LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eben Venter: Ek stamel ek sterwe

CN van der Merwe

Ek stamel ek sterwe
Koop nou!
Toe ek ’n student was, het ons altyd smalend gepraat oor kritici, veral ouer kritici, wat in hul besprekings meer oor hul eie gevoelens praat as oor die boek wat hulle bespreek. Nou dat ek ouer word, begin ek net so oor boeke te praat. Oor Ek stamel ek sterwe is die eerste gedagte wat by my opkom — dis die roerendste verhaal wat ek in ’n baie lang tyd gelees het.

Sommige lesers het gesÍ dat hulle nogal langtand aan die eerste hoofstuk gelees het. Miskien is dit omdat die hoofkarakter, die jongman Konstant Wasserman, so onnodig aggressief en ongevoelig voorkom — dit is eers later dat die leser agterkom hoeveel deernis daar onder die aggressie skuil. Miskien is dit omdat Konstant se woede aanvanklik ongemotiveerd voorkom as reaksie op die onskuldige opmerkings van tant Trynie:

    En sÍ bietjie vir my Konstant, is jy nou hier om te kom boer? Kom jy jou pappie bietjie uithelp? Haai nee, wragties, hy verdien ’n blaaskans” (bl. 7).

Hierdie vrae sit ’n hele register van emosies in Konstant aan die gang wat voortspruit uit sy komplekse verhouding met die lede van sy gesin en met die mense van die omgewing. Wanneer Konstant “nee” sÍ vir boer, sÍ hy vir heelwat ander dinge ook “nee”.

In die Afrikaanse prosa is ’n plaas altyd meer as ’n plaas; wanneer daar van Konstant verwag word om te boer, het diť verwagting dus ’n swaar ideologiese lading. ’n Plaas in die Afrikaanse prosa is die ruimte waarin konserwatiewe Afrikanerskap kan gedy. Dit is ’n ideologiese ruimte vir die handhawing van konvensionele Afrikaner-waardes, waar Protestantse Christendom ’n ongemaklike verbinding aangegaan het met Afrikaner-nasionalisme en ’n patriargale opset. Hier is die tradisionele Afrikaner-man die baas van die plaas. Dit is ’n boeiende studie om die veranderinge in die uitbeelding van die plaas in die Afrikaanse prosa na te gaan; dit dui tegelykertyd aan hoe die ideologiese waardes verander het — vanaf die verheerliking van die plaas by C.P. Hoogenhout, D.F. Malherbe, C.M. van den Heever en Boerneef, tot by die herskrywing van die tradisie van die plaasroman by Jan Rabie, Andrť P. Brink, Wilma StockenstrŲm en Etienne van Heerden.

Ek stamel ek sterwe sluit duidelik aan by die werk van die laasgenoemde groep skrywers wat die romantisering van die plaas ondermyn. Die aansit by die Nagmaalstafel (2), die pa wat so hard werk as broodwinner van die gesin (2), die rassisme teenoor die werkers (6), die pa wat as hoof van die gesin namens die vrou besluite neem (11), die eis dat die seun in die voetspore van sy vader moet volg om die familietaak en die familielyn voort te sit — dit alles is eggo’s uit ’n baie lang tradisie in die Afrikaanse prosa en die Afrikaner-geskiedenis. Daarby kom, in Ek stamel ek sterwe, die uitbuiting van die plaasdiere, wie se belangrikste funksie op die plaas is om te eet sodat hulle kan vet word en die boer kan ryk maak (2). Van al hierdie dinge wil Konstant wegkom.

Sentraal in Konstant se stryd is die konflik met sy vader — hierin sluit die roman aan by die prosa van (onder andere) Koos Prinsloo. Konstant se opstand teen die vader, sy besluit om na AustraliŽ te emigreer, is in die eerste plek ’n weiering om in die voetspore van sy vader te volg. Nůķ hiermee verbonde is die onmiskenbare tekens, reeds van die begin af, van ’n seksuele afwyking van die weŽ van die vadere. Konstant is, anders as wat sy van “Wasserman” impliseer, nie ’n “wafferse man” nie.

Konstant se verset teen sy omgewing is egter nie simplisties nie — sy “nee”‘s is deurtrek met ironiese “ja”‘s en “ja-nee”‘s. Sy houding teenoor sy vader is byvoorbeeld vol ambivalensie. Dit word duidelik dat hy ’n verborge toegeneentheid teenoor sy pa voel, dat hy sy pa se liefde en goedkeuring verlang, en dat hy hom nie werklik van sy pa kan losmaak nie. Die trein waarmee hy van die plaas vertrek, is ’n simbool van ontvlugting uit die geknelde lewe op die plaas, maar dit blyk dat Konstant homself nie innerlik kan bevry nie. Die toebroodjies wat hy op die trein geniet, het sy ma gemaak; die perskes wat hy geniet, het sy pa vir hom ingesit. Konstant se reaksie is: “Dankie, my pa, jou perske smaak soet” (17).

Net so ambivalent en ironies is sy preweling: “Ek’s nou eens en vir altyd weg, die vreemde in, mag die Vader my bewaar” (17). Fisiek gaan hy weg van die huis, maar innerlik neem hy die godsdiens van sy gesin saam, met die patriargale God-die-Vader aan die hoof.

Die inleidende gedeelte gee die patroon aan wat die res van sy lewe kenmerk: ’n vergeefse poging om die verlede wat hom knel te ontvlug. Die eerste fase van sy ontsnappingspoging word in Johannesburg deurgebring — die “goddelose stad” in kontras met die plaas. Hy loseer in ’n “meidekamer”, waardeur hy die verhouding tussen “baas” en “meid” omkeer (18); en hy knoop ’n verhouding aan met die meisie Delores wat hom aan dagga bekendstel en vir hom ’n alternatiewe, minder bekrompe leefwyse verteenwoordig. Maar, hoewel hy ’n nuwe meisie het, bly sy seksuele oriŽntasie onveranderd. In Delores vind hy nie soseer ’n vrou wat van hom ’n man maak nie, maar ’n alternatief vir die moeder aan wie hy steeds verknog is; Delores is vir hom “die beste moeder ooit” (27).

In “Jack en sy vrou, Lorry, ’n paartjie wat hulself ryk boer deur modes af te kyk in oorsese tydskrifte” (25), hoop hy om ’n alternatiewe “ouerpaar” te vind — die “ryk boere” van die stad se modewÍreld. Hy geniet ’n uitspattige ete saam met hulle, maar dan, onverwags, oorval die naarheid hom, telkens die teken van sy onaangepastheid en ongeluk. Ook die herontmoeting, kort hierna, van sy jeugvriendin Martie bevestig sy onvermoŽ om uit die verlede te ontsnap. Martie herinner hom aan ’n driedubbele vernedering uit sy jeug: sy ouers se afwesigheid by ’n seremonie waar hy as getroue koorlid ’n trofee ontvang het, sy gehuil van teleurstelling daaroor, en sy onvermoŽ om met Martie ’n seksuele verhouding aan te knoop toe sy haarself vir hom aangebied het. Martie is nou verloof aan ’n boer, gereed om die rol te vervul wat van haar vereis word; hy, daarenteen, is steeds ’n randfiguur.

In die verhouding met Jude, vir wie hy in Johannesburg ontmoet, betree Konstant ’n nuwe fase. Dit is vir hom liefde met die eerste oogopslag. Waar Delores vir hom nie meer as ’n moederfiguur kon wees nie, bied Jude aan hom seksuele ekstase. Kan hy in haar die vervulling vind wat hom nog altyd ontwyk het?

