LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Herinneringe wat die psige van die Afrikaner bepaal

Chris van der Merwe

Lettie Viljoen
Belemmering

Lank voordat die Anglo-Boereoorlog die Afrikaanse prosa getref het (met die honderdjarige herdenking van die aanvang van die oorlog) het ’n roman verskyn waarin dié oorlog, en ander sentrale gebeurtenisse uit die Afrikaner-verlede, ’n uiters belangrike rol speel — nie soseer as gebeurtenisse op sigself nie, maar as herinneringe wat die psige van die Afrikaner bepaal. Die roman is Lettie Viljoen se Belemmering, wat in 1990 deur Taurus uitgegee is. Dis ’n boek wat nie by baie mense bekend is nie — dis uitverkoop en moeilik verkrygbaar in die boekhandel; maar vir my is dit een van die tops van die top-twintig van die negentigerjare.

Die verhaal begin met ’n man en ’n vrou wat van mekaar afskeid neem, en hoewel hul name nie genoem word nie, vermoed die leser dat dit die twee sentrale karakters, Deneysen en Hannah, is wat mekaar hier groet. Deneysen verlaat Hannah, sy vrou, om deel te neem aan die gewapende stryd teen ’n outoritêre mag, waarskynlik die Suid-Afrikaanse regering; sy onderneem ’n reis waarin sy haar familie opsoek en probeer om haar lewensdrade bymekaar te kry.

Die man verlaat sy vrou om op sy “koue, ver paaie” te gaan, deel te word van ’n “broederskap van stryd” om sin in sy bestaan te vind; die vrou soek ook na sin, maar sy soek dit op ’n persoonlik-menslike vlak en nie in abstrakte politieke ideale nie. Die feit dat die twee karakters slegs as “hy” en “sy” aangedui word, suggereer dat dit nie hier alleen om twee individuele karakters gaan nie, maar om ’n meer universele man en vrou; om die man en die vrou wat steeds hul aparte weë gaan; elkeen steeds besig met ’n soektog wat wesenlik van die ander een s’n verskil.

Deneysen sluit aan by ’n groep wat hulself in ’n berg skuilhou. Skynbaar vorm hulle deel van die gewapende opstand teen die Suid-Afrikaanse regering in die tagtigerjare; maar die projek is ook simbolies van die “ewige man”, altyd besig met projekte “daar buite”, “manlike aktiwiteite” om die wêreld te “verander”; planne waarby die vrou agtergelaat word en waarvan sy dikwels die slagoffer is.

Deneysen wil “homself vind” deur deel te word van ’n groep mede-stryders; maar hy kom min van die karakters te wete wat saam met hom stry. Vir Deneysen (en vir die leser, wat deur Deneysen se oë die omgewing waarneem) bly hulle vreemdelinge. Hul gedagtes is onbekend en hul dialoog is dikwels onsamehangend en onduidelik. Hoewel die groep geheime opdragte deur ’n boodskapper ontvang, is die bedoeling van die opdragte vaag en die sin van hul optrede bly vir Deneysen en die leser ’n duistere saak. Tussen die mans onderling, en tussen hulle en hul leiers, is daar ’n totale “belemmering” in kommunikasie. So word hulle simbool van die mens vergeefs op soek na ’n sinvolle taak, na ’n opdrag “van buite” — altyd “aan die beweeg”, op reis sonder om te weet waarom of waarheen.

Vir hierdie mans is die Afrikaner-verlede ’n wesenlike deel van hul herinnering; in baie opsigte is Boere-helde soos generaals De Wet en Beyers hul rolmodelle. Dit is ironies dat juis die Afrikaner-helde hulle inspireer om teen ’n regering te veg wat sterk Afrikaner-georiënteerd is. Hierin is alreeds ’n teenstelling te sien tussen ideaal en werklikheid — die Boerehelde het vir Afrikaner-vryheid geveg, maar die verwesenliking van die Afrikaner-vryheid was so ’n karikatuur van die Afrikaner-droom dat opstand opnuut nodig geword het.

Die stryd van die Boere-helde word met die huidige doellose stryd van die groepie mans gekontrasteer. Die verhaal wat een van die mans vertel oor ’n ontsnapping van De Wet tydens die oorlog, moet onderbreek word, want een van hulle, Kallas, het probeer selfmoord pleeg. De Wet se doelgerigtheid staan direk teenoor Kallas se uitsigloosheid. Maar selfs die Boerehelde van destyds, so seker van hul saak, se lewe verloop mistroostig — genl. Beyers verdrink, De Wet word tydens die Rebellie gevange geneem en beland in die tronk. In die verlede, soos in die hede, staan daar ’n “belemmering” tussen die ideaal en die bereiking daarvan.

Die verhouding tussen mens en mens word steeds gekenmerk deur afstand, onbegrip en vyandigheid — tussen man en vrou, tussen mans onderling, tussen mense van veskillende kulture of gelowe. Oorlog bly deel van die mens se bestaan. Die vertellings van die val van Konstantinopel openbaar die tragiese stryd tussen gelowe en kulture, en die vergeefsheid van heroïek en gebed om verlossing. Oorlog, nederlaag en verlies kenmerk steeds die mens se bestaan.

Waar die groepie mans doelloos en moedeloos voel, gaan dit met hul teenstanders nie veel beter nie. Die teiken van hul opstand is blykbaar die onbekende “Generaal C”. Sy mag bring hom geen vrede nie; hy kry ontstellende visioene van swart landskappe en ’n wêreld wat onderstebo is. Uiteindelik kry hy gesigte van ’n verlore stryd, van dood, moontlik selfmoord, as laaste uitweg. Sy eie ryk, en ook God se ryk, soos hy dit ervaar, is aan onkeerbare verval onderworpe.

Die rebelle se aktiwiteite loop uit, soos te verwagte, op grootskaalse mislukking. Die een probeer selfmoord pleeg, die ander probeer dros na sy geliefde. Uiteindelik kry hulle tyding van die verdrinking van Geelgert, van wie al hul opdragte gekom het. In wanhoop veroorsaak Polla, nog een van die groep, ’n reuse-ontploffing van dinamiet, wat een van sy makkers verwond, maar ’n opening in die berg skiet waardeur hulle na buite kan ontsnap. Hul missie het in ’n doodloopstraat geëindig, en hulle verlaat die berg sonder dat hul aktiwiteite iets positiefs uitgerig het.

Ook Hannah gaan op reis wanneer haar man haar verlaat, maar haar reis is van ’n heeltemal ander aard: dis ’n meer innerlike, persoonlike reis, op soek na menslike verbintenisse. Sy het geen kontak met haar pa, ma of broer nie; haar man het haar verlaat, en sy het ook geen kind nie. Nou onderneem sy ’n reis na haar oom en tante; sy vertoef by hulle en raak lief vir die dogter Mirandah, die kleindogter van haar oom en tante — Mirandah se pa en ma is afwesig, soos Hannah s’n, en Hannah wil vir haar ’n substituut-ma wees. Hannah probeer dus ’n “alternatiewe gesin” opbou, met ’n substituut-pa, -ma en -kind. Sy raak ook betrokke by ’n nuwe verhouding met ’n man, Henrik, en besoek verskeie familielede met wie sy kontak verloor het, soos haar oom Dirkie en tant Drien op ’n boereplaas.

Verder doen sy navorsing in ’n museum in die Kaap om meer te wete te kom aangaande die mense se historiese en prehistoriese verlede. Soos Deneysen, is sy besig met ’n reis van verkenning en ontdekking. Deneysen se reis is veral ’n ruimtelike reis — hul groep moet die berg leer ken en kaarte maak van onbekende gebiede. Hannah se reis is in ’n groot mate ’n reis in die tyd, na die verlede, om haarself en die sin van haar bestaan te soek. Sy probeer haar identiteit vind deur alles uit die verlede na te speur wat haar gevorm het tot wat sy is, maar al wat sy vind, is losse flardes onbetroubare inligting. Sy probeer deel word van ’n familieverwantskap, maar steeds voel sy haarself ’n vreemdeling.

Soos Deneysen se missie, is ook haar pogings vrugteloos. Die verhouding met Henrik loop dood, en Mirandah raak geleidelik selfstandiger en meer op ’n afstand. Haar briewe en telefoonoproepe aan haar broer, om kontak tussen hulle te herstel, lewer geen sukses op nie. Die verhaal eindig met ’n gesprek tussen Hannah en haar broer wat in stilte en suising eindig, soos ’n telefoongesprek wat afgesny word. Die verbindingslyne raak versteur, en die kommunikasie word verbreek. Ook by haar, soos by Deneysen, spreek “belemmering” die laaste woord in haar pogings om persoonlike kontak te maak en haar verbrokkelde familieverwantskappe te genees of te vervang.

Die reis van Deneysen sowel as van Hannah beweeg op twee vlakke. Dit kan realisties gelees word, as ’n reis van Deneysen om deel te word van ’n militêre opstand en van Hannah om haar familie beter te leer ken. Maar dit kan ook as ’n simboliese reis geïnterpreteer word waarin die psige ontdek en die argetipes van die onderbewuste verken word. Hannah ervaar haar laaste gesprek met haar broer as “so koud hier, onderaards” (bl. 251) — dit is asof sy met haar broer op die vlak van ’n gemeenskaplike onderbewuste kommunikeer.

Die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog is nie net buite Deneysen nie, maar ook in hom; sy psige is gevul met Boerehelde wat sy rolmodelle word. En Hannah se ouers en broer is nie net buite haar nie, maar ook verlore stemme wat in haar roep en wat haar reise bepaal. Deneysen se togte teen die berg is simboliese reise deur die onbekende landskap van die psige wat “gekaart” moet word; berg en afgrond dui op die geestelike uitdagings en gevare van die reis in die self. In hierdie opsig herinner die roman aan die Welgevonden-romans van Etienne Leroux, waar Welgevonden op realistiese vlak ’n Suid-Afrikaanse plaas is en op simboliese vlak die onderbewuste verteenwoordig.

Die sentrale tema van die boek is dié van leemtes wat ongevul bly, van belemmeringe tussen mens en mens, en tussen ideaal en werklikheid. Die tema van belemmering kom ook in die struktuur tot uiting. Die verhale van Hannah en Deneysen is twee aparte verhale, om die kloof tussen man en vrou aan te dui — byna soos die verhale van man en vrou in Van Melle se Bart Nel. In albei hoofverhale in Belemmering is die doel onseker en die mate van progressie onduidelik. Daar is nie ’n doelgerigte, lineêre voortgang in die verhaal nie; dit beeld nie ’n reis na ’n bepaalde doel uit nie, maar eerder ’n toestand van onvervuldheid, van op-reis-wees sonder om te vind, sonder om te weet waarheen die reis is, van volgehoue belemmeringe in die soektog na geluk.

Viljoen skryf ’n liriese prosa — in hierdie opsig kom haar werk ooreen met Schoeman se “Stemme”-trilogie. Dit is prosa waarin onder andere die landskap van Afrika verken word; dit is soms asof “landskap-skilderye” met woorde gegee word. In hierdie “landskappe” keer sekere simbole herhaaldelik terug: byvoorbeeld die berg, met sy mistieke assosiasies, maar hier ook ongenaakbaar en koud. Dit is ’n landskap wat wemel van suggesties van betekenis, maar ook vervul met ontgogeling. Die skoonheid roep om vervulling, dit is ’n “immense aantyging teen alles wat onvervul bly” (bl. 74).

Die verhaal beweeg deur ’n siklus van seisoene, waar die lente kortstondig aanbreek:

    “Die volgende oggend (oornag) staan die veld op.
    Die lug wapper soos huwelikslakens op die lyn.
    Die tarentale, eende, paddas, krieke, sprinkane; dit sing, hyg, skuur, skrop, roep, ritsel in die veld, in die bome, in die lug. Die lug is dik van die gesuis van vlerke. Die veld is nat” (bl. 110.)

Maar die verhaal eindig in die winter, die tyd van koue, somberte en verlange, van aanhoudende gesug soos “die aanhoudende breek van branders op die strand” (bl. 197).

’n Uitgebreide kennis van die skilderkuns kom in die roman tot uiting, en die verwysings daarna is altyd ter sake by dit wat die skryfster in hierdie betrokke roman tot uiting wil bring. Dit geld byvoorbeeld vir die bespreking van die skildery wat Courbet van sy vriend Proudhon gemaak het:

    Madame Proudhon se teenwoordigheid word net aangedui deur ’n leë stoel met ’n werkmandjie daarop (...) Die mooiheid lê daarin dat die detail nie in terme van een of ander gesuperponeerde betekenis weergegee word nie, maar byna in metonimiese terme — die afsonderlike detail word suiwer deur hulle nabyheid geskakel (bl. 87).

So ook in Belemmering, is die landskap en die karakters tekens wat uitwys na ’n onbereikbare vervulling, iets wat om die rand van die romanwêreld sweef, maar nooit bereik word nie. Vervulling, juis in sy afwesigheid, deurtrek die roman, metonimies aangedui deur die verlange, die droom, die reis, die uitreik na ander.

“Dat skoonheid gebore word uit gemis” — daaraan het Elisabeth Eybers ons herinner, en dit blyk ook uit hierdie roman. Miskien is die troosrykste aspek van die boek geleë in die moontlikheid om verlange tot skoonheid te omskep. Hierdie tema word herhaaldelik in die roman gesuggereer. Wanneer Mirandah die onvoltooide metamorfose-proses van ’n papie aanskou — ’n papie wat mot word, maar dan nie bevrug word nie — dan raak dit haar so dat sy daarvan ’n tekening maak. Die teleurstelling is die stimulus vir die skep van kuns.

Die kwellings veroorsaak deur vaders en moeders was al vir baie skrywers die motivering vir die skep van kuns — voorbeelde hiervan is “Toergenjef se monsteragtige moeder ... Dostojewski se skuldgeboelens oor sy vermoorde vader ... Kafka, wat sy pa so gehaat het, maar eintlik sy ma wou straf” (bl. 181-182). So ook is hierdie roman deurtrek van verbrokkelde verhoudings tussen ouers en kinders; juis dit is die stimulus tot die soek na vervulling, en ’n mate van vervulling word gevind in die omskepping van verlange tot kuns. Die onvolmaakte werklikheid is die prikkel waardeur ’n kunswerk geskep word waarin alles volkome sin maak.

Belemmering is nie ’n “maklike” boek met ’n duidelike storielyn, vol uiterlike spanning en drama nie. Maar solank as die Afrikaanse letterkunde nog, naas die lekker stories, ruimte bied vir ’n boek wat ’n innerlike reis uitbeeld, wat indring in die mens se situasie van geknelheid en verlange, en dit met volledige oortuigingskrag weergee — so lank sal Belemmering een van die bakens in die Afrikaanse prosa wees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.