Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Pasop vir die hond

    Ik ben een hond
    Die zonder huis, zonder haard
    Zwerft door stad
    En land
    Ik ben een hond
    Ik ben niet afgericht
    Ik ben gewapend
    Tot de tand

    ... Ik ben een hond
    Die van geen mens
    Te eten krijgt
    Want ik blaf niet
    Maar ik bijt

      — Stef Bos

Die onlangse hondesage wat Suid-Afrika getref het, en waaroor daar reeds veel ink in die pers en elders verspil is, het my aan die liedjie van die Nederlandse sanger Stef Bos herinner wat ek onlangs tydens ’n uitvoering in Mechelen, Vlaandere, gehoor het. In hierdie liedjie vind ons een van die oudste tegnieke in die Westerse narratiewe tradisie, naamlik die antropomorfisering van ’n brak waarin die melankolieke eensaamheid van die swerwende kunstenaar of troebadoer (iemand soos Stef Bos self) oorgedra word op die figuur van die rondloperhond.

In ’n onlangse Suid-Afrikaanse teks waaroor ek reeds iets te sê gehad het, Disgrace deur J.M. Coetzee, is daar insgelyks sprake van honde. Op die voorblad van die boek is daar die foto van ’n uitgeteerde straatbrak wat lyk soos die vele weggooihonde in die verhaal wat van kant gemaak word. Die “opgee” van ’n hond aan die dodelike spuitnaald aan die einde van Disgrace word ’n metafoor vir die hopeloosheid van die Suid-Afrikaanse situasie, van ’n land wat tans gekenmerk word deur sosiale en strukturele verval. Daar is sprake daarvan dat die oortredende polisiehonde wat drie mans herhaaldelik gebyt het, insgelyks van kant gemaak gaan word, omdat hulle, soos hulle hanteerders, “rassisties” sou wees.

Indien dit wel waar is dat lede van die diereryk ook skuldig kan wees aan rassistiese gedrag teenoor mense, dan is dit duidelik dat geen hond onskuldig is nie — anders as die patetiese weggooihondjie in Disgrace, wat met blydskap en swaaiende stert na David Lurie toe aangehardloop kom, min wetende dat sy vertroue in sy nuutgevonde “baas” misplaas is en dat hy — juis om redes wat ons met “menslikheid” assosieer — onwetend sy laaste oomblikke beleef.

Myns insiens behoort die betrokke polisiehonde, waarvan slegs die name van Rex en Jakkals bekend is, eers voor die Waarheids- en Versoeningskommissie te verskyn alvorens hulle ter dood veroordeel word. Of te oordeel aan die persberigte is hulle reeds ter dood veroordeel en het hul hondehokke dodeselle geword in ’n land waar die doodstraf vir mense nie meer bestaan nie, maar waar moord en doodslag hoogty vier.

J.M. Coetzee het ook elders oor diere geskryf in ’n teks genaamd Lives of animals waar die hoofkarakter die gedagte opper dat diere ook oor regte beskik en dat die slag van diere in slagpales neerkom op volksmoord soortgelyk aan dit wat die Nazi’s gepleeg het. In ons geval sou ons in terme van hierdie logika ten minste kon aandring op ’n billike verhoor vir die honde.

Onlangs het dit mode geword om ’n soort vulgêre psigoanalise op allerlei dinge in Suid-Afrika toe te pas. Ons het dit gesien in die WVK-verslag, en ek lees nou iewers dat Trompie-boeke of die Uile of die Maasdorpreeks onder skoot gekom het as synde verhulde allegorieë van bose apartheidsindrome. Omdat ek oor geen verdere besonderhede beskik nie, sal ek my nie oor hierdie eksegese uitlaat nie. Nietemin meen ek dat die huidige PASOP VIR DIE HOND-sindroom kan baat by nadere toeligting, of dan ’n ietwat dieper lesing as dit waaraan ons vervelige joernalisvriende ons tot dusver blootgestel het.

