|
|
Hierdie gruverhaalreeks is moontlik gemaak deur
Die woonstel skuins bokant myneJean LombardVanaand is die gordyne weer wyd oop. Die andersheid van die kleur van die mure van die woonstel skuins bokant myne was nog altyd vir my opvallend. Oorkant ons blok woonstelle is 'n park met 'n besondere uitleg. Ek kyk graag van my woonstel uit op die woelige straat voor my blyplek om die besige dag van my af te skud. Dikwels trek die oop ruimte van die park met sy goed-uitgelegde grasperke en kleurvolle blombeddings my in so 'n mate dat ek daar gaan stap. Dis dan dat my aandag dadelik geannekseer word deur die binnekant van die woonstel met sy mistieke voorkoms. Die swart mure van die ruim binnevertrek vind ek vreemd. Ek kyk. Sommer so ongemerk en ongeaffekteerd. Ek ken die aantreklike man wat daar bly glad nie, en dis maar selde dat ons mekaar in die hysbak en die nou gang raakloop, maar die kere wanneer dit gebeur, groet ek spontaan. Daar is nooit tyd of die inklinasie om op hierdie stadium 'n paar woordjies te wissel nie. Elkeen te haastig op pad na sy eie bestemming. My werk vereis ook dat ek nie te familiêr raak met mense rondom my nie. En ek het so 'n eienaardige gevoel aan my dat dit belangrik is dat ek my lyf vir eers maar skaars moet hou. Ek ken daardie gevoel goed wanneer my lyf sommer so vir geen rede op aarde nie hoendervleis raak en my hare wil regop staan. Dit maak my soms baie ongemaklik, juis omdat ek aanvanklik nie altyd besef waarteen my intuïsie my wil waarsku nie. Maar dit maak altyd 'n ongekende nuuskierigheid in my wakker. En dit is juis hierdie deel van my werk wat so belangrik is en wat dikwels later fyner waarnemings van my verg. Hy kom 'n introvert voor. Meng klaarblyklik glad nie met die inwoners hier nie. Die pragtige jong blou-oog meisie met die lang blonde hare wat aanvanklik altyd saam met hom te sien was, sien ek nie meer so dikwels nie. Sy het met tussenposes dikwels op ongewone tye hier gekuier. Dalk behoort hulle verbintenis met mekaar tot die verlede. Hulle assosiasie met mekaar was grotendeels onduidelik vir my. Uit die tye wat sy soms hier was, kon ek aflei dat sy nie 'n voltydse student van 'n tersiêre instansie hier of elders kon wees nie. Sy kom goedversorgd voor, maar daar is 'n kriewelrigheid aan my wanneer ons oë kontak maak. Dit laat my aanvanklik altyd weer vinnig wegkyk. Dit voel of daardie oë van haar 'n mens deurboor. Die man moet een van 'n tweeling wees, want daar is nog 'n man met gelaatstrekke identies aan syne. Een se hare is veel ligter en langer en hy het 'n snor. 'n Misterieuse teenwoordigheid kleef aan hom. Die ander een wat hier in die woonstel bly kom skor voor. Dit is duidelik dat hy afsydigheid verkies. Loop meestal met 'n geboë hoof, skouers half kromgetrek. Hy kom baie onpersoonlik voor en ek het nog nooit 'n poging aangewend om met hom te kommunikeer nie. Sy gunstelingkledingstuk skyn die groot jas te wees wat hy altyd dra. Hy is nooit sonder sy aktetas nie. Dikwels dra hy ook 'n reissak. Vlugetikette is op albei aangebring. Daar blyk 'n dinamiek rondom hierdie verskynsel te wees. Vanuit my werksituasie is ek baie vertroud met die vlugtye en hoor 'n mens mos die groot swaar masjien inkom om te land of opstyg vir die volgende vlug. Die vreemde tye wat hy hier aankom blyk nie verband te hou met die vlugroosters nie. Maar ek ag dit onbelangrik om tyd daaraan te spandeer om die feite te ontrafel. Nietemin interessant dat dit ook tog nie heeltemal by my verbygaan nie. Belangriker dinge vereis egter nou my aandag. Vanaand klink daar 'n sagte melodie vanuit daardie woonstel en ek kan nie mooi sien wat daar gebeur nie, want die lig is gedemp. Dit blyk egter 'n besige aand te wees, want elke nou en dan verskyn 'n nuwe gesig naby die groot, skoon ruit en ek kan aflei dat daar ernstig gedebatteer word oor een of ander onderwerp. Vanuit my woonstel kan ek gewoonlik nie hoor waaroor daar gepraat word nie, omdat die musiek merendeels in die agtergrond speel en die mensestemme by verre deur hierdie klanke oordonder word. Vanaand is tog anders, want die doef-doef-klanke wat normaalweg daaruit skree, is stil. Gewoonlik blyk daar baie gerook te word daarbinne, want teen die donkerte van die vertrek en in die gedempte ondertoon hang die rookdampe altyd swaar. Een van die persone daar binne loop wye sirkels en trek lang teue aan 'n rookding. Wanneer hy feitlik teenaan die venster staan, is sy beeld tog so helder dat ek die rookdampe wat opwaarts trek, duidelik kan waarneem. Aan die binnekant van die woonstel is hulle totaal onbewus van my teenwoordigheid op 'n afstand. Die gedempte ligte verhoed dat ek te veel kan waarneem. Ek het my intrek maar onlangs hier geneem nadat ek skielik ontbied is. Weet nie vir hoe lank ek hier sal wees nie. 'n Mens kan maar nooit te seker wees nie. My werk vereis dat ek soms skielik na vreemde en verre plekke reis. My blyplek word altyd vooraf vir my gereël. Om in hotelle of gastehuise tuis te gaan, ontbloot my posisie te veel. Vandaar die geïsoleerde blyplekke, wat dikwels ook van maand tot maand kan wissel. Die spanlede ruil gereeld blyplekke uit. Ek is slegs vir kort rukkies in my woonstel met sulke tye. Die tydgleuwe van tuiswees is inkonsekwent. Sommige dae slaap ek om wanneer ek genoodsaak is om nagte deur te werk. Ander kere, weer, werk ek dagligure om en somtyds sommer beide. Ek skrik eintlik uit my mymering waar ek op die groot groen grasperk gaan sit het toe my selfoon lui. Ek herken die nommer op die verligte gesig van my selfoon. "'n Wit Camry met getinte ruite, sê jy." Ons gesprek duur nie lank nie. Ek wil ook nie te lank hieroor peins nie. Wit is 'n baie algemene kleur onder voertuie. Al die leidrade skyn nog so vaag te wees. Dis lank na middernag toe ek weer by die woonstel aankom. Die nag was uitputtend. Ek slaap ook nie goed op die oomblik nie. Die werk is vermoeiend. Die lang dae en intense nagte van die afgelope weke begin sy tol eis. Toe ek tuis kom, lewe dit nog steeds in die woonstel skuins bokant myne, die stemme veel harder en joliger as vroeër die aand. Tog het ek my nie gesteur daaraan nie en die slaap het my vanaand vinnig oorval. Elke nou en dan het ek egter tog wakker geskrik en kon ek aflei dat daar nog gepraat word iewers in die woonstelblok. 'n Deur het hard geklap, 'n baba het onbedaarlik begin skree en toe het dit skielik stil geword. Ek skrik wakker met die son wat vol op my gesig skyn. Terwyl die stortwater oor my spoel, maal my gedagtes rondomtalie. Die net begin tog nouer span. Dit weet ek. Die woonstelblok is vanoggend opmerklik stil. Ekself heelwat later aan die gang as normaalweg. Toe ek my voordeur toetrek, kom die man met die reissak weer verby. Die inhoud van die sak beweeg en ek hoor duidelik die gesmoorde gehuil van 'n baba. Ek draai om en hou op sy hakke. By die deur sit hy die sak versigtig neer en steek die sleutel in die slot. Toe sien hy my. Met dié rits ek die sak met geoefende hande oop. Hy draai om en probeer my omstamp, maar jare se gedwonge oefening aan my selfverdedigingstegnieke skop op hierdie oomblik spontaan in. Sy ligte pruik sit skeef op sy kop. Ek pluk na sy snor. Dit kom los. Ek beur my pad binnekant toe met die sak. Die man gryp na 'n stel sleutels en verdwyn teen die nooddtrap af. Die jong, blonde, blou-oog vrou leun met haar arm op die kisvrieskas se deksel. Sy slaan wit kolle in die gesig uit, haar oë is verwilderd en haar asemhaling jaag. Ek ruik lont. Ontbied my span oor die radio. Ek vra die vrou om opsy te skuif. Sy lig die deksel en gooi beide haar hande omhoog. Binne lê onthoofde babalykies op mekaar gestapel, magies oopgeruk. Toe my span by die veiligheidshek van die blok inry, jaag die wit Camry met die getinte ruite teen die muur in die teenoorgestelde hoek vas. Vanuit die woonstel hoor ek die slag duidelik. Met die impak kom die doef-doef-klanke van bisarre musiek hard aan in die voertuig. Ek jaag teen die brandtrap af en merk die pruik wat daar lê. Onder in die hoek brul die wit Camry met die getinte ruite nog, terwyl 'n liggaam slap oor die stuurwiel hang.
LitNet: 25 Oktober 2005 Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |