Skrywers, kyk wat sê die lesers!
Menings van lesers
Waar kom selfgesentreerde arrogansie vandaan?
Myra Lochner reageer op Johann
Rossouw se nuusbriewe uit Taiwan:
Ek het Johann se briewe met deernis gelees. Alhoewel ek nie gay is nie, strek
my liefde vir mense wyer as voorkeure van watter aard ook al.
Johann se ervarings is baie intieme eie-belewenisse - ervarings wat nie veralgemeen
kan word nie. Ek het gay vriende wat geensins sodanige verwarde en selfgesentreerde
arrogansie besit nie. Ek wil glo dat hy ALLE mense hier impliseer. Presies
dieselfde karaktertrekke kom voor by sogenaamde heteroseksuele: kleinlikheid
as gevolg van pyn en leegheid vra nie wie die bedmaats is nie - dit nes in
verwondheid van die siel.
Ek wou maar net seg.
Edengroete uit George
Dr Pieter skryf uit Finland oor Johann
se nuusbriewe
Ek het bloot toevallig op litnet.co.za afgekom toe ek "gesurf" het op die
web, en ek het al Johann Rossouw se briewe uit Taiwan gelees. Dit was vir
my 'n genot en 'n ondervinding om te hoor hoe 'n Afrikanerseun uitgemaak het
in Taiwan. Ek is jammer dat hy nie vertel het hoekom hy juis Taiwan toe is
nie. Ek self woon al die afgelope 29 jaar in Finland, en weet wat dit is om
jou land te verlaat en in 'n vreemde land tuis te gaan. Ek haal my hoed af
vir jong Rossouw. Ek vind sy briewe geweldig simpatiek, en voel dat Suid-Afrika
'n baie goeie persoon verloor het. Ek voel jammer vir sekere Suid-Afrikaners
met hulle gebrek aan ondervinding en hulle tonnelvisie. As hulle net hulle
oë ordentlik wil oopmaak, sal hulle sien dat die Sjinese en die mense van
Thailand die mooiste mense op Gods aarde is.
Baie groete
*
My stryd as gay
Jan skryf openhartig vir Chrisjan
My naam is Jan. Ek is nie biseksueel nie; ek is 100 persent homoseksueel.
Ek en Chrisjan het nogal baie gemeen. Ek is ook die derde en jongste seun
en my ma-hulle het ook gedink ek sou 'n dogtertjie wees. Ek was ook 'n onbeplande
baba. Ek het nog nooit aan daardie teorie gedink nie, maar ek glo ook ek is
van geboorte af gay; dis nie 'n keuse wat ek langs die pad gemaak het nie.
Een van my vroegste gaygedagtes was op die ouderdom van vyf.
Ek het op 'n baie klein dorpie grootgeword en ek was vreesbevange oor wat
met my sou gebeur as mense sou uitvind dat ek gay is. Die boertjies op ons
dorp het menige jong ouens wat net skeef lyk, bygekom. En by die skool is
die bekende gays soos die plaag vermy. Is dit nie 'n wonderlike land hierdie
waar almal veilig tussen hulle eie mense kan voel nie? Ek moes maar 'n front
voorhou en saam met meisies gaan kuier sodat niemand sou agterkom in watse
vrees en pyn ek moes lewe nie. Ja, dit was pynlik. Is nog steeds. Ek het my
ouers en my vriende vreeslik lief, en my hart sou net doodgaan as ek in die
kyk in hulle oë moes vaskyk as ek vir hulle sou gesê het. Ek het selfs baie
kere aan selfmoord gedink, en ek het erg aan depressie gely, maar "tieners
gaan mos deur sulke fases".
Vandag is ek 23 en selfstandig, en is ek besig om moed bymekaar te skraap
om my familie en skoolvriende die waarheid te vertel. Die meeste mense wat
saam met my werkagtig is hier in Johannesburg, weet dat ek gay is. Dit het
ontsettende moed van my gevat, maar ek het besluit dat ek iewers die eerste
stap moes neem. Dit raak nie makliker nie; 'n mens raak net meer gatvol. En
vir my om gelukkig (werklik gelukkig) te wees, sal ek nou selfsugtig moet
wees en aan my eie gevoelens moet dink en nie aan my ma en pa en vriende s'n
nie.
Ek dink nie mense verstaan deur watse emosionele pyn gay mense (en ja, ons
is net gewone mense) gaan as hulle deur heteroseksuele mense aangeval en sleggesê
word nie. Ek dink as hulle eers waarlik kan verstaan wat dit beteken om gay
te wees, sal hulle twee keer dink.
*
Iemand wil help
Elzabe Durr-Fitschen, 'n terapeut van die Kaap, het 'n boodskap vir
Ren van Zyl ("Menings van
ons lesers", 28 Junie: "'n Hele klomp pos"):
Ek wonder maar net waar hierdie Ren haar bevind? As sy in die Kaap is, moet
sy die Triangle Project probeer, of dalk selfs met my kontak maak - ek kan
help. Ek is 'n gay terapeut in die suidelike voorstede, sien gay kliënte en
help gereeld met die vraag "Waarheen nou?".
Hiervan hou die mense!
Erica reageer op twee bydraes op Gay@LitNet. Die eerste is oor Catherine
Eybers se gedig "Loop die pad":
Duwweltjie duiweltjie maar pynlik lekker elke keer. Pragtig gedeel ...
Die tweede is Willie Knoetze se bydrae in Uit
die boks ("Katools"):
Die queen kan praat ... wonderlike slap Afrikaans ... Ek is hier in Saoedi
en hoor net geradbraakte Ingels ... en geniet LitNet se GayNet Net te vreeslik.
Gaan voort.
CAT is ingenome met Katryna du Toit se
gedig van 15 Desember 2004: "Ses
maande (vir die oostewind)":
Excellent, well-written and flowing, hope to see more of this person.
Willem Bakkes hou van Hein van der Lecq
se vertelling oor "Die masseur laat
hom nie twee maal nooi nie":
Dit is 'n baie lewenswerklike teks, baie goed geskryf. Doen so voort!
LitNet: 06 September 2005
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA
boontoe / to the top
|