Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Januarie 2000

Hierdie Krismis het gekom met die dood in sy kous. Ek pak wat lyk soos ’n bodybag vol speelgoed en klere. Luisa het verhuis na Maputo. Mbali het op 24 Desember gesterf. Vir die eerste keer in my volwasse lewe huil ek.

Twintig Desember: Ek samba af met die Panthera Azul-bus na Maputo om iets te red van ’n verhouding. Onder in die bus is ’n groot kartondoos vol inkopies: rys, olie, spaghetti, tuna-vis, Oros-koeldrank, ensovoorts vir Luisa se familie. Ons gaan verby die sementpondokkies van Zoeloeland, die bokke, lappies mielielande, piesang- en papaja-bome, deur die Swazilandse grens met ’n plakkaat van die koning met sy kaal bolyf en ’n veer in die hare, deur die ontvolkte bosveld van Mosambiek met die Katolieke dorpies totdat Maputo sigbaar word met breë riviere wat die see inloop.

Waar die bus tot stilstand kom, kyk ek af, soekend na die laggende oë van Luisa. Sy het pas gearriveer in ’n silwer BMW-taxi en lyk soos iemand wat in beheer van haar lewe is, maar sy het maer geword en daar is grys afstande in haar oë. Ek het gekom om te troos. Sy was twee weke terug in ’n ongeluk, was in ’n taxi op pad na ’n vriendin.

Die taxi neem ons en die bagasie na een van die grys, naamlose woonstelblokke in Karl Marx-laan. Daar is oral vullis wat opgaar op die sypaadjies. By die ingang wag Elder, haar broer geklee in ’n wit Muslim-rok, ons in en help om die bagasie by die trappe op te dra na die woonstel van haar ma, waar sy saam met haar uitgebreide familie woon: vier broers, twee susters, haar stiefpa en haar twee kleuters. Daar is ’n boodskap in Arabiese skrif op die deur. Die woonstel bestaan uit vier kamers en ’n donker sit-en-eetkamerruimte, ’n kombuis en ’n klein stoepie wat uitkyk oor agtergeboue en begraafplaas. Drie broers woon in die een kamer, die twee susters en die kleuters (die een is ’n laatlammetjie-broer van Luisa) in ’n ander kamer, die ma en stiefpa in die hoofkamer, en Luisa het haar eie kamer wat altyd gesluit is tydens haar afwesigheid, want sy beheer die familie finansieel. Alles is netjies, maar verweer. Haar moeder groet my met piksoentjies op die wange, en in Luisa se kamer word die inkopies en geskenke uitgedeel. Sweet tap my af van die hitte.

Luisa beveel my om te gaan “bad”. Water is in skottels opgedra en ek bad deur water in ’n koppie oor my lyf te spoel.

Daarna is ons op pad na haar vriendin Graça in ’n taxi en die een na die ander pynlike verrassing. Luisa kondig aan dat sy as guns aan ’n Italiaanse vriend wat in die tronk is die nagklub Lusos vir ’n paar weke bestuur en dat sy dus elke nag tussen 12 en 3 in die oggend werk. My maag draai en ek sien ’n grysheid in Luisa se oë.

In die sitkamer van Graça sit ’n langbeen ontkleedanseres, Charday, met wilde hare. Haar pa was ’n Skot wat in die niet verdwyn het en haar ma is van Malawi. Sy het in ’n weeshuis op die Natalse platteland grootgeword. Ons bespreek rasse-stereotipes soos ervaar deur swart vroue en Graça vertel die klassieke verhaal (miskien kan iemand dit verwerk in ’n drama) van ’n boer met ’n woeste snor en vierwielaangedrewe jeep wat daar in die omgewing bly en wat ’n meisie van veertien in die strate van Maputo opgetel het, en nadat hy haar onteer het, gee hy haar R1. Sy is toe na die polisie om hom aan te kla. Die polisie daag op en eis dat hy haar R20 000 betaal of met haar moet trou. Dit kos hom toe R20 000.

Dit is twaalf in die aand en ons is op pad na die nagklub Lusos, binne versier met Kersfeesliggies. ’n Klomp mans sit by die kroeg en ander by tafeltjies. ’n Hoer dans met haar beeld in die muurspieël agter die verhoog. Daar gebeur nie veel nie. Luisa drink weer, sommer ’n hele paar whiskies.

Die ongeluk het ’n paar weke tevore ons verhouding begin ry. Luisa en haar twee kleuters het by my batchelor ingetrek. Daar was net ’n gordyn tussen die balkonkamer waar ons geslaap het en die sitkamer waar die kinders in die nag op ’n matras hulle teddybeertjies vasgehou het. Luisa was swanger. Die ruimte was klein. Dit was een van die groot genoegdoeninge om met my vingers oor haar bultende maag te streel.

In hierdie tyd het my ouers in Durban kom kuier. Dit was die tyd van my verjaarsdag. Ek het baie uitgesien na hulle besoek, maar my ma het geweier om Luisa te groet. My verjaarsdag het verloop sonder my ouers. Hulle het my afgeskryf. Dit was ’n groot skok vir Luisa. Toe, eendag, kondig sy aan sy keer terug Mosambiek toe en sy neem die kinders saam. Die volgende week kom die boodskap sy was in ’n ongeluk, twee mense dood en ook die ongebore baba, ’n seuntjie. Iets het verskriklik gebreek tussen ons. Ek moet Maputo toe gaan om haar familie te ontmoet. Die hitte is erg. Ons moet van voor af begin. Luisa het vir haar ’n woonstel gekoop, want sy moet iets nalaat aan haar kinders. Ek weet nie waar die geld vandaan kom nie, maar met die Italianer in die tronk, kan ek my goed indink. Ek staan voor groot besluite. Sy wil net gedeeltes van die maand in Durban woon om klere te koop wat sy weer in Mosambiek verkwansel. Geld het by haar ’n obsessie geword.

Ek bring twee moeilike weke in Mosambiek deur. Op Nuwejaar die vuurwerke gesien, sterre wat in sirkels in die hemel oor die stad val. Luisa het my met ’n glas sjampanje gedoop, en daar was weer iets van die ou dae in haar lag.

Die derde Januarie samba ek terug op die Panthera-Azul deur ’n mistige Swaziland met riviere wat afkom en reëndruppels wat soos sperms teen die busruit opgly. Ek kom terug met ’n verskriklike leegheid. Saans gaan koop ek vis en skyfies by Skippers. Agter my hoor ek die klikgeluide van hardlopende hoëhakskoene. ’n Vriendin van Mbali wat my by die Costa do Sol sien verbystap het. Sy bring die nuus Mbali is dood en ’n verdere grysheid oorval my. Die strate in die Puntgebied is ’n grys hartseer. ’n Bodybag vol maaierende herinneringe. Ek sluit af met ’n gedig aan Luisa:

Letter to Luisa

Herewith the toys of the children,
Herewith your clothes.
It leaves me with emptiness
It leaves me with memories to make love to
as I imagine you in the back of a taxi
as I imagine how pale death returned to your eyes
that used to glitter like black diamonds
as I imagine you open a purse
with a smile that controls the world
and I imagine you dream in the smell of my sweat
in the breeze that blows through your penthouse
and I am the breath of that breeze
it is the body of my loneliness
I am the smell of Maputo
the mice that come from the sewers
sniffing at what was
I dance with the moon
I dream in the blue neon glow of the Holiday Inn
In the streets I hear the voices of familiar prostitutes
laughing with the pain of money that cuts
and smelling of whisky and smoke and sperm and vomit
I am left with life
I am left with the ghosts and the cockroaches coming from the cracks and the books
their tentacles dancing to the music
feeling the rhythm of my thoughts
Empty my body from that whisky glass.
I’m the melting ice.
The striptease dancer folds her legs
around the heads of her audience
being born again in her perfumed cunt.
Herewith the teddybear and the soccer ball
Herewith the soft mini dress smelling of time.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.