“Pasop vir die hond” is natuurlik iets wat die moralistiese fotograaf David Goldblatt sou kon fotografeer op iemand se tuinhekkie. Die afbeelding op so ’n kennisgewing is dan gewoonlik ook iets soos ’n Duitse herdershond. Vanuit die perspektief van mnr. Goldblatt — toevallig ook ’n eerstegraad-Afrikanerhater wat ’n vorm van Engelse etniese nasionalisme met sy moralisme oor ras en politiek vermeng — is die “pasop vir die hond”-bordjie juis op die hekkie omdat daar maatskaplike ongelykheid, uitbuiting in die marxistiese sin, ens. bestaan. In ’n “normale samelewing” sou dit nie hoef te bestaan nie. Dit is egter ’n Mills & Boon-agtige lesing wat op ’n baie naïewe, ekonomistiese begrip van maatskaplike prosesse berus. Ons moet baie dieper as dit grawe.

Hoe diep? Wel, dink hieraan. Wat is die verskil tussen die hond in Disgrace, wat uit ’n swart woonbuurt of sogenaamde “township” — ’n uiters irriterende benaming wat ongelukkig vasgesteek het by mense — afkomstig is, maer, siek en uitgeteer, en ’n polisiehond of ander Duitse herdershond wat optimaal gevoed word, gereeld afsprake met die veearts het, geleer word en, les bes, gewoonlik oor ’n indrukwekkende stamboom beskik? (Interessant is dat ook veeartse deesdae in Suid-Afrika die teikens van aanvalle en moorde geword het.)

Die verskil tussen ’n Duitse herdershond en ’n brak is een van teling, van stamboom. Hiermee is ons natuurlik midde-in ’n gesprek oor ras in sy oorspronklike biologiese betekenis, maar ek gaan nie nou daarby betrokke raak nie, want die onderwerp is steeds honde. Die geweldige publisiteit wat die honde-insident geniet het — blykbaar is dit herhaaldelik oor die SAUK gebeeldsend, maar omdat ek min TV kyk en byna nooit na dié netwerk nie, het ek dit nie gesien nie — is die eintlike probleem. Waarom is hierdie insident so drasties gepolitiseer dat dit selfs die Staatspresident se kommentaar ontlok het?

My eerste gedagte is dat ’n goedgeteelde hond soos ’n Duitse herdershond — dit wil sê, een wat nie ’n basterbrak is nie — op sigself ’n soort beskawingsmerker is. Op die mees ooglopende vlak verteenwoordig die beheptheid van byvoorbeeld Afrikaners met hul honde iets van ’n materialistiese dekadensie. Terwyl die staatshospitale in Suid-Afrika agteruit gaan en vele armer persone kwalik meer goeie mediese sorg ontvang, kyk baie mense nog baie goed na hul beste vriende, die honde, met duur private sorg verskaf deur veeartse. Op ’n globale vlak word daar dikwels byvoorbeeld syfers genoem aangaande die mark vir dierevoedsel en veeartsenydienste in Amerika, wat waarskynlik groter is as die bruto nasionale produk van die meeste lande in sub-Sahara-Afrika. Diereliefhebbery, asook mense wat diere se regte teenoor mense verdedig, is ’n luukse van die rykes, en van Westerlinge of kwasi-Westerlinge soos ons.

Histories — en nou kom ek eintlik by die kruks van my betoog uit — is diereteling en diere-afrigting nou gemoeid met die uitoefening van mag, veral militêre mag. In Suid-Afrika word polisiehonde geassosieer met “skarebeheer” en die onderdrukking van populêre opstand onder die ancien régime. Ek dink mense is daardeur geskok dat hierdie vorm van magsuitoefening steeds vandag bestaan.

Die Duitse herdershond as simbool van ’n soort beskwawingsoorheersing gaan egter nog veel verder terug in die geskiedenis. Ons weet dat mense in tradisionele Afrika geensins diere geteel het nie; hulle het ook nie oor perde beskik nie. Die teling en afrigting van diere is iets wat Westerlinge na Afrika gebring het, ’n soort tegnologie soortgelyk aan gewere en die geskrewe tradisie. Terwyl “rassisme” in sy huidige definisie uitgaan van ’n veronderstelde kulturele relatiwisme wat die Afrika-beskawing in alle opsigte — ook tegnologies en wetenskaplik — gelykstel aan die Westerse, veroorsaak tekens van ongelykheid in mag en beheer oor die omgewing of die ekonomie voortdurend ’n ondermyning van hierdie kulturele relatiwisme wat beveg moet word as “rassisme”. Dit is wat bedoel word met “gelykheid van uitkomste” in plaas van “gelykheid van geleenthede”.

Die simboliese impak van die wit Afrikaanse polisieman wat ’n hulpelose swart persoon in ’n lêende posisie op die grond aanhou met ’n Duitse herdershond wat boonop aangepor word om laasgenoemde te byt, is in hierdie verband enorm. Dit illustreer nie net alledaagse rassisme of xenofobie, wat uiteindelik in ’n multikulturele en multi-etniese maatskappy soos Suid-Afrika ’n univerele verskynsel is nie — ook swartmense beskik oor etniese skelname vir wittes of buitelanders — maar wys heen na ’n “groter probleem” van diepgaande ongelykheid tussen beskawings wat veronderstel is om deur relatiwisme uitgeskakel te gewees het.

Daar is ’n sekere siening in Suid-Afrika dat die morele universum voorrang behoort te geniet bo elke ander in Suid-Afrika. Moraliteit, en morele prinsipes, is veronderstel om elke ander sfeer te kan beheers en te kan domineer. Die utopiese aansprake van moraliteit word natuurlik om elke hoek en draai ontken deur ander faktore wat met mense se drifte (hetsy seksueel, etnies, of van watter aard ook al) te make het. Geen regdenkende mens sou polisiegeweld teenoor aangehoudenes wou goedpraat nie, en alhoewel ek nie die videomateriaal gesien het nie, lei ek af dat die betrokke polisiemanne verfoeilik opgetree het. Die regstaat, weereens in die Duitse sin van Rechtstaat, kan slegs bestaan indien die verteenwoordigers van die staat redelik optree teenoor alle burgers, ongeag hul etniese of rasse-afkoms. Sodanige polisieoptrede behoort daarom ten sterkste afgekeur te word en onderworpe te wees aan vervolging, soos inderdaad die geval is.

Die probleem wat hier ontstaan, is dat verskillende “spelers” of interpreteerders van die insident ander interpretasies heg aan die simboliese waarde daarvan. In die pers is die oorwegende aandrang dat ons almal die voorrang van die morele universum behoort te erken en ongekwalifiseerd die optrede van die polisiemanne behoort te verdoem. Enigiemand wat nie daartoe bereid is nie — die sogenaamde “ja, maars” van wie die koerante skryf en wat die stres van polisiemanne en -vroue, die hoë misdaadsyfer, ongebreidelde geweld van die Suid-Afrikaanse samelewing, plaasmoorde, ens. byhaal — word beskuldig van “rassisme”.

Tog kan die simboliese waarde van die insident nie ontken word nie; dit is trouens waarom dit in die eerste plek ’n geweldige hoeveelheid publisiteit geniet het. Die wyer simboliese orde is dus onmiddellik ter sprake sodra dit geïnterpreteer word. Terwyl dit bloot in rasseterme gelees word, is my aandrang dat ons ook die uitspeel van “beskawingsfoutlyne” in Huntington se definisie daarin moet sien. En dan is die honde, asook die “hondetegnologie” van teling en afrigting, in die insident eweneens ter sprake. Dit stel iets voor. Interessant in dié verband is dat die Minister van Polisie blykbaar nou besluit het om geheel en al die gebruik van polisiehonde uit te faseer, hulle nie meer vir “skarebeheer” aan te wend nie, en dus ontslae te raak van “hondetegnologie” op dieselfde manier as wat die nuwe bewind van Suid-Afrikaanse kerntegnologie — ook die siviele aanwending daarvan — ontslae geraak het deur Pelindaba téén alle ekonomiese of wetenskaplike sin in te sloop en te vernietig.

