|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Johann Lodewyk Marais het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en debuteer met die digbundel Die somer is n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonkerprys kry. Daarna skryf hy nog vier digbundels, waarvan Aves so pas voltooi is. Hy stel ook twee bundels saam: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en, saam met die Nederlandse digter en letterkundige Ad Zuiderent, Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en is verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria.
|
|
|
Ander verhale deur Johann Lodewyk Marais:
Man in n rolstoel
Om Ruth First te onthou
Die repatriasietrein1
Woensdagnag, terwyl die geute suis van die subtropiese reën, luister ek of ek n trein kan hoor. Die Border Gate Motel tussen Komatipoort en die Lebombogrenspos is die laaste plek in Suid-Afrika waar n reisiger na Mosambiek kan oornag. Pres. Paul Kruger se Oosterlyn na Delagoabaai, wat in 1894 voltooi is, loop hier naby verby. Maar hierdie Novembernag in 1997 verwyl ons nog eers binne Suid-Afrika se grense.
Ek en Oupa Nkoane, n leerlingnavorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het die afgelope week op grensplase met Mosambiekse werkers gepraat. Gister het ons by die Lebombogrenspos met amptenare van die Departement van Binnelandse Sake en van Doeane en Aksyns, asook met die kaptein van die grenspolisie, onderhoude gevoer oor die onwettige immigrante wat uit Mosambiek na Suid-Afrika kom. Vir die amptenary is hierdie verskynsel n groot kopseer.
In haar netjiese kantoor met sy hoë plafon en lang, smal vensters het die Hoof van Immigrasie van die Departement van Binnelandse Sake op ons vrae geantwoord. Ons moes vooraf by haar streekdirekteur op Nelspruit toestemming kry om hierdie onderhoud te voer. Om die inligting te staaf wat sy vir ons gee, het sy kort-kort na haar rekenaar toe gedraai en kolomme statistiek uitgedruk oor die getal mense wat deur hierdie grenspos beweeg en oor dié wat gedeporteer word. Sy het baie te vertel gehad oor die vreemdelinge wat Suid-Afrika onwettig binnekom.
Hulle is baie slim. Hulle doen enigiets om in die land in te kom.
Sy het een van haar amptenare, wat net soos sy in n wit uniform met epoulette geklee was, gevra om vir ons die paspoorte te bring waarop beslag gelê is. Die jong man het met n kartondoos aangestap gekom en vriendelik gegroet. Sy het n paar Mosambiekse en Suid-Afrikaanse paspoorte uitgehaal waarmee daar gepeuter is. Een is van n Mosambieker wat iemand anders se paspoort in die hande gekry en toe dié se foto netjies met n lemmetjie verwyder en met sy eie foto vervang het. Die deel van die amptelike stempel oor die foto het hy self met n pen ingeteken. Ek en Oupa moes goed kyk om die snymerkies te sien.
Jy moet so versigtig wees, het sy bygevoeg.
Ons hoor by haar dat die repatriasietrein, wat elke Woensdagmiddag van Lindela by Krugersdorp af vertrek, die volgende oggend by die Lebombostasie sal arriveer, waar die laaste papierwerk gedoen moet word voordat die trein verder kan gaan. Die gewone passasierstrein, wat elke dag na Maputo ry, daag n bietjie vroeër op. Sy vertel ook van die rasionalisering in die Departement. Vir haar en sommige van haar kollegas is dit byna die einde van n era, en sy is bekommerd oor wat die toekoms inhou. Ek kyk na die geraamde foto van haar as n jong studentekonstabel by die Polisiekollege in Pretoria: n mooi meisie.
Laat die middag gaan ek en Oupa kyk hoe die Lebombostasie lyk. Die stasie en die spoorlyne is in die skemeraand verlate tussen die soetdoringbome. Ons sal liewer weer die volgende oggend terugkom, wanneer die repatriasietrein hier behoort te wees. Met ons terugtog fladder daar n Afrikaanse naguil voor ons in die motor se ligstraal. Ek hou stil en kyk deur die verkyker na hom. Ná n rukkie vlieg hy op, sodat ons die wit kolle op sy vlerkvere kan sien, en gaan n entjie verder sit. Wanneer ons nader ry, vlieg hy verder. Dit gebeur n paar keer voordat hy uiteindelik heeltemal tussen die bome langs die pad verdwyn.
Vroeg die volgende oggend hoor ek n dieselenjin: dit moet die passasierstrein wees wat op pad Maputo toe is. Ek en Oupa sal nie betyds wees om na hierdie trein (waarvan ook toeriste al hoe meer gebruik maak) te gaan kyk nie, want ons moet nog ontbyt eet en die rekening vir ons verblyf vereffen. Ons behoort wel by die stasie te wees wanneer die repatriasietrein om nege-uur opdaag.
Dit het deur die nag goed gereën en die grondpad na die Lebombostasie is modderig en glad nie die soort pad om met n Toyota Corolla 160 aan te pak nie. Te oordeel aan die diep spore in die modder moes hier vroeër die oggend reeds n paar ander motors gery het. Ons kom stadig nader aan die stasie. Ongeveer n honderd meter daarvandaan hou ek stil. Ons sal die laaste entjie moet stap. Vir n oomblik lyk dit asof Oupa nie daarvoor kans sien nie. Die gras is nat en die bome drup nog van die reën. Plek-plek moet ons lang treë gee om oor die modderpoele te kom.
Die repatriasietrein staan al op die stasie as ons die perron bereik. Die dieselenjin luier diep en rustig. Die tiental passasierswaens is vol en van die mense leun by die vensters uit. Voor die stasiegebou lê rolle lemmetjiesdraad. Twee immigrasiebeamptes en n grenspolisieman is voor een van die stasiegeboue besig om die stapel repatriasievorms te stempel en steur hulle nie aan ons nie. Langs die trein loop n gesette immigrasiebeampte op en af. Hy is in n wit uniform geklee en het n sambok in sy hand. Hy hou sy oog op die trein om te verseker dat alles ordelik verloop.
As ek en Oupa nader aan die man in die uniform staan, groet hy agterdogtig. Die noem van die Hoof van Immigrasie by die Lebombogrenspos se naam stel hom egter gerus en ek vertel dat ons aan die RGN in Pretoria verbonde is en navorsing doen oor die onwettige immigrante wat uit Mosambiek na Suid-Afrika kom. Ons wil graag sien hoe die trein lyk waarmee die mense na Mosambiek teruggestuur word.
Daar is reeds meer Mosambiekers as Suid-Afrikaners in hierdie land, sê hy vinnig.
Nee, dit is n bietjie oordrewe. Ons weet nie regtig hoeveel onwettige immigrante daar in Suid-Afrika is nie, probeer ek hom reghelp.
Hy lyk nie oortuig nie en steur hom nie verder aan ons nie. Sy aandag is nou heeltemal op die trein toegespits. Aan die voorkant van die trein het n beweging sy aandag getrek. Dit lyk asof van die mense wat gedeporteer word van die trein afgeklim het.
Wat gaan daar aan? skreeu hy vir twee polisiemanne wat n ent verder staan. Hulle reageer nie onmiddellik nie.
Daar het mense daar voor afgeklim!
Die man vroetel aan sy tweerigtingradio en begin om driftig met iemand te praat. Hy vertel van die mense wat van die trein afgeklim het en probeer om te ontsnap.
Ek laat die polisie kom. Vandag kom hier n ding! sê hy half vir homself.
Intussen is van die passasiers in die trein se aandag op n Indiërsmous gevestig. Dié staan langs sy bakkie, wat n kap op het, anderkant die heining voor die stasiegebou. Agter die bakkie is brood, melk en ander kruideniersware uitgepak. Die smous hou n brood deur n gat in die draad. Maar hy mag nie: volgens die immigrasiebeampte is hierdie n plek van binnekoms en is dit onwettig om hier handel te dryf. Hy het glo die hele oggend al probleme met hierdie man. Van die passasiers wil egter graag vir oulaas iets koop.
Môre, Baas, groet n desperate jong man wat by n treinvenster uitloer en my nader wink. Hy hoop waarskynlik dat ek vir hom iets by die smous anderkant die heining sal koop. Ek steur my nie aan hom nie. Baas ... Baas ... hou hy aan.
Om uit hierdie situasie te kom, vra ek die immigrasiebeampte of ek en Oupa kan gaan kyk hoe dit op die trein lyk.
Ja, antwoord hy en gaan voort om in sy radio te praat.
I would like to see where the women are, sê Oupa. Hy stap na n polisieman toe, wat ons na die agterkant van die trein beduie. Dit is die wa wat byna heel agter, net voor die eersteklaswa (vir die polisie?), aan die trein gehaak is. Ons stap vinnig oor die perron en oor die leë spoorlyn tussen die perron en die trein. Die gruis knars onder ons skoene. As ons by die trein kom, klim ons teen die steil leertjie van die passasierswa op en stoot die stram deur oop.
Die wa is vol vroue wat op regop bankies sit. Daar hang n swaar mensreuk in die lug. Die meeste van die vroue lyk jonger as twintig jaar. Tussen hulle sit daar ook n paar ouer vroue. Reg voor my en Oupa is iemand besig om haar baba te borsvoed. Enkele mense kyk op, maar die meeste van hulle steur hulle nie aan ons nie. Ná n nag van regop sit en probeer slaap in die trein is hulle waarskynlik gedaan. Daar is min bagasie: die meeste van dié vroue gaan met feitlik net die klere aan hulle lywe terug Mosambiek toe.
In elke wa sit twee polisiemanne by die twee buitedeure. Hulle moet verhoed dat mense van die trein afklim en ontsnap. Daar word vertel dat daar desondanks altyd mense ontsnap voordat die trein sy bestemming bereik. Soms is meer as die helfte van die onwettige immigrante wat gedeporteer word nie meer op die trein wanneer dit Ressano Garcia bereik nie. Baie van dié wat hulle bestemming bereik, is in elk geval binne n paar dae weer terug in Suid-Afrika. Die polisieman aan ons kant van die wa het klaarblyklik self nie n goeie nag agter die rug nie, want sy kop knik kort-kort. Ek en Oupa klim af en begin terugstap stasiegeboue toe.
Daar word nog een stryk deur gestempel aan die meer as duisend vorms van mense wat vandag moet teruggaan Mosambiek toe. Intussen het n polisievangwa gly-gly deur die modder aangekom en n entjie van ons af stilgehou. Dit begin weer liggies reën. Die man in die wit uniform het na die vangwa toe begin stap en hoor nie dat ons groet nie. Die ligte reën wat nou weer uitsak, maak die toneel voor ons dynserig, so asof ons na n ou rolprent kyk. Dit laat my dink aan die treine van die Anglo-Boereoorlog en die Tweede Wêreldoorlog; treine wat ook mense weggevoer het.
As ons woordeloos terugry, sien ek die vangwa se wilde spore in die modderpad en dink ek aan n kollega se woorde:
Onthou, n onwettige immigrant het nie regte nie.
1 Uit 'n reisboek oor Mosambiek.
boontoe
|