|
Alexander Strachan: Die jakkalsjagterChris van der Merwe In sy klassieke teks oor die Suid-Afrikaanse oorlog in Angola, n Wêreld sonder grense, beeld Strachan die lewe van die machosoldaat uit n harde lewe van drank, geweld en onderdrukte emosies, maar ook van sensitiwiteit en innerlike verwonding. Baie van hierdie elemente is weer eens te bespeur in sy roman Die jakkalsjagter (1990). Die sentrale karakter is n man wat ontbied word om n jakkals te skiet op die plaas van n weduwee met twee dogters. Dit gaan egter nie in die eerste plek om n letterlike jakkalsjag nie, maar eerder om die konfrontasie van simboliese jakkalse wat die man se innerlike wingerd verniel. Die jakkalsjagter is n skrywersfiguur wat terugkyk op traumatiese gebeurtenisse uit sy verlede en wat dit opteken en omvorm tot n boek. Wat die jagter opteken, is uiteindelik die roman van Strachan; sodoende word n verband tussen die skrywer en die hoofkarakter gelê. Dit is slegs een van vele verbintenisse tussen karakters en situasies wat in die loop van die roman tot stand kom die verhaalstruktuur is soos die Russiese poppies wat die een binne die ander pas, en wat n mens een na die ander kan uithaal tot n hele stel soortgelyke poppe sigbaar is. Die boek bevat n hele reeks variasies op n tema: die tema van die jagter wat terselfdertyd prooi is, die verwonder wat self verwond is; en dit is n boeiende spel vir die leser om hierdie Russiese poppe te herken en uitmekaar te haal. Die verklaring vir die skrywer-karakter se gedrag is in n groot mate in sy jeug geleë in die jeug-episodes heet hy Lenka. Dit blyk dat die roman uit n ryke verskeidenheid variasies en alter egos bestaan. Die duidelikste verbintenis van die hooffiguur, die jakkalsjagter, is met n ander jakkalsjagter in die roman, die jakkalsjagter wat die hoofkarakter se plaas besoek het toe hy n kind was. Tydens daardie besoek moes die jakkalsjagter se jaghond geskiet word omdat die hond onder die skape begin vang het. Hier het ons duidelik die tema van die jagter wat die getroffene word. Die een jakkalsjagter is verbind met die ander; albei is verbind aan Lenka; die sterwende ou man is n tipe visioen van Lenka se toekoms; die twee onderwyseresse, die een hard en vreesaanjaend en die ander vroulik en verleidelik, is alter egos van Lenka se pa en ma. Lenka word verbind met die jaghond sowel as met die jakkals; alles is uiteindelik aan alles geskakel. Dit is nie net mans wat jagters is nie, maar ook vroue. Die skrywer se moeder, Magda, het belangstelling in haar heelwat ouer man verloor en het n seksuele begeerte na die jakkalsjagter. Magda is soos die jaghond wie se jagtersinstink nie kan onderskei tussen jakkalse wat hy moet jag en skape wat hy nie mag jag nie. So ook kan die moeder nie haar seksuele drif beperk tot dit wat toelaatbaar is nie, naamlik seks binne die huwelik. Die tema van oorlog, wat so prominent is in n Wêreld sonder grense, is ook hier aanwesig. Die skrywer dink terug aan n insident toe hulle n vyand agtervolg het, en nog eens kom hier die patroon te voorskyn dat die agtervolgers aangeval word die teenstelling tussen agtervolgers en vlugtelinge word dus opgehef. Die temas en motiewe smelt ineen: op p 30, waar vertel word van die agtervolging tydens die oorlog, gaan n skoot af, en dan is dit n hond wat getref word. Hiermee word die motiewe van die oorlog en die jakkalsjag met mekaar verbind, en ook met die psige van die verteller. Die lewe self is vir hom n jagtog, n oorlog, gekenmerk deur vervolging, verwonding en vernietiging, met agtervolgers en agtervolgdes wat steeds rolle omruil en ten slotte nouliks van mekaar te onderskei is. Op p 104 word die siening van die Russiese semiotikus Jurij Lotman aangehaal, dat die grens die belangrikste eienskap van n ruimte is. In Die jakkalsjagter gaan dit egter juis om die deurbreking van grense. Verskillende tye uit die man se verlede word ineengeweef deur assosiatiewe skakels die een ruimte vloei in n ander; die een karakter versmelt met die volgende; alles is verstrengel in die gedagtes van die skrywer-verteller. Die