Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Julie 1999

’n Mens skryf met die hande, maar denke kan ek nie plaas nie. Dit gebeur iewers tussen die kleintongetjie en die raam van visie: ’n taal wat net verdwyn wanneer ’n mens ’n pen optel.

Skryf is ’n wonderbaarlike proses. ’n Mens doen dit seker die beste met die oë toe, wanneer denke nie kan inmeng nie. Maar om myself te weerspreek: Freud het gepraat van primêre en sekondêre prosesse. Die primêre is die sintuiglike geheue, die onmiddellike ervaring. Die sekondêre is die vertaling daarvan vir die langtermyn geheue: die beliggaming van ideologie.

Skryf (van fiksie) reaktiveer die primêre geheue. Daarom is dit moeilik. Byna ’n soort besetenheid. Die primêre moet besit neem van die sekondêre gebiede: die primitiewe in die menslike samestelling moet die beskawing oorweldig: ’n soort verlamming. Daarom is skryf moeilik, daarom soveel meer kompleks as al die diskoerse met hulle oorsprong in die vereenvoudigings van die sekondêre geheuebanke (vertaling is vereenvoudiging).

Ek kyk by die woonstelvenster uit na ’n paar ure voor die rekenaarskerm. In die wind en son onder op die straathoek die gestalte van ’n lang skraal vrou. Mbali het teruggekeer uit die dood, kom onwillekeurig by my op, en ’n benouenis. Die lewe is verraad — Die reël van Ingrid Jonker waar Judas Iskariot die “werkwoord van die liefde word” — As jy ander nie verraai nie, verraai jy jou self.

Is dit Mbali se spook, teruggekeer uit die hel, die moddervasvalplekke van Dassenhoek? Kan sy weer loop, of sweef sy? In Zoeloe beteken haar naam “Blom”.

Die maand het my uitgeroei. Diewe het ’n R1 500 se skade aan my kar aangerig. Uit die bloute, as gevolg van ’n administrasiefout, ’n rekening van R900 vir heffing by Oxfordhuis. Ek is uitgeroei.

Vroegaand by Squireman’s. Dit gaan al treuriger met my stamkroeg. Daar was ’n roof die vorige aand, en in die week het ’n betonblok twee verbygangers op die sypaadjie doodgeval. Die dood kom soms onverwags. Ek eet my preggo, drink ’n bier, voel eensaam. Na die bier stap ek oor na Costas. Maak myself tuis op ’n kroegstoeltjie tussen die hoere en kyk na die spieël agter die drankbottels en ander kroeg-toebehore. ’n Opgeskote hoer, oker vel en hare gelykgemaak en uit Swaziland dink ek is eensaam en ons begin praat oor Mbali.

Longontsteking en TB is simptome van Vigs. Toe kom die storie uit van Mbali se vorige boyfriend. Eerste keer dat ek die storie hoor. Hy was ’n bekende besigheidsman van Mosselbaai. Hy en Mbali was blykbaar baie na aan mekaar, maar sy besighede was in die naam van sy vrou.

Wat was sy naam? Vra ek. Sy dink, roep die kelder nader. Hy is te besig om te klets. Vroeër die aand het die Bafana’s Mauritius in ’n sokkerwedstryd platgeloop. En die mense staan die kroeg vol. Sy kan nie die naam onthou nie. Maar almal weet van hom. Hy is alombekend hier. Is nou ’n hobo. Sy vrou het hom by die huis uitgegooi. Jy kan hom gereeld hier op die sypaadjies sien slaap.

So is dit die geheime geskiedenis van Mbali. Sy het altyd geweier om stories te vertel. Gelewe vir die oomblik. Soms so gedrink dat haar liggaam die volgende dag vol rowe is van hoe sy rondgestruikel het, trappe afgeval het. Seker om iets te wil vergeet. Vir haar was daar geen kompromie in die liefde nie ... Is dit waarvan sy nou sterf?

Op my woonstelvloer die skaakbord. Sy was mal oor skaak. Skaak en tussen vier en ses die sepies: The Bold and the Beautiful en Days of Our Lives.

Ek staan op van my kroegstoeltjie en vat die pad skielik terug na my woonstel. Op die hoek van Punt- en Wes-straat is daar ’n groot pot met sop en lang toue straatmense in hulle vodde. So ’n paar dae vroeër was dit sulke lang rye mense wat gaan stem het. Interessante vergelyking.

Ek dink die hoer hou ’n hele gemeenskap ekonomies aan die gang. Soos die Afrikaanse hoere dit gedoen het die eerste paar dekades na die Anglo-Boere-oorlog. Daar moet eendag ’n monument opgerig word vir die hoer, sommer hier iewers in die Punt-gebied.

In die woonstel neem die chaos oor. Stof, dooie kakkerlakke, verf wat afpeul, weke se skottelgoed en boeke wat rondlê. Ek het nie meer die krag om myself vir die lewe te heroriënteer nie. Die professor word ’n hobo. Elke oomblik van die chaos is die moeite werd. Dit is wat die sosiale ingenieurs nie verstaan nie. So die geskiedenis herhaal homself.

Sy kon haar siel uitdans, maar sy het nie gehou van seks nie. Liefde was alles. ’n Prima Donna, heeltemal ’n fokken Prima Donna: enige kelner se nagmerrie. Want sy was punteneurig: alles moes presies gebeur. Dan die anderkant: Twee uur in die nag strompel sy dronk by die woonstel in en haar hele liggaam walm van drank en rook en sy pass uit nog met haar stewels aan.

Hierdie is ’n monument vir Mbali.

Hoeveel keer is sy nie verraai deur my kleinburgerlikheid nie?

Hoe voel ek nie die verraad nie?

Hoeveel keer het sy my nie verraai nie?

Die hoer uit Swaziland definieer die liefde: Liefde is om iemand in jou huis te neem en hulle te versorg: Klere en kos voorsien. Liefde is daarom baie tasbaar.

Mbali het my een nag die storie vertel van die hobo wat altyd lees. Jy sal hom nooit sonder ’n boek aantref nie. Hy is uit die township gedryf deur die comrades. Miskien was hy iemand wat wou skool toe gaan, terwyl ander mense ’n ander agenda gehad het. Die intense haat het hom uitgedryf. Nou praat hy met niemand nie. Vis sy kos uit die asblikke en lees en lees en lees.

Dan is daar Three Quarters, die dwerghobo met ’n staalbeen en ’n stomp armpie. Kom glo uit ’n baie gesiene familie, maar hy verkies die lewe op die straat. Hy hou daarvan om op mense te vloek. Een van die onvergeetlike oomblikke van my lewe was toe hy my gevra het om hom op te tel sodat hy kon staan. Die stof van die sypaadjies was vir weke in my neusgate. Elke dan en wan kom die polisie om hom te bad en te ontluis. Volgens die opsigter het die swartes ’n heilige vrees vir hom. Hy is ’n tokkelossie.

’n Blote verwysing na hom en Mbali wens hom summier dood. Waarom? Want hy vloek mense is haar antwoord. Maar dit moet meer wees. Die gewig van herinneringe. Hierdie is goeie tye waarin ons lewe. Hierdie is die rewolusie waartoe ek bygedra het.

Armoede is skoonheid.

My hart gaan uit na die miljoene sonder werk.

Wat is die antwoord?

Wat is die vraag?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.