Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kytie Koekblik was daar toe Charlton Heston ’n geweer aan Buthelezi skenk

Dr Mangosuthu ButheleziAfrikaners is mos plesierig.

Amerikaners is vreemd.

Die nasie van “the free and the brave” het my een les geleer: Dit is jou goeie reg volgens die First Amendment van die Constitution of the United States of America om jou opinies wyd en syd te verkondig.

En solank as wat jy jouself nie in ’n hofsaak inwikkel met laster nie, kan jy so un-pc wees soos jy wil. Verskeie US citizens kan vir jou die First Amendment aframmel:

    “Congress shall make no law respecting the establishment of a religion, or prohibiting the free exercise thereof; or abridging the freedom of speech, or of the press; or the right of the people to peaceably assemble, and to petition the Government for a redress of grievances.”

    ’n Mens word maklik deur die TV gefool om te dink alle Amerikaners is soos die Hollywood-movies.

Ek is deur oumas en besorgde dorpenaars gewaarsku oor die nasie wat nie van water en brood leef nie maar van McDonalds en sensasie.

“We’re a consumer society”, meen my leftwing, alternatiewe Amerikaanse vriende oor hulleself terwyl hulle borde kos amper onaangeraak terugstuur in die restaurant en ek met my doggie-bag exit.

Meer soos ’n “disposable society”, stry ek. Niemand ry tweedehandse karre in die States as jy dit kan help nie, veral nie die wit, ryk meerderheid nie. Jy raak eenvoudig van jou ou een ontslae en koop ’n nuwe een. Hoe blinker hoe beter.

Alles in die States blink, het ek gedink toe ek so ’n paar maande terug van Kuba af terug gekom het na Washington DC. Skoon, oop sypaadjies, blink geboue, blink karre, ligte orals, selfs die bome en huise word met kersfeesliggies gedecorate en alles gloei.

’n Gloeiende stad van excess en te veel geld en te veel politiek — dit is die kosmopolitaanse stad van Washington in die District of Columbia.

Dit is ook ’n hartseer stad, so op sy eie manier. Nes jy dink jy raak geheg aan iemand is hulle alweer op pad iewers anders heen. “People come and go in the District,” het my een housemate aan my probeer verduidelik. (Ek bly mos nou lank genoeg in DC om ongeërg te verwys na “the District.”)

En dit is glo baie cool om in die District te bly, en nie in die voorstede van Maryland of Virginia nie. Maryland is vol geld. Virginia is vol geld en neig so effens rightwing.

Die District is jou tipiese smeltpot van kulture, en die inner city is arm.

Dit ’n stad waardeur almal beweeg: ambassadeurs en hul families, politieke partye, die homeless, immigrante, en toeriste. Die pas is vinnig, die idees baie, die mag voel jy in die talle vlae wat wapper.

Maar deesdae het Washington ’n karakterverwisseling ondergaan ná die liberale Clinton-administrasie stert tussen die bene hier weg is. Republikeine is nie ’n vreemde gesig in DC nie, maar Texans is wel, en nou sit ons mos met ’n mini-State of Texas binne DC se grense.

Dit is nou dat jy bumper stickers opmerk met slogans soos “Gun control is hitting your target.”

Die Conservatives het skielik die stad ingeneem.

Op die 20ste Januarie, tydens George W se Presidensiële Inhuldiging, was daar ewe skielik ’n hele klan van mense in un-pc fur-jasse en tipiese Texas hoede wat die reën getrotseer het om George W in sy blink limo te sien verbyry terwyl die flinke Secret Service-agente flink saamdraf.

Direk na sy inhuldigingplegtigheid het daar ’n parade plaasgevind — en was die parade nou éérs ’n klomp perde van ’n ander kleur.

Daar is veronderstel om marching bands en prosessies te wees wat elk van die 52 state verteenwoordig, maar die oorwegende indruk was Cowboy Boots.

My leftwing nouveau yuppievriende wil met geweld vreedsaam te protesteer. Asof hulle ’n geheim leef wat ons spul Suid-Afrikaners al vir jare mee wroeg, die “courage of conviction”. As jy ’n opinie het, lug dit luid, al is dit ook ’n kontroversiële opinie soos die Ku Klux Klanners s’n?

* * * *

Daar het onlangs ’n konserwatiewe event afgeskop wat alle soort verregses, progunners, mense teen homoseksualiteit en filantropiese watchdogs laat saamtrek het in die meer konserwatiewe Virginia-suburbs.

Die Happening was genaamd die Conservatice Polication Action Conference. Dit was ’n baie interessante saamtrek van konserwatiewes van regoor die VSA. Daar was verskeie jong studente en skoolkinders met ongelooflike selfvertroue wat spesiaal ingevlieg het vir die event.

Dit was opmerklik — in Amerika is selfs die nerds trots daarop om nerds te wees. Kantpaadjies met koeilek-kuiwe en stewige handdrukke was aan die orde van die dag.

Die rede hoekom ek die event bygewoon het, is dat ene dr. Mangosuthu Buthelezi ’n outydse geweer ontvang het as ’n huldeblyk van die American Conservative Union, so natuurlik was dit ’n goeie mediastorie. ’n Nuwe prys, genaamd die Charlton Heston Courage Under Fire Award is deur die einste Heston aan die Chief oorhandig. (Heston is die Oscar-wenner van Ben Hur en die Ten Commandments, en deesdae verkondig hy wyd en syd sy uiters konserwatiewe, soms seksistiese, soms rassistiese idees.) Dr. Buthelezi het die moviese geweer ontvang vir sy non-violent bydrae tot Suid-Afrika se armed struggle.

Ek vermoed dit is ietwat ironies om ’n geweer te ontvang vir “passive resistance”.

Boonop is ene Heston deesdae die president van die National Rifle Assocation (NRA), en hulle is die ouens wat die Second Amendment van die Constitution of the United States of America vir jou kan opsê:

    “A well regulated Militia, being necessary to the security of a free state, the right of the people to keep and bear Arms, shall not be infringed.”

Ten spyte van die feit dat die koerante in die South elke week vol is van opskrifte oor mense wat per ongeluk in jag-ekspedisies in voorstedelike woonbuurtes doodgeskiet word omdat hulle vir deer aangesien word, is Heston en fellows gekant teen enige vorm van kontrole, registrasie of lisensiëring.

So daar staan Heston toe met die musket triomfantelik bokant sy kop gelig in ’n saluut, en oorhandig dit aan dr. Buthelezi. ’n Grote oomblik.

Die oomblik was dalk Net Te Groot vir die Chief, want hy neem toe sommer sy eie initiatief.

Na afloop van sy toespraak, wat definitief vir investors wortels uitgehou het omdat hy pro-vryemark en -privatisering en -federalisme gebaseer op die US-model is, vra die Chief toe al die Suid-Afrikaners in die gehoor om op te staan.

Ons was ’n somtotaal van ses. Mediakorrespondente van SA, ek natuurlik op daardie moment reg voor die verhogie aan die Chief se voete met my kamera, plus ’n verteenwoordiger of twee van die Ambassade. Daarop trek Mr Buthelezi los met ’n roerende weergawe van Nkosi Sikelel’, en al ons Suid-Afrikaners brom so saam-saam.

Aangesien ek voor die verhoog staan, is dit toe My Duet Saam Met die Chief.

Ek word toe skoon sentimenteel en homesick en Buthelezi raak heel rooi en emosioneel omdat ons ons lied sing voor al die fur-jasse van die Conservative Political Action Conference en dit is natuurlik ’n baie patriotiese ding om te doen voor ’n klomp patriotte?

Hy sing toe die Lang Original Weergawe — waarvan ek net een reël nie geken het nie — so ek bly moedig saamsing terwyl die ander Suid-Afrikaners hoorbaar uitsak.

En net toe ek dink die Duet is verby, toe trek dr Buthelezi weg met die oorspronklike weergawe van die Stem in Afrikaans. Net teen die einde het hy so ’n paar reëltjies nie heeltemal geken nie.

’n Vreemde oomblik, as ek daaraan dink, met die blink musket op die tafel en verskeie slogans oor “Trespassers will be shot. Survivors will be shot again.” en cracks oor ex-president Clinton en die deliverance wat George W gaan bring vir die nation of the free and the brave.

Dit was vreemd om “Ons vir jou Suid-Afrika” en “Nkosi Sikelel’ iAfrika” te hoor in die groot, luukse konferensiekamer tussen die lelieblanke gehoor waar ’n paar honderd Rednecks (soos die liberale Amerikaners na hul meer konserwatiewe counterparts verwys) waarskynlik dink Suid-Afrika is Afrika en ons ry op olifante rond.

Die joernalistekorps het agterna talle grappies gemaak oor Buthelezi se “courage” om sommer so weg te val met ’n solo oor die mikrofoon en ’n paar verdwaalde Suid-Afrikaners wat die grootse leier volg. Ek weet ek kon my stem hoor klim, hoog bokant die dak uit en Huis toe, reguit terug na grootse oomblikke van Nkosi soos die 95 World Cup en die klein TV’tjie in ons sitkamer in Kuilsrivier met ons eerste demokratiese grootse president op die TV wat sing met sy hand voor sy bors. Ek het my bene voel bewe, omdat ek dit met soveel drif wou saamsing en dit vir myself wou proklameer, ’n patriot tussen die patriotte? Maar ek het altyd daardie knaende gevoel wat byt, dat Nkosi nie regtig myne is nie. En dat ek die Stem nie met soveel volume wou sing nie, maar so ietwat stert tussen die bene soos ’n liberaal wat uit DC uitsluip om ’n nuwe lewe in ’n Demokratiese staat te gaan begin.

In die lig van al my “politieke gevoelens” — die twee terme op sigself soos kontradiksies — was my reaksie vanoggend op die e-mailtjie dus heeltemal onverklaarbaar. Dit was ’n akute aanval, soos die tipiese Sondagmiddag-blues wat jou lam laat en jou oë laat brand elke kort-kort. ’n Suid-Afrikaner stuur aan my baas ’n e-mail, verheug en oorstelp: “I got my green card. I am free. I am free.” Ex-Suid-Afrikaner dus.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.