LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Beste Medelesers

Diegene wat lanklaas ’n boek van André P Brink gelees het, om watter rede ook al, kan gerus Duiwelskloof takel. Dit lees heelwat makliker as die meeste van sy onlangse werke en ontluik in ’n eerlike speurtog wat moeilik is om neer te sit.
    Ek het ’n e-pos ontvang van mevrou Boeke oor hierdie teks. (Is dit nou nie ’n keurige van om te hê as ’n mens ’n leeskringlid is nie?) Sy skryf dat hulle leeskring meestal Engelse werke lees, asook vertalings uit Europese tale, maar baie min Suid-Afrikaanse werke. Hulle het darem al na Aucamp gekyk, en nou takel hulle Brink se Duiwelskloof.
    Dit sê iets oor Brink. Daar is min mense wat al sulke diep spore getrap het in die prosa, of so ongelooflik baie gepubliseer het, soos Brink. Hy is een van die land se suksesvolste skrywers en waarskynlik ook een van die bekendste in die buiteland. Voorts verkoop hy goed. Duiwelskloof was byvoorbeeld, kort na verskyning, onder die top tien verkopers op Exclusive Books se lysie.
    So, kom ons gesels oor die teks:

Die titel:

  1. Die titel word deels verduidelik deur die outeursnota voorin die boek waar die toespeling op die Hel (Gamkaskloof) duidelik word. Dit sou egter onverantwoordelik wees om hier op te hou en te aanvaar ons weet wat die titel alles omvat.
  2. U leeskring kan die verwysings na die “duiwels” wat in hierdie kloof rondloop, gaan nalees. Vergelyk, onder andere, tant Poppie Vollemaan se raad om ’n vuil doek om ’n mooi kind se arm te draai ...
  3. Daar is ook ontsettend veel geraamtes in baie kaste (en grafte) — persoonlike duiwels, dus, wat in mense ronddool. Die Bybel praat mos van mense wat versteurd is, of wat gejaag word deur iets, as van duiwelsbesete. Daar is vandag nog, selfs in ons land se hoofsentra, mense wat eerder na priesters gaan om die duiwels te verdryf, as na ’n psigiater. Bespreek ’n bietjie die titel vanuit hierdie perspektief. Die jagtog waaraan Flip deelneem, is ’n helder, grafiese scène om te gaan ontleed in dié verband. Kyk net hoe dit trek op sommige passasies uit Golding se Lord of the flies.
  4. Daar is egter ook ’n ander perspektief wat ons nie mag vergeet nie: Ons joernalis, Flip Lochner, word deur ’n dooie ontmoet wanneer hy in Duiwelskloof begin afdaal. Is hierdie ’n tipe onderwêreld waarin hy homself begeef? Onthou, hy dra die as van sy jong vriend met hom saam — begelei hom in werklikheid daar na sy eie mense toe terug. Flip is die skakel tussen hierdie jong man se dooie en sy lewende wêrelde, sy agtergrond, en sy toekoms.
  5. Laastens wil ek net noem dat daar wel ’n klein dorpie in die Noordelike Provinsie is met die naam van Duiwelskloof. Ek was onlangs weer daar (met Brink se Duiwelskloof in my sak), maar het nie enige van die karakters ontmoet nie!

Die motto’s:

  1. Laaste dinge eerste — ons hoofkarakter word deur die tweede motto baie mooi “opgestel” as ’n tipe kykbuis (fokalisator, sou my lektore wou hê) waardeur ons hierdie karakters beskou. Soos met die outeursnota die geval is, word die leser hier ’n glimp gegee van wat kan kom.

Die hoofkarakter word netnou in meer detail bespreek, maar dis belangrik om daarop te let dat die joernalistiek ’n belangrike onderdeel van die postmodernistiese geskrif is. Tydens die Viëtnam-oorlog het terugkerende soldate hulle stories begin neerskryf en gevind dat dit bots met die grootse propagandaveldtogte van die staat. (Vergelyk ons gesprek oor die “kleingeskiedenisse” tydens die bespreking van Marieta van der Vyver se Wegkomkans.) Mense het met nuwe oë begin kyk na die rol van die joernalistiek — asook die rol van die méns agter die storie. Stories, historiese stories, en feite, het uiteindelik so deurmekaargeloop dat die rol van die media baie aandag geniet het. Skrywers het toe begin skryf oor mense wat joernalistiek skryf ... (Vergelyk ook die siniese film Wag the dog wat verlede jaar so opslae gemaak het.)
    U leeskring kan gerus die rol van ’n joernalistieke verteller bespreek.

  1. Stories — die lewe en sterwe van skrywers. Gaan haal Brink (1993:153) se Inteendeel van die rak af en lees die storie oor die vrou wat stories vertel: “In die begin was daar net ’n Storieverteller gewees, en sy was ’n vrou.” (Netnou meer hieroor). Let ook op hoe Emma stories droom om Flip gelukkig te maak in die nag ... Hier, in Duiwelskloof/Duiwelskloof maak stories alles moontlik ... en onmoontlik, soos om te ontsnap.

Die !#@$$%* hoofkarakter
En nou vir die blerrie Flip Lochner, die verfokkenvlakste verslaggewer wat so verdomp baie vloek. (Teen hierdie tyd het my pa al my stêre aan die brand geklop!)
    Brink het heelwat lesers verloor oor hierdie kêrel. ’n Hoogs intelligente vriend, wat lank in die polisiemag was, het byvoorbeeld nie die teks klaar gelees nie, die vloeke het hom te veel gepla.
    Ek wil dit onomwonde stel dat dit my (oor die algemeen) glad nie gepla het nie. Hier en daar was daar so ’n “hebbelikheid” — ’n ander leser se woord — wat my ’n bietjie gekrap het, maar: Is dit nie maar hoe baie van onse mense met mekaar kommunikeer nie?
    Die vraag is egter of dit funksioneel is? Daaroor gaan u self moet besluit, maar neem die volgende in gedagte: Hier is ’n wêreld wat maklik sentimenteel beskryf kan word, maar met ’n ou hardekwas soos Flip aan die woord, bestaan so ’n gevaar nie. Hy is gewoon te dikvellig — of is hy? Dat hy begin lief raak vir die mense (ja hý, die ou swernoot), maak dat hierdie wêreld ’n heel ander dimensie verkry. Vloekende Flip sien die mooi raak te midde van al die lelik. Sou die deernis wat Flip openbaar dieselfde impak gehad het as ons ’n heilige klein mannetjie aan die woord sou hê wat reeds vooraf kon besluit dat hierdie mense edele barbare is?
    Kyk maar hoe gereeld dit gebeur dat selfs Flip verbaas staan oor sy eie doen en late.
    Een van Brink se “hebbelikhede” is dat hy dikwels vertellers gebruik wat nie van hulleself hou nie. In Inteendeel en in Sandkastele vertel die vertellers sommer openlik aan hulle lesers dat dit die geval is: Ek hou nie van myself nie. Ek het egter so ’n snaakse gevoel hier in my maag dat ou Flip vir Brink oorgehaal het om tog van hom te hou. (Ek weet dit het niks literêre waarde nie, maar aag nou ja!)
    Twee staaltjies oor dié kêrel uit Brink se mond:

  1. Tydens ’n onderhoud met Pasella, het Brink gesê dat hy Flip telkens in ’n hoek probeer inskryf het, en dan vir hom gesê het: “Okay, jou bliksem, kyk nou hoe jy hier gaan uitkom!”
  2. In ’n onderhoud met Insig (in gesprek met Cas van Rensburg, September 1998:38) het hy die volgende gesê: “Groot gedeeltes van Duiwelskloof het ek tot dertien keer oorgeskryf. Veral om die ‘toon’ van die verteller se stem reg te kry: ’n geharde misdaadverslaggewer wat praat soos ’n oop riool.”

Die argetipiese karakters
Een van die sterkste én die swakste punte van Brink se werk is die manier waarop hy argetipes in sy romans inspan om die karakters daaromheen te bou.
    Daar is heelwat mense wat weier om sy boeke te lees, bloot omdat hy so argetiep/stereotiep te werk gaan met veral die kleindorpse/plattelandse Afrikaner. Dis natuurlik nodig om te vra: Hoekom? Hoekom name soos Poppie Vollemaan, Pieleman of Peet Pote, of die joos weet wat?
    In hierdie teks het dit natuurlik te doen met ’n hebbelikheid van die Afrikaner om byname te gee aan mense. Ek het op ’n klein dorpie grootgeraak waar daar meer as een Jan Rabie gebly het. (Toevallig nie direkte familie van die skrywer nie.) Hulle het gewoon bekend geraak as Jan Pitkop, Jan Boplaas en so ’n paar ander Janne wat die dominee, tot sy groot ongemak, nie op ’n Sondag van die preekstoel wou afkondig nie.
    Brink bou dus maar voort op ’n tradisie. (Een ding wat ’n mens moet besef, is dat daar geweldig baie navorsing in hierdie man se werk ingaan. Ontsettend veel van die weirdste goed waaroor hy skryf, het dikwels ankers in die werklikheid.)
    ’n Ander belangrike rede vir Brink se karaktergebruik lê in die postmodernistiese spel om karakters nie noodwendig as mense nie, maar as ’n stel kodes te skep.
    Lesers kan gerus gaan lees wat Brink self in sy teoretiese werk, Vertelkunde, hieroor te sê het. Hy beweer dat daar:

’n belangrike klemverskuiwing gekom het: wég van die opvatting van “karakter” as iets stabiels en finaals, iets afgeronds, iets “gegewe”, in die rigting van meer oopheid en diffuusheid (Brink 1987:66-67).

Forster (1990) se ou bekende idees oor “ronde” en “plat” karakters is dus nie meer die enigste wat nagevolg word nie:

Die enigste houdbare uitgangspunt is m.i. om “karakter” te beskou as iets wat ontstaan uit — en bestaan by — die wisselwerking tussen al die wêrelde van die verhaal (storie, vertelteks, vertelproses), en tussen al die gegewens, impulse, elemente of aspekte binne daardie hele kompleks (Brink 1987:67).

Dit is dus onvermydelik dat iemand soos Flip Lochner ook ’n redelik eiesoortige stel “karakters” sal laat ontstaan, aangesien hy in beheer is van die “vertelproses”.

Die leser as skrywer
Flip word ’n paar keer besoek deur “naglopers”, vroue wat skynbaar nie bestaan nie, maar tog vir hom van wonderlike sekskapadetjies voorsien (gelukkige vent).
    Mense wat Brink se skrywersloopbaan probeer volg, sal weet dat hy al in ’n paar omstredenhede betrokke was. Hy is om drie redes omstrede:

  1. Hy het, soos baie ander skrywers, Apartheid teengestaan;
  2. Sy seksscènes het Afrikaneromies na asmapompies laat gryp op ’n manier wat nog net Sharon Stone later kon oortref; en
  3. Brink het ’n manier om sy stories dikwels só in te kleur dat mense sy vroeëre werke in die nuwe stories raaklees (netnou meer hieroor.)
    Maar is die seks funksioneel? Tog wel. Sulke scènes is ’n bekende werkswyse in ’n postmodernistiese klimaat:

they seek to lure, tantalise, seduce the reader into a world of his own. Only by forcing the act of reading to become one of imaginative possession, analogous in degree of involvement and active participation to the sexual act, can literature bring itself to life (Hutcheon 1984:86).

Ons moet dus letterlik saam met Flip op soek gaan na die waarheid (is daar so iets?) in Duiwelskloof/Duiwelskloof. So word ons saam met hom verlei deur alles en almal ...
    Kyk maar na die stories oor Katarina Hemelvlees en haar bok, of bokke. Nie een klop nie, nie een bring ons noodwendig nader aan die waarheid nie, nie een gee finale antwoorde nie. Uiteindelik moet die leser maar, soos die verteller, help skryf/vertel/skep/droom aan die waarhede wat hy/sy graag wil hê moet waar wees, al dan nie:

The act of reading, then, is itself, like the act of writing, the creative function to which the text draws attention (Hutcheon 1984:39).

Die teks wat sigself gedurig weerspreek, plaas die las op die leser om ’n eie dokument te probeer bou uit hierdie verskillende gegewens:

This makes the text become rather like an official form which asks one to delete the irrelevant information. The contradiction between, on the one hand, an abstract methodology which constructs a “system” and, on the other, the apparent concrete illogical “reality” of experience in the world (which Realism chooses to treat as one and the same) is, in fact, irreconcilable (Waugh 1993:45).

Gert Kwas se skilderye
Hierdie proses van kies en uitkrap vind nie net in die teks self (intratekstueel) plaas nie, maar ook oor die grense van hierdie boek heen (intertekstueel). Net soos Gert Kwas, het Brink ook die “probleem” dat sy vorige romans die hele tyd deurslaan in elke nuwe roman wat hy skryf.
    Vir sommige is dit ’n groot probleem (Wanneer skryf hy dan iets nuuts?), vir ander is dit ’n knap spel om aan te toon hoe die wêreld se stories op die ou end die hele tyd inmekaargevleg is. (Vergelyk die eerste motto in hierdie boek.)
    Net soos Gert se modelle nie kan bestaan sonder die voorouers wat so deurslaan nie, kan stories ook nie in isolasie ontstaan nie. Heel dikwels beïnvloed een verhaal ’n ander, of ’n leser se kennis van ’n roman beïnvloed die manier waarop hy/sy ’n volgende lees.
    Brink is baie bewus daarvan. (Hy staan nie verniet bekend as een van die mees belese mense in die land nie.)
    Vir dié van u wat toegang het tot ’n goeie biblioteek, kan ek aanraai om Godfrey Meintjes (1996) se artikel “A chain of African voices: the prose oeuvre of André P Brink” te gaan opsoek. (Ek het ook met die bespreking van Marieta van der Vyver se Wegkomkans iets te sê gehad oor haar oeuvre wat deurslaan in haar latere werk, vergelyk gerus ons gesprek daaroor.)
    Een “prent” wat hier ter sprake kom, is ’n gedeelte uit sy roman Inteendeel.

In die begin was daar net ’n Storieverteller gewees, en sy was ’n vrou. ’n Vrou, Enige Vrou. Soos die tyd verloop, het die vrou al hoe meer stories vertel om haar allenigheid vol te maak, en met dié het sy ’n hele wêreld van stories begin maak. ’n Wêreld met vlaktes en berge en riviere en droë plekke, en bosse en vetplante en gras, en voëls en diere; en toe op die end, omdat daar nog altyd in haar binneste ’n seer was om gehoor te word en self ’n stem te hoor, het sy ’n man en ’n vrou vertel (Brink 1993:153).

Hulle begin toe oor en weer stories vertel:

Vir ’n lang ruk het hulle vir haar hul nuwe stories vertel, en sy het vol verwondering geluister. Maar naderhand het hulle begin vergeet dat dit die Vrou was wat hulle met haar stories lewe gegee het, en toe het hulle begin om hulle stories net aan mekaar te vertel, stories van kinders en stede en plase en skepe en geld, en van honger en wreedheid en slawerny. En die vergete Storieverteller het aan die slaap geraak omdat hulle haar nie meer nodig gehad het nie. En toe hulle eindelik weer eendag van haar onthou en die storie probeer kry waarmee hulle haar kan wakker maak, kon niemand hulle sê wat daardie storie was nie. En van toe af is al die stories wat mense vertel, maar net probeerslae om die één storie te kry wat die Storieverteller weer sal laat wakker word sodat sy die wêreld kan terugbring na die rus en vrede wat dit heel aan die begin moet geken het (Brink 1993:153-154).

Een van die redes waarom skrywers hulle werk “anker” aan vorige verhale, is om van die ingeligte leser te verwag om die parallelle raak te sien tussen die ou en die nuwe storie.
    Neem Josef, die hoofkarakter in Kennis van die aand, as voorbeeld. Hy woon in Suid-Afrika as bruin man, en hunker daarna om weg te gaan, om as vry mens te leef. Tog kan hy nie. Iets — wat heelwat groter as hy is — hou hom vas. Klink dit bekend?
    Of wat van PG du Plessis se drama Siener in die suburbs. Wil Tiemie nie ook wegkom nie? (En tog hou iets haar vas.) In Duiwelskloof eggo een van die jonger karakters baie duidelik Tiemie se woorde: Hulle, die jong mense van Duiwelskloof wil, anders as hulle ouers, van geweet wees.
    Laastens wil ek noem dat Brink se vorige roman, Sandkastele, gewemel het van die voëls — ’n skrille kontras met Duiwelskloof, nie waar nie? Steek daar iets in?
    Gaan vra gerus die ander lede van u leeskring!

Nog ander tekste
Ek het reeds ’n hele klomp tekste genoem waaraan u kan gaan peusel, maar daar is nog twee wat beslis relevant is vir ’n bespreking oor Duiwelskloof.
    Ten eerste wil ek noem dat my eie ma (ja, tog!) jare gelede ’n kortverhaal gepubliseer het oor daardie einste Gamkaskloof, of dan “Warm Plek” soos die verteller dit noem. Marianne de Vries se “Rooi granate in Gamkaskloof” (in die bloemlesing Dames 17) bied ook ’n ooggetuieverslag op hierdie amper vergete wêreld en sy mense. Die verhaal stel ’n jong, fikse student aan die woord wat dié afgeleë vallei betree slegs ’n jaar nadat die pad daarheen gebou is. Water, of ’n gebrek daaraan, vorm ook die onderbou van hierdie vertelling.
    Ten tweede is Breyten Breytenbach se drama, Boklied (wat heelwat leeskringlede gelok het — ek was omring deur vroue van veertig plus), ter sprake. Dit is ’n opvoering wat plaasvind in Niemandsland, voëls (van vele kleure en grotes) is ook ter sprake. Verder is hierdie “karakters” almal reeds dood (of is hulle?). Niemandsland is afgesonder — weggesteek — van die werklikheid. En stories, stories en nog stories is die rede hoekom die karakters hier is.

Al wat nog vir my oorbly, is om ’n volledige bronnelys te verskaf en te sê: Lekker lees tot ’n volgende keer!

Bronnelys
Brink, André P. 1973. Kennis van die aand. Kaapstad: Buren. (Later herdruk deur Human & Rousseau).
Brink, André P. 1987. Vertelkunde: ’n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.
Brink, André P. 1993. Inteendeel. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brink, André P. 1995. Sandkastele. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brink, André P. 1998. Duiwelskloof. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, Breyten. 1998. Boklied. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Vries, Marianne. 1969. Rooi granate in Gamkaskloof. In: Nienaber, C.J.M. 1969. Dames 17. Kaapstad: Human & Rousseau.
Du Plessis, PG. Siener in die Suburbs. Kaapstad: Tafelberg.
Forster, EM. 1990 (1927). Aspects of the novel. Londen: Penguin.
Golding, William. 1954. Lord of the flies. Londen: Faber & Faber.
Hutcheon, Linda. 1984. Narcissistic narrative — the metafictional paradox. New York: Methuen.
Meintjes, GM. 1996. A chain of African voices: the prose oeuvre of André P Brink. In: Ngara, Emmanuel (red). 1996. New writers from Southern Africa — authors who became prominent since 1980. Londen: James Currey.
Van Rensburg, Cas. 1998. In die Hel ontvang. In. Insig, September 1998:38.
Waugh, Patricia. 1993. Metafiction. Londen: Methuen.

Groete

Izak de Vries

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.