Daar is egter uit die staanspoor aanduidings dat Konstant nie die geluk wat hy soek, by Jude sal vind nie. Hy begeer ’n vaste, eksklusiewe liefde, soos wat sy naam Konstant suggereer — die waardes van die plaas, ’n troue huweliksverbintenis aan een persoon, geld nog steeds vir hom. Jude, daarenteen, beoefen ’n “vrye liefde” met verskillende persone — haar naam dui daarop dat sy ’n Judas figuur is. Sy kry vigs, maar vertel dit nie dadelik aan Konstant nie; sy waarsku hom nie dat hulle versigtig moet wees nie, en dit is hoogs waarskynlik deur haar dat Konstant later die siekte kry.

Maar ook in die voorstelling van Jude blyk Eben Venter se vermoŽ om elke karakter met deernis en begrip te teken. Die merk agter Jude se oor, waar haar vader haar met ’n gebraaide skilpad gegooi het, is ’n teken van die mishandeling deur haar vader, veel erger as enigiets wat Konstant ervaar het. Jude het as kind te seer gekry om emosionele risiko’s te loop; daarom loop sy met so ’n ongeŽrgde masker rond. Net nou en dan val die masker: byvoorbeeld, nadat sy vir Konstant van haar vigs vertel het, laat sy ’n onverwagte kermgeluid hoor (95). Jude is ’n veelkantige figuur — verraderlik maar ook deerniswekkend; die verraaier wat Konstant se dood veroorsaak, maar ook die beskermengel wat tot sy dood by hom bly.

Iets waaroor baie lesers wonder, is of Jude ’n man of ’n vrou is. Wanneer Konstant vir Jude ontmoet, is Jude se geslag onduidelik. Die kleed wat Jude aan het, word ’n “rok” genoem (wat vroue dra), maar ook ’n “monnikekleed” (mansdrag). Jude word nie as man of vrou voorgestel nie, maar as “persoon”. Dit is dan ook begryplik dat Konstant wonder: “En wat, as ek mag vra, is jy van geslag? Dis onmoontlik om vas te stel” (33). Alles aan Jude maak ’n androgene indruk. Later begin die verteller die vroulike voornaamwoorde “sy” en “haar” gebruik om na Jude te verwys. Dit sou ’n aanduiding kon wees dat Jude ’n vrou is, maar soms (veral wanneer hy kwaad is) glip ’n “hy” deur of verwys hy na Jude as “bastard” in plaas van die vroulike “bitch”, wat die leser laat wonder of die vroulike verwysing na Jude dalk ’n manier is om na die “vroulike”, “verleidelike” man in ’n gay verhouding te verwys.

Dit is egter nie van groot belang om te weet of Jude ’n man of ’n vrou is nie; dit is veel belangriker dat die skrywer onsekerheid hieroor by die leser wek. Hy doen dit moontlik om die stereotipe opvatting die nek in te slaan dat vigs ’n probleem is wat tot promiskue gays beperk is. Die twee karakters wat hier aan vigs ly, is in ’n liefdesverhouding betrokke waarmee die heteroseksuele leser maklik kan identifiseer; die verhaal verkry ’n breŽr toepaslikheid.

NŠ sy verblyf in Johannesburg emigreer Konstant na AustraliŽ, in ’n desperate poging om weg te kom van alles wat hom bind. Weer eens vlug hy tevergeefs, want hy dra sy verlede met hom saam. Jude volg hom hierheen, en saam met haar die dreigende werklikheid van vigs, wat dan ook vir Konstant tref. Soos ’n Ikaros van ouds besef Konstant dat hy te hoog wou vlieg, dat hy in ’n illusie geleef het toe hy gedink het hy het homself bevry:

    Is dit dan tog waar dat ek my al die tyd saam met Jude so onoorwinbaar, so onaantasbaar in my goue waas van geluksaligheid gevisualiseer het dat ek verseg het om my met die realiteit van haar aansteeklikheid te konfronteer? Te hoog gevlieg, sal die oumense van my sÍ” (151-2)

Die eerste ontdekking van sy siekte-tekens kom, ironies, op ’n besoek, saam met Jude en sy nuwe vriend(-in) Shane, aan ’n idilliese vakansie-oord langs die Wollondilly Rivier. Die vertelling van die besoek is vol simboliek. Die Wollondilly gebied, met die slang wat sy verskyning maak (120-122), is simbolies van die Paradys, en vigs ontwikkel tot algemene doodsimbool. In teenstelling met die driehoeksverhouding van Konstant, Jude en Shane is daar die pragtige swanepaar, lewenslank getrou aan mekaar, met hul twee swaankuikens, simbool van die gesinsgeluk waarna Konstant sy hele lewe verlang het, maar wat hy nie kon vind nie. Konstant se ervarings word hier verbreed tot die ervaring van ’n verlore Paradys, van menslike onvolkomenheid, van verlange en sterflikheid. Dit is realiteite wat elke mens, soos Konstant, van nature wil ontvlug, maar verplig word om te konfronteer.

Die roman is in die eerste persoon en in die teenwoordige tyd geskryf, wat die indruk skep dat die verteller met ’n dagboek besig is en dat die leser as ‘t ware oor sy skouer lees wat hy skryf. Die verhaal kry daardeur ’n aangrypende onmiddellikheid. Dit geld in sonderheid vir die laaste gedeelte van die roman, wat Konstant se sterfproses uitbeeld, waar dit vir die leser voel of hy Konstant in sy sterfproses begelei.

Voor sy dood gaan hy deur ’n suiweringsproses, gekenmerk deur konfrontasie van die dinge waarvan hy wou wegkom. In sy “toespraak” by sy verbeelde “huwelik” met Jude, raak hy indirek verskillende aspekte van sy afwykendheid aan (141-144): die feit dat hy en Jude nie wil / kan trou nie; dat daar nie “kinders by dosyne” sal wees nie; sy verwerping van die Bybel; sy verlange om ondanks sy “andersheid” aanvaar te word; sy verdriet oor die gebrek aan ondersteuning van sy ouers. Anders as vroeŽr, waar hy sy verhouding met Jude as ’n “normale” heteroseksuele verhouding voorgestel het, is daar nou die konfrontasie van sy seksuele voorkeure in ’n herinnering aan ’n episode toe sy pa hom en ’n vriend agter die kraalmuur betrap en die vriend ’n kwaai pak slae gegee het. Hierdie herinnering gee ook aan Konstant die kans om van sy opgekropte woede teenoor sy pa ontslae te raak.

Konstant bring ’n besoek aan die heldersiende Gordana, waar hy in ’n visioen sy pa in ’n rivier ontmoet, simbool van die dood en van suiwering. Die verwyte en woede waarvan hy ontslae raak, is ’n noodsaaklike vereiste om in vrede te kan sterf. Hy raak vry van sy vyandigheid teenoor sy pa, en is bly dat hy na sy pa aard (207); en hy kan nou versoek dat sy broer Albert hom kom besoek — ’n teken van sy onlosmaaklike verbintenis met sy familie.

In sy laaste stadium, net voordat hy sterf, neem hy een vir een van sy geliefdes afskeid — van Delores, sy pa, sy ma, Shane, Albert, Jude en uiteindelik die lewe self. As teken van die naderende dood begin hy toenemend te stamel. Die leser is die enigste wat “by hom” is wanneer sy stameling uiteindelik ophou, en sy oupa hom vanuit die doderyk kom haal. Konstant, wat tydens sy lewe nooit sy konvensionele plek in die manlike familielyn kon inneem nie, word by sy dood deur sy voorvader aanvaar. Die aardse stryd is verby, sy suiwering is voltrek — “is wit lig wit ek sien om ... dis om dis om my oral suiwer wit” (219).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.