|
Dwarsklap, of luister vir jou prefekDan RoodtGisteraand se Dwarsklap, die sogenaamde debatsprogram op KykNET wat ast ware gechoreografeer is deur die vermaarde joernalis, Tim du Plessis, het my finaal oortuig dat ek dalk sonder KykNET en selfs sonder DSTV kan klaarkom. As iemand wat n skottel gekoop het omdat ek onder die indruk was dat dit my n alternatief sou bied teenoor die SAUK wat meer en meer soos n regeringspropagandamedium optree, is ek wreed ontnugter. n Bykomende irritasie van KykNET is natuurlik dat daar al hoe meer advertensies is wat in Engels uitgesaai word, amper n groter aantal as op die SAUK, asof die kykers na n sogenaamde Afrikaanse kanaal so dankbaar behoort te wees vir enkele ure laekoste-TV per dag dat hulle nie nog kan aandring op die bykomende luukse van reklame in hul eie taal nie. Maar kom ons bepaal ons by Dwarsklap, wat gisteraand gewy is aan die gevoel van negatiwiteit onder Afrikaners. (Ekskuus, jammer vir daardie polities onkorrekte woord. Ons is nou veronderstel om die vroulike term Afrikaanses te gebruik, wat telkemale met nadruk deur dr. Theuns Eloff gebesig is op Dwarsklap.) As ek hierbo die woord choreografie gebruik het, was dit nie net die soort toevallige beeldspraak waaraan die deelnemers aan sy program hulle aanmekaar skuldig gemaak het nie; nee, dit was werklik n geval van n opgevoerde konsensus oor hoe goed dit nou eintlik in Suid-Afrika gaan, en dat ons geen rede tot kritiek het nie. Van debat was daar uiteraard geen sprake nie, indien n mens onder daardie begrip enige vorm van meningsverskil tussen die deelnemers verstaan. Sonder uitsondering was Du Plessis, asook sy genooide gaste amper sê ek jabroers, maar daar was darem een jasuster - dit so roerend met mekaar eens oor die wonderlike demokrasie waarin ons leef, dat hulle by tye amper gewonder het wat om volgende te sê, nadat hulle elke moontlike cliché wat in Afrikaans aan ons bekend is om van n paar in Engels nie te praat nie uitgeput het. Die glas is halfvol, nie halfleeg nie; ons moet n kopskuif maak om te sien dinge is nie so sleg nie; daar is oral ter wêreld misdaad en dergelike meer is oor en oor herhaal sodat n mens wonder of jou KykNET-subskripsie nie n vorm van masochisme is nie. Vir daardie bedrag per maand het jy die geleentheid om jouself bloot te stel aan die katatoniese taalgebruik van n soort Naspers-prefektevergadering wat ongelooflike ooreenkomste toon met die Goue Era van Cliff Saunders en Johan Pretorius op die ou SAUK toe n onderhoudvoerder slegs met gewyde stemtoon na afsonderlike ontwikkeling kon verwys, en sy glasige oë die afskuwelike aantreksmaak van NP-ministers aangestaar het asof hy die jongste skeppings in die vitrines van die mansboetieks in die rue du Faubourg St. Honoré bewonder. Maar natuurlik was die meeste deelnemers aan Tim du Plessis se Dwarsklap insgelyks op n stadium fanatiese bewonderaars van afsonderlike ontwikkeling. Ek het onder andere vir dr. Theuns Eloff in my studentedae meegemaak toe hy voorsitter was van die ASB en hy op besoek aan die Wits-kampus vir ons verduidelik het dat die werke van die Sestigers nie hoog aangeslaan word nie, vanweë hul ateïstiese eksistensialisme. Indien hy my destyds stomgeslaan het met sy wêreldvreemdheid (byna sê ek agterlikheid), staan ek tans insgelyks verdwaas voor sy huidige werklikheidsvreemdheid. Dat hy intussen van fanatiese jong NP-ondersteuner bekeer is tot ewe fanatiese middeljarige ANC-ondersteuner, is n blote toevalligheid. Soos Bart Nel sou hy kon sê, En ek is nog hy. Dit maak nie saak wie aan bewind is, en hoe vernietigend die beleid of die sosiale omstandighede rondom jou nie, jy stem saam en jy sien die positiewe raak. Trouens, die herhaling van die woord positiewe en hoe mense oortuig moet word om positief te voel te midde van 50 000 moorde per jaar, n rand op R8,00 teenoor die dollar, die burgemeester van Tshwane (eks-Pretoria) wat so pas R2,5 miljoen begroot het vir sy nuwe woninkie, Mbeki se R600 miljoen-vliegtuig, kapings en verkragtings wat hoogty vier, 200 000 agterstallige hofsake, geregtelike dossiere wat verdwyn teen betaling van R500 noem maar op het my herinner aan die geykte taalgebruik van prefekte op skool. Die beste soort prefek op skool was natuurlik tegelykertyd n gatkruiper en iemand wat sy maats kon verraai sonder om te blik of te bloos. n Prefektevergadering waartydens die negatiewe gees onder die meerderheid nieprefekte op skool bespreek is, en belhamels uitgewys is wie se haarstyl of kleredrag nie na wense was nie, het min of meer verloop soos gisteraand se Dwarsklap. Die skoolkinders daarbuite ly aan negatiwiteit of illusionêre persepsies dat hulle mishandel word deur die régime se onderwysers, en dit is die taak van die prefekte om hulle vol te