werklikheid wat hy weergee, is n geprojekteerde werklikheid, waarin hy sy eie konflikte indirek weergee deur die karakters en verhoudings wat hy skep. Die werklikheid van die roman is n omvormde werklikheid, n verbeelde werklikheid. Hierby kom dat dit n tekstuele werklikheid is, met ander tekste as basis en n teks as eindpunt. So lees die skrywer se ma, Magda, byvoorbeeld n boek oor Bruce; dit word waarskynlik later deur die skrywer gelees, en lei tot die skepping van die Bruce-karakter van sy eie verhaal. Die skrywer stel belang in die woord palimpses, en dit is nie verbasend nie, want sy eie boek is n palimpses, n teks met onderliggende tekste wat op n verdoeselde wyse daarin aanwesig is. Die skrywer is op reis, en dit is n reis met verskillende fasette. In die eerste plek is dit n tekstuele reis, n reis na samehang, na singewing uit die verskillende fasette van die ervaring wat weergegee word. Verder is dit n reis na n nuwe begin, nadat die verhouding met die mank dogter van die weduwee op niks uitgeloop het nie. Dit is ook n reis na die verlede, waarin die konfrontasie van wat agter lê, helderheid moet bring vir die pad vorentoe. n Sentrale aspek van sy reis is die reis na Gillian dit is n reis agtertoe sowel as vorentoe: hy herinner hom sy eertydse huwelik, hy dink aan die briewe wat hy van Gillian ontvang het (of verbeel hy hom dit?); maar hy gaan ook na haar in n poging om n nuwe toekoms te skep. By haar aangekom, vind hy n ander man, Albert, by haar; die patroon van die onvervulde liefde word dus herhaal. Die man se reis beweeg in n voorwaartse en agterwaartse lyn; en bowenal vorm sy bewegings n sirkel van vergeefsheid. Die roman is n kragtoer, onder andere omdat Strachan so goed daarin slaag om deurentyd die spanning vol te hou in n werk waarin dieselfde patrone steeds herhaal word. Die spanningslyn wat geskep word, werk na agter en na voor: die leser word steeds aan die raai gehou oor die verlede, omdat slegs n brokkie inligting gegee word, en veel meer verswyg word; ook wonder die leser of die karakter daarin gaan slaag om n nuwe verhouding in die toekoms op te bou. Belangrik is verder die estetiese spanning wat geskep word deurdat die leser soos n speurder al die verhaaldrade en temas met mekaar moet verbind. Agter alles wat gebeur, is die raaisel van waarom die skrywer-karakter nie rus kan vind nie. Hierdie raaisel word reg aan die einde opgelos wanneer die karakter sy geweer op sy vader rig. Agter al die konflikte is met ander woorde n onopgeloste verhouding met sy ouers, veral met sy pa: die vader wat meestal afwesig is, en as hy aanwesig is, die sweep hanteer, is Lenka se fundamentele probleem dit veroorsaak n onoplosbare innerlike verskeurdheid. Hy is die sensitiewe kind wat met sy ma simpatiseer en sy pa haat; maar hy begeer ook om die sterk, manlike karakter te wees wat met die sweep slaan, wat skiet en wat vrees inboesem; hy is die manlike jagter sowel as die sensitiewe slagoffer. Die roman eindig met die woorde: Hy het weggery in die reën. Hiermee is die afskeid van die hoofkarakter voltrek sy verblyf op die plaas van die weduwee het tot n einde gekom, ook sy konfrontasie van die verlede, van die moontlikhede van die toekoms; en verder is sy verhaal voltooi. Die motief van die reën hang aan die een kant saam met n stemming van droefgeestigheid by n nuwe afskeid; aan die ander kant is die reën n simbool van vrugbaarheid: die droogte is verby, die ervaring het tot n kreatiewe einde gekom met die tot stand bring van n skeppingswerk. Die oplossing vir die jakkalsjagter se konflikte sou daarin geleë kon wees om vrede te maak met sy vader en sy moeder, en daarmee saam om die sensitiewe sowel as die harde kante in hom te aanvaar en dit is juis wat in die skrywer se verhaal gebeur, waarin daar ten slotte n deernis en n identifikasie met ál die karakters, in hulle verskeidenheid, tot uiting kom. Die versoening vind plaas deur die teks: die malende kringloop van onsekerheid is herskep tot n romanwêreld waarin elke onderdeel waarde besit. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |