Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Datsja vir mev Samuel

Ope brief

Geagte mev Samuel

Ek het van u boeke gelees. Anders as u, kan ek my nie op my skrywerskap roem nie. Daar is diegene wat meen dat ek liewer nie moes geskryf het nie, sensors en literatore en politici en hoeders van die Zeitgeist wat vereis dat mens moet inval by die heersende ideë van jou tyd. Daarom matig ek my nie aan om as skrywer aan u te skryf nie, maar as leser. Met u penchant vir Amerikaanse gemeenplase, kan u dit as “fan mail” beskou.

Ek besef dat u hierdie skrywe as ongevraag sou ervaar. Nie so lank gelede nie het u blykbaar, by uitnodiging om saam met my op ’n sekere televisieprogram te verskyn — darem nie à deux nie — gesê: “Ek het niks vir Dan Roodt te sê nie.” Dit spyt my. Dit spyt my dat u niks vir my te sê het nie. As beprese en volprese skryfster en digter (digteres? digster? — help my reg met die geslag, want u is blykbaar ’n soort kampvegter vir vroueregte), wenner van toekennings en ontvangster van die toekenning van die Hirosjima-stigting vir Vrede en Kultuur vir die Jaar 2000 kan dit wees dat u ’n dialoog met my vervelig en benede u sou vind.

En tog het ek soveel vir u te sê! Ek kon sekerlik stilgebly het, my “mond gehou” het soos dit bekend staan, dog die besit van my mond stel my kwalik tevrede. Tans poog ek om u digbundel te lees, waarin daar ’n afdeling voorkom met die opskrif “Wondweefsel” waarin u dit het oor die “stinkende identiteit” van die Afrikaner en die vermoedelik welriekende een van die kwasi-Britse technicolor-Afrikaan wat aansit met sy sambreeldrankie by dit wat u noem die “barcounter of identities”. Dog meer daaroor later.

U is iemand wat sterk glo in skuld. Nie so lank gelede nie het u en die ANC-politikus, mnr. Carl Niehaus, ’n skuldbelydenis opgestel met die ironiese titel Tuiste vir almal. U wou gehad het dit moes as ’t ware uitloop op ’n nasionale skuldveldtog waartydens die hele bevolking moes deelneem aan ’n soort kollektiewe selfkastyding vanweë hul skuld. Ek is nie seker of u ’n godsdienstige mens is nie, maar dit wil voorkom asof u ’n sterk sin vir godsdienstige begrippe soos erfsonde en metafisiese skuld het.

Hierteenoor glo ekself nie dat ’n mens in sonde ontvange en gebore is nie. Skuld is nie vir my iets waarmee ’n mens ’n hele bevolking kan opsaal nie, en onderliggend aan u skuldbelydenis is daar vir my ’n duidelike, materiële motief, naamlik vir sekere mense om ander se bates te bekom soos dit in alle revolusies deur die eeue heen gedoen is. Die oogmerk van elke revolusionêr is net oënskynlik die bevryding van die massas. Uiteindelik wil die revolusionêr ook homself verryk as die verteenwoordiger van die volk. Lenin het dit gedoen, Erich Hoenecker het dit gedoen, Mao het dit gedoen en vele van ons huidige bewindhebbers doen dit ook. In mnr. Thabo Mbeki se eie woorde is hy ’n onderdrukte swartman, dog hy besit ’n vliegtuig van R600 miljoen en drink net die duurste, beleë whiskey. Die revolusionêr praat namens die volk en eien hom namens die volk sekere regte en eiendom toe. Dit is een betekenis van die frase revolusionêre voorhoede. U oproep om ’n skuldbelydenis was dus deursigtiglik deel van hierdie strategie, om ’n morele basis vir die onteiening van besittings te skep, waarna revolusionêre vry sou wees om S-klas-Mercedesse te begin konfiskeer, indien hulle nie reeds sulke motors besit nie.

Maar kom ons keer terug na u skryfwerk, want uiteindelik is dit wat my — as leser — interesseer. Nie dat u ’n besonder interessante skryfster is nie — daarvoor is u te onoorspronklik en arm aan idees. U toon ook ’n onverkwiklike voorliefde vir gemeenplase en idées reçues, wat natuurlik die dood in die pot is vir enige skrywer of skryfster. U sin vir ironie is werklik nie baie ontwikkel nie en u raak dikwels prekerig. Miskien sou u tog beter gedoen het in die bediening, waar u voltyds met erfsonde en skuld besig kon gewees het.

Ek het ’n vraag: Waarom het u, iemand wat kennelik nie Engels baie goed magtig is nie, gegewe u plattelandse agtergrond en studies aan Afrikaanse instellings, Country of my skull in Engels geskryf? Of was dit juis bedoel as ’n vervreemde en vervreemdende kyk na u geboorteland? Nie lank gelede nie het ons mekaar raakgeloop by die Boekebeurs in Antwerpen en as leser het ek in die gehoor gesit en luister na wat u te sê het oor u land van herkoms — dit is nou Suid-Afrika. U sal my nou vergewe as ek u sê dat dit glad nie geklink het soos ’n Afrikaanse persoon wat oor Suid-Afrika praat nie. U kon net sowel ’n Franse vrou of ’n Japannees gewees het.

’n Dekade of wat gelede toe ek in Frankryk woonagtig was, het ek dikwels die geleentheid gehad om buitelanders wat nog nooit ’n voet in die land gesit het nie, en afhanklik was van vae televisieberigte oor die vreeslike Nazi-nes waar swartmense voor die voet gemartel word vir hul menings, aan te hoor waar hulle gal braak oor Suid-Afrika. Om hierdie mense op televisie te moet aanhoor het ’n besliste voordeel, want onwillekeurig kry jou duim ’n spasma op die knoppie van die afstandbeheer en kan jy dit oombliklik afskakel, of ten minste van kanaal verwissel waar ’n minder fantasmagoriese diskoers aan die gang was, of miskien ’n lewende uitsending van ’n sportbyeenkoms of ’n film of wat ook al. Toe ek u, tot die tande toe gewapen met u arsenaal van clichés oor Suid-Afrika, moes aanhoor voor ’n gehoor van Vlaminge waarvan die meeste waarskynlik nooit ’n voet hier sou sit nie, het my duim onwillekeurig weer die ou spasma van tien of meer jare gelede begin voel. Ek sou wat wou gegee het om van kanaal te verander, maar u het aangehou om die lug te besoedel met u afgryslike halwe waarhede en blatante leuens. Miskien is u ’n fanatiese dissipel van biskop Tutu wat dieselfde vermoë het om met halwe waarhede so ’n monstrueuse voorstelling van die werklikheid te skep dat jy niks meer daarin herken nie.

Ek weet u is nie ’n voorstander van die studie van vreemde tale nie, en ’n soort bekeerling tot koloniale taalbeleide wat alles uitsluit behalwe Engels, maar ek sou die lees van ’n boek deur die Franse skryfster Hélène Cixous met die titel Manne by u aanbeveel. Country of my skuld — vergewe my die ietwat onakkurate spelling, maar as iemand vir wie die waarheid relatief is, behoort dit u nie te kwel nie — sluit sterk aan by Manne. Laasgenoemde werk is ’n soort ode aan mevm Winnie Mandela, deesdae Madikizela-Mandela, van iemand wat nog nooit meer van Suid-Afrika gesien het as ’n TV-program nie. Die titel beteken “manna” in die sin van “manna uit die hemel” en mev Mandela word gesien as iets van ’n heilige. Beskou u haar insgelyks as ’n heilige, mev Samuel?

Sensasionele skryfsters met hul oog op die internasionale blitsverkopermark kies gewoonlik sensasionele onderwerpe. En in die Waarheidskommissie, met sy fokus op menseregteskendings, moorde en folterings, het u natuurlik die ideale onderwerp gehad. Net jammer u kon so min sensasie daaruit put, al het u u bes probeer om elke moontlike gruweldaad met genoeë daarin op te dis.

Wat moet ons daaruit begryp? Watter moontlike verklaring of analise het u vir die insidente wat u in u gelade Engelse prosa aan die leser opdis? Is al die wittes Nazi’s? Het Afrikaners geneties oordraagbare gedragsafwykings? Is rassisme ’n oorerflike siekte? Ek is bevrees in u sensasiesoekende opeenstapeling van belydenisse en gruweldade is die mate van insig omtrent nul. Het u al ooit verder gedink oor maatskaplike en etniese geweld as die gemeenplaas van “ons is almal mense”?

In weerwil van u beeld van strydende skryfster wat in Nederland of Vlaandere so dapper voorkom, asof u nou reeds die barrikades hier in Suid-Afrika beman of bevrou, weet u en ek natuurlik dat u standpunt grotendeels ooreenkom met die amptelike standpunt. Dit is nou die standpunt van die régime, die hedendaagse een. Die politici en ander figure wat u so ophemel — blykbaar sou u op RSG gesê het dat ons president ’n groot digter is — is die maghebbers van die dag. Dit is dus ’n baie veilige standpunt om te hê. Die leiers van die SAKP en ANC vir wie u so ’n groot bewondering het, het nie te lank gelede nie nog stewige bande gehad met die voormalige Oosblok-lande. Hulle besef maar te goed hoe nuttig skryfsters en digteresse kan wees, om ’n morele aanskyn aan hul bewind te verleen wat dit andersins nie sou hê nie. As minister Asmal dus sy haat uitspuug teenoor Afrikaans en dreig om dit uit ons universiteite te weer, dan kom dit uiters handig te pas om ’n sogenaamde Afrikaanse digteres aan sy sy te hê wat dit met hom eens is, wat meen dat alle Afrikaanssprekendes skuldig is aan ’n “misdaad teen die mensdom” en dus verdien om op die wiel gebreek te word en van hul taal en kultuur ontneem te word.

U is heeltemal reg. Ek wil u daarvan beskuldig dat u onder die huidige bewind gevorder het tot literêre gelukbringer of mascot van die régime Tans is u aangestel — die humor van die régime is soms baie wrang — as lid van die Gerwel-komitee wat die Minister moet adviseer oor die toekoms van Afrikaans aan die vyf eks-Afrikaanse universiteite. Dit nadat die Minister reeds besluit het dat Afrikaans moet uit, want ’n Afrikaanse identiteit hoort nie in Suid-Afrika nie, soos verwoord in u gunstelingtaal in sy sogenaamde Hoër Onderwys-plan. (Nogal insiggewend, die gebruik van die woord plan; dit verraai die denke van sosiale manipulering, wat die bevolking bloots ry, gewoon al om die vyf jaar soos in die “vyfjaarplan”.) Al u standpunte, of dit nou oor die taalstryd, oor Standaardafrikaans, oor skuld, oor ras, kleur, of dergelike gaan, is te herlei na die amptelike standpunt. U sit aan die regterhand van die maghebber; u sê presies wat hy wil hoor. U vervul dieselfde funksie as wat Louis Aragon vervul het teenoor die PCF, of die horde Sowjet-skrywers en -digters soos Jeftoesjenkoe wat tot die Sowjet-skrywersvereniging behoort het. Ek vermoed dat u nogal naïef is sover dit die geskiedenis van letterkunde en politiek in die twintigste eeu betref. U verstaan waarskynlik min van die debat rondom betrokkenheid, die rol van die skrywer teenoor die Party binne die Marxistiese tradisie soos dit oa verwoord is deur Lenin en Lukács. Maar dit gaan nie vir my hier om literêre teorie nie; dit gaan om u openbare rol en die standpunte wat u inneem.

Laat my ’n voorbeeld aanhaal. In u skuldkroniek, op bladsy 130, vra u aan ’n “Joodse kollega” watter vergoeding die Duitsers teenoor die Jode betaal het. Dan is u blykbaar ontevrede dat daar nie meer “verbeeldingryke” vergoeding van Afrikaners geëis is deur die WVK nie. Hiermee ondersteun u natuurlik die sentrale argument van die Waarheidskommissie self, wat daarop neerkom dat Afrikaners en blankes ’n uitwissingsprojek teenoor swartmense sou gehad het, en daarom skuldig is aan “oorlogsmisdade” en ’n “misdaad teen die mensdom” waarvoor “reparasie” of vergoeding nou betaal moet word. Ons weet dat sodanige vergoeding soos gewoonlik in die sakke van die revolusionêre voorhoede sal beland, hulle wat reeds ’n weeldelewe voer op die rug van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler. Dog my probleem gaan in die besonder om hierdie gelykstelling van Afrikaners met Duitsers, van die NP-ondersteuners met Nazi’s, wat u kennelik en klakkeloos navolg.

By hierdie punt moet ek u daaraan herinner dat ek heel onlangs ’n opstel gepubliseer het oor die WVK met as titel Om die Waarheidskommissie te vergeet. Ja, u het reg gelees, “om [dit] te vergeet”. Ek sê iewers daarin dat die WVK-verslag verdien om op die SA literêre ashoop te beland. Hierbenewens toon ek die etniese vooroordele, inkonsekwenthede, halwe waarhede, weglatings, ens. in die verslag aan. Vanuit u eie dogmatiese denke as staatsdigter, as literêre mascot van die régime, is dit ’n ketterse geskrif, om die minste te sê. Miskien weet u nog nie van die bestaan van so ’n teks nie. Miskien is u van mening dat dit verbied behoort te word?

Ek herinner my nie eintlik dat enigeen van u boeke onder die vorige bewind verbied is nie, al doen u u voor as iemand wat as ’t ware saam met me Nadine Gordimer gely het onder die verskrikkinge van die Nasionale Party. Dit is nogal ’n klad op u naam. Ten minste het me Gordimer vir ’n paar maande ’n verbod teen een van haar romans gehad, en kon sy luidkeels haar wonde aan die wêreld ten toon stel, al was dit vanuit Parktown. Maar wat van u, mev Samuel, moes u nie ’n bietjie beter geagiteer het teen apartheid nie? Waarom het die Afrikaner-establishment u nog altyd op die hande gedra, toe soos nou? U het nog altyd by die Suidelike uitgewers gepubliseer terwyl sommige van ons personae non grata was en steeds is by dié mense? U het as ’t ware saam met die Broederbond gelinksomkeer.

Op die minste vereis die publikasie van my boekie oor die WVK ’n repliek van u. Dit druis immers reëlreg in teen elkeen van u eie teses aangaande die Kommissie. Nie net verwerp ek die skuldideologie wat u so naarstiglik propageer saam met mnr. Carl Niehaus, daardie voornemende Andreas Baader wat ongelukkig nie verder as ’n paar foto’s van die gasfabriek kon kom nie, maar ek kritiseer ook u en die WVK se geliefkoosde analogie, naamlik dié tussen Afrikaners en Duitsers. Ek durf waag dit sê dat ons nie Nazi’s is nie. Skok dit u?

Indien u ’n Sowjet-skryfster was wat u sout werd is, sou u die kontrarevolusionêre ideologie bestry het. ’n Mens kan nie toelaat dat onsuiwere idees die jeug en dalk die hele bevolking begin korrupteer nie. Daarom rus daar ’n verpligting op u om te antwoord op my opstel, om as ’t ware die “korrekte weg” aan te dui. Ek stel voor dat u dit lees, ná ’n valium of twee, want soos u sal agterkom, oortree dit elkeen van die fasiele stellings wat u die afgelope jare tot ’n godsdiensie-in-die-kleine gekanoniseer het. Daarna kan u ’n antwoord formuleer, en sodoende kan ons dalk ’n dialoog aan die gang sit, iets wat natuurlik indruis teen die Sowjet-tradisie, waar die monoloog eerder van die Kremlin se balkon uitgesaai word op Meidag. Die waarheid word van bo af uitgehandig en teëspraak kry jou in Siberië.

Dog miskien is u nie heeltemal so oortuig van u waarheid as wat u voorgee nie; almiskie is u vatbaar vir die twyfel, vir die tweegesprek, vir dialoog. Of is ek verkeerd? Het u reeds u hart verhard soos ’n literêre apparatsjik wat bloot die Party-standpunt herhaal en die res afmaak as burgerlike dekadensie, die kontrarevolusionêre twyfel van die “vyande van die staat”. Is u bewus daarvan dat sekere van u Partygenote reeds hierdie frase gebruik, dat hulle praat van sommige opposisielede as “vyande van die staat”?

Het die régime al ’n datsja aan u toegeken? Is u al uitgenooi vir ’n plesierrit in die Presidensiële vliegtuig? Ek hoop so, want andersins sou die prys wat u betaal vir u Faustiaanse ooreenkoms met die régime ietwat te hoog wees. U het u rug gedraai op u eie mense in hul uur van nood, en in Engels ’n boek geskryf om hulle te help verguis, en u digterskap in diens gestel van die amptelike ideologie. Indien u niks in ruil ontvang nie, kom u bedroë daarvan af. Die geskiedenis, veral die literatuurgeskiedenis, gaan kras oor u oordeel, en indien u nie ’n bietjie vodka en kaviaar kon nuttig saam met die base, of dalk ’n Kubaanse sigaar kon rook nie, is u nou reeds die verloorder.

Ek wil aanstons verwys na u resente poësiepublikasie, Kleur kom nooit alleen nie, maar voordat ons by die belletrie kom, vergun my nogeens enkele opmerkings oor u prosawerk in Engels, Country of my skuld. Ek het nogal ’n vraag daaroor: Het u dit self geskryf? Jare gelede was daar ’n Pools-Amerikaanse skrywer by name Jerzy Kosinski, wat myns insiens nogal interessante romans geskryf het, lakonieke studies in geweld en die rol van kans daarby. Dit het egter aan die lig gekom dat hy, omdat Engels nie sy moedertaal was nie, van nasieners en “redakteurs”, sommige sou sê spookskrywers, gebruik gemaak het, waarna sy reputasie aan flarde geskeur is. In dier voege is ek enigsins geïntrigeer deur die woorde aan die einde van u ouvrage:

      Without Ivan Vladislavíc this would be half the book it is. His care and dedication, help with finding a poetic style, editing of text and testimonies, and quiet encouragement make him a crucial part of this product. (Country of my skuld, bl. 280.)

Kennelik het Vladislavíc méér bygedra as hier en daar ’n kommapunt. Die vraag is nou: hoeveel? In u eie woorde beweer u dat die boek sonder sy hulp net “die helfte” van die huidige sou verteenwoordig het. Ek weet nie watter persentasie Kosinski se redakteurs en medeskrywers bygedra het nie, maar ek sou verbaas wees indien dit vyftig persent was. Waarom het u verkies om nie ook Vladislavíc se naam op die omslag aan te bring nie, of is dit ’n geval van groter ideologiese impak, groter voordele vir die régime as hierdie boek waarin Afrikaners insgelyks met Nazi’s vergelyk word, self deur een geskryf word?

Dit herinner my aan ’n ander passasie in die boek, dié een wat aangehaal word op die stofomslag, die vir my ontsettend banale en teatrale “And I wade into song — in a language that is not mine, in a tongue I do not know.” U of Vladislavíc het hier omtrent ’n waterbom gemaak in die swembad van Engelse clichés, maar ek lees ’n ander ironiese en meer bedekte betekenis hierin, naamlik dat u as ’t ware op ’n Freudiaanse manier u status as marionet of buiksprekerspop van die régime bely. ’n Ander stem praat deur u mond, die stem van die Party, en sê aan u voor wat u moet skryf. Dit is nie meer u eie stem, dié van die Afrikaanse digteres nie, maar nou van die literêre apparatsjik wat ’n polities korrekte geskrif produseer wat bedoel is om die hegemonie van die régime te versterk, om sy vyande — die “vyande van die staat” — te demoraliseer, te verguis, te vernietig, te ontneem van enige wil om weerstand te bied. Miskien neem u my kwalik om hierdie lesing, maar as iemand wat vir Daniël Hugo uitgeskel het vir ’n “poephol” omdat hy u werklik ligsinnige menings oor die Afrikaanse spelreëls en grammatika in twyfel getrek het, kan u sekerlik die slae vat net soos wat u dit uitdeel, of hoe?

Ek hoop die kaggelvuur knetter vrolik daar in u datsja, met die silwer kaviaarlepeltjie byderhand, die blini’s en die suurroom, en die beste vodka wat u lomerig maak terwyl u deur ’n keurige boek blaai wat toevallig gekonfiskeer is van ’n dissident wat op die oomblik les opsê in Siberië. Want daar is meer op pad. Die prys vir politieke konformisme was nog altyd hoog vir enige skrywer. Vra maar vir diegene wat die voortreflikhede van afsonderlike ontwikkeling besing het; vra maar vir Jeftoesjenkoe wat staatsdigter was onder Bresjnef. Telkens as die President u lof toeswaai, dink daaraan dat die Afrikaanse lesers van u punte aftrek, dat u daal in ons literêre waardeskatting.

By die lees van u jongste digbundel, Kleur kom nooit alleen nie, sou ’n mens kon sê dat die wurm van politieke konformisme nou die hart van u oeuvre binnegedring het. Soos by alle Partyskrywers, stel u u werk in diens van ’n ideologie en van ’n politieke program. In u geval is hierdie program nie meer proletariese kultuur en die behoeftes van die sosialistiese revolusie nie, maar “nasiebou” en die rasse-ideologie van u Party, die ANC/SAKP. U party het, nodeloos om te sê, ’n beleid van assimilasie teenoor minderhede. In ’n paradoksale maneuver kombineer dit ’n maniese beheptheid met ras en rasse-identiteit, met die ontkenning daarvan in ’n utopiese nierassigheid. ’n Mens vind dit ook by u terug.

In ’n sekere sin is Kleur kom nooit alleen nie ’n eksemplariese voorbeeld van Partyliteratuur. Ek sal u nie hier verveel met die dekadelange dispuut in die Marxistiese litatuurteorie oor dit wat Lenin bedoel het met “Partyliteratuur” nie, maw of dit bloot sou verwys na Partystandpunte en politieke diskussie, en of dit sogenaamde “skeppende werk” insluit nie. Die “kleur” van die titel verwys na die rasse-ideologie van u Party, en is ’n sinspeling op velkleur. Een ras staan in die skuld teenoor ’n ander soos wat die bourgeoisie in die skuld gestaan het by die proletariaat vanweë uitbuiting en diefstal van meerwaarde.

Die metafoor van kleur wat nooit alleen kom nie, word aangetref in die gedig op bl. 26 wat strek vanaf bl. 22, “narratief van die parkboer”. Die gebruik van ’n term soos “narratief” in plaas van die meer algemene “verhaal” verraai iets aangaande die digteres se grootdoenerigheid wat soms oorslaan in pretensie. Hoe dit ook al sy, die ondergaande son langs die Oranjerivier wat in verskeie kleure agter die kim verdwyn, verskaf die metafoor vir die rasse-assimilasie en anti-etniese diskoers wat telkens in die bundel opduik.

In die gedig “ai tog” (bl. 47) kom hierdie stereotipe siening van ’n Afrikaneridentiteit sterk na vore, en vind aansluiting by die soort gemeenplase wat in Country of my skuld aangebied word vir insigte aangaande die digteres se “eie mense”. Ek wil dit graag volledig aanhaal:

      ai tog!

      ek is moeg
      vir dié wat so hewig tuiskom teen die Afrikanerbors
      die ou prostate met die gekroonde tande bifocals
      die male vanity wat die laaste woord spreek
      oor die voorwaardes van by hulle hoort

      ek is moeg
      vir hul onbetaamlike haas om te brandmerk,
      in te stoet en op te pis
      almal sit helaas met ’n spul stinkende identiteite in die skoot
      (en ’n taal gestroop van die grammatika
      van menslikheid en berou)
      mens sê maar gereeld
      mens is niemand se Afrikaner nie
      mens praat niemand se taal nie
      mens is nie ’n moer iemand se meriete nie
      mens is drolwit en pisswart
      mens skyt graag op die manne
      wat werk by die nuwe barcounter van identities

      mens hoort by haar wat daagliks woordeloos
      nuwe wolle by die mat vleg

Hierdie gedig staan in die teken van mev Samuel se ontkenning van haar eie afkoms soos die amptelike assimilasieideologie dit verlang,

      mens is niemand se Afrikaner nie
      mens praat niemand se taal nie

of die reël:

      mens skyt graag op die manne
      wat werk by die nuwe barcounter van identities.

Dit is kwalik ’n dekonstruksie om hierdie siening van ondermynde Afrikanerskap te kontrasteer met die selfversekerde Een Groot Etnos van die sentralistiese en koloniale staat waarvan mev Samuel die lofsanger is. Staatlike identiteit is byna heilig en mag nie bevraagteken word nie, dog etniese en talige identiteit is iets skatologies wat verdien om by die toilet afgespoel of beskyt te word.

Weer eens moet ’n mens hierdie en ander uitsprake in hul anale felheid by mekaar betrek en die vraag vra: Watter sindroom, om haar President se gunstelingwoord te gebruik, is onderliggend aan hierdie en ander fiksasies met die “poephol”? Kan dit wees dat mev Samuel se “bevryde” persoonlikheid op ’n manier begrens word deur ’n soort anale taboe? Hoe analiseer mens haar “poepholsindroom”?

Daar is ’n amper patetiese poging om “oortredend” en “stout” voor te kom in mev Samuel se liefdesverse, soos byvoorbeeld die reël, “die pad na my man se hart loop deur sy piel”. Is ons veronderstel om dit as “erotiek” op te neem, of is dit bloot die blosende geproes van die volksmoeder tussen haar koeksusters by die kerkbasaar? Op Kroonstad lok dit sekerlik enkele goedkeurende uitsprake van “stout” uit, maar ek is bevrees in ’n minder provinsialistiese en meer stedelike konteks kom dit werklik vervelig oor, as die geforseerde pogings van ’n onderdrukte subjek om haar pseudo-erotika voor ons uit te stal.

Dit bring my terug by die anale, wat deurgaans deur mev Samuel in uiters negatiewe terme voorgestel word. Die Paryse gay filosoof wat toevallig aan VIGS dood is, Guy Hocqenghem, het ’n hele teorie gehad oor die onderdrukking van die anus, maar omdat dit dalk aanstoot mag gee aan mev Samuel se anglofiele sensibiliteit, sal ek liewer nie ’n frog aanhaal nie.

Vir mev Samuel, daarenteen, is die anus die gevreesde lokus van talige en etniese identiteit, iets wat verdien om vergeet en onderdruk te word. Tegelykertyd is dit egter die grens van haar seksuele vryheid, want nêrens tussen al haar pogings tot erotiek vind ’n mens ’n vers wat die genietinge van omgang per anum besing nie. Eerder as wat die Afrikaanse spelreëls en grammatika dus die oorgeërfde dwangbuis verteenwoordig waarmee sy dit soms wil voorstel, is die standaardtaal, en veral die perverse gebruik van literêre Afrikaans, miskien die verbode anus van styl en erotiese vreugde vir mev Samuel. Selfs Freud het die verband tussen kleuters se ontlasting en hul sin vir kreatiwiteit ingesien. Vir ons régime is Afrikaans en sy letterkunde net ’n klomp kak, oorbodige kak. Soos die Mohammedaanse sjeik wat die Biblioteek van Alexandrië laat afbrand het deur te vra, “Dien al hierdie boeke Allah of nie?”, vra die régime bloot die vraag, “Dien Afrikaans en Afrikaanse skeppings ons staat of nie?”. Die antwoord is “nee”, en dit is hoekom ’n verloopte Brit soos Asmal ons minister van onderwys is en hy besig is om die universiteite te dwing om te verengels.

Die staatsdigteres in haar datsja word nie toegelaat om te eksperimenteer nie. Dit is haar funksie om die geykte in ’n literêre korset vas te vang. Sy dien ook op die komitees van die régime wat legitimiteit moet verskaf aan taalverdrukking en die eliminering van ware, niestaatlike kuns en letterkunde.

’n Gunstelingonderwerp van Sowjet-digters was die stryd teen die fascisme gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Dit was polities korrek om hieroor te skryf in die mees retoriese terme Soms veroorloof mev Samuel haar egter ’n mymering of twee oor die werklikheid wat teenstrydig met haar gerieflike stelletjie truïsmes oor identiteit voorkom. Ongelukkig tree haar swak smaak dan tussenbeide, soos in die gedig met die afgryslike titel, “Ná grond-invasions in Zimbabwe”. Wat is ’n “grond-invasion”? Ek het probeer om dié woord in die woordeboek te kry, maar het nie daarin geslaag nie. In Afrikaans sou mens eerder sê “plaasbesettings” of “plaasinvalle”, maar ’n “grond-invasion” klink na iets wat verband hou met die rekenaarspeletjie space invaders; ’n mens druk ’n knoppie en “poef” verdwyn die vyandelike ruimteskip op jou skerm.

Hierdie en ander reëls het ongelukkig verby die uitwisknoppie op mev Samuel se rekenaar gekom.

Iets anders wat insgelyks uitgelaat kon gewees het, is die aanhalings uit die oorspronklike Engels waarmee die digbundel besaai is. Watter leser van Afrikaanse poësie stel werklik belang in die volgende erbarmlik onnosele uitspraak van mnr. Mahmood Mamdani, nogal uit, soos dit gestel word, sy “inaugural lecture” aan die Universiteit van Kaapstad?

      Settlers are made by conquest, not just by immigration ... The settler-native question is a political question. It is also a historical question. Settlers and natives belong together. You cannot have the one or the other, for it is the relationship between them that makes one a settler and the other a native. To do away with one, you have to do away with the other (bl. 84).

Die montage van aanhalings wat mev Samuel goed dink om aan die leser op te dring verraai iets aangaande die benouendheid van haar leeswêreld; dit verskyn amper soos advertensies vir ’n ANC-kongres tussen die gedigte self. Dit herinner mens aan ministeriële uitsprake oor die radio wat begin met die woord actually. Dit is die doodse stem van die staat wat na ons waai soos die moeë handskoen van die geriatriese revolusionêr op die Kremlin-balkon afgeneem bokant die rye tenks, missiele en bliksoldate.

Daarom, mev Samuel, vra ek u met trane in my oë: Hoe lank nog dink u dat u hierdie charade gaan kan handhaaf? As pseudoskrywer en -digter van die régime kan u ons nie langer om die bos lei nie. U werk is besig om uit te rafel. Gaan die President, die Afrika-potentaat met sy vliegtuig, ampsmotors en lelike dasse u poësie lees ná die Afrikaanse lesers dit versaak het? Gaan u en Ivan Vladislavíc vir ons nog ’n versameling anekdotes uit die WVK-verslag saamstel in u stokkerige Ingels wat aan ons opgedring gaan word soos die TV-lyke van die Es-Ei-Bie-Sie?

Is u tot enige vorm van denke in staat?

Kry u nog warm in die datsja of is die kaggelvuur besig om uit te brand?

Het u die moed om op hierdie brief te antwoord, of sal u in navolging van die ysige tradisie van totalitarisme wat u as figuur gebaar het, ’n koue stilte handhaaf?

Antwoord my asseblief, mev Samuel. Wys vir ons dat u ook ’n mens is, en nie net ’n robot van u Party nie.

Hoogagtend die uwe

Dan Roodt

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.