|
Maart 2000Zaza wys my haar boeke met foto’s. Op haar bed ’n paar wolbeertjies, geskenke wat kom van oor ’n paar jare. Daar is foto’s van toe sy vir Defy gewerk het, foto’s van haar pa, ’n buffel van ’n polisieman, en haar ma wat hy tot haar dood toe aangerand het, haar boeties, vriendinne saam met haar afgeneem in Monte Carlo-nagklub, en ook haar suster wat vroeg aan die lewe opgegee het. Ek lees ook ’n skryfboek met die begin van haar storie. Sy kan skryf, sy kan haar lewensverhaal vertel, en ek raak opgewonde. Sy wys my ’n boek deur ’n Bulgaarse Boris onder die titel African Dreams (maar in Bulgaars); ’n boek opgedra aan haar. Hy is een van haar voormalige kêrels. Daar is ’n inskripsie in Engels voorin oor hoe ’n mens die teëslae van die lewe oorleef. En ek dink aan hoe die storie van Zaza vir my begin het om die eetkamertafel: trane het in haar oë opgewel. Dit was natuurlik nie die begin van my en Zaza nie, net die begin van haar storie. Ek het haar een middag in die Costa do Sol ontmoet. Ons oë het ontmoet op daardie dag. Ons oë het lank gespeel, maar ons het geen woorde gewissel nie. Daar het so ’n rooigesig Engelsman in sy sestiger jare langs haar gesit, wat opgewonde probeer meepraat oor musiek, die musiek van sy keuse. Jazz het in die agtergrond gespeel. Ek het haar die volgende middag genader, gevra of ek kan sit waar sy sit. Sy gee nie om nie, het sy gesê, en soos alle gesprekke van dié aard het dit begin by die uitruil van name en vanne. “Waar kom jy vandaan?”, “Het jy kinders?” ens, en uiteindelik: “Wil jy saam met my kom eet vanaand?”. “Nie vanaand nie, wat van môreaand?” “Okay, so sewe-uur.” Die volgende aand sewe-uur is alles so romanties moontlik ingerig, en ’n spesiale resep van hoender, piesang en neute voorberei. Dit het verskriklik gereën die aand. Sy het nooit opgedaag nie, en sy het nooit in die volgende weke kom sê sy is jammer oor die mislukte afspraak nie, maar ek het nog haar telefoonnommer gehad indien dit eendag te hande kom. Die werklike ontmoeting het ’n paar weke later plaasgevind. Ek was die middag by Costa do Sol besig met ’n skuimerige bier in die donker hoek toe sy daar inwals en ’n Appletizer bestel en toe buite by haar vriendin Nellie gaan sit. Ons het nie eers gegroet nie. Maar ek was honger. Met my bierglas leeg, het ek die pad gevat na ’n pasteiwinkel daar naby. In die venster van die pasteiwinkel was daar sulke lappoppies. Ek het ’n pienk varkie met ’n babavarkie vir tien rand gekoop. Op pad terug na my woonstel, soos ek verby haar sypaadjietafel loop, druk ek die pienk varkie in haar hand en loop woordeloos verder. Die volgende dag was ’n goeie dag om van die telefoonnommer gebruik te maak. “Ek is die ou wat die pienk varkie in jou hand gedruk het, onthou jy my? Is jy lus vir hoender vanaand?” ens. Elk geval, sy het nie van die uitnodiging gebruik gemaak nie, maar die volgende dag by Costa do Sol rondom ’n tafel op die sypaadjie, met Nellie ook by, was dit maklik om kontak te maak. Hierdie keer het ek haar uitgenooi en ons het ’n afspraak gemaak. Ek het haar by haar woonstel gaan oplaai. Sy het nie kans gesien vir ’n uur se ry na Tongaat toe nie, maar sy hou van oesters. Ons is na die Fish Company op die waterfront. Op pad soontoe vertel sy sy studeer Elektriese Ingenieurswese, en onmiddellik weet ek hier is iemand spesiaals. Ons sit op die stoep met oesters op ys en skepe wat die hawe in- en uitvaar. Sy vertel van die dinge waarvan sy hou, die hoogtepunte in haar lewe die romantiese Kroaat wat sy nie kan vergeet nie, al is hy iewers op ’n skip op een van die oseane. Sy hou van boeke, die natuur en komedies: Leon Schuster. Ons vind mekaar en besluit om nie reeds dié aand in die bed te spring nie. Ek laai haar by haar woonstel af. In een van die daaropvolgende dae het sy vir die eerste keer by my woonstel gekom. My boeke en plate moes ’n groot indruk gemaak het. Ek het spaghetti gemaak terwyl sy praat oor haar lewe. ’n Ongelooflike storie. Sy haat haar pa, maar daar was ’n tyd toe sy hom geïdealiseer het. Hy het haar ma gereeld aangerand. Sy het gedink dit is maar hoe dinge in die lewe hoort. Haar ma was verstoot deur die pa se familie. Hulle was landelike mense met ’n afsku vir alles van die stad. Hulle het gereeld hulle afsku gewys deur die ma en kinders soos honde te behandel. Hulle was nie toegelaat om aan dieselfde tafel te eet nie, of om saam vleis te eet wanneer daar vleis was nie. Uiteindelik is hulle stad toe, weg van die landelike familie. Hulle is op neergesien met die gesegde van mense wat in hulle huis kak (stedelike huise het toilette in die huis). Die probleme tussen die pa en ma het begin toe die ma aangedring het om te gaan werk om al die skoolbehoeftes van haar kinders aan te koop. Sy het vir ’n karige salaris by blankes in die huis gaan werk as skoonmaker. Toe sy weier om haar salaris aan haar man te oorhandig, is sy uitgekryt as ’n hoer en van hier af het hy net heeltemal beheer verloor. Hy het haar suster voor Zaza verkrag met ’n ma wat hulpeloos teen die kamervenster haar woede uitgeskree het. Hy het ’n absolute haat teen die skool ontwikkel. In matriek het hy al Zaza se boeke en haar skoolklere verbrand. Sy is gedwing om onder ’n straatlig te studeer omdat hy geweier het om haar toe te laat om die elektrisiteit te gebruik. Hy het sy plate so hard as moontlik die hele nag deur gespeel sodat sy nie kon konsentreer nie. Hy het haar fisiek probeer doodsteek met ’n mes toe sy haar ma teen sy aanvalle probeer beskerm het. Uiteindelik het sy van die huis weggeloop, by vriende waar sy in trauma oornag het, is sy swanger gemaak. Tydens haar swangerskap het sy by die technikon ingeskryf vir die ingenieursdiploma. Intussen het haar ma en haar suster gesterf. Sy het op die strate beland. By gesellinklubs het sy haar eerste geld verdien. Ons praat oor haar boek. Sy maak die opmerking dat selfs as sy in die tronk is, sal sy daarmee voortgaan. “Tronk?” Daar hang ’n vonnis oor haar kop. Daar was ’n bakleiery in een van die klubs. ’n Blanke prostituut was ongelukkig toe haar kêrel Zaza genader het om te dans. Sy het Zaza aangeval. Zaza het probeer vlug. Sy is agternagesit deur drie vroue. Sy het haar met ’n bottel teëgesit. ’n Indiërprostituut wat beseer is, het haar laat arresteer. Sy kry ses maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar. Die magistraat is ook ’n Indiër. Dit word duidelik ’n rasseding. Zaza se oë vul weer met trane. Sy lyk soos Naomi Campbell. Zaza wil selfmoord pleeg, sy wil haar eie keel afsny. Net haar kind laat haar voortgaan met die lewe. “Ek is net ’n niks,” sê sy. Ek het die begin van ’n boek gesien, en dit lyk goed. Ek weet dit gaan goed wees. Maar ses maande in die tronk vir ’n geveg tussen vroue in ’n nagklub? Die tronke in Suid-Afrika is oorvol. Soms lyk dit of moordenaars makliker loskom as mense wat onbenullige misdade pleeg.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |