Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Januarie 1999

Tussen die Wheel en die Four Seasons Hotel is die ou art deco woonstelgebou, Oxford Huis. Alles is skeef in hierdie nuwe baken van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Woonstel 27 is op die vierde verdieping. Dit kyk vas teen die wolkekrabber-agterkant van die Holiday Inn, maar het ook ’n uitsig op die see. In die strate drentel kreupeles, dronkies, prostitute, en die jeug van die nuwe Suid-Afrika peul uit taxi’s. Vanaf die stoep van die Four Seasons kom die karnavalklanke van die orkes 24 uur lank. Tekens van die depressie is orals sigbaar. ’n Dwerg, met twee stomp armpies en een stomp been, skree vir my: “Ek is nie mal gebore nie; ek is mal grootgemaak.”

Die ruimte in woonstel 27 word oorheers deur ’n rekenaar waarop Suid-Afrikaanse letterkunde in CD-Rom ontwikkel word. Verder is daar derduisende boeke, rare boeke wat tweedehands van SABUS (Suid-Afrikaanse Boeke-Uitruilskema) aangekoop is. Teen die een muur ’n rak met byna die hele Suid-Afrikaanse letterkunde in die inheemse tale. Verder is daar plate, ’n platespeler en drie houtmaskers uit die Kongo, wagtend soos voorvadergeeste, op die vloer.

Die CD-Rom bestaan tans uit ’n databasis met bibliografiese besonderhede van ongeveer 8 330 skrywers van boeke en artikels met betrekking op die Suid-Afrikaanse letterkunde. Sleutelwoorde bied kitsverwysings na resensies, artikels en ander bronne met betrekking tot die belangrikste Suid-Afrikaanse skrywers, genres en ander items. Dit bevat onder meer ’n bronnelys van ongeveer 250 tekste met betrekking op die Boesmans, of ongeveer 800 tekste gewy aan literatuurgeskiedenis in Suid-Afrika. Binne ’n oogwink kan al die materiaal alfabeties of chronologies georden word. Verder bestaan die CD-Rom uit ’n biblioteek van rare Africana-tekste in elektroniese vorm: Die Bleek-geskrifte, Theal se Kaffir Folklore, Thomas Pringle se African Sketches en Narrative of a residence in South Africa. Dan is daar ook ’n kort historiese geskiedenis van die Suid-Afrikaanse letterkunde — geïllustreer met foto’s, video’s, klankopnames en hiperskakels met resensies en artikels. ’n Afdeling vir speletjies word beplan, met vlakke van kompleksiteit vir van kleuter tot professor asook ’n keuse van speeltaal. Storielyne vir die speletjies moet nog verbeel word. Daar is al besluit op die Zoeloe-gekskeerder, Chakijane, as karakter om die deelnemer deur die Suid-Afrikaanse letterkunde te begelei.

In die Gillespiestraat-slenters gaan daar diep, baie diep, maar terselfdertyd losweg besin word oor die teoretiese probleme van die Suid-Afrikaanse letterkunde, terwyl die Four Seasons die musiek verskaf en allerlei onderbrekings te wagte kan wees: die armblanke wat kom aanklop vir ’n sakkie meel, of ’n bad wat oorloop. Die water begin deur die dak op die kosbare boeke neerreën.

Miskien moet ek afsluit met ’n idee wat deesdae aan my karring. Die poststrukturalisme en die postkolonialisme het ons attent gemaak op die regime van die rede: die diskoerse, instellings en dissiplines waardeur die mens die afgelope 200 jaar mak gemaak is. Vanuit die kritiek op die diskoerse van die sosiologie, kriminologie en sielkunde word ’n mens weer eens bewus van die andersheid van die literatuur. Die literatuur is nie ’n wetenskap nie, maar ’n wysheid met implikasies wat die reduktiewe wetenskappe ver oortref. As wysheid duld dit weersprekings, word dit onderlê deur ’n tragediebeskouing van die lewe (lewe as oorvloed, maar ook as einde, met die menslike rede ’n klein mier in ’n rivier in vloed). Die letterkunde werk anders as ander diskoerse op ’n wysgerige en nie op ’n vormlike vlak nie. Daar moet dus weer na die spesifisiteit van die letterkunde gekyk word: Die inherente aard van die literatuur is egter nie geleë in die vorm nie, maar in die komplekse voorstelling van die menslike lot.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.