LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

15 Maart 1999

PouoogmotDagsê lesers

Mev. Nella Human van Dwarskersbos het laat weet dat hulle leeskring hierdie maand Pouoogmot van JM Gilfillan behandel.
    Ek bespreek dit met graagte.
    Ons hou daarvan om te hoor wat u aanvang in u onderskeie leeskringe. Stuur gerus vir ons u programme — dan weet ons ook! Ons sou selfs ’n paar interessante programme kon publiseer hier op die Net.

Pouoogmot

Soos in Oranje Meraai het ons hier te make met ’n veelvlakkige teks — daar is selfs twee lettertipes om die wêreld van die skrywende karakter en die wêrelde van die karakters wat sy skep, uitmekaar te ken. In Pouoogmot word die veelvlakkigheid uitgestal as deel van die skeppende spel.

Die titel
Van waar hierdie titel? Die boek gaan dan nie oor motte nie!
    Ten eerste — die familie van pouoogmotte is een van die mooiste motsoorte in Suid-Afrika, die Engelse naam daarvoor is nie verniet Emperor Moths nie.
    Die verwysing in die teks dat hierdie motte nie monddele het nie, is korrek — die kosfaktor ontbreek dus hier, maar ook net in die motvorm. In daardie lelike voorstadium, die rusper, is hierdie goed peste. Een spesie val veral denneplantasies aan, ander is weer bekend is mopaniewurms (wat hier bo by ons ’n heerlike dis is).
    Van groter belang is egter dat hulle tydens hulle motstadium
  1. uiters mooi is (hulle is uitgedos in ’n baie mooi “kleuredrag” (sic),
  2. die motstadium is kortstondig, slegs twee tot drie dae lank, en
  3. hulle het as lelike ruspers ’n oormaat kos nodig om so mooi te word.
    Elkeen van hierdie vroue vertel van ’n oomblik waar hulle kortstondig bewondering ervaar het — en die mooi van klere speel telkens daarin ’n rol.
    Kyk ook na ou Grobbie wat amper nooit genoeg te (vr)ete kry om verby die lelike rusperstadium te beweeg nie — of word sy gestraf vir die paar oomblikke van mooie mot wees in haar jeug?
    Dit is ook gediertes wat kom en gaan — drie dae en weg is hulle, uitgeskryf uit die verloop van die verhaal? In daardie dae is hulle bowendien swaar, stadige vlieërs wat maklik kan prooi word van ander.
    U kan self die analogieë verder voer.
Die vertelproses
Ons het hier te make met ’n storie oor ’n storie oor ’n storie van mense se stories.
    Kyk net hoe word die skryfproses vooropgestel in hierdie teks.
    Die skrywende hoofkarakter verduidelik wat sy wil doen en hoe sy dit wil aanpak (p8). Later (p90) verduidelik sy haar probleem met Grobbie — hoe kry ek haar perspektief vertel?
    Heel teen die einde van die teks word die leser toegelaat om die ware geheim agter die storie te eien (pp 172 — 173): die teks modelleer sigself op die werk van die Ukiyo-e-skool, ’n baie ou Japannese kunstradisie.
    Let ook op die beskrywing van hoe ’n bonsai gesnoei word — dit is nie om dowe neute in hierdie teks ingelas nie!
    Tog, ten spyte van hierdie literêre truuks, gaan die storie nie verlore nie. Stem u saam?

Die mense in saal dertien
Het ons hier te doen met ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing? Dalk nie, maar dis wel ’n mikrokosmos van ’n samelewing wat die gemiddelde leser en/of skrywer van boeke sal ken.
    “Die gemiddelde” leser behoort immers tot die middel of hoër inkomste groep, en is vroulik! (Dis die mense wat Leeskringe laat plaasvind in Suid-Afrika! As dit nie was vir die aankoop van boeke onder hierdie “groep” nie, was die boekbedryf in Suid-Afrika in sy maai!)
    Bespreek gerus hierdie observasie van my deur die karakters wat hier verskyn van nader te beskou.

Versoening
Die skrywende vrou sê openlik aan haar man dat sy nie politiek wil bedryf in haar teks nie (p70), maar sy besef ook dat sy nie kan wegbly hiervan nie.
    Abraham H. de Vries het so ’n ruk gelede tydens ’n radio-onderhoud gesê dat die WVK meer gereeld moes luister na die stories wat reeds deur die land se kunstenaars vertel is.     Hoe sou dit strook, al dan nie, met wat in hierdie teks gebeur?

Klere
Kos en klere word dikwels in Gilfillan se werk aan sensualiteit gekoppel — gaan lees gerus maar weer haar vorige boeke.
    In hierdie teks word klere ’n metafoor vir die ervaringswêreld van mense (veral vroue). Tog weier die teks om te verval in ’n kettingwinkelbrosjure.
    Probeer die verskillende rolle van klere raaklees wat in die teks ter sprake kom: identifisering, kamoeflering, status, sensualiteit, emosionaliteit ...

’n Seksuele metafoor
Daar is in die laat tagtigs beswaar gemaak teen ’n alternatiewe popgroep met die naam “Die naaimasjiene.”
    Hierdie boek adverteer nou nie Singers, Berninas en Elnas nie, maar speel die seksuele spel ontsettend fyn. Hoeveel van u het daardie verwysing op p80 die eerste keer gesnap? (Ek het nie, dit was eers by ’n tweede lees dat ek dit raakgesien het) Dis juis omdat hierdie teks so fyn verweef is, dat woorde en uitdrukkings wat andersins kru mag voorkom, hier liefderyk en smaakvol op die oor val:

Sy lag teen sy bors en fluister dat sy ook haar sari gaan verruil vir jeans en ’n T-hemp, maar hy snoer haar mond met soene en ryg haar, steek vir steek, deeglik teen hom vas.

You are what you wear
Hoe graag gebruik kettingwinkels nie sulke frases om van ons robotjies te maak wat almal eenders wil aantrek nie? Maar toe iemand eendag vir Geraldine Stutz vra: “What is the difference between fashion and true style?” was haar antwoord: “Fashion says ‘me too’ and true style says ‘only me’.”
    Hierdie frase geld ook boeke. Op die laaste bladsye erken die verteller dat haar soort teks nie ’n blitsverkoper is nie, maar dan: is dit nie wonderlik nie om in ’n see van hygende pienk buiteblaaie, of mense wat mekaar probeer uitoorlê met vloekwoorde per bladsy, só ’n boek raak te loop wat (a) ’n baie lekker sensuele storie vertel, en (b) meditatief en fyn uitgewerk is?
    Vloekwoorde, buitehuwelikse seks, vrouekwale en die politiek is alles deel van ons samelewing. Gilfillan neem dit waar en maak dit deel van haar teks. Soos ’n ware kunstenaar konsentreer sy nie net op die pienk sonsondergange nie, maar weier terselfdertyd om aan goedkoop sensasie toe te gee.
    Kyk gerus of u met my saamstem.

Goeie kos en gasvryheid
Gilfillan is een van die skrywers in Afrikaans wat raakgesien het ’n storie is soos ’n ete: baie mense maak dieselfde dis, maar nie almal maak dit eenders en ewe keurig nie.
    Daar is verskeie verwysings na kos in hierdie teks, soos in haar ander werke. Een van die mooiste voorbeelde van hoe kos en skryfwerk meng, lê teen die einde van die teks: “dat meneer Yashimoto nog net hotelle gesien het en dat hy uitgehonger is vir ’n bietjie huislikheid” (p170). Die skrywende vrou het dan nie baie in haar huis nie, maar: “Waar dit ontbreek aan substansie, sal sy moet vergoed met atmosfeer” (p171).
    Weer probeer die teks nie pretensieus wees nie: Vroeër (pp145 — 147) is daar inderdaad oordaad in die geregte wat bedien word.
    Dit gaan egter in die kookkuns en in die skryfkuns oor die hoe, ewe veel as oor die wat ...

Ander tekste
Ek sou aanbeveel dat u die teks self raadpleeg om uit te vind watter boeke ter aanvulling gelees kan word — dit verklaar baie openlik dat daar aangesluit word by ’n reeks bekende boeke uit die Engelse literatuur. Die meeste, indien nie almal nie, is al by verskeie geleenthede heruitgegee en behoort by ’n goeie boekhandelaar of dorpsbiblioteek verkry te kan word, of u kan op Kalahari.net gaan rondloop — ek is seker u sal hulle daar kry!
    Net een vragie: hoeveel van u het hierdie speletjie raakgesien? Suster Precious lê en lees aan Die reise van Isobelle, die teks van Elsa Joubert wat met die Hertzogprys bekroon is. Dit word heel terloops genoem — maar gaan kyk gerus hoeveel ou missies Pretoors se storie oor haar rok ooreenstem met die storie van Agnes by die Voortrekkermonument? (Joubert 1995: 226 — 227).
    Nie net anker Gilfillan dus haar teks aan die wêreldletterkunde en Japannese kuns nie, sy soek ook ondersteuning in die Afrikaanse letterkunde vir moontlike kontensieuse voorvalle ... JM Gilfillan se Pouoogmot is in 1997 by Human & Rousseau uitgegee, terwyl Elsa Joubert se Die reise van Isobelle in 1995 by Tafelberg verskyn het.

Lekker lees! En stuur asseblief vir ons u programme en/of nuus oor u leeskringaktiwiteite.

Izak de Vries

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.