|
Marlene van Niekerk: TriomfChris van der MerweOne book appears to have stood out above all its peers in the Afrikaans literature of the last decade. So skryf Shaun de Waal van die Mail and Guardian oor Marlene van Niekerk se roman Triomf — wenner van die CNA-prys, van die M-Net prys en van die Noma toekenning vir literatuur in Afrika. Die waardering vir die roman was egter nie eenstemmig nie. Baie lesers was omgekrap oor die boek, onder andere omdat dit so wemel van die f..., p.., k... en m..., maar dan sonder my welvoeglike beletseltekens. Maar dan, kan n mens iets anders verwag van karakters wat in die uiterste armoede, angs en frustrasie leef? Triomf is die naam van die voorstad waarin armblankes gevestig is na die platstoot van die swart woonbuurt Sophiatown; maar vir die karakters in hierdie roman is daar nie sprake van enige triomf nie. Die rassisme wat in hul taalgebruik en maniere tot uiting kom, is n manier om hul gevoel van eiewaarde te bevestig — hulle is darem bo die kaffers verhewe. Lambert is half vertraag, soos Van Bruggen se Ampie van ouds; hy kry epileptiese aanvalle; word gekwel deur seksuele frustrasie; en bring soms sy frustrasies tot uiting in uitbarstings van woedende geweld. Lambert woon in die huis met Mol (sy ma), Pop (sy pa — moontlik) en Treppie, Mol se broer. Later kom dit uit dat Pop en Mol ook broer en suster is. Mol is die arme lydende vrou wat beurtelings vir die drie mans in die huis, haar twee broers en haar seun, moet gaan lê om die vrede te bewaar. Die verhaal speel af in die maande voor die verkiesing van 1994. Vir die inwoners van Triomf is die komende demokrasie n verskrikking. Ná die verkiesing, wanneer die kaffers gaan oorneem, sal hulle moet padgee, en Lambert droom ironiese drome van n ontvlugting na die vrye Noorde, soos n moderne Dorslandtrekker of n Jerusalemganger. Triomf is n moderne variant van die Ampie-geskiedenis; die uitbeelding van die arm Afrikaners. Waar Ampie egter beskerming en hoop op die boereplaas gehad het, is hierdie armblankes van Johannesburg sonder beskerming. Hulle is die nasate van Afrikaner-boere wat in die depressie-jare nie die mas op die plaas kon opkom nie en na die stad gelok is deur werkmoontlikhede, onder andere die plan van Hertzog om vir die verarmde blankes werk op die spoorweë te bied. Dit was n catch 22- situasie op die plaas; bly of trek was ewe problematies. Soos die pa van Pop, Mol en Treppie dit stel: Nou word die oues van dae bywoners en die nuwe geslag trek af na Gomorra (113). Die volgende generasie sit gevange in n buurt en in omstandighede waaruit geen ontvlugting moontlik is nie; en in hierdie situasie is en was daar n aantal dwaalligte wat vir hulle uitkoms beloof. Een so n dwaallig is die kandidate van die Nasionale Party, wat hulle stemme wil werf. Treppie is die slimste en die mees siniese van die romankarakters; vir hom is die beloftes van die Nuwe Nasionale Party weer n liegstorie, soos wat 1948 se storie n liegstorie was. Hulle is bedrieg toe hulle n mistroostige woonplek ontvang het, afgeneem van die swart inwoners, en die wandaad verbloem is met die ironiese naam Triomf. Noudat die Nasionale Party die vrugte van hulle beleid pluk, en Triomf vir alle mense oopgestel sal word, kom hulle weer met mooi stories, om te bedek dat hulle weer n keer die mense in die steek laat wie se stemme hulle in die verlede met hul valse propaganda gekoop het. Dis die armstes wat telkens die spit afbyt. Nog n dwaallig is die Jehowa-getuies, wat met hul fokus op die komende oordeelsdag die oë van die ellendiges van die hede afwend en op die hiernamaals rig. Treppie sien ook deur hulle, maar hulle woorde is nie sonder effek op die mense van Triomf nie. Want die mens kan moeilik sonder illusies en ontvlugting oorleef — veral in omstandighede soos hier. Of dit nou die hemel van die Jehowas-getuies is, of die Noorde van Lambert se drome, vry van swartmense, waarheen hy ná die verkiesing wil trek. In hul benouende situasie moet die mense van Triomf hul eie vorme van ontvlugting en vermaak bedink. Een van die algemeenste vermake is om ander af te loer. So byvoorbeeld bring Lambert en Treppie lewe in n dooierige Saterdagaand met n bottel Klipdrift en n verkyker, en bespied die binnekante van die polisiewoonstelle in Brixton. As dit wat daar gebeur, nie interessant genoeg is nie, sit Treppie verbeelding by, om die werklikheid meer die moeite werd te maak.
So n bespiedery van die polisie kan ook ander voordele meebring, as hulle geheime skandes van die polisie ontdek. Dis nie net n vorm van vermaak nie, maar ook n wyse van oorlewing, in n bestaan vol botsings met die polisie.
Soms is die afloer n teken van verlange na dit wat die karakters moet ontbeer. Lambert, ondergemiddeld wat verstand betref, balanseer dit met n bogemiddelde seksuele drif, wat nie vryelik tot uiting kan kom nie. Op n Saterdagaand, die aand van vermaak, gebruik Lambert die tyd om te kyk na sy bure wat dit het waarna hy verlang — die egpaar vier die eerste herdenking van hulle troudag. Hulle het vriende, hulle het borde vol kos, die aand loop uit op n soenery wat Lambert van langsaan met lede oë betrag. Frustrasie, woede en wraak, is die tipiese siklus van Lambert se lewe. Al wat hy kan doen, is om sy ma te dwing om elfuur die aand die gras te sny, en sodoende genoeg lawaai te maak dat sy die hele fokken Triomf ontstel (91-2). Sodat, voorspelbaar, die aand in gewelddadige konfrontasie uitloop, en n besoek van die polisie. Swartmense word buite hul bestaan geweer, n bedreiging, n wese minder as mens. Honde, daarenteen, het hier n spesiale waarde. Die twee honde Toby en Gerty, is ál vriende wat die familie het; en wanneer Gerty sterf, is dit een van die min geleenthede waar selfs Treppie tot trane bewoë is. Gerty kry dan ook n grafskrif wat so n troue dier, inderwaarheid een van die lede van die gesin, verdien:
Moeder van Toby Benade en hartshond van Mol ditto; Nous sy in die hondehemel Waar dit van die ander honde wemel. Een van die maniere om plesier te maak, wat Treppie van sy pa, Oupop, geleer het, is om soos n hond te huil, en daarmee al die honde in die buurt aan die huil te maak. n Deel van die plesier daarvan is om die buurt te irriteer; dis n vorm van wraak op die gemeenskap. Maar miskien is die huilende honde ook n indirekte uiting van die eie verdriet. Want hierdie gesinnetjie lei in der waarheid n hondelewe, hulle is as t ware huilende honde in n skemertyd. Nie al die karakters reageer dieselfde op hul omstandighede nie. Treppie is woedend; woedend teenoor almal wat hulle n rat voor die oë probeer draai en hulle in hul ellende laat; woedend veral teenoor sy ouers:
Teenoor Treppie is Pop die goedige een wat pleit vir vergiffenis, wat let op die positiewe dinge, en wat die hoop behou. Hy is die enigste een wat sy suster-vrou Mol met deernis en liefde behandel. Na n dag vol drama en pyn, bad hulle saam en huil hulle saam. Versterk deur hierdie samesyn, en ook deur n paar glase versterkwater, is dit asof die sterwende kooltjies van Pop se godsdiens weer begin te leef:
As Pop eers so begin, is dit die Klipdrift wat na sy kop toe is. Dan praat hy sulke far-fetched hemelpraatjies (252). Maar dit lyk byna of die hemel Pop se hemelpraatjies hoor, en saamgesels. Die weer eggo as t ware die ervarings van die dag, en na n woeste donderslag begin die genadige reën te val, en raak die twee rustig aan die slaap. Die vier hoofkarakters se perspektief word afwisselend deur die skrywer gegee, waarmee daar n afwisseling in die kyk op sake is, en n afwisseling in stemming. Daarmee word ook n gewigtige filosofiese kwessie aan die orde gestel: die feit dat daar nie so iets soos n objektiewe, vasstaande werklikheid is nie, omdat verskillende karakters dieselfde dinge verskillend waarneem en verskillende gevolgtrekkings daaruit haal. So merk ons, wanneer almal na dieselfde weerligstrale kyk, sien elkeen iets verskillends:
Nee, fok, Pop, sê Lambert ... As jy my vra, lyk dit meer na n paar ouens wat agter n groot dowwe ruit sit en weld aan n donnerse lang silencer van n Mobil petrollorie, of iets ... Take your pick, sê Treppie, its all in the mind. Sweisvlamme, morning glories, Oupa se glory, its all in the mind (77-78). Die kontras tussen die ingesteldheid van Treppie en Pop is die kontras tussen n ingesteldheid op waarheid en op goedheid. Pop is die een wat die laaste flentertjies goedheid in Triomf probeer koester; Treppie daarenteen, beywer hom vir die waarheid ten alle koste, hy weier om die harde werklikheid te verdoesel:
Dit wat waar is, wat Treppie raaksien, is helaas ver van goedheid af, en die goedheid wat Pop nastreef en uitleef, hou helaas nie altyd met die harde werklikheid rekening nie. Miskien omdat hierdie mense hul bestaan letterlik as godverlate ervaar, is daar nie meer n eenheidsbasis vir n morele lewensbeskouing nie, moet jy kies tussen die moraliteit van waarheid en die moraliteit van goedheid en liefde. Die karakters het die egte belewing van die religie verloor, maar die taal van die religieuse belewenis behou, en in die taal leef die herinnering en die verlange voort. Dit is opmerklik hoeveel van die ervaringe in religieuse terme verwoord word — kyk maar net na die hoofstuktitels: Urban angel; Vrede op aarde; Jesus blood never failed me yet; Die eerste miracle; Die tweede miracle; en Bergpredikasies. Maar die gebeure waarvan hier vertel word, is steeds deurtrek met ironie; dit sit vol ontnugtering en banaliteit; en die hoofstuktitels beklemtoon die skerp kontras tussen die mistieke wonder en die hemelse vrede waarna verlang word, en die vulgariteit van die daaglikse lewe in Triomf. Soms is die banale en die misterieuse verbind in die hoofstuktitel, byvoorbeeld Die miracle van die yskaste en Wonder Wall. Een religieuse begrip wat nog steeds in Triomf lewend bly, is die hoop, wat uitkoms moet bied te midde van die lewensangs en ontbering. Die struktuur van die roman word gekenmerk deur vooruitwysings na moontlike latere gebeurtenisse wat hul lewens kan verander — gebeurtenisse wat soms hoopgewend, soms angswekkend is. Daar is die uitsien na Lambert se veertigste verjaardag, en die spanning wat gewek word deur n vrou vir die nag vir hom te reël; die verwagting van die verkiesing; die vermoede dat Pop sal sterwe. Die R74 wat Pop met n Ithuba-kaartjie wen, sit n hele reeks gebeurtenisse aan die gang. Die een patroon wat steeds meer reëlmatig na vore kom, is dié van die anti-klimaks. Nóg die uiters skrikwekkende, nóg dit wat met blydskap verwag is, word n werklikheid — net die saaie banaliteit bly. Die R74 bring die onverwagte geluk van n reeks gratis etes wat gewen word; maar Lambert verruil die geld vir n rewolwer — waarmee hy egter geen groot kwaad verrig nie. Die vrou bring nie geluk nie en die verkiesing bring nie n oorstroming van swartmense nie. Lambert se woede-uitbarsting bring wel Pop se dood mee, maar dis n dood wat in elk geval al lank verwag is — Pop sou nie meer lank kon hou nie. Die slot bring geen helderheid vir enigeen nie, en bevestig weer eens dat die verskillende karakters hul lot verskillend interpreteer. Mol glo aan n nadoodse heerlikheid vir Pop, n ewige bestaan tussen die sterre; Treppie spot daarmee. Treppie en Mol kyk albei na die sterrebeeld van Orion, en sê dieselfde woord, maar met verskillende bedoelings:
‘Noordeloos, sê hy. Sy sê mos. Vóór die poorte. Noordeloos. Treppie sien die sterre wat agter die westerkim verdwyn, en die lewe lyk vir hom uitsigloos, sonder ontsnapping. Die plan om na die Noorde te ontvlug, kan geen ontsnapping bied nie. In sy Noordeloos (met ander woorde, sonder die moontlikheid van n ontsnappingsroete), klink ook die woord nodeloos mee — dit is nodeloos om te probeer ontvlug van die meedoënlose realiteit. Mol hoor wat hy sê, maar begryp dit nie. Sy dink dat hulle saamstem, en, soos wat haar gewoonte is, eggo sy wat haar gespreksgenoot sê: Noordeloos. Maar vir haar impliseer die woord n oneindigheid, sonder noord, oos, wes of suid. Dis die oneindigheid wat Pop volgens haar beërwe het, en wat vir haar voorlê. n Rykdom van gedagtes word in die roman verwoord ondanks die banaliteit van die karakters en hul lewenswyse; n verrassende taalverskeidenheid kom na vore ondanks die beperktheid van hul taalregister; en n groot deernis met die mense van Triomf, ondanks hul aanstootlikheid, straal deur die verhaal. En tog, en tog. Ondanks al die positiewe kenmerke van die boek, sal dit nie die top tien van my top twintig haal nie. Dit wat aanvanklik verrassend was, word ten slotte soms n eentonige dreun; die skok-effek neem af; die anti-klimaks word voorspelbaar. Daar is n teveel van dieselfde. n Verstandige vriend moes die outeur aangeraai het om die verhaal te snoei, en sy moes na die raad geluister het. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |