Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

KKNK 2004: Die stiltes tydens die storm

Koos Kombuis

Een minuut stilte vir die palmboom wat raakgeslaan is deur weerlig in die middel van Oudtshoorn pas na die aanvang van die fees.

Verspreide donderbuie. Ja, inderdaad, as hierdie Oudtshoorn-fees aan iemand behoort het, was dit Amanda Strydom. Sy het die tema bepaal, sy het die luim geskep, en sy het selfs die weer reg voorspel. Sy het ook weggestap met twee uitsonderlike toekennings: ’n Kanna en ’n kompliment van Zebulon Dread. Nou ja, om ’n Kanna te wen, is moeilik genoeg, maar om ’n kompliment van Zebulon Dread te kry is feitlik onmoontlik!

Heel gepas is Amanda die eerste mens wat ons raakloop pas nadat ons ons tasse begin uitpak het die eerste middag. Sy SMS ons al toe ons die dorp binne ry. “Kom asseblief na ons huis toe,” laat Kannetjie haar weet. “Die kinders moet gevoer en gebad word, alles is deurmekaar, en ons babysitters kom eers môre.” “Goed so,” sê Amanda. ’n Uur later warrel sy by die voordeur van ons gehuurde huis in, gee ons kinders elkeen ’n drukkie — sy is immers klein Marleentjie se peetma! — los vir ons ’n gratis eksemplaar van haar bundel Kaalvoet, en woerts weer uit.

Na Amanda se blitsbesoek is ons sommer in ’n goeie bui, en toe ’n verslaggeefster van Die Burger kort daarna bel, sou ek nooit in my wildste drome kon voorspel dat dit sou lei tot die eerste van verskeie skokke — sowel aangenaam as onaangenaam — in hierdie feestyd nie.

“Kom poseer asseblief vir ’n foto saam met Dowwe Dolla in die hoofstraat met jou kitaar,” pleit die vrou. “Ons het dit nodig vir môre se voorblad.”

Ek weeg vinnig die opsies teen mekaar op. My vrou alleen los met twee moeë en moeilike kleingoed terwyl ek my motor probeer maneuver hoofstraat toe om eindelik parkeerplek te kry drie blokke weg, dan met my kitaar in die hand — ’n vanselfsprekende teiken vir hordes handtekeningjagters — my weg te probeer baan na Die Burger se fotograaf, wat beslis nie net een foto sal neem nie, maar ’n hele rol. Dan weer terug kar toe. Dus: ’n uitstappie van minstens vyf en veertig minute.

“Dis onmoontlik,” sê ek. “Maar dalk kan my vrou iets uitsort; praat maar gou met haar, sy’s in charge van logistics.”

Met haar gebruiklike effektiwiteit kom Kannetjie tot ’n kompromie met die joernalis: hulle kan my en Dowwe Dolla saam afneem, maar dan moet dit by ons huis gebeur.

Tien minute later bel Die Burger weer: “Ons is op pad om Koos te kom optel vir die shoot.”

“Niemand kom tel vir Koos op nie,” probeer Kannetjie die misverstand opklaar. “Die foto word hier geneem of glad nie.”

Die voorblad-promosie is toe blykbaar wel gedoen — die volgende oggend pryk Pieter Smith saam met Dowwe Dolla op die voorblad van Die Burger — maar in die proses moes ons iemand in die redaksionele kantoor hewig afgepis het, want ’n dag daarna verskyn daar ’n stinkstorie op bladsy drie (net onder ’n berig oor die Beckhams se huweliksbootjie wat aan ’t sink is):

    Gerugte wil dit hê dat Koos se vrou vierkant op sy kop sit. En te oordeel na die reaksie toe ’n verslaggewer van Die Burger op die fees probeer het om ’n foto van hom saam met ’n ander bekende kunstenaar te reël, steek daar dalk waarheid in. Koos het die telefoon geantwoord en die verslaggewer na sy vrou, Kannetjie, verwys omdat sy dié soort sake hanteer. Sy vrou het dit duidelik gestel dat sy besig is om die kinders kos te gee, wat beteken dat haar man nié afgestaan kan word vir ’n foto weg van die huis waarin hulle vir die duur van die fees tuisgaan nie …

Twee sekondes stilte vir die kunstenaar wat nee gesê het vir gratis publisiteit omdat hy besluit het om eerder sy vrou te help met die kinders. Is daar dan fout met sulke prioriteite? Is Die Burger dan nie juis ’n koerant wat al veertig jaar lank gesonde blanke gesinswaardes voorstaan nie?

Steve Hofmeyr hoor van die besigheid, en laat my weet met SMS-boodskappe en voice mail: “Moenie dat die boggers met jou familie sukkel nie. Nou weet jy wat hulle al jare met my doen.”

Ek vra hom of hy kans sien om vir my onthalwe ’n joernalis te gaan donder, aangesien ek te besig is, maar hy laat weet skertsend dat hy vyftig kilometer uit die dorp uit bly, en dis te ver om te ry.

Na hierdie berig voel ek iesegrimmig. Ek probeer myself opbeur deur my seëninge te tel. Vir die eerste keer in jare praat ek met myself soos ’n prewelende skisofreen. Ek sê vir myself goed soos: “Ja, dis seker tot ’n mate waar. Jou vrou sit wel op jou kop. Maar at least het sy gewoonlik ’n rok aan.” Of: “Onthou, dit kon erger gewees het. Jy kon met Sunette Bridges getroud gewees het … (vir ’n rukkie, altans).”

Fok die twee sekondes stilte en gee my liewer ’n Kanna-toekenning soos vir Amanda.

Op soek na iets om my op te beur, grawe ek deur my cubbyhole en ontdek, tot my groot vreugde, ’n CD waarna ek al lankal wou luister maar nog nooit die tyd voor gehad het nie. Andries Bezuidenhout het my die eerste keer daarvan vertel, en ook ’n pragrubriek daaroor geskryf op LitNet. Dis die opvolg-CD van die wonderlike Diep Karoo, deur my ou vriend AD (Albert de Vos), en dit heet Wolfman. Ek luister dit as ek dorp toe ry en terug na en van my eie vertonings. Die CD is ongelukkig nie heeltemal so goed soos Diep Karoo nie, maar een liedjie — track 11 — vang my vas, en ek luister dit oor en oor:

    Die plakkate is teen die vensters
    ’n Ballon dryf in die lug
    Deur die tralies van die stede
    Het ons na die Klein Karoo gevlug
    Afrikaners raak plesierig
    Hulle speel en wroeg en lag
    Ek loop deur die strate van Oudtshoorn
    Ek soek na Breyten Breytenbach.
Daar is iets aan die liriek en die vertolking wat ’n mens vasvang ten spyte van die tekortkominge in AD se stem. Ek bedoel, let’s be honest, hierdie ou kan nie eintlik sing nie, hy praat. Alles is ’n kwart-toon van die wysie af. In party van die ander liedjies laat hierdie gebrek alles platval; maar in sy liedjie oor Breyten Breytenbach dra die atonaliteit dramaties by tot die algemene gevoel van surrealistiese verlorenheid, die desperate soeke na iets of iemand, na Godot, na Mr Green, na die Goue Vlies, na wie of wat ook al vir die sanger, of vir ons as mense en as Afrikaners, die simbool is van al ons diepste, onuitgesproke verlangens.

Track 11 van Wolfman word my anthem vir die Oudtshoorn-fees van 2004.

Waar de fok is Breyten anyway?

Intussen het dinge begin normaliseer (indien enigiets tydens die KKNK as “normaal” bestempel kan word). Ons babysitter daag op uit Stellenbosch, so ook my skoonma uit Windhoek. Laasgenoemde is ’n genie wat huis-opruim betref. Wanneer my skoonma teenwoordig is, durf mens nie ’n halfvol glas wyn iewers laat rondstaan nie. Sy gryp dit, was dit uit met seep, en sit dit terug op die rak. Met ander woorde, sy skep sekere logistieke probleme, maar as jy haar op die regte tyd uit die kas uit haal (soos die spreekwoordelike Italiaanse oumatjie) en aanwend — byvoorbeeld tienuur die oggend — bied sy ook wonderlike oplossings.

Twee en ’n half minute stilte vir die rare minderheid getroude mans wat bevoorreg is om goeie verhoudings te geniet met hulle skoonma’s.

Ek het ook die voorreg om ’n ekstra konsert of drie saam met die Bloemfonteinse orkes ddisselblom te doen. Soos my eie show, word ook hierdie konsert na die openingsaand uitverkoop, ten spyte van ’n teleurstellende resensie in Krit.

“Koos is ’n risiko op die verhoog,” skryf ’n onbekende persoon met die unieke en ietwat eklektiese naam van Angola Badprop.

Ek kry hierdie keer nie SMS’e van Steve nie, maar wel van lojale fans. Mense keer my op straat voor om te sê hoe unfair die resensie was.

Ek weet nie mooi wie om te glo nie. Dieselfde konsert is goed ontvang ’n jaar tevore by die Volksblad-fees. As daar wel gebreke in die regie is, hoekom is mnr Badprop sover die eerste en enigste persoon wat dit kon raaksien?

Uit dure ondervinding weet ek dat negatiewe resensies, selfs oordrewe negatiewe resensies, dikwels kernwaarhede bevat. Waar daar ’n rokie is, is daar soms ’n vuurtjie. Probleem is, dis die tweede jaar in ’n ry dat Krit dit met my doen. Is dit toeval of is dit ’n conspiracy? Uit die aard van die saak is ek ook nog ’n bietjie broos na die afranseling in Die Burger.

O wel, nou weet ek hoe Fritz Gaum gevoel het nadat Rapport foto’s van sy duur huis geplaas het verlede jaar. ’n Gevoel van Christelike empatie en erbarming neem hom besit van my. Shame! Wie sou ooit kon dink dat ek en die baas van Radiokansel onsself saam in dieselfde bootjie sou bevind? Die weë van die Here is inderdaad hoër as die weë van die mens.

Ek gaan doen shopping in die Boekeparadys om my te help vergeet van my ontstellende begeerte om vrede te maak met dominee Gaum. Daar koop ek, onder andere, vir my Etienne van Heerden se boek Die Stilte na die Boek, want dit het die mooiste omslagontwerp in Afrikaans sedert Opperman se Komas uit ’n Bamboesstok.

Ook ontdek ek tot my uiterste verbasing dat Tydskrif vir Letterkunde nog bestaan (of vir die doeleindes van die fees uit die dode opgewek is). Die hoofartikel deur Francis Galloway bied interessante perspektiewe op die verhouding tussen Breyten Breytenbach, die volk en die media (’n emosionele toutrekkery wat vergelyk kan word met Richard Burton en Liz Taylor se huwelikslewe, of selfs met die uitmergelende, feitlik eindelose sikliese patroon van aanvaarding en verwerping tussen die Israeliete en hul Verbondsgod):

    Vir ’n dekade reeds is Breytenbach die teiken van sistematiese manipulasie en van ’n magspel waarbinne hy herhaaldelik tot sondeboek (of swartskaap) geslaan word. Hy weerspieël egter self ook die verwarring en polarisering in die Afrikanergemeenskap met sy wisselende keuse tussen radikale betrokkenheid en intellektuele afstand; deelname aan die politieke werklikheid en die fiksionele verwerking daarvan; die speel van ’n verteenwoordigende rol binne subsisteme en die verset daarteen. Hy bly die hegemonie uitdaag, maar laat ook by tye toe dat hy geko-opteer word ten einde tydelik tuis te kan kom. Hy is een van ’n klein groepie kunstenaars wat daarin kon slaag om ’n hele gemeenskap tot selfondersoek te dwing en van ideologiese aannames en kunsopvattings rekenskap te laat gee.
Ek besef dat ek, as uitvoerende kunstenaar wat deur die pers sleggesê word, voor ’n logiese keuse staan. Op ’n minder dramatiese skaal is dit dieselfde keuses waarvoor Breyten, kort voor hy sy laaste bande met Suid-Afrika verbreek het, gestaan het. My onrealistiese toegeneentheid teenoor Fritz Gaum word vervang deur ’n gelukkig meer polities-korrekte heimwee en behoefte tot versoening met Breyten Breytenbach.

Ek tob oor hierdie gewigtige en hartseer onderwerp — “Breyten en die volk! Die volk en Breyten!” — elke keer wanneer ek dorp toe ry en terug tussen hordes dronk mense deur, terwyl my windscreen wipers swiep-swiep-swiep soos die donderweerbuie kom en gaan …

Minstens drie minute stilte, twee daarvan vir Breyten en die orige minuut vir al die kunstenaars en musikante wat vernietig is deur onverwagte swak resensies in vanjaar se Krit: DNA Strings, Anna Davel, daai tannie van Liriekeraai, Deon Opperman, en Kurt Darren. Nee, wag. On second thoughts, die resensie van Kurt Darren was so ontsettend snaaks dat mens hulle alles kan vergewe. Okei, net twee minute en vyftig sekondes stilte. Maar nog steeds. Here, DNA Strings! Hulle is veronderstel om fokken untouchable te wees!

    Ek dwaal in Jan van Riebeeck
    Raak verlore in Voortrekker
    My Sarie Marais is in die wolke
    Dis nie van Witblits nie, dis iets sterker
    Is daar ’n storm aan die broei? Ek weet nie
    Want die wind waai nou nog sag
    Ek loop deur die strate van Oudtshoorn
    Ek soek na Breyten Breytenbach.
My gedagtes dwaal: is daar ’n denkfout wat mense soos ek geneig is om te maak met betrekking tot die rol van die media in ons lewens? Ons, wat deel van die Struggle was, wat as ’t ware die rol van aktiviste vertolk het, al was sommige van ons so gerook dat ons skaars geweet het wat ons doen? Ons ly almal tot ’n mate aan die “us and them” -patologie. Ek het eers gedink net Dagga-Dirk is skuldig daaraan, maar wat as ekself ook hieraan ly? Wat as selfs ’n groot gees soos Breyten die pot misgesit het?

Dis ’n verskriklike gedagte. Ek is bang om die logiese konsekwensies daarvan tot op die einde toe deur te voer. Want sê nou maar dis waar? Die implikasies van so ’n ontstellende gedagte sou beslis aanleiding gee tot ’n besonder lang LitNet-artikel wat die ganse Establishment tot in sy fondamente sal skok, die Alternatiewe Establishment inkluis. En ek is die laaste ou wat die boat will rock. Ek het immers ewe veel gevestigde belange by beide.

    Na die blou van ons hemel staar ek
    Sonder om iemand te verwag
    Ek loop deur die strate van Oudsthoorn
    En soek na Breyten Breytenbach …
Fok die drie minute stilte, maak dit sewe jaar. Met ’n paar daarvan opgeskort vir goeie gedrag.

Op die derde of vierde dag van die fees — dit is moeilik om te sê presies wanneer — loop ek my ou pel Kleinboer raak in die Kannakamer op die derde vloer van die Seppie Greeff-gebou waar hy sit en klets met Jeanne Goosen. Hy het dieselfde oranje windbreaker en swart Jack Daniels-T-hemp aan wat hy op sy Voorblad-onderhoud gedra het.

“Ek is hier vir ’n skrywersgesprek môre met Eben Venter, maar ek het nog nie sy boek gelees nie,” bieg hy. “Ek woon in ’n gastehuis in die bruin deel van Oudtshoorn, en ek weet nog nie of ek daarby sal uitkom nie.” Hy is ’n paar drankies voor my, dit kan ek sien. Jeanne Goosen is ook ’n paar drankies voor my, maar met haar is dit moeiliker om dit raak te sien, want sy lyk altyd presies dieselfde, en haar gesigsuitdrukking verander nooit nie. Sy laat my altyd dink aan die stil, sterk helde van die silwerdoek, soos Charles Bronson. Nie eers haar lippe beweeg as sy praat nie. Ek is baie dankbaar dat sy en Kleinboer mekaar gevind het — hulle maak ’n pragtige dog formidabele paartjie.

Die ontmoeting herinner my egter: ek moet self ook ’n skrywersgesprek voer, binne ’n dag of twee, met Marlene van Niekerk. (Marlene van Niekerk, vir dié wat nog nie weet nie, is die denkende leser se Jeanne Goosen.)

Meteens is ek kniediep in ’n nuwe penarie. Hoewel ek Triomf gelees het, sukkel ek my al ’n paar dae lank dood met haar kortverhaalbundel. Sedert Hettie Scholtz so gaaf was om vir my ’n eksemplaar van die boek te stuur, het ek dit al etlike kere opgetel en neergesit. Nog skuldgevoelens word bygevoeg by my reeds bestaande skuldgevoelens. Ek maak ’n punt daarvan om die volgende dag — my enigste af dag tydens die fees — die hele bundel deur te lees.

Maar die volgende dag gebeur ander dinge. Kannetjie het vir ons ’n treinrit geboek na ’n wynlandgoed toe, iets om die kinders te vermaak en sommer ook vir ons te plesier, want die kinders hou van treinry en ons hou van wyn.

Dis ’n geweldige avontuur, heerlik om uit die dorp uit te kom vir die eerste keer in meer as ’n honderd uur, heerlik om die aand nie ’n sound check te hê nie. Simon pass uit op die trein, maar Marleen kraai van plesier.

By die wynlandgoed aangekom, word ons verras deur ’n kat wat met skeel oë in die middel van die driveway lê. “Die kat is dronk,” verduidelik die boer se vrou. “Hy’t vroeg vanoggend al ons oorskiet-cocktails van gisteraand uitgedrink in die kombuis.” Genade! Ek probeer die arme dier streel, maar sy een oor bly met ’n punt in die lug staan. “Dit laat my dink aan die keer toe my hond ons dagga-sop-pot uitgelek het,” begin ek my skoonma vertel, maar sy is hardhorend, en Kannetjie por my betyds in die ribbe. “Dis nie ’n storie wat my ma sal waardeer nie,” sis sy dreigend. Maar my babysitter dring aan op die volle waarheid, en ek vertel haar ’n geBaudelairiseerde weergawe, want sy is net dertien jaar oud.


Koos saam met sy baby-sitter, Anje Smit (13 jaar oud), van Stellenbosch.

Voor ons terugry, gee die boer vir my twee bottels witblits present. “Dis vir al die promosie wat jy al vir ons gedoen het,” verduidelik hy. Ek kan nie onthou dat ek al ooit enige promosie gedoen het vir die betrokke wynlandgoed nie, maar aanvaar die geskenk sonder teëstribbeling. Die een bottel witblits is vol groot rooi chili’s, en die label voorop sê “Gatskieter” .

Vyf minute stilte.

Ek kan nou nie die Gatskieter-witblits die skuld gee nie, maar weens ’n sameloop van buitengewone omstandighede — onder andere ’n uiteet-partytjie saam met Kristoe Strauss en Abel Kraamsaal — of was dit ’n ander aand? — gebeur dit so dat ek eers baie laat die aand weer uitkom by Marlene van Niekerk se kortverhaalbundel. Hoewel die openingsverhaal nog steeds nie vir my sin maak nie, vind ek die titelverhaal — ’n semisurrealistiese beskrywing wat sy noem “Die vrou wat haar verkyker vergeet het” — heel boeiend. Maar dan haak ek finaal, onherroeplik, vas by die volgende verhaal, ’n ongelooflike stuk (skynbaar) Kafka-geïnspireerde prosa met die naam “Die papegaaiplanter” . Vergewe my as dit buite konteks klink, maar ek móét eenvoudig ’n lang paragraaf daaruit aanhaal:

    Vir die eerste keer het ek en die papegaaiplanter die vermoë van ons rektor, naamlik om onder die mees hemeltergende situasies ter sake te bly, voet by stuk te hou, in werking gesien. Hy het ’n bondel papiere voor my en die papegaaiplanter se neus gedruk. “Watse gekonkel word hier in die mou gevoer? Hier is ’n kennisgewing van ’n polisiedans in die personeelvereniging se saal, ’n tekening van ’n kiepersol, advertensies vir volstruisbiltong te koop in die Staatsleerdepartement, gratis papsmere en ’n meubeluitstalling van Morkels in die voorportaal, alles met die universiteitswapen daarop ingekleur, en dan vasgespeld daaraan, vasgespeld asof dit enige lig op hierdie beuselagtighede moet werp, ’n aanhaling uit ’n studiegids van Onderwysmetodiek: ’In baie opsigte is die doseer van akademiese vakke net soos om iemand te leer om fiets te ry …’ en dan het iemand anders hierby geskryf: ’Wetenskap is gewoontevormend’ en ’alle eekhorings is wit.’” Die rektor was rooi in die gesig van verontwaardiging.

Dié nag kan ek nie slaap nie, want ek lees die beste stukke van hierdie storie oor en oor. Dit herinner my aan alles wat ongelooflik en skokkend is in Afrikaans. My eerste kennismaking met Katastrofes van Breyten Breytenbach. Kleinboer se ongeëwenaarde jagsgeit vir woorde en vleis. Die verstommende feit dat Wessel Pretorius nog leef. Die weirdste song wat nog ooit in Afrikaans geskryf is (“Oom Kobus se plan” , op die CD 100% Skuldgevoelvry deur Kobus!). Of dan, terwyl ons op die topic is, die tweede weirdste song, die een wat ek elke dag luister, die een wat ek ook die volgende dag luister op pad na my gesprek met Marlene van Niekerk:

    Ek is Boer, ek is Brit, ek is vry en vreemd
    Ek is al die kleure van die reënboog nou
    Ek is lig soos die son, en is donker soos die nag
    Ek loop deur die strate van Oudsthoorn
    En soek na Breyten Breytenbach …
Marlene is soos ek haar onthou van skool af: eksak dog innemend, sterk van opinie dog weerloos (wanneer sy kies om so te wees). Sy is ook uit die aard van die saak heelwat beter voorbereid op die onderhoud as ek, want niemand het vir haar die vorige dag ’n bottel Gatskieter present gegee nie. Om die waarheid te sê, sy het ’n hele aktetas vol van fotostate van my werk saamgebring.

Gelukkig stem ons oor alles saam — die feit dat ons onderskeie skryfwerk briljant is, ensovoorts — en haak net vas op twee punte: my ooridealistiese siening van kibboetse op die platteland, ’n sosio-ekonomiese droom wat sy sonder seremonie met logika platvee, en haar negatiewe resensie in Beeld van Vernon God Little, toevallig een van my gunstelingromans omdat dit my laat dink aan Beavis and Butthead sonder die prentjies. Marlene weet nie wie is Beavis en Butthead nie. Sy het ook nog nie Harry Potter gelees nie, want sy snap nie toe ek na Dan Roodt verwys as “Voldemort” nie (sy volstaan, saam met my, met “You Know Who” ). En na die tyd weier sy vir my vriende van Vonk ’n photo opportunity. Sy het haar standaarde, dié vrou. Ek besef vir die eerste keer weer iets wat ek al in my hart geweet het sedert ek haar probeer uitneem het vir ’n date toe ons nog saam op skool was: ek is bang vir Marlene van Niekerk. Liéf vir haar, maar báng. She’s one of the chosen few who will introduce Afrikaans to the international stage. Sy’s ’n genie der genieë. Don’t fuck with this woman. Don’t fuck with this woman. Mag dit ’n les wees vir You Know Who om ter harte te neem …

Don’t.

Fuck.

With.

This.

Woman.

Want sy is, op haar stil en innemende manier, meer macho as Charles Bonson.

Want sy sal George W Bush vir brekfis kan eet sonder om te burp.

Skaars ’n halfuur na my besielende onderonsie met een van die grootste skryfsters van Afrikaans word ek teruggegooi in die volle banaliteit van die fees. Ek moet ’n live interview doen met Radio Sonder Grense, in hulle karavaan voor een van die gratis verhoë, waar jong tannies met min klere en baie backtracks makabere partytjieliedjies sing waarvan die woorde almal rym. Ek noem op die lug dat ek so pas ’n paar minute tevore ’n SMS van Steve Hofmeyr gekry het waarin hy aandring daarop dat Krit ’n briewerubriek kry.

Tot ons groot verbasing word daar gehoor gegee aan ons betoog. Van die volgende dag af het Krit ’n briewerubriek. Hulle plaas, onder andere, ’n skreeusnaakse dog ideologies venuwende brief van Zebulon Dread waarin hy al sy kritiek van vorige jare teen die KKNK-fees terugtrek en uitbasuin dat dit ’n wonderlike geleentheid is, dat bruin mense moet ophou kla en meer deelneem, en dat hy wat Zebulon is, ’n “soort post-Apartheids-verstandhouding” met die Boere het.

Bravo, Zebulon!

Ek neem myself voor om, in een van my toekomstige Rapport-rubrieke, spesiaal te vra dat oom Paul se standbeeld op Kerkplein vervang moet word met een van Zebulon. (Normaalweg is ek ’n voorstander van die behoud van tradisionele monumente, maar in so ’n verdienstelike geval moet ’n mens dalk bereid wees om ’n uitsondering te maak. Want op ’n afstand, en teen die lig van die ondergaande son, lyk oom Paul en Zebulon presies eenders. En what’s more, dink net hoe dit You Know Who sal uitfreak!)

Die volgende dag fok Die Burger egter die hele versoeningsproses op en plaas ’n foto en byskrif van Zebulon Dread waarin hulle onder andere op subtiele manier die spot dryf met sy logge lyf.

Ek is van voor af woedend vir hierdie hardegat klein koerantjie van die Kaap. Dink hulle miskien hulle is die Son? Hoe durf hulle sulke platvloerse stories plaas? Dit bots met al hul ander rubrieke van hoë kwaliteit deur interessante skrywers soos Etienne Britz en Leopold Scholtz (selfs Joan Hambidge raak diep en welsprekend slegs, en alleen, wanneer sy vir Die Burger skryf!). Vir wat kan hulle ons robuuste ekslede van die Struggle nie ’n bietjie uitlos nie (ek praat nie van Joan nie, ek praat van Zebulon en myself)?

Hoewel ek steeds ernstig in denial is, dwing my gedagtes aanhoudend terug na dieselfde holruggeryde onderwerp: die problematiek van media en die kunstenaars.

Wie is finaal aanspreeklik vir die feit dat Breyten en Yolande nie meer gesien word op die strate van Oudsthoorn tydens die KKNK-fees nie? Is dit net Krit en Die Burger se skuld, of is daar ’n ander beginsel aan die werk hier?

Kunstenaars wat al lankal lid van die Establishment is, is geneig om te dink dat hulle verhewe is bo kritiek. Selfs Sheila Cussons, so lui die voorstedelike mite, was verbaas toe sy digbundelmanuskripte aan Tafelberg voorlê en hulle so wrintiewaar verbeteringe voorgestel het aan die teks.

En kunstenaars wat hul lewe lank buite die Establishment staan? Die ouens wat van onder af skop en vloek en raas?

Ons?

Ja, dalk is dit so: ons is skuldig aan ’n ander, dog soortgelyke soort elitisme. Ons kan nie onderskei tussen grondige kritiek en verraad nie. Wanneer iemand ons probeer wys op ’n swak skakel in ons kuns, sien ons dit as ’n kritiek op ons beginsels.

Ons dink ons is Jesus, want dis asof ons wil sê: “Wie nie vir my is nie, is teen my.”

Ek het Breyten se plays nooit gesien nie — dit was genoeg om die program vir Boklied deur te lees wat Fransi Phillips vir my gegee het. ’n Pretensieuse klomp gibberish. Ek moet dit sê, al was ek van meet af aan ’n fanatiese aanhanger van Breyten se digkuns, en al het ek sy idees oor die breër definisie van Afrikaners en Suid-Afrikanerskap met my hele hart ondersteun.

Is vaardigheid in die digkuns ’n vanselfsprekende waarborg vir sukses, sukses sonder enige vorige ondervinding, in die radikaal anderse genre van toneel? Hoe lank kan mens wegkom met sulke doelbewuste duisterhede? ’n Jaar? Twee jaar? Drie jaar? Etienne Leroux kon dit in die romankuns doen vir meer as twee dekades, goed (want nou eers begin tot denkende kritici deurdring dat amper al sy boeke flou herhalings was van sy een enkele meesterstuk, Sewe Dae by die Silbersteins).

Deesdae kan mens nie meer bekostig om jou lesers- en kykerspubliek te onderskat nie. Deesdae is daar ouens soos Angola Badprop. Genugtig. Hoe lank kan die publiek die gerugte ignoreer dat die reeks KKNK-aangevraagde Breyten-dramas op die nippertjie saamgeflans is deur los eposse en halfgebakte idees?

Breyten self het aan my erken in ’n persoonlike gesprek, enkele weke voor die laaste dress rehearsal van Die Toneelstuk, dat hy onvoorbereid voel, en dat daar werklik nie genoeg tyd was om al sy idees in ’n sinvolle geheel te laat werk nie. Hy het maar gehoop die dramaturge kry iets reg.

En toe kom opening night.

En toe noem Krit dit “’n draadtrekkery” .

Wat dit waarskynlik was.

Maar Breyten reageer asof Yolande ’n visum geweier is. Hy vat sy goed en trek; vir die laaste keer. Fok die Afrikaners. Uiteindelik.

Wat ’n tragedie.

Wat ’n monumentale misverstand.

Wat ’n Fokkop met hoofletter F.

Vyf minute stilte vir alle slim skrywers wat in hulle hele lewens nog nie één keer probeer het om ’n verstaanbare sitcom vir KykNet te skryf nie. Vyf minute stilte vir almal wat nog dink Leon van Nierop is ’n poes omdat hy vervolgstories doen vir Radio Sonder Grense. Vyf minute stilte vir die stille meerderheid Afrikaanse lesers wat nog nie Engelse boeke begin lees het nie omdat hulle te besig gehou word deur Leserskring se Omnibusse. ’n Hele halfuur stilte vir Bennie-Fritz ook, sommer net omdat hy ’n nice ou is al is sulke feite nie vir prof Kannemeyer belangrik nie.

Amptelik is hierdie die einde van my artikel. My slotsomme is gemaak, beide die Establishment en die Alternatiewe Establishment is geskok tot op hul fondamente. Chutney de Ridder gaan onseker wees van sy posisie. (Moenie worry nie, Chutney, solank jy ’n nice ou bly.) Die dilemmas van polities inklusiewe kunstenaars wat eksklusiewe kuns bedryf, is tot op die been oopgevlek sonder dat enige antwoorde gevind is. Die volgende paar jaar kan die Afrikaner op sy knieë dwing, of op sy gat. Ons beter vashou aan ons beginsels en ons muise. O sjit, amper vergeet ek, ek het nog nie die res van die fees beskryf nie. Ek het glad vergeet om te noem dat ek Amanda Strydom nie weer gesien het nie. Ek het vergeet om die ou verkiesingsplakkate te noem wat nog vir weke lank aan die lamppale sou hang, en pers en groen verkleur in die lig van die ondergaande son (veral Marthinus se gesig).

O ja, en natuurlik was ons by Kaktus, ek en Kannetjie en die kinders almal saam (maar nie my skoonma nie; sy het skuins gelê tuis). Miskien moet ek iets sê oor Kaktus. Ek skuld dit aan Carel Hoffman en Mishka, en ook aan Erns Grundling, wie se idee hierdie rubriek oorspronklik was, hoewel ek afgewyk het van die tema en hoewel ek belowe het om nie te vertel dat hy by die backstage-paartie was saam met Toast Coetzer se girlfriend nie. (Toast Coetzer! Dit herinner my aan nog iets wat gebeur het dieselfde aand, maar ek gaan dit nie nou verklap nie; ek sal wag tot ek uitgenooi word as gasskrywer van ’n episode van Isidingo.)

Ewenwel, ek sal Kaktus opsom in een of twee kort naskrifte. Hier is hulle nou:

Ns 1: Laat ek net eers verduidelik: uit die aard van die saak is dit moeilik om te verduidelik presies hoeveel van hierdie insigte aangehelp is deur die bottel twaalf jaar oue Chivas Regal wat Marlene vir my present gegee het. (Om van die Gatskieter liewer nie eers te praat nie.)

Ns 2: Die res van die fees was, soos ek dalk reeds gesê het, ’n jol. Ek het geweldig dronk geword tydens Kaktus op die Vlaktes (uiteindelik word hierdie paartie ordentlik georganiseer, met ’n propperse ontspanningsarea vir musikante agter die verhoog) en my hele bottel rooiwyn plus backwash omgestamp op die bak vleis wat die Brasse vannie Kaap veronderstel was om te kom eet na hulle show. Is ek dalk regtig ’n risiko op stage? En dalk selfs soms van die stage af?

O ja, en Kannetjie het daarin geslaag om die organiseerders van Kaktus om te praat om backstage passes te reël vir Steve Hofmeyr en sy band.

Ek en Steve het vreeslik kopstukke gesels terwyl die kwaito-ouens gesing het met hulle backtracks (of “blacktracks” , soos sekere ander musikante besluit het hulle dit moet noem), en, hoewel ek nou hoegenaamd nie kan onthou waaroor ons gesels het nie, weet ek dat ek op ’n stadium gesien het die Zen-filosoof Johan Sôhô Rossouw — die Vader alleen weet wie vir hóm ’n backstage pass gekry het — hou ons aandagtig dop. Eers na afloop van die fees sou ek besef hy was dalk eintlik besig om inligting in te win vir sy latere artikel in Die Burger oor die verband tussen die teenwoordigheid van eks-sepiesterre en algemene dronkenskap op die KKNK.

Wat vra jy? O! Of ek enige produksies van ander kunstenaars gesien het op die fees? Nee, natuurlik nie; soos ek elke jaar in my resensie van die KKNK skryf, is ek net daar vir die witblits. En vir die heerlike kameraderie van dronkverdriet saam met goeie vriende.

    In die verte flikker die vlamme
    Van gister se vreugdevure
    Eers was hier grafitti
    Nou net afgebreekte mure
    Ek voel so half leeg nou
    Al die heilige beeste geslag
    Ek loop deur die strate van Oudtshoorn
    En soek na Breyten Breytenbach.

(Tien jaar stilte voor die storm.)



LitNet: 3 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.