Die gebruik van diere vir die uitoefening van mag is ’n deel van die evolusie van beskawings. Die perd, en perdetegnologie, wat gedurende die Middeleeue ’n oorheersende rol gepeel het — die geharnasde ruiter of ridder was onoorwinlik teenoor enigiemand wat nie oor dieselfde wapenrusting, asook ’n perd, beskik het nie — is aanvanklik op ’n baie pynlike manier aan Wes-Europeërs bekendgestel. Die perd is vir die eerste keer op militêre wyse aangewend deur die inwoners van die Steppe wat dié dier van 2000 v.C. af begin aanhou het saam met beeste, skape en bokke. Hulle het ook geleer om diere te melk en het dus ’n bron van proteïen ontwikkel wat hulle fisiologies sterker gemaak het as ander. Die uitdaging van ’n bestaan op die uitgestrekte, droë Steppe het die nomadiese sprekers van Indo-Europese tale in dié gebied geweldig afhanklik van hul diere gemaak.

Rondom 1700 v.C. is strydwaens wat deur perde getrek is, vir die eerste keer deur die Steppe-bewoners in oorlogvoering gebruik. Die strydwa is beman deur twee vegters: een wat die perd beheer, en een met ’n pyl en boog wat die vyand kon bestook. Geen gewone voetsoldaat was blykbaar hierteen bestand nie, en die Indo-Europeërs wat tale ná aan Sanskrit gepraat het, het sodoende ’n geweldige militêre voordeel geniet wat hulle ’n vreesaanjaende groep mense gemaak het. Strydwa-tegnologie het mettertyd egter wyer versprei, selfs na China in die 14de eeu v.C., wat hierdie voordeel ongedaan gemaak het, maar vanweë die onbereikbaarheid en onherbergsaamheid van die Steppe het dit eintlik weinig invloed op die Steppe-bewoners uitgeoefen.

Die tweede tydperk van nomadiese oorheersing vanuit die Steppe het aangebreek toe daar geleer is om rondom 900 v.C. op perde te ry sonder ’n strydwa. Gewapen met kavallerie, kon die Steppe-bewoners aanvalle loods op gewone kleinboere wat nie teen ’n gewapende ruiter bestand was nie. ’n Verdere probleem was dat kleinboere nie perde kon aanhou sonder om hulle met graan te voer nie, iets wat gewoonlik vir menslike gebruik bestem was. In bestaansekonomieë was dit eenvoudig nie haalbaar nie, terwyl die uitgestekte, ylbevolkte Steppe met sy grasvlaktes natuurlike voer vir perde verskaf het.

Met die uitvinding van stiebeuels in 500 v.C. kon ’n ruiter in die stiebeuels staan terwyl hy pyle uit sy boog skiet, wat ’n verdere voordeel aan die ruitery besorg het, iets wat direk gelei het tot die uiteindelike kombinasie van harnas, lans en perd soos in die Middeleeue. In Suid-Afrika weet ons dat die Trekboere en Voortrekkers hul perde in die 18de en 19de eeue geleer het om stil te staan sodat die ruiter kon korrel en skiet, ’n tegniek wat met groot welslae aangewend is in oorloë teen beide swart stamme en die Britte. ’n Klein groepie Boere sou terugval voor aankomende magte, en buite die bereik van hul assegaaie gaan staan, vuur, en dan weer verder terugval totdat die aankomende mag gestuit is.

