|
André P Brink: Inteendeel (1993)Chris van der MerweWat is waarheid? het Pilatus gevra, en hy was nie die eerste of die laaste om die vraag te stel nie. Ongeveer vierhonderd jaar vroeër het die Griekse wysgeer Aristoteles die vraag gestel, en n eerste beroemde definisie van waarheid gegee waaroor eeue lank geredeneer is. Oor Pilatus se vraag handel ook André P Brink se roman Inteendeel. Op n diepsinnige en tegelyk speelse wyse word hierdie probleem ontgin, in n verhaal waarin die historiese figuur Etienne Barbier die hoofkarakter is iemand wat as leuenaar en opstandeling ter dood veroordeel is. Dié romankarakter, een van die boeiendste uit die omvangryke oeuvre van Brink, neem in die boek sy eie verdediging waar, en gee sienings oor die waarheid en reg van sy saak wat direk ingaan teen die historiese verslae oor sy veroordeling. Seker nie te veel mense weet wie Estienne Barbier was nie. Maar Estienne Barbier is besig om n bekende figuur in die Afrikaanse taal- en letterkunde te word. In 1980 is die proefskrif van Roy Pheiffer gepubliseer, wat handel oor die gebroke Nederlands van Franssprekendes aan die Kaap in die agtiende eeu. Estienne Barbier is n prominente figuur in hierdie proefskrif, en in die inleidende gedeelte daarvan vertel prof Pheiffer van die lewensloop van hierdie merkwaardige man, wat in 1734 uit Frankryk na die Kaap gekom het. Drie jaar later raak hy betrokke in n siviele geding teen R S Alleman; en in die loop van die hofsaak word daar n tweede siviele eis teen hom ingestel. Barbier was so verontwaardig toe hy die eerste van die twee hofsake verloor, dat hy luidkeels in die hof teen die vonnis te velde getrek het; vir hierdie opruiende gedrag beland hy vyf weke in die berugte Donker Gat onder in die Kasteel. Ook die tweede hofsaak verloor Barbier, en hy word gelas om met opene deuren en onder t luiden der clocke, God, de Justitie en ... Luitenant Alleman om vergiffenis te bidden. Vir die rebelse Estienne Barbier was dit eens te veel. Hy ontsnap kort daarna uit die Kasteel en vir byna twee jaar swerf hy deur die Kolonie, en tree op as kampvegter vir gegriefde koloniste. Hy word deur die owerheid aan die Kaap voëlvry verklaar, maar hy moes baie steun onder die koloniste gehad het, want niemand lewer hom uit nie, totdat hy homself aan die owerheid oorgee, in die hoop op genade. Maar sy hoop het beskaam. Op 12 November 1739 word die vonnis oor hom uitgespreek: eers sal sy regterhand afgekap word, en daarna sy kop; die afgekapte hand en kop moet dan by die Roodesand Kloof ten toon gestel word. En dit is nie genoeg nie. Sy liggaam sal in vier stukke gekap en langs de meest gepasseert werdende wegen opgehangen ... worden. By sy pynlike en skandelike dood sou Barbier nooit kon vermoed wat met sy nagedagtenis in die Afrikaanse letterkunde sou gebeur nie. Behalwe die studie van Pheiffer is daar ook drie Afrikaanse romans oor die lewe van Barbier geskryf, onder andere die roman van André P Brink: Inteendeel. In die roman laat Brink hom net ten dele deur die historiese dokumente lei; waar die dokumentêre gegewens ontbreek, vul hy dit aan met sy verbeelding. Hy skryf nie net oor wat was nie, maar ook oor wat sou kon wees en wat behoort te wees. Maar degeenen die de waerheijt seggen, hebben geen herberg ... in deese lant. Hierdie woorde van Barbier staan as motto vooraf. Barbier, die verteller in Brink se roman, wil Inteendeel sê teenoor die beskuldigings wat teen hom ingebring is, maar dan word hy op die titelbladsy voorgestel as: n beroemde rebel, soldaat, reisiger, ontdekker, bouer, skribent, leser, latinis, minnaar en leuenaar hier is kennelik meer as een persoon aan die lieg. By Barbier se inteendeel kan die leser al onmiddellik sy eie inteendeel voeg. Die leser se skeptsisisme word versterk deur die openingswoorde van die roman: Ek is dood: jy kan nie lees nie: dié sal (daarom) nie n brief gewees het nie. n Dooie persoon kan tog nie skrywe nie, en Barbier is immers dood daarmee word die hele illusie van n ware vertelling ondermyn. n Verdere komplikasie is dat hierdie openingsin twee verwysings na die kontemporêre Franse filosoof Jacques Derrida bevat. Die leser wat die aanhalings herken (en Brink gee self die verwysings na Derrida in sy Erkenning) besef dat Barbier nie van Derrida kon geweet het nie; die skrywer Brink loer bewustelik van die begin af oor Barbier se skouer. Voeg hierby die bekende siening van Derrida dat daar geen waarheid agter n teks is nie; dat die teks self die enigste waarheid is wat n mens kan vind, dan besef jy dat daar n fundamentele twyfel is, reg van die begin af, oor die mens se vermoë om die waarheid te kan ken. Opmerklik is dat die verhaal van Barbier in Brink se roman met twee ander verhale verbind word: dié van Cervantes oor Don Quixote, en die geskiedenis van Jeanne dArc. n Historiese verhaal en n literêre verhaal, sonder onderskeiding saam hier ingebring geskiedenis en fiksie loop deurmekaar. Don Quixote is die aartsromantikus, wat die ou ridderideale wil laat herleef in n tyd dat die ridderromantiek se dae getel is; sy metgesel Sancho Panza, daarenteen, is die nugtere realis wat Quixote telkens na die aarde terugbring. In Brink se roman, Inteendeel, is Estienne Barbier die Quixote figuur, wat homself as held en as redder beskou; wat oral mense in nood sien of meen dat hy hulle sien, en dan die rol van die redder wil vertolk. Hy skep uit die benouende alledaagse werklikheid vir homself n werklikheid wat betekenis maak; n wêreld met duidelike teenstellings van reg en verkeerd, waarin hy n sinvolle rol kan speel. As die werklikheid nie is soos wat hy dit wil hê nie, omskep hy die wêreld. As die Kaap dan nie so eksoties en wonderbaarlik is soos wat die mense in Europa mag dink nie, dan skep hy deur sy verbeelding n wonderbaarlike wêreld; dan vertel hy van ontmoetings met fabelagtige diere, die eenhoring en die hippogrief. Feitelike leuens, maar wáár oor die menslike natuur, met sy behoefte aan betekenis, sy verlange na n lewe van uitdagings en oorwinnings, en wonderbaarlike verlossings uit gevare. In Cervantes se verhale is Sancho Panza die teenhanger van Don Quixote; in Inteendeel is daar in Estienne Barbier self n Sancho Panza, wat sy ontvlugting en verdraaiing van die werklikheid raaksien en erken. Telkens vind ons dat n duidelike versinsel van Barbier gevolg word deur die erkenning dat dit darem nou nie heeltemal die waarheid is wat hy vertel het nie. Deur die hele roman is daar n spanning tussen die werklikheid van die verbeelding en dié van die alledaagse realiteit; albei is nodig is vir n volledige menslikheid. Sonder die romantiese verbeelding is daar geen sin in die lewe nie; maar as die band met die werklikheid heeltemal losgelaat word, lei dit tot leuens en selfbedrog. Die romantikus en die realis het mekaar nodig. Naas Don Quixote is daar n tweede lewensloop wat met dié van Estienne Barbier verbind word: dié van Jeanne dArc, die Franse vrou wat vanaf haar dertiende jaar hemelse stemme gehoor het. Onder haar leiding en deur haar inspirasie behaal die Franse leërs belangrike militêre oorwinnings teen die koalisie van Engeland en Boergondië; maar later draai die gety, en Jeanne dArc word deur haar vyande gevange geneem. Op 30 Mei 1431, na n twyfelagtige verhoor en skuldig bevinding, word sy op die brandstapel verbrand. In 1456, vyf en twintig jaar na haar dood, word haar vonnis egter deur die pous herroep; in 1894 word sy tot eerbiedwaardige verklaar; in 1909 tot salige; en in 1920 tot heilige. Die lewe van Jeanne dArc bring n vraag na vore wat sentraal in Brink se Inteendeel is: Wat is die waarheid? Wie het die regte siening oor Jeanne gehad: haar ondersteuners of haar vyande? En: watter siening van Jeanne se ondersteuners is reg: dié van 1456, van 1894, van 1909 of van 1920? Verder: is die innerlike stemme van Jeanne werklikheid of hallusinasies? En is daar n wesenlike verskil tussen die twee? Want vir Jeanne was die stemme werklikheid, en deur haar optrede het sy die innerlike opdrag van die stemme tot buite-werklikheid gemaak. Haar subjektiewe waarheid het n waarheid vir baie geword. Ook vir Estienne Barbier, in Inteendeel, is Jeanne dArc sy rigsnoer en leidsvrou. Sy, wat na haar innerlike stemme geluister het, is nou die innerlike stem van Estienne. Sy is vir hom n gids en n voorbeeld; n vrou en n moeder; sy is vir hom, soos hy dit op bl 178 stel: onmisbaar en inspirerend ... n veegsel van n veer van Anderkant, n roering van die onmoontlike. In die dokumente oor Barbier word beweer dat n slavin Rosette n nag by hom deurgebring het voordat hy haar tussen n klomp bandiete laat opsluit en daarna vrygelaat het. In Inteendeel is Barbier die skrywer van sy eie verhaal en rig hy sy geskrif tot Rosette. In die roman het Rosette uit slawerny ontsnap en na die binneland gevlug; en sy kry in die loop van die roman verskeie simboliese betekenisse sy is die steeds ontwykende bron en versadiging van al sy verlangens; die stem van sy gewete; en die Oermoeder en Skepper van alles wat bestaan. Barbier se geskrif is as t ware n antwoord op sy gedokumenteerde skuldigbevinding. Hy sê inteendeel vir sy beskuldigers; hy sê ook inteendeel vir die maghebbers aan die Kaap, vir die magsugtiges wat hulle nie aan geregtigheid steur nie. Barbier wil een van die wees wat nee sê vir alles wat moreel onaanvaarbaar is. Maar die leser kry op sy beurt die kans om inteendeel vir Barbier te sê. Want ook Barbier is subjektief, en sy voorstelling van sy vyande is sekerlik bevooroordeeld. Waarheid en reg is sulke ingewikkelde begrippe dat niemand hulle kan omvat nie. Dit lyk of Barbier nie net woedend vir sy vyande is nie, maar ook n seksuele nyd teenoor hulle koester hy is die laaste een wat objektief oor hulle kan oordeel. Barbier maak graag van skeldtaal gebruik wat met die geslagsdele te doen het (bv bl 227), en wanneer hy visioene van wraak op sy vyande optower, is die geslagsdele dikwels daarby betrokke (bl 123, 158, 238). Barbier, wat nie vrou of kinders het nie, wat as man misluk het, voel waarskynlik afgunstig teenoor dié wat in hierdie opsig beter daaraan toe is as hy. Dink maar net aan sy verlange na n mitiese vroulike redder wat die manlik jagter van impotensie en onvrugbaarheid red (bl 61). Hierdie storie van hom is waarskynlik n uiting van sy onderdrukte seksuele begeertes. Soos hy dit stel: Miskien gryp alle stories na die knaters? (bl 178). Miskien het Barbier selfs n moederbinding, en mis hy die vryheid wat Rosette verwerf het, dié van los van n moeder te wees (bl 66). Is dit daarom dat hy steeds vir Jeanne aan sy sy moet hê die verpersoonliking van die moeder aan sy sy? En is sy woede teen sy vyande n uiting van n onderdrukte vaderhaat wat op hulle geprojekteer word? Die komplekse karakter van Barbier word deurgaans met n speelsheid uitgebeeld; die ingewikkelde kwessies van waarheid en reg word met ligte aanslag gehanteer. Ons het hier nie n eenvoudige patroon van n goeie hoofkarakter wat n bose vyand beveg nie; in die hoofkarakter self is goed en kwaad saam aanwesig. Dit is onseker hoeveel hy die waarheid praat en hoeveel leuens is; maar dat hy verdraai en oordryf en romantiseer, dit is seker. Rosette, die vrou aan wie hy sy verhaal vertel, is grotendeels die skepping van sy verbeelding. In die boek wat Barbier skryf, is hy op reis na Rosette; sy boek is inderwaarheid sy reis na haar. Die reis na Rosette is n pad van stroping en suiwering. In die eerste twee dele van die roman word Barbier sterk deur eiebelang gemotiveer, en sy stryd om reg is dikwels sterk ironies. Barbier wil in deel 2 sy vonnis herroep hê; en wanneer sy sogenaamd opstaan vir die reg van die koloniste, wil hy in werklikheid sy eie teenstanders bykom en pleeg hy onreg teen die Hottentotte. Dit is sy beheptheid met eiebelang wat hom skeef na die wêreld laat kyk. Veral die eerste deel van die roman is vol ironie en dubbelsinnighede; maar die verhaal bestaan uit drie dele, en deel 2 sê inteendeel op deel 1, en deel 3 sê inteendeel op deel 1 en 2. In deel 1 is daar n onsekerheid by die leser oor wat waar en onwaar is, en wie reg en verkeerd het; maar in deel 2 skemer die onreg van die koloniste al hoe duideliker deur; en in die skuldbekenning en boetedoening van Barbier in die laaste deel oorheers die vreeslike lig (bl 300) van n ondubbelsinnige morele reg. Die reis na Rosette is ook n reis na die dood, en soos wat hy nader aan haar reis, word hy grootliks gestroop van wat onsuiwer is. Anders as in baie van sy vorige romans, word die romantiese patroon van helde en skurke hier met humor en ironie aangebied. Dit is byna of Brink tong in die kies na sy eie werk terugkyk. Hierdie roman is in 1993 gepubliseer; die dae van apartheid is getel, en dit lyk of Brink hom kan veroorloof om meer genuanseerd as vroeër, as in sy politieke romans, na die wêreld te kyk. En tog, ondanks die sinies-geamuseerde kyk op sake, is daar nog n onderstroming van moraliteit, n besef van onreg en skuld aanwesig. Opmerklik is die sterk religieuse element in die slot. Teenoor die tradisionele patriargale godsdiens vind ons hier n matriargale mistiek. In ooreenstemming met Barbier se verlange na n moeder en n beminde, is die Skepper na wie hy op pad is, n Vrou. Ook in dié opsig sê die roman inteendeel vir die tradisie. Na Barbier se aanskoue van die vreeslike lig, kom n nuwe wending met die aanhaling van Don Quixote se sterfbedwoorde: Laat ons maar suutjies verder gaan, want vanjaar is daar nie voëls in verlede jaar se neste nie (bl 301). Die parallel tussen Barbier en Quixote word weer eens bevestig; die sterfbedwoorde herinner verder aan die onvermydelikheid van die dood, ook vir Barbier dis n dwingende realiteit waarvan selfs hy, met sy groot verbeeldingskrag en vindingryke planne, nie kan ontsnap nie. Maar deur die aanhaling word ook die onsterflike kunswerk van Cervantes opgeroep die mens vergaan, maar die kuns triomfeer oor die dood. In die laaste sin van die roman word die slot van Barbier se verdedigingsbetoog gegee, waarin hy by die regters pleit vir n gunstige oordeel. Agter die skrywer Barbier rys weer eens die figuur van die skrywer van die roman, wat n beroep doen op die guns van die leser. Daarmee word ook bevestig dat die verhaal van Barbier in laaste instansie maar net n storie is, n spel tussen skrywer en leser, vir die plesier van die leser; en dat die leser alleen die potensiële betekenis van die skrywer se skepping n waarde kan gee wat verby die dood nog spreek. Dit is op hierdie genade van die leser dat die skrywer sy hoop vestig.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |