Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Mymering oor Afrikaanse leiers

’n Mens maak partykeer rare ontdekkings op jou eie boekerak. Soms val jou oog op ’n boek waarvan jy self vergeet het dat jy dit besit, of andersins doem ongevraagde herinneringe op as iets soos ’n ou skooljaarblad skielik onder ’n stapel kunsboeke uitskuif. Dit was inderdaad gister die geval met my. Ek figureer hoegenaamd nie in die betrokke jaarblad nie, want dit was die vyftigste herdenking van die skool se bestaan, en ruimte is eerder afgestaan aan die huidige hoofseun, asook hoofmeisie van die Meisieskool, en diverse Springbokke en ander BBP’s wat die skool in sy vyftigjarige bestaan opgelewer het. Juis vanweë die herdenking bevat die jaarblad ook boodskappe van die die Direkteur van Onderwys, die Administrateur van Transvaal, die Voorsitter van die Beheerraad, en selfs die destydse minister van onderwys, ene J.P. van der Spuy. Dit alles maak daarvan ’n fassinerende tydsdokument.

Wat my nou opval, is die naïewe verwagtinge wat al hierdie mense gekoester het oor die blink toekoms, nie net van die skool nie, maar ook van die Afrikaner, sy taal en sy kultuur. Prof. P.J. Nienaber, voorsitter van die Beheerraad, het die volgende te sê:

    Die skool se hoeksteen is gelê deur genl. J.B.M. Hertzog. Helpmekaar bly die hoeksteen van die vormingsplek van groot staatsmanne van die toekoms, want ons is geanker in ons volk se tradisies; groot geloofsmanne, groot onderwysmanne, want ons glo in Christelike en Nasionale onderwys; groot sportmanne, want ons glo in die Romeinse leuse: ’n gesonde gees in ’n gesonde liggaam. In die skoolsaal is daar ’n galery van ons seuns wat in die verlede gepresteer het; oor vyftig jaar sal die galery groter en indrukwekkender wees.

“Groot Afrikaanse staatsmanne” wat die skool sou oplewer? Ek ken nie sulkes nie. My twee beste vriende op skool — dit was ’n seunskool — het albei reeds geëmigreer: een is ’n advokaat of “barrister” in Londen, en die ander ’n reklameman in Melbourne. Daar was wel ’n Afrikaanse akteur of twee, en ’n aantal sakemanne, dokters, ens., maar wat staatsmanne betref, het die skool maar bedroë daarvan afgekom. Dit het nou by my die volgende reeks gedagtes laat ontstaan.

As ek die wêreldvreemde optimisme van die skooljaarblad vergelyk met die moeras waarin Afrikaners tans verkeer, die pessimisme, emigrasiepraatjies en donker gedagtes oor die toekoms, dan wonder ek: wat presies het verkeerd geloop? Hoe het ons hierin beland, en waarom kon dit nie anders gewees het nie? Ek dink al maande, indien nie jare nie, oor hierdie probleem, en het al gewonder oor die strukturele probleme van die Afrikaanse kultuur, die verwydering tussen skrywers en politici, tussen die kerk en die mense, tussen wit en bruin, en wat nog, maar kon tot dusver nie ’n bevredigende antwoord vind nie.

Maar miskien is die antwoord voor die hand liggend, en staan dit juis geskryf in die skooljaarblad wat ek sekerlik nie in standerd sewe toe dit verskyn het, met dieselfde insig as nou kon lees nie. Dit het naamlik te make met die idee dat ’n skool, of dan ’n gemeenskap in die breër sin, “staatsmanne” moet oplewer.

Ek weet dat daar onlangs al beweer is dat die gebrek aan leierskap onder Afrikaners tans ’n voordeel is omdat dit hulle sal vrywaar van verdere politieke foute, maar hierdie logika is myns insiens foutief. As jy klaar politieke foutiewe gemaak het as gevolg van swak leierskap, dan het jy soveel te meer beter mense nodig om die gevolge daarvan te hanteer.

Met al die sportfoto’s in die jaarblad van Springbokke wat die skool opgelewer het, en so meer, kon ek ook nie help om te dink dat ’n klein gemeenskap soos dié van Afrikaanssprekendes kwalik gouemedalje-wenners by die Olimpiese Spele gaan oplewer op dieselfde skaal as byvoorbeeld Amerika nie. En soos daar atletiekkampioene is wat slegs af en toe verskyn, so is daar “politieke kampioene” — of “staatsmanne” in die taal van P.J. Nienaber — wat nie so klokslag verskyn as wat hy dit sou wou hê nie. My ou skool het hulle nie opgelewer nie, en ook nie Afrikanerdom as sodanig nie. In elk geval nie in die onlangse tyd nie.

In baie opsigte is die politieke spel ook maar ’n kompetisie teen mededingers, en as jy nie die regte kaptein en spanlede het nie, daardie groot kampioene wat die medaljes kan inpalm nie, dan kom jy maar bedroë daarvan af. In my tyd was my ou skool die kampioenskool op baie gebiede in Johannesburg en die “Sentraal-rand” soos dit genoem is, en ons kon ons skaars indink hoe dit moet voel om by die byeenkomste laaste te eindig met net ’n paar punte op die telbord. Tog was daar sulke skole wat altyd laaste geëindig het.

Sedertdien het Afrikaanssprekendes natuurlik gewoond daaraan geraak om laaste te eindig in politieke kompetisies in Suid-Afrika. Geen groep word daagliks méér vertrap en verguis as juis hulle nie. Hul taal en geskiedenis, hul skole, hul tradisies, hul bates, noem maar op, is alles in die visier van die maghebber. Al waaraan hulle kan dink om hieraan te ontkom, is om te emigreer of om Engels te word.

Dit was egter nie altyd so nie. In W.A. de Klerk se boek The puritans in Africa (ongelukkig in Engels geskryf), wat ek vryelik kan aanbeveel as waarskynlik die beste oorsigtelike geskiedenis van die Afrikaner wat daar tot dusver geskryf is, noem hy die “tydvak van die generaals” ná die Tweede Vryheidsoorlog. Toe het ’n hele aantal talentvolle leiers die onmoontlike reggekry en ’n verslane en verarmde groep mense weer laat opstaan, en ’n entente bewerkstellig met die magtige Britse Ryk om darem vir hulle ruimte te laat in Suid-Afrika. Danksy die genialiteit van Smuts, asook Louis Botha, en die bydrae van Hertzog, het Afrikaners polities gedomineer vir byna die hele twintigste eeu in Suid-Afrika. Hulle het hierdie land geskep. Sommige sou beweer dit was ’n rampspoedige oorheersing, maar alles is relatief. Vergeleke met die res van Afrika, waar die Britse, Franse, Belgiese en Portugese kolonialisme veel droewiger nalatenskappe gebaar het, is ons steeds uitstekend daaraan toe.

My ou skool is in die tyd van Smuts en Hertzog opgerig, die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg. Oor die afgelope tien jaar het dit blykbaar allerlei krisisse beleef en is nou geprivatiseer, en in terme van getalle slegs ’n skadu van sy vorige self. Die Meisieskool het verengels en staan nou bekend as die Rand Girls’ High School. Omdat ek skool gehaat het, sal lesers my al hierdie skynbaar irrelevante inligting vergewe, maar dit behoort duidelik te wees waarop ek afstuur. Die generaals, wat gelouter uit die oorlog te voorskyn gekom het, kon hierdie heropstandingsbeweging aanvoer, sodat dit na alle vlakke toe uitgekring het, ook na skole en ander instellings.

Ek hou allermins van die term “leierskap”, omdat dit so ’n geurtjie het van menslikehulpbronne-konsultante wat seminare vir maatskappye organiseer. Nietemin is leierskap, of gebrek daaraan, die sleutel om die insinking in Afrikaans te verstaan; en die swak skikking van 1994 wat sedertdien ’n albatros om ons nek geword het, is bloot die simptoom daarvan, nie die ware oorsaak van ons probleme nie.

Wat is die eienskappe van ’n groot leier, van ’n “staatsman” soos die skooljaarblad sou sê? Ek dink dit wissel soos wat omstandighede verander. In tye van oorlog moet mense uiteraard sterk en daadkragtige leiers hê wat ook strategies en militêr kan dink. Te veel daarvan — iemand soos Napoleon byvoorbeeld — kan ook weer sy eie probleme skep. Dit gaan om die “konjunktuur” of tydsgewrig waarin ’n mens jou bevind.

Ek sal nou die eienskappe skets wat ’n Afrikaanse leier vandag behoort te hê, dog vergun my nog ’n opmerking oor die leiers van die twintigste eeu.

Myns insiens was die enigste twee politieke leiers wat iets beteken het in die twintigste eeu onder Afrikaners, Smuts en Verwoerd, met Hertzog as ’n buiteperd. (Miskien voel ek genoop om sy naam te noem bloot omdat hy my ou skool se hoeksteen gelê het; daar is sprake dat die gebou nou na ongeveer tagtig jaar of so afgebreek gaan word omdat dit te naby aan die vervallende middestad van Johannesburg is.)

Smuts was verreweg die mees briljante politieke figuur wat Suid-Afrika nog opgelewer het, maar ook hy het fundamentele foute begaan. (Ek dink dat enige politieke leier, terugskouend, foute begaan, maar uiteindelik hang dit van ander af om daardie foute om te keer of in voordele te omskep.) Een van Smuts se grootste foute was om nie te kan insien dat Afrikaans die potensiaal het om in ’n volwaardige kultuurtaal te ontwikkel nie; daarom het hy in Engels geskryf. Dit is al iets van ’n gemeenplaas om dit nog te noem, maar hy is so verlei deur sy toenemende internasionale statuur en aansien (kanselier van Cambridge, asook aanvoerder van die Geallieerde Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog, meen ek, en een van die stigters van die VN) dat hy sy oog van die bal afgehaal het en die 1948-verkiesing verloor het teen ’n veel mindere figuur, D.F. Malan. Gestel Smuts het vír Afrikaans gekies en die soort reaksionêre Afrikaner-nasionalisme van die NP koudgesit met ’n kosmopolitiese, verdraagsame en ekspansiewe Afrikaansheid? Hoe anders sou alles nie verloop het nie! Nie net sou die Kaap Hollands gewees het nie, Suid-Afrika sou heel waarskynlik vandag Afrikaans gewees het, in plaas van Engels.

Die tweede Afrikaanse figuur wat uitstaan, is natuurlik Verwoerd. Vandag word hy allerweë afgekraak as ’n fascis, maar ek meen diegene wat dit sê, is verkeerd. Verwoerd was sekerlik ’n radikale denker, en wou Suid-Afrika omvorm na sy meesterplan, maar soms is radikalisme nodig. In die sewentigerjare was Engeland byna op haar knieë, maar die radikalisme van ’n Margaret Thatcher het die plek van ondergang gered, en vandag is dit een van die wêreld se welvarendste lande. Dit het moed en oortuiging gekos om dit reg te kry, en sy is insgelyks verguis en is steeds geen gewilde figuur nie, dog elke juppie in Londen wat vandag in ’n Porsche rondry, kan sy sterre dank dat sy op die toneel verskyn het in ’n tyd toe Engeland se toekoms meer na dié van ’n Portugal, Wes-Europa se armste land, gelyk het as na die Engeland van vandag.

’n Kwessie wat almal sekerlik intrigeer, is: wat sou gebeur het indien Verwoerd langer geleef het?

Vanuit ANC-geledere word sy sluipmoord gesien as die begin van die einde van apartheid, en dus as die insident wat uiteindelik die huidige bewind op die troon sou plaas, wat ietwat simplisties is. Nietemin is daar tog ’n element van waarheid daarin in dié opsig dat Verwoerd ’n uiters talentvolle — sommige beweer selfs briljante — man was wat dalk anders sou gereageer het op internasionale druk, die Soweto-onluste, en die daaropvolgende gebeure in Suid-Afrika as sy opvolgers. Waarskynlik sou hy insgelyks met hervormings begin het, maar met sy kenmerkende radikalisme sou hy moontlik die landkaart nog verder verander het en die uiteindelike eenheidstaat vir goed afgeweer het. Met Vorster en P.W. Botha het die Afrikaanse politieke leierskap reeds sy laagtepunt bereik, en die klein, bang mannetjie De Klerk was bloot die laaste in ’n reeks van patetiese figure wat so min van die wêreld en veral van hul politieke vyande verstaan het, dat hulle uiteindelik in ’n drukgang geplaas is waarvan die einde voorspelbaar was.

Die post-Verwoerdiaanse tydvak was besonder kompleks, met elemente van die Koue Oorlog in die vorm van Kubaanse, Russiese en Oos-Duitse teenwoordigheid in suidelike Afrika, die internasionale afkeer van apartheid, verdere dekolonisering in die res van Afrika, en ’n gepaardgaande kulturele relativisme in die Weste.

In Afrikaans self was daar ’n opwindende moderniseringproses aan die gang met die Sestigerbeweging, ’n bloeiende filmbedryf, en die opkoms van die “burgerstand” waarvan W.A. de Klerk praat. Voeg daarby nog die stedelike terreur en onrus van die tagtigerjare, iets van ’n burgeroorlog in Natal tussen die ANC en Inkatha waarin 20 000 mense dood is, en dit is ’n potpourri van giftige elemente wat selfs ’n groot figuur sou kon laat struikel, wat nog te sê die drie dwerge Vorster, Botha en De Klerk. Nou sit ons natuurlik met die spreekwoordelike gebakte pere.

Dit is verstaanbaar dat baie Afrikaners — en hulle is nie net regses wat “nee” gestem het in die referendum nie — De Klerk met wrewel bejeën, want op ’n manier het hy hulle in ’n erger posisie geplaas as indien hulle militêr oorwin sou gewees het. (Trouens, as ’n mens luister na die ANC-retoriek, dan wás dit ’n militêre oorwinning en nie slegs ’n “onderhandelde revolusie” soos Alistair Sparks dit gestel het nie.) Om uit ’n neerlaag op te staan, is altyd ’n baie moeilike situasie, en ’n mens vra jou af of die Duitsers sonder Konrad Adenauer weer hul voormalige plek in die wêreld sou kon ingeneem het.

Min kon die bydraers tot my ou skooljaarblad vermoed dat die rooskleurige toekoms wat hulle vir Afrikaans en Afrikaners in die vooruitsig gestel het, binne twintig jaar sou eindig in ’n de facto-neerlaag waar ons nou nog sit met “oorlogskuld” in die vorm van ongespesifiseerde “vergoeding” wat vir apartheid betaal moet word. Moreel en polities is ons blykbaar skadeloos gestel en kan ons bloot — in die woorde van die Broederbond en van Ken Owen — “onsself nuttig maak vir die meerderheid”.

Wat sou ’n meer versiende leier gedoen het in De Klerk se situasie tydens die vroeë negentigs?

Met die voordeel van terugskouing is dit altyd makliker, maar myns insiens moes die grootskeepse vrylatings in 1991 en 1992 veel later plaasgevind het, en moes die ANC/SAKP eers ideologies vernietig gewees het met die ongelooflike meevaller van die ineenstorting van die Oosbloklande. Die ANC sou binne ’n paar jaar al sy logistieke en geldelike steun uit daardie oord kwyt gewees het, en met sy tande getrek, sou hy so mak soos ’n lammetjie om die onderhandelingstafel kom sit het. Samehangend hiermee moes die destabilisering van die tuislande en die res van die gewelddadige konflik in swart woonbuurtes en in KwaZulu-Natal nooit toegelaat gewees het nie; en die ongelooflike munt wat die ANC uit Boipatong geslaan het, is in retrospektief verbysterend, want agterna het De Klerk en sy segsman Roelf Meyer eintlik oorgegee in ’n situasie wat Z.B. du Toit tereg dié van “Boere sonder planne” genoem het.

Verreweg die ergste was egter die intellektuele onopgewassenheid van De Klerk en die res van die NP’s. Hulle het hoegenaamd nie die ander kant verstaan nie, terwyl hulle clichés (wat oor jare geen ontwikkeling ondergaan het nie) met die hulp van die plaaslike en internasionale media van die tafel gevee is en hulle voor die fait accompli geplaas is van die eenheidstaat en “die wenner vat als”. En ís die wenner nie net besig om als te vat nie!

Die feit dat ons vandag soos kabouters op die internet dinge soos PRAAG aan die gang moet hou, dat daar misdaad en plaasmoorde is, dat plekname verander, dat plaaslike owerhede binnekort allerlei onheilige dinge gaan begin aanvang met eiendomsbelasting, dat mense emigreer, ens., is alles te wyte aan die erbarmlike strategiese foute van De Klerk en sy trawante. Boetman is die bliksem in, en hy praat vir ons almal.

Dog gedane sake het geen keer. Die slag is gelewer en Afrikaanse belange het die onderspit gedelf. Die uitdaging is om vanuit die situasie van ’n de facto-neerlaag verder te gaan en weer op te staan, soos dit al voorheen gedoen is. Maar sonder leierskap — om nou weer die menslikehulpbronne-mense se gunstelingwoord te gebruik — gaan dit nie moontlik wees nie.

Ná die Franko-Pruisiese oorlog van 1870, toe hy ’n vernederende neerlaag teen die uitgeslape Bismarck gely het, was ’n groot land soos Frankryk ook blykbaar in ’n toestand van algehele skok en ellende, selfvertwyfeling, werkersoproer, ekonomiese stagnasie wat eers ongeveer ’n dekade of twee later herstel. Die herstel sou nooit kon plaasgevind het indien ’n aanvanklik onbekende advokaat by name Léon Gambetta nie op die toneel verskyn en nuwe lewe in die Franse politiek geblaas het nie. Hy het waaghalsig uit die hande van die Pruise ontsnap in ’n ballon, en soos ’n ware bittereinder nooit die Franse kapitulasie aanvaar nie. Hy het Franse eenheid voorgestaan, en ná 1871 gehelp om die Derde Republiek tot stand te bring. As ek so tuur na die horison, dan sien ek geeneen wat vir Afrikaans en die Afrikanerdom ’n Gambetta kan wees in hierdie tye nie.

Wat van Tony Leon en die DA?

Ek is bevrees (as iemand wat saam met Tony gestudeer het, saam klasgedraf het in staatsleer, saam op die studenteraad gedien het, en by al die agting wat ek vir sy bedrewenheid as professionele politikus het) ek kan hom nie in hierdie rol sien nie. Buitendien dink ek nie hy het die nodige aanvoeling vir die Afrikaanse geskiedenis nie, vir die verborge vonke van grootsheid daarin wat net aangeblaas moet word om weer in ’n vuur uit te slaan nie. Die DA is myns insiens ’n soort portmanteau-party, vir al die mense sonder ’n party.

Wie anders is daar?

Die AB, BMW en ander reste van Afrikanerdom se Era van Middelmatigheid? Nee wat, ek is bevrees hulle vind dit al moeilik genoeg om by te bly in hul rol as skoothondjies vir mnr. Mbeki en om al die nuwe slagspreuke van die base aan te leer, dus sal enigiets meer hulle na prozac laat gryp.

Ek wil liewer nie eens ’n sekere onlangse NP-leier se naam noem wat deesdae optree as ’n soort tweede-in-bevel in die DA en af en toe oor die radio gehoor kan word as hy sekere eenvoudige idees vanuit die ANC-kamp oor “nasiebou” en dergelike herhaal asof hy hulle self uitgedink het nie.

In polities-korrekte kringe sou mens seker die opstellers van die Tuiste-vir-almal-skuldbelydenis ingesluit kon hoor binne die beskikbare universum van Afrikaanse leiers, dog hul enigste politieke oplossing sou wees dat ons ons moet neerlê by die wil van ons oorheersers. Op ’n manier het hulle hul reeds versoen met die neerlaag en afskeid geneem van die Afrikaanse geskiedenis as synde “besmet” en “immoreel”. Met hulle kan ons seker wees dat ons van die wal in die sloot sal beland.

Wat van die bruines?

Wel, ek sou wou hoop dat hulle minder deurtrek is van Calvinistiese skuldmanie en dalk groter helderheid aan die dag sou kon lê, maar ek is bevrees die huidige burgemeester van Kaapstad beïndruk my kwalik as ’n tweede Jan Smuts.

Wat van die sakegemeenskap, wat hulle ook taamlik gereeld met die politiek bemoei?

Ek twyfel of sakemense gewoonlik die kwessies goed verstaan. Hulle volg eerder ’n politieke rigting as wat hulle dit skep. Dieselfde bedrywe wat onder apartheid wapens vir die Weermag vervaardig het, is nou aktief in swartbemagtigingsinisiatiewe met ANC-mense op hul direksies. Uiteindelik is ’n sakeman ’n huursoldaat; wat tel is die wins en verlies, niks meer nie, niks minder nie. So ’n persoon sou nooit die gevaarlike en buitensporige arena van die Suid-Afrikaanse politiek kon betree en nie binnekort fyngemaal daaruit kom nie. Of hy sal swig die eerste keer as iemand vir hom sê, “Dit sou te veel geld kos.”

By my kennelik oorsigtelike en waarskynlik onvolledige lees van die Afrikaanse geskiedenis kan ek nie dink aan ’n tyd toe hierdie groep mense so volslae leierloos was nie. Dit is nie eens ’n geval dat hulle oor swák leiers beskik nie, hulle hét nie leiers nie.

Tog was daar op geen ander stadium so ’n intense behoefte aan verbeeldingryke, intelligente, en waagmoedige leierskap as juis nou nie. Om uit die huidige verknorsing te kom, is miskien die grootste uitdaging wat daar nog ooit in hierdie land aan Afrikaanssprekendes gestel is. Dit gaan nie vanself gebeur nie, en hoe langer dit uitgestel word, hoe moeiliker gaan dit wees.

Die gemeenplasige opvatting van ’n leier in Afrikaans as synde een of ander Messias-figuur is miskien deel van die probleem.

Dit is nie nodig om ’n Moses te wees nie, net ’n Gambetta of ’n Smuts. Gambetta was blykbaar ’n goeie orator, soos baie Franse leiers, maar Smuts was, sover ek kan onthou, geen goeie spreker nie. Met sy vlymskerp verstand en begrip van sake kon hy egter die juiste analise doen en deur subtiele uitoefening van mag die gewenste resultate verkry. Waarskynlik het sy Cambridge-opvoeding ook gehelp, want dit het hom ’n sekere gesofistikeerde allure gegee waarsonder staatsmanskap (om nou weer saam met die jaarblad te praat) nie moontlik is nie. Die feit dat die burgemeester van Kaapstad dit kortkom, maak dat hy waarskynlik nooit sal kan aspireer na groter dinge nie. Ook Vorster, Botha en De Klerk, die dwerglike driemanskap, het ’n sekere “kru” aanskyn gehad wat hulle onbeholpe laat voorkom het. Jasser Arafat kon die wêreld en selfs die ANC oortuig van die noodsaaklikheid van tuislande; P.W. Botha nie.

Waarby kom dit?

Daar is subtiele eienskappe aan leierskap wat ook met voorkoms, ’n sekere styl, ens. te make het. As Eugène TerreBlanche homself ’n Afrikaner noem, takel dit die begrip af; as Van Zyl Slabbert dit doen, is dit min of meer neutraal. Ons het iemand nodig wat respek by mense kan afdwing as hy die woord gebruik.

En dan uiteindelik — amper ’n bysaak, maar soos op alle gebiede van menslike optrede kan niks daarsonder nie — moet ’n leier ook oor kennis beskik.

In Amerika of Europa kan hy of sy wegkom met glimlag-vir-die-kameras-en-vra-maar-vir-jou-gehuurde-konsultant as dit oor iets moeiliks gaan, maar in ’n land soos Suid-Afrika met die graad van politieke risiko wat hier bestaan, moet so ’n persoon liefs nogal ingelig wees oor wêreldsake, oor die ekonomie, oor geskiedenis en veral oor die denkwyse van sy opponente. Dit sou beteken dat hy belese sou moes wees in Karl Marx, Kwame Nkrumah en W.E.B Dubois, asook Amerikaanse rasseteorie en wat nog. Kortom, so ’n persoon moet liefs hoogs gekultiveerd wees in die ware sin van die woord. ’n Onlangse Europese politikus wat hierdie aspek van leierskap volmaak verpersoonlik het, was natuurlik François Mitterand. Ook hy het baie foute gemaak, en feitlik niks van ekonomie verstaan nie, maar sy onbesproke kennis het hom ’n gedugte leier gemaak.

Gegewe die agteruitgang van die universiteite, verlaging in standaarde, ens., is kultuur in die breë sin van die woord, dit wil sê as “verworwe kennis”, deesdae so skaars soos hoendertande. Daar is in elk geval geen kursus wat mens kan gaan volg in “die leiersprofessie vir klein en oorwonne volke” nie. Dit is iets wat byna mirakelagtig uit die gene van die mense self moet verskyn.

Ek blaai maar deur my jaarblad en verwonder my aan al die skoon en hoopvolle gesigte. En ek tuur na die horison  ...

As ons net nie só lank hoef te wag dat ons al dermate uit ons geboorteland uitgewerk is dat ons die plek vanuit die see sal moet inneem en Afrikaans soos Wallies of Hebreeus weer uit grammatikaboeke sal moet laat herleef nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.