Dit alles as agtergrond by die interpretasie van die verhouding tussen mens en dier. In die huidige ongekende vlaag van misdaad en aanvalle op eiendom en menselewens in Suid-Afrika vervul geteelde en geleerde honde soms ’n sleutelrol om hul meesters te beskerm; vandaar die simpatie wat mense teenoor hulle voel as beskermers.

Miskien kan ons ná die hondeinsident praat van die politisering van honde en honde-eienaarskap in Suid-Afrika, want die videomateriaal is natuurlik berekend uitgesaai net voor ’n munisipale verkiesing waarin die regerende party miskien vir die eerste keer met ’n georganiseerde aanslag van die opposisie te doene gaan kry. Die sensasionele uitsaai van naakte wreedheid deur wit polisiemanne werk rassepolarisasie in die hand, wat die regerende party bevoordeel en die opposisie se embrioniese veelrassige steunbasis vernietig.

Indien die afkeurenswaardige gedrag van die polisiemanne bloot op ’n rasionele manier veroordeel was, en die gereg toegelaat is om sy gang te gaan, sou die insident geensins so gelade geraak het nie. Ingryping deur ministers en kommentaar deur die Staatspresident, asook die histeriese aandrang uit sekere kringe — veral die Afrikaanse pers — dat daar weer een of ander vorm van blanke boetedoening moet plaasvind, veroorsaak dat die betrokke polisiemanne, die oortreders, toenemend as sondebokke voorkom en dus ’n ironiese slagofferstatus verkry. Die polisiemanne, wat oënskynlik geen simpatie verdien nie, bekom onvermydelik vanweë hul sondebokstatus ’n sweem van meegevoel en begrip vir hul “abnormale optrede weens werksdruk en stres”, wat versterk word deur die afleiding dat hulle kwalik ’n billike verhoor of behandeling kan verwag.

Op ’n dieper simboliese vlak is die Duitse herdershond egter teken van ’n lang tradisie van Indo-Europese omgang met diere wat geteel en afgerig is om ’n militêre funksie, hetsy offensief of defensief, te vervul. Honde oefen mag uit. Terwyl die perd tydens die Eerste Wêreldoorlog sy laaste verskyning op die slagveld gemaak het, en dan sonder enige werklike militêre invloed, het dit tot nog toe ’n baie sterk simboliese waarde in die Weste behou as by uitstek die aristokratiese dier. Ruiterskap word slegs met die hoër sosiale stande en die landelike eienaarsklas geassosieer. Die hond, veral die Duitse herdershond, is insgelyks die witman se troeteldier. En hier gebruik ek “witman” in geen rassesin nie, maar bloot in ’n beskawingsin as “verwant aan die Weste”, soortgelyk aan Derrida se tipering van “Westerse metafisika as die wit ideologie”.

In die “beskawingskonflik” wat besig is om hom in Suid-Afrika af te speel, mag dit insiggewend wees om bedag te wees op die simboliese waarde van diere. Daar is ’n bewese korrelasie tussen grondeise en plaasmoorde in sekere gebiede, en die grondhonger word gedryf deur die tradisionele Afrika-status van beeste. Grond is nodig om beeste aan te hou. Laat my eindig met die volgende aanhaling uit Antjie Krog (1998: 13, my vertaling) wat die veranderde lewenswyse op haar ouerplaas soos volg beskryf:

    Ek onthou hoe ek en my ouers die hele Sondag agter geslote deure deurgebring het. Hoe ons opgehou praat het as die honde blaf. “Hulle verkies om op Sondae te kom ... as hulle dink dat jy in die kerk is,” sê my ma. Later, toe ek terugry Johannesburg toe, kyk ek terug om te waai en sien ek hulle staan voor die sandsteenhuis van my jeug. En terwyl ek uitry, sluit my pa die hek en laat die honde los.

Bronne
Coetzee, J.M. 1999. The lives of animals. Princeton: Princeton Univ. Press.
Krog, Antjie. 1998. Country of my skull. Johannesburg: Random House.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.