pomp met n positiewe houding. Die kwessie in Suid-Afrika is nie die werklikheid van trae ekonomiese groei, misdaad, onwettige immigrasie, plaasmoorde of disfunksionele hospitale waaruit toerusting gesteel word nie, dit is n houdingsprobleem onder Afrikaners. Of Afrikaanses een van die amusantste eienskappe van die woord Afrikaner is dat, net sodra dit verdwyn het as die niksseggende definisie van n niebestaande en argaïese etnos, dit byna onverbiddelik weer uit die vergetelheid verskyn sodra dit nodig is om die negatiewe eienskappe van die Afrikaner te beskryf. Laasgenoemde ly aan n magsverliessindroom, wil nie die werklikheid aanvaar nie, vrees die kontinent Afrika en ander ongefundeerde twak wat deur Tim du Plessis en die viertal prefekte kwytgeraak is. Indien ons ooit sou twyfel aan die bestaan van die Afrikaner, hoef ons bloot aan hom te dink as belhamel of rebel of opstandeling of iemand wat weier om in te val by die rye wat deur die prefekte gelei word, en dan skielik abrakadabra! is hy weer met ons. Die oudambassadeur Dawie Jacobs, wat reeds die besondere onderskeiding behaal het om as blanke man in n seniorpos aangestel te word by die Departement van Buitelandse Sake, het inderdaad n demonstrasie gelewer van hoe so n wonderwerk moontlik is. Dit behels naamlik dat jy jou eie brein iewers in die yskas plaas en op n byna komiese wyse herhaal dat dinge eintlik so goed gaan in Suid-Afrika dat die land amper n tweede Switserland is, en dat jyself boonop so lojaal is teenoor jou regering dat jy wil sê dat enige negatiewe ervarings van die land se inwoners eintlik op n hallusinasie berus. Ek meen hy het beweer dat die misdaad in Griekeland, n lid van die Europese Unie, veel hoër is as in Suid-Afrika. J P Landman, redakteur van Finansies en Tegniek, het bewys dat jy met die regte tegniek maar van die finansies kan vergeet. As selferkende dissipel van die halfvolglas-skool het hy die kykers probeer oortuig dat korrupsie veel erger was in die ou Suid-Afrika as in die nuwe. Ja, mnr Landman, en al die vriende en familie wat onlangs verkeersboetes opgedoen het, het seker gelieg dat hulle n alternatief van omkoopgeld by hul afgedraaide motorvenster ontvang het. Sulke dinge het nooit, of byna nooit, in die ou Suid-Afrika gebeur nie. Mnr Landman het dit selfs goedgedink om die Sarafina-skandaal goed te praat, waarin R15 miljoen verkwis is, met verwysing na Mossgas waarin die vorige bewind veel meer geld sou gestort het. Die verskil hoef n mens so n elementêre element nog te verduidelik aan die room van ons finansiële joernaliste? is dat Mossgas n nywerheidsprojek was wat op n verlies uitgeloop het, en nie uit die staanspoor n korrupte geknoei waarin fondse uitgedeel is aan vriende en kulturele kommissaars nie. Met dieselfde logika moet n mens seker sê dat Allan Boesak nie verdien het om tronk toe te gaan nie, want ander mense het al meer geld as hy gesteel, en is hy dan nie so n voorbeeldige man wat die belange van die proletariaat op die hart dra nie? Dit was moeilik genoeg om te probeer agterkom wat prof Yolanda Sadie van die RAU op die program wou sê, gegewe die aarselende gebrabbel waaraan sy haar skuldig gemaak en wat n ontsettend ordinêre indruk op my gemaak het, behalwe dat sy dit eens was met die res van die handvol uitgesoekte jabroers. Ja, suster, ja. Haar siening van die taalkwessie was byvoorbeeld dat Afrikaans moet aanvaar dat dit nou een van die ander tale is, wat seker beteken dat ons ons daarin moet berus dat die funksies van Afrikaans afgeskaal sal word tot dié van n Venda of n Tsonga. In dié trant was die hele prefektevergadering dit eens dat Afrikaans op joghurtbakkies nie die taal gaan red nie. Wel, as ek nou my eie beskeie mening mag lug teenoor Hoofprefek du Plessis en sy medeprefekte wat poog om die oproerige speelgrond onder beheer te bring: ek sal liewer Afrikaans op my joghurtbakkie hê as die taal in die mond van KykNET se jabroers en Dwarsklap se pseudodebatteerders wat ons intelligensie onderskat en poog om enige kritiese denke by die volk in die kiem te smoor. As ek daaraan dink wat ek met my R300 per maand kan koop (soos twee boeke of n bottel Franse sjampanje, of selfs n vliegtuigkaartjie oorsee as ek dit vir n jaar opspaar), dan wonder ek waarom ek myself aan hierdie pynigende onnoselheid onderwerp. My kinders se Afrikaans kan ook net verbeter as hulle nie langer blootgestel word aan Cartoon Network en die ander Amerikaanse drek wat Naspers by die skopgraafvol op ons stort nie. Soos ek nou voel, gooi ek my dekodeerder deur die ruit van die kitsch Vreemde Vlieënde Voorwerp in Hendrik Verwoerdlaan, Randburg, in die ateljees waarvan hierdie soort ding gepleeg word. 29 Mei 2001, 10h30
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |