, geweld en verraad het ingetree.” Meer spesifiek het “wolftyd” in die roman betrekking op die geskiedenis van Hitler en die Nazi’s, toe die medemenslikheid verdwyn het en Europa deur die verskrikking van ’n wêreldoorlog geteister is.

Op die agtergrond van die oorlog op aarde en die mens se innerlike onrus is die groot kosmiese stryd tussen God en Satan. Die verhaal van Job word herhaaldelik opgeroep, toe God vir die Satan toegelaat het om sy kneg Job te beproef en te toets. Wolftyd is ’n tyd waarin die Satan tydelik (skynbaar) die oorhand op aarde het. Enkele kere is daar suggesties dat Hitler duiwelbesete was (bll. 24-25, 162); en dit lyk soms ook of die duiwel los is in die lewe van die romankarakters Luk en Leonie. Leonie roep dan ook ’n godsdienstige groep in om haar te help om die duiwel uit haar huis te verdryf. Die komieklike priester verseker haar dat die duiwel haastig by die kamervenster uitgeglip het (bl. 76). Leonie se duiwels is egter subtieler en slinkser as dit en word eers na ’n lang proses van selfkonfrontasie en loutering verdryf.

In die roman van Louw is “wolftyd” duidelik van toepassing op Luk, die oorlede eggenoot van die hoofkarakter, Leonie. Luk sterf in ’n stemming van intense, alles-insluitende woede. Schweinerei! Verdomde verneukspul! is sy kommentaar op die lewe. En wat homself betref, is sy begeerte: Töte mich! Maak my dood! (bl. 33) In notas en dokumente van hom wat Leonie na sy dood ontdek, vind sy vir die eerste keer uit van sy ontrouheid in hul huwelik. Hierdie dokumente het hy moontlik doelbewus agtergelaat sodat sy dit kan vind, as ’n makabere wraak wat haar na sy dood sal tref. Luk se sterwe is ’n wolftyd; maar eintlik was die jare van hulle huwelik ’n wolftyd, besef Leonie na sy dood.

Daar is ’n noue verbintenis tussen Luk se wolftyd en die Nazi-wolftyd. Luk was naamlik ’n “Mischling”, iemand van gedeeltelik Joodse afkoms. Luk, wat graag deel van die Nazi-beweging wou wees, word as gevolg van sy afkoms ’n verworpene wat uiteindelik vir sy lewe uit Duitsland moet vlug. Die gevolg van hierdie treurige geskiedenis is dat hy die Nazi’s haat, maar ook homself haat, omdat hy in sy diepste wese so graag deur die Nazi’s aanvaar wou word. Luk se haat en woede teen homself en die Nazi’s is soos ’n kanker wat uitsprei tot sy medemens, tot die lewensbestel in die algemeen en tot God.

Saam met die haat gaan ’n lewe van leuens en bedrog. Luk probeer (tevergeefs) om sy gedeeltelik Joodse identiteit weg te steek. Hierdie weiering om sy identiteit te aanvaar, lei later tot ’n lewe van leuens en is die voorspel tot die bedrog van sy vrou. Ook die Nazisme se manlike chauvinisme laat sy stempel op Luk: hy is hooghartig teenoor vrouens (bl. 213) en ’n “toepasser van koue seks” (bl. 216). Op ’n mikroskaal weerspieël Luk die groot wolftyd van die Nazi’s.

Na die skok van Luk se dood en van haar ontdekking van sy ontrouheid probeer Leonie haar man se lewe te begryp — wat hom gevorm het tot wat hy uiteindelik geword het. Soos wat haar ondersoek vorder, draai haar blik egter al hoe meer op haarself, en ontdek sy tot haar verbasing dat sy nie soveel van hom verskil as wat sy gedink het nie; dat sy self aan ’n wolftyd onderworpe was.

Luk se woede en wraak word gespieël in Leonie se woede en wraak wat op sy dood volg. Sy word in besit geneem deur “siniese, mensveragtende, godlose gedagtes” (bl. 70). Dit voel vir haar of al haar jare van selfopoffering tevergeefs was; sy voel van God en mens bedroë. Die gehoorsaamheid aan morele kodes het haar niks in die sak gebring nie, in ’n wêreld wat “net diegene respekteer wat met geweld vát wat hulle wil hê” (bl. 64). Sy besluit dan ook om met die stroom saam te gaan en te vat wat sy meen haar toekom.

Dit loop uit op die eintlike wolftyd in Leonie se lewe: haar seksuele verhouding met die jongman Anton. Haar dryfveer in hierdie verhouding is die begeerte om erotiese plesier te ervaar, om te gryp wat sy verlang en wat sy al die jare moes ontbeer — sonder onderwerping aan God of Sy gebod. Maar weer eens kom sy bedroë daarvan af: Anton het naamlik ’n verhouding met ’n ander vrou wat ’n kind van hom verwag.

Nou breek ’n ware wintertyd vir Leonie aan, maar dis ’n winter wat noodsaaklik is voor haar uiteindelike rypwording. Die hele tyd na haar man se dood het sy gesoek na innerlike harmonie; haar pogings om vrede te verkry, is egter steeds gevolg deur nuwe aanvalle van woede en verbittering. Hierdie pendulum-beweging kom nou egter op ’n einde; ’n meer permanente verandering vind plaas.

’n Belangrike ontwikkeling is die opbruising van skeppingskrag, sodat sy ’n reeks grafiese kunswerke, met die oorkoepelende titel “Op dryfys”, voltooi wat ’n nuwe rigting in haar kuns begin en later aan haar roem sal bring, plaaslik sowel as oorsee. Haar trauma het haar kuns verryk; die pyn het betekenisvol geword.

Op ’n indirekte manier gee die kuns haar eie ervarings weer en, deur selfkonfrontasie en selfekspressie, bring dit vir haar emosionele bevryding. Die swart en wit landskappe op haar etse is die (omskepte) Karoo van haar jeug; die reeks met ’n huwelikspaar as tema gee haar eie ervarings indirek weer: die toenemende vervreemding en emosionele afstomping. Noudat Leonie deur haar kuns emosioneel ontlaai is, is sy in staat tot ’n gebed van lof en danksegging.

En dan gebeur ’n wonder, in ’n baie alledaagse gedaante.

Die “wonder” vind plaas met die besoek van Horst Obach, Luk se seun by ’n ander vrou. Hierdie besoek kom vir Leonie soos ’n antwoord op haar gebede. Horst se gesindheid teenoor sy pa stel in verskeie opsigte ’n voorbeeld vir Leonie. Hy het sy pa liefgehad en is baie hartseer oor sy dood; en hoewel hy nie onbewus van Luk se foute is nie, het hy ’n simpatieke insig in die geestelike skade wat die Nazi’s aan Luk aangerig het. Horst, wat self ’n pastoor is, kyk nie vas in Luk se ongelowigheid nie, maar sien die beste in hom raak: “Ek het hom geken as ’n edel gees. Nie gelowig nie, maar ’n humanis in die beste sin van die woord” (bl. 150).

Sy stelling aan Leonie, dat dit die gees in die mens is wat hom insig gee (bll. 150-1), is waarskynlik ’n subtiele vermaning aan haar dat haar geestelike ingesteldheid moet verander as sy haar gewese eggenoot wil begryp.

Afgesien van sy voorbeeld, bring Horst ook ’n geskenk aan Leonie wat die begrip van Luk makliker maak: Luk se “Sorgenbücher”, die dagboeke oor sy ervaringe as jongman. Teen hierdie tyd — na alles wat met haar gebeur het — is Leonie geestelik gereed om hierdie inligting te verwerk; is sy gereed vir die laaste deel van haar reis na insig in Luk en haarself.

Leonie se simpatie met Luk, en saam met haar dié van die leser, neem toe soos wat meer van sy agtergrond bekend word. Ons leer van sy vereenselwiging met die ideale van Hitler vir die “redding” van Duitsland, maar ook hoedat hy deur die Nazi-broederskap verwerp word. Wanneer hy sy Joodsheid ontken om lid van die party te word, moet hy hoor: “Ons sal die jonge heer na die toilet moet neem om seker te maak” (bl. 173). Hy veg saam met die Nazi’s teen die Kommuniste, in ’n opwindende “kameraadskap van geweld” (bl. 204), maar word nogtans nie tot die Party toegelaat nie. Vernedering en verwerping is die sleutelwoorde tot die begrip van sy jeug.

Luk raak al hoe meer van ’n alleenloper, vervreemd van sy vriende en van sy familie. In ’n opwelling van woede verwyt hy sy ma omdat sy met ’n Jood getrou het (bl. 174). Ook in die liefde wil dinge nie vlot nie, omdat hy as halwe Jood nie toegang tot sy vriendin se familie het nie. In sy gefrustreerdheid maak hy hom los van die geloof: “Geloof maak mense net ongelukkiger, want as dit nie vrugte afwerp nie, is die teleurstelling des te groter” (bll. 189-190) — en in Luk se geval lyk dit onwaarskynlik dat die geloof hom met sy groot begeerte sal kan help, naamlik om toegang tot die kring van die Nazi’s te verkry.

Luk, die alleenloper, soek in sy diepste wese aanvaarding, en wanneer hy dit nie kry nie, verander hy in ’n ongelukkige mens wat totaal negatief na die lewe kyk:

    Die mens, valslik beskou as die kroon van die skepping, is soos volg saamgestel: dertig persent domheid, twintig persent ydelheid, tien persent selfsug, tien persent wraaksug. Die ander dertig persent verteenwoordig die worsteling om oorlewing en voortplanting (...) Die vrou is slegter as die man (bl. 212-3).

Uiteindelik is Luk verplig om uit Duitsland te vlug; en in sy nuwe vaderland sit hy belas met “sy noodlottige afstamming en sy verbondenheid met Duitsland waaroor hy al die jare in Suid-Afrika geswyg het” (bl. 232) — ’n psigologiese tydbom wat noodwendig die een of ander tyd sal afgaan.

Luk se lewe is deur die omstandighede uit sy jeug vernietig, maar hy het wel aanvanklik hoë lewensideale gehad. Sy begeerte was

     … om voortskrydende begrip te kry van die wêreld se samehang, ’n proses van verdieping te ondergaan wat aan my al groter kennis van die kunste en die verbasende kreatuur, die mens, sal verskaf. Liefde te toon teenoor dier en mens, en gemeenskapsin en kameraadskap te ontwikkel tot die hoogste offervaardigheid.

Hierdie ideale bemaak hy ook aan sy nakomelinge, met die wens dat “die toekomstige mensegeslag liefdeswaardiger mag wees as die huidige”. Aan die einde van hierdie “geestelike nalatenskap” het Horst “Amen” geskryf, as teken van sy ondersteuning, en waarskynlik ook as subtiele teken van die versugting van die skryfster van die boek (bll. 235-6).

Aan die einde van die Sorgenbücher blyk dit dat Luk die hoë strewes van Leonie gedeel het — soos sy, soek hy na die sin van die lewe en streef hy na liefde tot alles in die skepping. In die lig van sy aanvanklike idealisme blyk die tragiek van wat sy rassistiese omgewing aan hom gedoen het. Verder: ook Leonie het, soos Luk, in haar ideale van Christenskap gefaal. Haar godsdiensbelewing was immers dikwels hard en koud: “die Ou Testament staan geskryf op die landskap waarvan sy afkomstig is” (bl. 42). In haar was “die knorrige, hardkoppige, Germaanse afsaksel” — die Germaanse hardheid waaronder Luk moes ly (bl. 42). Luk se koue geaardheid word in haar eie koudheid gespieël.

Aanvanklik het Leonie op die siniese Luk neergesien en hom hard veroordeel; uiteindelik sien sy haarself en Luk as parallelle gevalle, hoog in hul strewes en klaaglik in hul mislukking. Sy verkry ’n begrip en deernis wat hul albei insluit. By haar jong minnaar Anton het sy erotiese liefde gesoek; maar uiteindelik vind sy ’n ander vorm van die liefde — caritas, ’n welwillende, simpatieke liefde wat die kern uitmaak van die Christelike leer wat sy met die mond bely maar met die hart verloën het.

Die sentrale tema in die roman is Leonie se reis na begrip van Luk en van haarself. Hierdie twee dinge hang saam — soos wat sy haarself beter leer ken en haar eie skuld besef, verander haar gesindheid teenoor Luk en kan sy hom beter leer ken.

Die gebeurtenisse word nie chronologies vertel nie — die volgorde word bepaal deur die vordering in hierdie geestelike reis van Leonie. Die boek begin met die verste ruimtelike reis, na Berlyn, wat egter geen vordering in die geestelike reis bring nie. Daarom is hierdie eerste hoofstuk die oppervlakkigste in die boek, ’n ruimtelike reis sonder geestelike vooruitgang.

So ook is die verhouding met Anton ’n ontvlugting, ’n episode wat die eintlike reis vertraag, wat haar weglei van Luk en van sy verlede. Mettertyd leer Leonie dat ’n reis na die verlede noodsaaklik is as sy die hede wil begryp. Deur Luk se Sorgenbücher word sy in ruimte en tyd verplaas. Op hierdie reis word sy self betrek, word sy verander, en is daar ’n gedurige wisselwerking tussen die dinge wat sy ontdek en die nuwe houding wat daardeur by haar ontstaan.

Die roman eindig met die voltooiing van die dubbele reis: Leonie het oor Luk uitgevind wat sy wou, en sy het geword wat sy moes.

In die eerste hoofstuk is daar ’n opvallende wisseling tussen die eerste en derde persoon, tussen “ek” en “die weduwee” om na Leonie te verwys. Later kom die “ek” minder voor, hoewel dit nog nou en dan opduik. Wat sou die funksie daarvan wees? Dit lyk of die verteller haar besonder sterk met die weduwee Leonie vereenselwig, sodat sy kort-kort in die eerste persoon na haar verwys.

Die vereenselwiging van die verteller met Leonie kan ook op ’n ander vereenselwiging wys, naamlik een tussen Leonie en die skryfster van die roman — die outobiografiese “ek” steek as ’t ware telkens die kop uit. Dat daar wel ’n outobiografiese element in die boek aanwesig is, word ook in die skadeloosstelling vooraf gesuggereer, hoewel die outeur aandui dat die feitelike geskiedenis deur die verbeelding omskep is:

    Die verwysingsraam van hierdie teks is duidelik ’n bekende stuk geskiedenis. Die karakters is, soos alle romankarakters, skeppings van die verbeelding, en spesifieke persone, lewend of dood, word nie bedoel nie.

Die aanhoudende voorkoms van die “ek” in die eerste hoofstuk, wat met verloop van tyd afneem, kan suggereer dat die skryfster aan die begin van haar vertelling nog sterk belas met haar eie ervaring is, dat sy dit moeilik vind om van haarself “weg te skryf” en ’n selfstandige romankarakter te skep. Solank as wat die “eie ek” domineer, bly die uitbeelding van die weduwee betreklik vlak. Geleidelik, soos wat die skryfster/verteller haar meer in die karakter van Leonie inleef, kry Leonie ’n boeiende lewe van haar eie — soos wat Luk ook ’n boeiende persoon met vele fasette word wanneer Leonie van haar eie woede en wraakgedagtes vry kom.

Die vertelproses is kennelik genesend: vir Leonie wat Luk se lotgevalle nagaan en opteken; en vir die verteller wat Leonie se geskiedenis vertel. Dit lyk of daar in albei gevalle sprake is van ’n uitstyg bo die eie ek; van lyding wat tot singewing lei; van pyn en die uiteindelike vind van rus. Dit is opmerklik dat Leonie ’n (grafiese) kunstenaar is; die kunstenaarskap is nog ’n band tussen skrywer en karakter. Albei moet die verlies omskep tot kuns.

Wolftyd is ’n roman wat fyn gestruktureer is, wat nuut is in die werk van Louw en in die Afrikaanse prosa in die algemeen.

Soos wat die jare aangaan, sal die relevansie daarvan vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarskynlik al hoe sterker blyk. Ons het byvoorbeeld ook ons “Mischlingen” gehad, die randfigure wat nêrens in die politieke struktuur ingepas het nie. Ook hier was mense wat dit onder die omstandighede raadsaam geag het om hul afkoms weg te steek, en wat daardeur ’n lewe van leuens en selfveragting moes lei. Daar is nog baie stories wat in Afrikaans kan en sal vertel word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.