|
Die Groot Afrikaanse Betoging Die huidige debat oor die taalkwessie, asook minderheidsregte, bly n papiertier indien dit nie ook op straat geskied nie. Die vraagstuk word geheel en al deur die Engelse pers, asook die buitelandse nuusagentskappe, geïgnoreer. Daarom is dit nodig om die aandrang op sinvolle kulturele naasbestaan in Suid-Afrika aan die groot klok te hang. Vandaar die GROOT AFRIKAANSE BETOGING. Hoe moet dit lyk? Ek ontvang graag wenke van lesers, maar só sien ek dit gebeur: Fase 1: die petisie Fase 2: die betoging Logistieke kwessies, asook kostes vir sekuriteits- en ander hulpdienste, ens. sal die deurslag gee by die uiteindelike keuse van die bymerkaarkomplek en die roete vir die opmars deur Pretoria. Gedurende die staptog na die Unigebou sal tradisionele Afrikaanse liedjies gesing word deur die skare, soos byvoorbeeld Sarie Marais, Al lê die berge nog so blou, ens. Sarie Marais lyk my by uitstek geskik om n soort nuwe vryheidslied te word. Diegene wat nie die groot betoging in Pretoria (we are marching to Pretoria), kan bywoon nie, sal elders in die land kleiner betogings hou voor stadsale, by winkelsentrums, langs paaie, ens. In Kaapstad, Bloemfontein en ander groter sentra kan bykomende opmarse gehou word. Baniere en plakkate: die inhoud van baniere en plakkate moet vooraf aan die organiseerders voorgelê word, sodat daar geen onsmaaklike of ver-regse geluide wat deur Afrikaansvyandige dele van die media aangegryp sou kon word om hul eng propagandistiese siening van Afrikaans te probeer regverdig nie. Oor die algemeen egter is dit n geval van: sê jou sê! Uniforms sal ook nie toegelaat word nie, ten einde enige swastika-bedekte ekstras wat deur Reuter Suid-Afrika of ander jingo-media gehuur mag word, uit te sluit. Plakkate met fotos van al die groot Afrikaanse digters en skrywers moet ook gedra word. Een baie groot banier behoort te lui: GELYKBEREGTING VIR AFRIKAANS. Ideologie: behalwe genoemde volksvreemde regse ideë wat ontoelaatbaar sou wees, sou die betoging bedoel wees as n katolieke beweging met verdraagsaamheid as die hooftema. Almal in Suid-Afrika wat sterk voel vir die behoud van Afrikaans as n nasionale bate, ongeag ras, kleur, geloof, seksuele voorkeur, huistaal, is welkom om daaraan deel te neem. Trouens, hoe meer minderhede aan die betoging deelneem, hoe beter, want dit gaan juis om die bevraagtekening van die fasiele en illusionêre meerderheidslogika waarop die onderdrukkers van Afrikaans hulself beroep. En bowenal: dit is n kollektiewe viering van die krag en skoonheid van Afrikaans, n bacchanale taal-orgie. Fase 3: die media n Komitee van Afrikaans-simpatieke skrywers, intellektuele en politici sal na afloop van die betoging ook in die media hul standpunt stel. Radio- en televisieonderhoude plaaslik, maar veral in die buiteland, sal met lede van die komitee plaasvind waarin die betoging se boodskap verder genuanseer en uitgedra word. Daar moet veral op Frankryk, Duitsland en die Beneluxlande gekonsentreer word om sodoende die openbare mening in daardie lande bewus te maak van die taalstryd wat besig is om in Suid-Afrika plaas te vind. Dit sou uiteindelik lei tot diplomatieke druk op die regering om af te sien van die versmoring van Afrikaans. Fase 4: permanente rewolusie Die Suid-Afrikaanse geskiedenis lyk my in baie opsigte na n misterie. Wanneer Afrikaners presies oorgeskakel het van n kritiese, versetvolle groep mense na die inskiklike kollaborateurs van onlangs (ook onder die NP), verstaan ek nie. Dit is nou egter nodig om die tradisie van verset, protes, kritiese denke, waagmoed wat in die etlike manifeste, trekbewegings, stakings, rebellies en trotseer van die Britse Ryk in die verlede te lees is, te herontdek en te herbeaam. Die idee om minderheidsregte in die grondwet verskans te kry, is baie nuttig en hierdie inisiatief behoort voort te gaan. Daar moet egter besef word dat die voormalige Sowjet-Unie die mees demokratiese grondwet op aarde gehad het, wat geensins die vergrype van Lenin, Stalin en die res verhoed het nie. Die grondwet is bloot n stuk papier wat die huidige pro-ANC-regters van die Grondwetlike Hof na willekeur kan interpreteer om die sentralistiese social engineering wat tans plaasvind, en waarvan verengelsing die kulturele hoeksteen is, te laat gedy. Daarom moet daar benewens agitasie om die grondwet verander te kry, ook op ander gebiede n konstante kulturele aktivisme aan die gang gehou word, om die voorstanders van Engelse eentaligheid, ook by genoteerde maatskappye, aan n bynes van kritiek te onderwerp. Ons saak is edel en goed. Ons voorbeelde is Goethe, Shakespeare en Rabelais, wat die volkstaal teenoor Latyn wou besig. Aan die ander kant staan Hitler, Stalin, Milner en Rhodes met hul sentralistiese ekspansionisme. Sien jou by die Uniegebou. © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |