Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Desember 1999

Oktober in Essen, Duitsland ...

Ek was vir die maand Oktober in die rooibaksteengebou van die Kulturwissenschaftliches Institut in Essen, Duitsland. Laataand gearriveer. Hasies hop rond in die gras en krimpvarkies kou aan die dou. Hulle kom uit op mistige aande.
    Hier is welvaart en geen sekuriteit is nodig nie. Die hekke staan oop. Motors is in die strate geparkeer. Langs die Kulturwissenschaftliches Institut is die Folkwang Museum, ’n museum van moderne kuns, of hulle stukkie geheue aan Europa se stormagtige geskiedenis hierdie eeu. Hier kan ’n mens iets van die angs van die verlede terugvind. Maar ook sien hoe vervreemding en die individu ontdek is. Skuins oorkant die Folkwang Museum, in Kahr Strasse, dink ek, is die Royal Hotel. ’n Spookagtige hoerhuis. Ek het in die hele Oktober geen mens daar sien in- of uitgaan nie. Bygesê, in Essen begin die nagklubs eers ná een in die aand, en dan op ’n dooierige manier. Durban is ’n mekka vir die naglewe in vergelyking. In die vensters van die Royal is groot swart en wit foto’s van die blondines wat daar beskikbaar is. By elke foto staan ook ’n aantal rooi rose in die venster. Laat ’n mens aan begrafnis dink.
    Ek is darem nie begrawe in die Kulturwissenschaftliches Institut nie. Dié lyk wel ’n bietjie na ’n idilliese krematorium tussen die akkerbome. Maar dit is ’n plek waar geesteswetenskaplikes hulleself van die probleemryke werklikheid kan onttrek, om by hulleself te mymer oor Europa in stutte. In al die stede val dit my op hoe ’n verlede deur stutte in stand gehou word.
    Dit is natuurlik net in ’n stad soos Essen dat ’n mens ’n galery soos die Galerie KK sal aantref. Dit is nou in die Rüttenscheider Strasse. Rüttenscheider Strasse 56, om presies te wees. Ek drink koffie saam met die vampieragtige eienaar met bebloede tandvleise, ’n wandelstok en ’n reënjas, en ’n wollerige brak wat Afrika aan my ruik en onophoudelik begin blaf. Saam sit ons en kyk hoe verbygangers soms by die vertoonvenster stop om in te kyk na die skilderye en boeke-te-koop.
    Ek vra hom of daar nie soms teëstand is nie vanweë die okkultiese aard van die werk wat ten toon gestel word. Die vraag lei tot my dieper inisiasie in die geheime van die plek; ek volg hom teen die trappe op na die donker boonste verdieping. Daar stel hy my voor aan die werke van Heike Ruschmeyer, oor wie se werk daar ’n groot bohaai was. Hy is in 1998 aangekla van onsedelike dinge na aanleiding van haar werk: blykbaar ’n klomp feministe wat gedink het die skilder is ’n man.
    In elk geval, haar werk is ontstellend. Nie oor die bebloede geslagsdele wat sy skilder nie, maar oor die misterie van die dood. Sy skilder mense wat gewelddadig en as gevolg van seksuele aanranding of selfmoord gesterf het. Mense wat sweef. As jy nie glo aan die hiernamaals nie, moet jy net na die werke van Heike Ruschmeyer kyk. Dit laat my dink. Miskien is dit net mense wat so sterf wat die hiernamaals beërwe?
    Die vampier was blykbaar al ’n paar keer in suidelike Afrika. Hy was vroeër ’n yuppie of ’n besigheidsman. Suid-Afrikaanse skilderye is te kleurryk, volgens hom. Ek kan nie anders as saamstem nie. Ook op straat dra almal in Duitsland swart of wit of vaalbruin. Nooit iemand met ’n helderkleurige hemp of broek nie, behalwe die papegaai, die uwe.
    Naas Essen was ek ook in Utrecht waar ek ’n wonderlike aandete saam met die heer Fokkema en die dame De Lange geniet het. Ek het daar die teen-Verligting probeer verkondig, maar blykbaar is dit reeds mode in Europa. In Essen in ’n ou Fabriek het ek byvoorbeeld ’n toneelstuk, Don Quixote, gesien. In hierdie toneelstuk word die hele intellektuele geskiedenis van die Weste verpersoonlik deur die windmeul-bestormer Don Quixote. Waarom het ek nooit self vroeër daaraan gedink nie?
    Ook was ek in Cambridge en Norwich. Hier stel die mense meer belang in my kreatiewe werk. Ek lees vir hulle fragmente uit my Bitch en hulle geniet dit baie, en ek speel vir hulle Mud Ensemble se weergawe van William Blake se The Bat en Tiger Tiger. Ons raak hoog op die musiek. Na die tyd word daar lank om ’n bottel rooi wyn oor die Beat poets gepraat. Uiteindelik vroegoggend sien Alistair in sy japon my af om weer die tonnel terug te vat Europa toe. Daar is heelwat meer oor my Europese ervaring in hierdie boek waarmee ek worstel: Bitch.
    Ek is terug in Suid-Afrika. Reeds konferensie bygewoon oor die nuwe Afrikaanse universiteit. Lyk of Pretoria die nuwe intellektuele sentrum van die land word. Is daar nie vir my ’n job by Tukkies nie? By die konferensie Christoff Mans van Protea Boekwinkel ontmoet. Die ouens beweeg.
    Elk geval, op die Sondagoggend onder ’n sambreel iewers in Pretoria het ons groot dinge beplan: die opneem op CD van Neil Goedhals se komposisie van Sy slaap naak. Ek het ’n rare kopie van hierdie stukkie onvergeetlike Afrikaanse punk. In hierdie week het dit gerealiseer: een CD, maar dit klink ’n bietjie krapperig. Ons sal dit moet edit. Mense, binnekort is dit Neil Goedhals, terug in ons midde met die klanke van Sy slaap naak.

Hier is ’n resep vir ’n gestrande navorser in Europa:

Bestanddele:
’n pakkie spaghetti
’n halwe peperoni in stukkies gesny
’n pakkie oro di parm-tamaties
’n teelepel van Dr. Höring’s Sauerkirsch (suur kersie?)-konfyt
twee lepels suurkaas
350 gram maalvleis
snitte Hollandse Gouda-kaas
’n lepel Ierse botter

Kook water. Voeg ’n bietjie van die botter by die water. Voeg sout en spaghetti by. Smelt botter in pan, voeg peperoni en pakkie tamaties en sout en konfyt en vleis by en laat dit liggies kook. Voeg suurkaas by om vleis sag te maak. Wanneer die vleis gereed is en die spaghetti sag, skep op en bedek met stukke Gouda-kaas. Eet met ’n glas Diät Pils.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.