LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Iets nuuts uit Afrikaans

Chris van der Merwe

Vatmaar (1995)
AHM Scholtz
Kwela

Vatmaar
Koop nou!
‘‘Uit Afrika kom altyd iets nuuts.’’ So lui ’n ou Romeinse spreekwoord. Miskien kan ’n mens ook sê: “Uit Afrikaans kom altyd iets nuuts” — want die verskyning van Vatmaar in 1995 was vir Afrikaanse lesers soos ’n verstommende verrassingspakket. Wat was dit aan hierdie boek wat mense so verbaas en laat lekkerkry het?

Wie het nou al ooit gehoor van iemand wat net sewe jaar skool gehad het, wat dan, op 72, ’n roman (sy eerste) publiseer, in ’n taal wat hy nooit op skool geleer het nie — en wat met hierdie roman onder andere die grootste Afrikaanse letterkundige prys, die M-Net-prys van R50 000, verower — ’n boek wat ook in vertalings in Nederlands en Duits ’n top-verkoper word? Soos die Hollanders sou sê: Hoe kan dat nou?

Wel, Scholtz het ’n verhaal gehad het om te vertel, en hy weet hoe om ’n verhaal te vertel. Hierdie man, wat in sy lewe baie dinge ervaar het, onder andere (as soldaat) die gevare en leed van die Tweede Wêreldoorlog en later die pyn van diskriminasie in die tyd van apartheid, het op sy oudag besluit dat hy sy stories met ander wil deel.

Afrikaans was sy moedertaal, en ook die taal van die mense van sy omgewing, maar Engels was die taal waarin hy op skool onderwys ontvang het. Daarom het hy sy verhaal in Engels geskryf, met Afrikaanse dialoog.

Toe Scholtz met sy manuskrip by Kwêla Boeke kom, het die uitgewer gevoel Scholtz se verhaal is ’n storie wat vra om in Afrikaans vertel te word. Met die hulp van Wium van Zyl is die manuskrip volledig in Afrikaans oorgesit, en Scholtz het dit nagegaan om te sorg dat die Afrikaans is soos wat hy dit graag wil hê. So het die boek dan in sy huidige vorm ontstaan.

Vatmaar is nie ’n karakterroman, waar een karakter van begin tot einde ’n sentrale plek inneem nie. Eerder is die dorp Vatmaar sentraal, soos wat die titel dan ook suggereer. Die dorp is as ‘t ware die “hoofkarakter” — al die verskillende karakters en verhale in die boek vorm ’n soort mosaïekpatroon, waarin alles saam bydra om ’n beeld te gee van die tipe plek wat Vatmaar was.

Die dorp is begin met “vatmaar”-goed, wat “gekleurdes” gekry het na die oorlog wat hulle in diens van die “Queen” teen die Boere geveg het. Die naam “Vatmaar” suggereer dat die “gekleurdes” ’n bestaan uit die oorskiet van die blankes maak, soos wat hulle kerkgebou ook tot stand gekom het uit ’n saal wat die blankes nie meer gebruik het nie.

Die naam “Vatmaar” gee egter ook iets van die gesindheid van die mense; hulle staan saam en gee vir mekaar om; elkeen hou nie net vir hom- of haarself wat hulle het nie, maar laat toe dat ander ook “maar vat”.

Teenoor die moderne samelewing met sy individualisme staan die simpatieke gemeenskap van Vatmaar. Vatmaar is ’n toevlug waar mense tuis kom, ook mense wat teen die rassistiese norme van die samelewing ingaan — mense soos Oupa Lewies en sy swart vrou, Ruth, en Ma Khumalo en haar wit seun, Norman.

Aan die een kant is Vatmaar ’n geromantiseerde plek, beter as die wêreld wat ons ken; aan die ander kant is Vatmaar net soos die wêreld wat ons ken, met sy slegtes en sy goeies, sy tant Wonnies en sy Martha Septembers; sy nederiges soos Oupa Lewies en sy hoogmoediges soos Lewies se dogter Elsa.

Binne die gemeenskap van Vatmaar is daar tog ’n aantal persone wat uitstaan. As daar een held(-in) in die boek is, dan is dit Tant Wonnie. Sy is as ‘t ware die verpersoonliking van liefde. Sy het ’n groot liefde vir haar oorlede man en vir haar kinders; ’n goeie mens wat ondanks haar armoede ook vir ander omgee en help waar sy kan. Al is sy arm, het sy ’n innerlike adel wat haar verhef bo ander wat ryker as sy is. Sy is ook ’n toonbeeld van onskuldige lyding, ’n moderne Job, soos wat ons sien wanneer sy vals van diefstal beskuldig word.

Ondanks hierdie onreg word sy nie bitter nie, maar staan vas in haar goedheid. Haar vertroue op God en haar oorgawe aan Hom is vir haar ’n anker wat haar selfs in die moeilikste tye staande hou. As gevolg van haar innerlike krag is sy in staat om te oorleef en te triomfeer ondanks haar moeilike omstandighede.

Uiteindelik word sy vir haar goedheid beloon en sy leef op haar oudag sonder finansiële kommer. Sy sterf soos ’n goeie mens, rustig, sonder sorge.

Daar is ’n rykdom van temas in Vatmaar, maar veral twee temas staan vir my uit. Die eerste is die probleem van onskuldige lyding. Die roman bring die vraag na vore: waarom verhinder God nie dat ’n goeie mens swaarkry nie? Sorg God dan nie vir die goeies en straf die slegtes nie — waarom gebeur daar soveel dinge op aarde wat onregverdig lyk?

Tant Wonnie is seker die duidelikste voorbeeld van ’n goeie mens wat onverdiend swaarkry. Waarom moet sy so arm wees? Waarom moet sy onregverdig van diefstal aangekla word? Waarom moet sy in die tronk beland?

Uit die geskiedenis van Tant Wonnie blyk dit egter dat die goeie mens (dikwels) wel geluk vind, maar eers na ’n tyd van swaarkry. Nadat sy in die tronk was, word Tant Wonnie vrygespreek en kry sy ’n pensioen. So ook, nadat Kenneth sy geliefde Kaatjie aan die dood afgestaan het, vind hy geluk met Suzan. Die feit dat hy Kaatjie verloor het, bring hom na Vatmaar, waar hy geluk saam met Suzan vind en vir Vatmaar ’n kliniek laat oprig. Die slegte dinge het wel ’n gelukkige en sinvolle einde — alles werk ten goede uit.

Wanneer Tant Wonnie deur die polisieman na die tronk geneem word, bid sy saam met die nugtere Suzan, wie se geloof bra wankelrig is. “Die Here weet beter, my kind,” sê Tant Wonnie, en Suzan antwoord: “Ons sal sien, Ma-Ma” (bl. 125). Tant Wonnie worstel met God, sy probeer sin maak uit wat met haar gebeur het, en dan word sy getref deur ’n gedagte wat vir haar rus bring. Sy onthou wat haar geliefde man aan haar geskryf het: “Remember, it is said that God is within us at all times.’’

Tant Wonnie kom nou tot ’n belangrike gevolgtrekking. Sy dink aan die godsdiens van Vatmaar se mense en besluit:

    “Ek wil nie deel wees van hulle se God nie. Hulle sê almal: Onse Vader. Onse Vader, terwyl elkeen van hulle sy eie gedagtes het en die meeste van die tyd iets vir niks wil hê. Toe kom dit by haar op, asof daar ’n stem binne-in haar praat: Soek eers die Koninkryk van God binne-in jou, want Ek woon binne-in jou” (bl. 126).

Tant Wonnie soek hierna nie meer na God daar buite of daar bo nie, maar in haar, as die Een wat haar die krag gee om in alle omstandighede sterk te bly en te triomfeer.

Dieselfde gedagte kry ons ook in die fyn-humoristiese toneel tussen Tant Wonnie en Suzan op bl. 231:

    “Toe sê Suzan: Ma-Ma, die lewe is lekker.
             Wat dink jy maak die lewe lekker, my kind?
             Ek weet nie, Ma-Ma.
             Dink net ’n bietjie, dink.
             Na ’n tydjie sê Suzan: Geld.
             Jy het die spyker op die kop geslaan. Ja, Suzan, geld kan byna alles koop, maar tog ook nie alles nie. En ons moet nooit die tyd vergeet toe ons niks gehad het nie. Want daar was een ding waarsonder ons nooit was nie.
             Wat is dit, Ma-Ma?
             Onse Vader — en haar ma het haar hand op haar hart gesit.”

Die skrywer bring dus, deur Tant Wonnie, hierdie positiewe boodskap; maar hy is aan die ander kant ook bewus van dinge wat ons nooit sal kan verklaar of begryp nie — hy sien die ironie — en teenstrydighede — in die lewe raak.

In die toneel waar Tant Wonnie op pad na die tronk is, bid sy om uitkoms omdat sy nie meer die krag het om verder te loop nie. Dan, juis op daardie oomblik, hou ’n vragmotor stil, en sy word opgelaai en na die tronk gery. Dit lyk na ’n volmaakte voorbeeld van ’n antwoord op gebed. Maar wie was hierdie man wat haar opgelaai het?

Dit is Piet de Bruin, vir wie Tant Wonnie in die verlede woedend gemaak het toe sy sy seksuele geweld teengestaan het. De Bruin is dus nie haar vriend nie, maar iemand wat die geleentheid gebruik om haar in die openbaar te verneder en haar sodoende terug te betaal. ’n Mens sou kon vra: kon God nie maar liewers iemand anders gestuur het om Tant Wonnie op te laai nie?

Nogtans is Tant Wonnie tevrede: “Ek sê dankie, my Meester ... My Meester wat in my binneste woon, ek het U gevind.”

Tant Wonnie is egter bewus van die baie onreg in die wêreld. Terwyl sy agter op Piet de Bruin se vragmotor sit, dink sy aan ’n paar gevalle van onreg wat ongestraf gebly het: Piet de Bruin se poging om haar te verkrag; die feit dat sy sonder dank of loon weggestuur is na die dood van Piet se suster Sannah, vir wie sy getrou opgepas het; Piet se gruwelike mishandeling van sy werker Onie-as; die swartman Duma wat ontman is tydens die oorlog waaraan hy geen deel gehad het nie. Dit is meestal die swakkeres wat ly, dié aan die onderpunt van die sosiale leer — die donkerkleurigies, by name die “gekleurde” vroue.

Ook in die hofsaal blyk dit dat geregtigheid nie altyd geskied nie, onder andere in die lotgevalle van Benny O’Grady die vleisdief, wat met kostelike humor uitgebeeld word. Benny steur hom nie aan die waarheid nie. Sy advies aan ’n medebeskuldigde, Hendruk Jannewarie, is: “Onthou, sê altyd jy is onskuldig en doen jou bes om nie skuldig te lyk nie” (bl. 163). Sy taktiek werk, en hy wen sy saak, hoewel hy in werklikheid skuldig aan diefstal is. “Met ’n glimlag het hy gesê sodat almal dit kon hoor: Geregtigheid het geseëvier — en gedink aan die ander vyf skape wat hy by Meneer Lambrecht gesteel het” (bl. 165).

Die ironie is duidelik. In teenstelling met Bennie se mooiklinkende woorde oor geregtigheid, het die onreg in der waarheid geseëvier, omdat die dief vry weggekom het. Hendrik daarenteen, wat werklik onskuldig is en altyd die waarheid praat, wat dink: “Noulat ek die waarheid vertel het, sal die waarheid my vrymaak” (bl. 171) — hy kry agt jaar hardepad.

Daar is dus twee teenstellende tipes verhaallyne in Vatmaar — een tipe waarin goedheid beloon word, waarin goeie mense na ’n tyd van swaarkry uiteindelik geluk vind; en een waarin die swaarkry onverdiend is, maar waarin geen geregtigheid geskied nie.

Dit is asof die skrywer aan die een kant ’n boodskap van troos wil bied deur ’n karakter soos Tant Wonnie — dat die mens deur innerlike krag oor omstandighede kan triomfeer, en uiteindelik vir sy/haar goedheid beloon sal word; maar aan die ander kant is daar ’n besef dat die mens se lewensloop nooit heeltemal verklaar kan word nie; dat daar onreg is wat skynbaar nooit (op aarde) reggestel word nie. Ondanks die skynbare eenvoud van die roman is daar ’n gesofistikeerde denker en verteller aan die woord.

Die tweede, uiters belangrike tema in Vatmaar is dié van die liefde. Dit gaan om die liefde tussen man en vrou, maar ook die liefde in die algemeen tussen mens en medemens. Die liefde wat in die roman waardeer word, is ’n goedheid wat oor grense gaan: grense van taal, van ras en kleur, van kerk en geloof. Teenoor die algemene menslike neiging om mense wat “anders” is, te veroordeel en te verstoot, is daar die helde en heldinne van Vatmaar met ’n grenslose goedheid: byvoorbeeld Ma Khumalo wat ’n blanke seun as kind aanneem en hom grootmaak; Oupa Lewies met sy liefde vir ’n swart vrou; Suzan wat vir Nellie Ndola troos, al is sy onaantreklik en donkerder van kleur.

Die ideale liefde word mooi geïllustreer in die toneel “Die eerste begrafnis” (bl. 40-41). Dit handel oor die begrafnis van die swart vrou Ruth. Alhoewel die mense van Vatmaar Afrikaanssprekend is, word daar dié dag nie in Afrikaans gepreek of uit ’n Afrikaanse Bybel gelees nie. Oom Chai haal ’n Engelse Bybel uit en lees: “In my Father’s house are many mansions” — en in hierdie toneel is dit asof Vatmaar baie na die Vaderhuis begin lyk.

Oom Chai is ’n voorbeeld van bedagsaamheid, en van liefde wat vir ander omgee. Hy en Oupa Lewis, wat sy vrou verloor het, omhels mekaar en huil saam — “soos net tweelinge kan”. Ondanks die feit dat die een blank is en die ander “gekleurd”, die een Engels en die ander Afrikaans, is hulle ’n “tweeling” wat oor alles saam voel.

Aan die einde van die toneel sê Oom Flip die woorde wat nie net die sentrale tema van hierdie toneel saamvat nie, maar ook van die roman in die algemeen: “Die liefde ken nie grense nie.”

Scholtz se romantiese uitbeelding van die wêreld van sy jeug, sy nostalgiese terugkyk na ’n verlore platteland — dit is in die Afrikaanse prosa nie onbekend nie. Maar Scholtz se boek is totaal anders as die tradisionele plaasroman. Hier is die “gekleurdes” nie op die rand van die verhaal nie, maar in die sentrum. Hier is die opset nie patriargaal nie, maar vroue en mans is gelykes, met vrouekarakters wat dikwels die hooffigure is. In Scholtz se roman is daar nie ’n enkele verteller nie, maar ’n reeks vertellers, want Vatmaar is almal se storie — Vatmaar gee stem aan ’n hele gemeenskap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.