LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Karel Schoeman: Verliesfontein

Chris van der Merwe

Verliesfontein
Koop nou!

The world turns and the world changes,
But one thing does not change (...)
However you disguise it, this thing does not change:
The perpetual struggle of Good and Evil.
     - T S Eliot: Choruses from “The Rock”

Die publikasie van Karel Schoeman se roman Verliesfontein (1998) bring die voltooiing van die trilogie “Stemme”. Hoewel Verliesfontein die laaste van die drie verskyn het, vorm dit deel 1 van die trilogie. Die roman bevat ’n besonder lang inleidende deel, byna 70 bladsye lank, wat selfs die geduld sal beproef van Schoeman-aanhangers, wat weet van sy langsaam-rustige vertelwyse. Dis ’n boek vir literêre bergklimmers, wat die lang steilte gewillig aandurf vir die perspektief wat uiteindelik gevind word.

Die lang inleiding is nie net die inleiding tot die een roman nie, maar tot die hele trilogie waarvan Verliesfontein die eerste deel is. Dit gee die worsteling van die skrywer weer teen die magte van stilte en duisternis — twee van die mees prominente motiewe in hierdie roman en in die trilogie as geheel. Juis die lengte van die inleiding dui op die moeitevolle “reis” van die skrywer na waarheid en betekenis; maar dit verklaar ook die opwinding by die vind van wat hy gesoek het, wanneer dit blyk dat die moeite nie tevergeefs was nie.

Op ’n hele paar plekke in die roman word aangedui dat die skrywer-verteller op ’n misterieuse wyse in sy soektog gehelp word; dat hy ánders, en beter, gelei word as wat hy self beplan het. Hy beplan om ’n verhaal te skryf oor die Boere-rebel Giel Fourie, maar word gelei na die aangrypende geskiedenis van Adam Balie, die Kleurling-held. In plaas van die bekende weergawe van die Afrikaner-geskiedenis word hy gelei na gegewens uit die duister en die stilte, wat hy aan die lig moet bring. In hierdie soektog na ’n sinvolle verhaal blyk dit dat ontvanklikheid en geduldige afwagting die belangrikste vereistes vir die skrywer-verteller is (p. 29); dat alles wat hy skryf, afhanklik is van ’n mistieke openbaring (p. 50).

Die tema van die soeke na ’n tydlose waarheid bepaal die tydsaanbod in die roman. Die tydperk waarin die gebeure afspeel, kan taamlik noukeurig bepaal word — dit is die somer van 1900-1901, tydens die inval in en kortstondige besetting van ’n Kaaplandse dorp deur ’n Vrystaatse kommando. Ondanks hierdie presiese tydsaanduiding word daar in die roman wegbeweeg van lineêre tyd. Die tydstruktuur is meer soos dié van ’n mosaïek, wat stukkie vir stukkie voltooi word, as dié van ’n stroom wat in een rigting vloei. Daar is verder ’n “gelyktydigheid” in die aanbod, deurdat opeenvolgende verteller-karakters telkens verskillende perspektiewe op steeds dieselfde mense en gebeure gee. Sodoende kom ook ’n sikliese tydsaanbod tot stand, ’n wenteling om dieselfde dinge. Die sikliese element word versterk deur die intrede van die skrywer-verteller aan die begin en die einde van die roman.

Maar eintlik sou dit beter wees om die tydstruktuur as ’n spiraalgang te beskryf; want die voortgang is nie maar ’n sinlose herhaling nie, maar ’n progressie om tot ’n sinvolle waarheid te kom. Aan die einde van die roman is die doel bereik, die soektog na sin is voltooi. Die karakters wat wesenlike morele waardes beliggaam, dring steeds sterker op die voorgrond, totdat hulle aan die einde in die sentrum staan: die altruïstiese vroue, miss Godby en Minnie Colefax; die skrywer-optekenaar Kallie, en bowenal die martelaar Adam Balie. Die volgorde van die gebeure word nie bepaal deur chronologie nie, maar deur die soeke van die skrywer na dinge van waarde. Wanneer die marteling van Adam uiteindelik geopenbaar is, word dit duidelik dat hierdie geskiedenis die fokuspunt moet wees waarna die skrywer-verteller van die begin af gesoek het. In die geskiedenis van Adam word die tydlose waarhede gegee wat sin aan die soektog van die skrywer verleen; daarin word die wese van goed en kwaad geopenbaar. In die struktuur van die spiraal word die voortgang van die tyd verbind met die steeds terugkerende aard van essensiële waarhede.

Ook in die uitbeelding van die ruimte is die spesifieke en die algemene nou verbonde. Die skrywer-verteller is op soek na ’n spesifieke plek, Fouriesfontein. Aanvanklik word die reis realisties uitgebeeld (hoewel daar nie in die werklikheid ’n plek soos Fouriesfontein in die uitgebeelde omgewing bestaan nie). Maar dan, wanneer die afdraaipad nie gevind kan word nie, word die skrywer-verteller op ’n onverklaarbare, mistieke wyse na Fouriesfontein gelei. Dit is ’n reis waarin hy die fotograaf Eddie, ’n kleinburgerlike, verbeeldinglose tipe, agterlaat, om te kom by ’n tussenruimte, ’n verbeelde plek, ’n “ruimte tussen twee werklikhede” (p. 44). Dit is hier waar buite- en binnewêreld ineenvloei, waar historiese figure met argetipes uit die onderbewuste verbind. Dit is ’n mistieke, tydlose plek — maar tegelyk ’n plek wat uiters sintuiglik aangebied word. Skerp waarneming van visuele en hoorbare detail kenmerk die verhaal; in hierdie sintuiglikheid word die spesifieke van tyd en ruimte verbind met dit wat nie aan tyd en ruimte gebonde is nie. Daar is by die skrywer-verteller dikwels die begeerte om naby te kom aan diegene van wie hy vertel, om presiese (sintuiglike) besonderhede te kan gee — maar ook ’n begeerte om afstand op die gebeure te kry, om verbande raak te sien, en om uit te kom by wat van algemene waarde is.

Ook in Schoeman se aansluiting by en afwyking van historiese gegewens blyk die strewe na die verbinding van die spesifieke met die algemene. Die verhaal van Adam Balie roep duidelik die geskiedenis van die dood van Abraham Esau op 5 Februarie 1901 naby Calvinia in herinnering. Dit is ’n geskiedenis wat nie algemeen bekend onder Afrikaners is nie. Maxie Hugo, kurator van die Calvinia-museum, maak byvoorbeeld in twee onlangse artikels in Die Burger oor karakters van Calvinia in die Anglo-Boereoorlog, geen melding van Abraham Esau nie. In die eerste artikel noem sy wel gebeurtenisse wat ook in Verliesfontein uitgebeeld word: ’n Vrystaatse kommando wat Calvinia in Januarie 1901 binnegeval het, “’n paar dramatiese weke” waarin die landdros van sy pos onthef en deur ’n Boer vervang is; en ook dat in dié tyd “verskeie lojaliste ... gevange geneem” is (Hugo 1999: p. III). Onder laasgenoemde frase lê die ongemaklike geskiedenis verswyg van die marteling en dood van Abraham Esau. Tereg skryf Bill Nasson, na aanleiding van die dood van Esau: “The cleavage produced by this historic melodrama has equipped Coloured and Afrikaner people in Namaqualand with two different histories and two different memories” (Nasson 1991: 137). Deur sy roman wil Schoeman Afrikaners bewus maak van hierdie onderdrukte deel van hul kollektiewe geskiedenis.

’n Artikel van Karel Schoeman in die kwartaallikse Bulletin van die SA Biblioteek (Schoeman 1985) was een van die eerste pogings om die geskiedenis van Esau aan die vergetelheid te ontruk. Schoeman gee in die artikel die gegewens van die inhegtenisneming, marteling en wederregtelike teregstelling van die pro-Britse Esau. (In sy weergawe, gebaseer op ooggetuieverslae, is daar enkele foute, byvoorbeeld die versmelting van die twee hardhandige karakters, landdros Nieuwoudt en veldkornet Van der Merwe, tot ’n enkele figuur. Dit is later reggestel in Nasson 1991.)

Aan die einde van sy artikel verklaar Schoeman: “’n Nadere ondersoek na die oorsake van hierdie uitbarsting van geweld op Calvinia sou ongetwyfeld interessant wees, en waarskynlik ook verhelderend. Intussen bly die vermoede dat die dood van Abraham Esau deel was van ’n patroon wat veel wyer strek as bloot die besetting van Calvinia, die Boere-inval in die Kaapkolonie, of selfs die Anglo-Boereoorlog as geheel” (1985: 64). Dit is dan ook presies wat Schoeman openbaar in Verliesfontein: die oorsake van die geweld op Calvinia, en ’n dieperliggende “patroon wat veel wyer strek” as Calvinia.

Vir Schoeman gaan dit nie bloot om die spesifieke geval van Esau nie. Daarom soek hy nie na historiese verklarings vir wat met Esau gebeur het nie en plaas dit nie binne ’n historiese konteks nie. Hierin verskil hy van die benadering van Johnita le Roux in haar oorlogsroman Kus van die winterskerpioen, wat ook die “ander kant” van die saak stel, en die gebeure plaas binne die groter konteks van Britse rassisme en die gebruik van die “nie-blanke” deel van die bevolking in die stryd teen die Boere (Le Roux 1999: 182-185). Schoeman soek nie na historiese verklarings nie, maar na algemene patrone en argetipiese betekenis.

Daar is allerlei parallelle en verskille tussen die romankarakters en historiese persone wat ’n rol gespeel het in die Esau-geskiedenis. Die landdros in die roman, byvoorbeeld, is ’n saamgestelde figuur, met iets van landdros Nieuwoudt, van veldkornet Van der Merwe en van generaal Hertzog (wat aan die hoof van die Boere-invallers uit die Vrystaat gestaan het). Die feit dat die romankarakters nie ’n een-tot-een-verbinding met historiese persone het nie, bring mee dat die toepaslikheid van die roman verbreed word. Die gevangenisstraf sonder verhoor en die marteling in die tronk, waaraan Esau onderwerp is, kan toegepas word op Suid-Afrika van die sewentiger- en tagtigerjare; Esau het (onder andere) iets van ’n Biko-figuur. Die skuld van 1901 is ook die skuld van die onlangse verlede.

Fouriesfontein is nie Calvinia nie, maar ’n universele slagveld van onreg en reg; Adam Balie is nie sonder meer Abraham Esau nie, maar ’n argetipiese martelaar-held. Die roman is wel in die geskiedenis geanker, maar die geskiedenis is getransformeer tot algemene waarheid. Die patrone wat die karakters vorm, in hul interaksie met mekaar, is tydlose patrone van goed en kwaad.

Skerp karakterkontraste laat hierdie patrone van goed en kwaad helder uitstaan. Broodryk, die dominee, is ’n magsfiguur op Fouriesfontein — hy was “’n kwarteeu lank alleenheerser oor ’n afgeleë plattelandse gemeente” (79). Onder sy leiding word die Kerk ’n Afrikanerkerk, en dit is hy wat sorg dat die gedenkteken vir die Boererebel binne die ringmuur van die Kerk geplaas word (81). Teenoor hom, onopvallend, is die egte vroomheid van mrs Rigby, wat in krisistye aandring op gesamentlike gebed, en wat daardeur troos bring in tyd van nood (212-’3, 215). ’n Godsdiens deurdring van nasionalisme en mag kontrasteer met ’n godsdiens van kinderlike afhanklikheid van God in tyd van onreg en nood.

Die vertellings van Alice Macalister, dogter van die Skotse magistraat, en van miss Godby, suster van die dokter, vorm ook ’n duidelike kontras met mekaar. Vir Alice is die twee gebeurtenisse wat in die vertelde tydperk uitstaan, haar romantiese aand met die rebel Giel Fourie, en die vertrek van haar vader met die besetting van die dorp deur die Boere. Sy is deel van ’n koue, geslote gesin, “’n sirkel wat wentel om hul eie as” (185); sy is meer geïnteresseerd in haar eie spieëlbeeld (186) as in die menslike drama wat hom in die dorp ontvou. Daarteenoor staan miss Godby se belangstelling in die “alledaagse” goedheid van Minnie Colefax. Minnie word deur Alice geïgnoreer, maar miss Godby word geraak deur Minnie se hulp aan almal wat haar nodig het, in sonderheid die behoeftige bruinmense; deur haar woede oor alle vorms van onreg, en haar onverskrokke protes daarteen. Wat jy raaksien, openbaar wie jy is; Alice sien eintlik net haarself raak, terwyl miss Godby die onopvallende goedheid van Minnie Colefax opmerk.

Al die karakters in die roman is variasies op die tema van goed en kwaad. Minnie Colefax en die nuwe Boere-landdros is skynbaar albei “ordentlike” mense, deel van ’n beskaafde gemeenskap — maar onder die oppervlak is hulle teenpole van mekaar. Dit is een van die verrassende openbarings van die roman, dat wat op die oppervlak so dieselfde lyk, so wesenlik van mekaar kan verskil; Minnie se “gewone” goedheid en die landdros se “beskaafde” boosheid. Miss Godby, in haar kontak met die landdros, kom tot die besef watter vorm van die boosheid hierdie man verteenwoordig:

“Ten slotte is dit vir my ’n kwessie van mag, sou ek sê, mag wat nie met ’n gepaste besef van verantwoordelikheid gepaard gaan nie, mag wat sonder wig of teenwig uitgeoefen word, sonder ’n stelsel van waardes wat dit sou kon rig of beheer, en sodoende onvermydelik misbruik word. Dit is wat ek met ‘boosheid’ bedoel of met ‘duisternis’” (227).

In die roman is daar twee tipes buitestaanders: dié wat deur eie keuse hulself van die gemeenskap afskei, soos Alice, en dié wat deur die gemeenskap uitgestoot word. Onder laasgenoemdes tel miss Godby, en ook die kreupel magistraatsklerk Kallie. Hierdie buitestaanders is dikwels die skerpste waarnemers van wat gebeur, omdat hulle nie self deur die stryd opgeneem word nie, maar ook nie so selfbehep is dat die gebeure onopgemerk by hulle verbygaan nie.

Kallie vertel aanvanklik niks van die Balie-geskiedenis nie. Wanneer dit aan die einde van sy vertelling wel geopenbaar word, is daar ’n sterk suggestie dat Kallie hierdie inligting aan die begin onderdruk het omdat hy skuldig voel deurdat hy niks gedoen het om die onreg teen Adam Balie en teen die bruinmense in die algemeen te keer nie. Sy obsessionele verontskuldigings (bv. 172, 173) is waarskynlik tekens van skaamte en skuld. Maar ten slotte is daar tog blyke van genade vir Kallie. Kallie word die lyk van Adam getoon (174), met die suggestie dat hy moet bekend maak wat gebeur het. Kallie is die optekenaar, die skrywersfiguur, en ook hy kry sodoende ’n sinvolle rol in die gebeure. Die dinge van waarde waarna die skrywerfiguur van die begin van die roman gesoek het, word teen die einde geopenbaar: die praktiese goedheid van Minnie Colefax, die heroïek van Adam Balie, en die getroue verslaggewing van die skrywer Kallie.

Adam is die held van die roman, die hoogste manifestasie van goedheid. Hy durf die noodlot aan, “soos ’n voël wat fladder in ’n kou en met sy vleuels al hoe driftiger teen die tralies slaan” (198-199). Hy lê hom nie neer by al die beperkinge wat die bruinmense opgelê word nie; hy wil ’n selfstandige lewe lei — en hy slaag ook daarin (199). Sy opstand bring hom egter onvermydelik in konflik met die gesag van die Boere op die dorp — nie alleen omdat hy pro-Brits is nie, maar veral omdat hy ’n Kleurling is wat “nie sy plek ken nie”. Vir sy volgehoue selfstandige denke en optrede moet hy betaal met gruwelike marteling en uiteindelik die dood, maar desondanks verloën hy nooit die beginsels waarin hy geglo het nie.

Deur sy naam kry hy mitiese betekenis. Hy is die Bybelse Adam, soos wat die herhaalde assosiasie met vyeblare suggereer (202, 205). Soos die Bybelse Adam verloor hy die onskuld van die Paradys — anders as in die Bybel, nie deur sy eie sonde nie, maar deur die onreg hom aangedoen. Miss Godby deel hierdie verlies van onskuld met Adam — ook haar “Paradys” word deur die aanraking met die sonde verwoes:

“Dit was toe dat die grond voor my voete oopskeur en ek in die afgrond afkyk (...) die flenterdun korsie waarop ons almal gelewe en beweeg het, het gekraak, gebars en oopgeskeur, en ek het bewus geword van die donker” (227).

Adam Balie is ook ’n Christus-tipe, die “tweede Adam” (vgl. Romeine 12: 5 e.v.). Sy volgehoue stryd teen onreg, sy onskuldige marteling en sterwe, die feit dat hy homself vrywillig laat vang sodat sy mense vrede kan hê (218) — dit alles wys heen na Christus, die onskuldige martelaar, die sondebok-tipe. Met een belangrike verskil: van Christus word vertel dat hy opgestaan het; Adam is onherroeplik dood. Beteken dit dat die bose die oorwinning op Fouriesfontein behaal het?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ’n mens na die Schoeman-trilogie as geheel kyk. Adam Balie vorm in baie opsigte ’n parallel met Danie Steenkamp, die digter, profeet en martelaar in Die uur van die engel, deel 3 van Schoeman se trilogie. Steenkamp is “soos die man in die Bybel wat tussen die wiele tot onder die gerub ingaan en sy vuiste vul met vurige kole van tussen die gerubs” (368). Hierdie hemelse goedheid wat hy vir homself inpalm, word weliswaar nie in sy tyd waardeer nie; tog bly die herinnering daaraan voortleef en iets daarvan word na ander oorgeplant. By al die verskillende vertellers in die roman is Steenkamp die implisiete bron van inspirasie en betekenis. Hy is soos die onsigbare spoorelemente waarsonder geen lewe moontlik is nie, om ’n beeld van Martinus Versfeld te gebruik. Van geslag tot geslag verdof die herinnering egter, sodat daar met verloop van tyd ’n nuwe offer gebring moet word, ’n ander held moet verskyn om suiwering in die gemeenskap te bring. So ’n held is Adam Balie.

Die trilogie begin met Adam Balie, en eindig met Danie Steenkamp. Uit ’n chronologiese oogpunt begin die trilogie met Steenkamp en eindig met Balie, omdat die trilogie anti-chronologies verloop. Sodoende vorm die trilogie ’n sikliese beweging waarin die onskuldige sondebok-tipe chronologies en verhaalmatig die begin- en eindpunt is. Of, anders gestel, waarin die sondebok die middelpunt is waarom alles wentel. In die geheel van die trilogie gesien, is Adam se dood nie bloot die einde van sy lewe nie, maar die begin van sy inspirerende lewe in die herinnering van sy mense.

Sodoende is Adam se dood nie net ’n verlies nie, maar ook ’n bron van lewe. Die titel van die roman suggereer dit dan ook: verlies sowel as fontein. Daar word vertel van die verlies van baie dinge: onder andere verlies van onskuld, verlies van harmonie tussen die inwoners van die dorp, verlies van kosbare lewe. Maar die verlies van Adam se lewe is tegelyk “fontein” — inspirasie en gids, suiwer bron van nuwe lewe.

Bibliografie

  • Hugo, Maxie. 1999. “Calvinia en die rebelle van die Anglo-Boereoorlog.” Bylae by Die Burger, p. III, 19 Junie.
  • Hugo, Maxie. 1999. “Karakters van Calvinia in die Anglo-Boereoorlog.” Bylae tot Die Burger, p. III, 26 Junie.
  • Le Roux, Johnita. 1999. Kus van die winterskerpioen. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Nasson, Bill. 1991. Abraham Esau’s War. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Schoeman, Karel. 1985. “Die dood van Abraham Esau: Ooggetuieberigte uit die besette Calvinia, 1901.” Kwartaallikse Bulletin van die SA Biblioteek, 40 (2), pp. 56-66.
  • Schoeman, Karel. 1995. Die uur van die engel. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Schoeman, Karel. 1998. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.