Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Leesflits 1

Leesflitse. Hierdie is ’n nuwe sub-kategorie op Grasperk waarin ek ’n paar opmerkings met my lesers deel oor boeke wat ek onlangs gelees het. Dit is nie resensies of kritiek nie, bloot persoonlike kanttekeninge wat ander sou prikkel om dalk dieselfde boeke te lees.

Verlede naweek het ek André Brink se Die ambassadeur beetgepak; soos so dikwels gebeur, het ek ’n eksemplaar in ’n tweedehandse boekwinkel raakgeloop, en by my tuiskoms ontdek dat daar reeds iewers op ’n boonste rak ’n kopie daarvan was. Maar nou ja, soveel te meer rede om dit lees, wat ek toe gedoen het.

Die ambassadeur is in 1963 gepubliseer toe Sestig net mooi op dreef begin kom het, en dit speel boonop in Parys af. Soos gewoonlik in ’n Brink-boek is daar ’n meisie, jonk en met “klein borsies”, in dié geval die vroulike protagonis, Nicolette. Een van die boeke wat ek moes gekoop het destyds maar nie het nie, is die fotoboek deur Brink, Portret van die vrou as jong meisie, of iets dergeliks. Vreeslik soetsappig, maar dis deesdae sekerlik Africana. In elk geval, Brink gee altyd ’n portret van die vrou as jong meisie alhoewel daar in Die ambassadeur ook ’n jong man is wat ’n ouer vrou bydam, net vir balans.

Hier en daar raak dit vervelig as die skrywer te veel lewenswyshede kwytraak, maar oor die algemeen het ek dit geniet. Die Parys van daardie tyd was natuurlik heel anders as vandag en die beskrywings van die Latynse buurt met sy “doolhof van straatjies” en klaarblyklike armoede is heel genietlik. Die ambassadeur self is ’n meer geloofwaardige karakter as Nicolette wat neig na ’n demi-mondaine en gedryf word deur een of ander vorm van vroulike histerie. Aan die einde weet ’n mens nie of sy in die Seine gespring het of nie.

As klassieke Sestigerroman is dit omgewe van ’n heel genietlike eksistensialisme, hier en daar stilistiese hoogtepunte — in weerwil van sy hebbelikhede oor meisies bly Brink ’n uitstekende skrywer — en ook ’n siening van die destydse politiek wat veel ewewigtiger aandoen as die latere stereotipes oor apartheid. Die siening van die politiek in die roman is amper amoreel, en die ambassadeur gee sy eie sprong in die donker, ’n najaag van persoonlike hartstog, ondergeskik aan moralisering oor die politiek. Dus triomfeer die estetiese beslis bo die politieke.

Kanselleer volgende naweek se gholf en kry ’n eksemplaar daarvan (dit is steeds in druk, anders as soveel ander Sestigerwerke); heel aangename ontvlugting.

Nie lank gelede nie het ek insgelyks 18-44 van Etienne Leroux vir omtrent die derde of vierde keer gelees, en dit bly een van my gunstelingboeke. Ek wil dit binnekort vir ’n vyfde keer lees en iets breedvoerigers daaroor skryf, maar intussen beveel ek dit aan op die hoogste moontlike manier. ’n Wonderlike boek, nie baie lank nie, maar vol heerlike ironieë, ’n sofistikasie en ’n genietlike tekstuur, “die knolskrywer in sy huisie by die see, gebou deur sy vriend die homoseksuele argitek” wat korrespondeer met die 18-jarige inconnue, mej. X.

As enigiemand dink dat ek ’n klap van die Sestigers, eksistensialisme en dergelike weg het, is u heeltemal reg. So pas vandag het ’n ander oerteks van die Sestigerbeweging, wat deur Jan Rabie in Afrikaans vertaal is, opgeneem. Dit is natuurlik Die vreemdeling van Albert Camus. Ongelukkig besit ek nie die Rabie-vertaling nie (ek dink heimelik daaraan om dit in die hande te kry en te laat herdruk of iets), en is ek dus op die oorspronklike aangewese. Dié het ek pas ’n maand of drie gelede in Parys aangeskaf in een van daardie pragtige minimalistiese uitgawes van Gallimard, roomkleurig met die outeursnaam in swart en die titel in rooi op die voorblad. Jare gelede in my eerste jaar het ek dit in Engels gelees — my filistynse jeug! — en gelukkig die meeste detail vergeet. By die lees daarvan kan ’n mens sien waarom Camus die Nobelprys gekry het, want dis geskryf in ’n berekend eenvoudige styl met kort, suggestiewe sinne. Die beskrywings van Algiers, die strand, die see, die doellose bestaan van ’n paar jong mense, asook sy bure, is meesterlik. Daar is twee dele, en die wending van deel I na II gebeur vernuftig en eintlik skokkend. Aan die einde verkry die begrafnis heel aan die begin ’n uiters ironiese betekenis. Die hoofkarakter en klassieke buitestaander, Meursault, se onbetrokkenheid, ateïsme en begrip vir sy medemens en ander se standpunte word ’n aanklag teen hom. Die laaste paar bladsye is ’n hoogtepunt; in sy afwys van tradisionele moraliteit is daar ’n Sadeaanse element by Meursault wat ek persoonlik ontsetttend geniet het. Beslis ’n boek vir die lees en die herlees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.