Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kytie Koekblik besoek Kuba

Ek het wakker geword in Kuba, maar ek kon net sowel enige plek in die wêreld gewees het. Dag een van Projek Kuba.

Ek was in ’n toeriste-oord wat deur die regering bestuur word, met CNN wat heelnag hardop in die kamer gepraat het, ’n sterk straal stortwater en ’n verniet ontbyt — cappuccino, die works.

Buite het die palmboompies gegloei teen die goddelike groenblou water, wat my aan daai Cancun / Peter Stuyvesant advertensies laat dink het. Maar ek was wel in Kuba. Toe ek my voete vroegoggend in die blou-blou water gaan natmaak, was daar weereens ’n skadu agter my, ’n orige sekuriteitswag wat my dophou en in vreemde tale oor sy radio praat.

Eerste indrukke is gewoonlik blywend.

Nie in Kuba nie. Kuba los jou met soveel deurmekaar gevoelens en botsende indrukke, dat jy nie regtig tot enige gevolgtrekkinge oor die klein landjie kan kom nie.

My eerste indrukke van Havana het gegrens aan afsku. Die straatjies van Havana is nou en donker teen die blou-blou lug. Die hele stad het so ’n grysbruin kleur, die kleur van vervalle geboue, bakstene en stof. Daarteen lyk die geboue wat in uitspattige kleure geverf is, desperaat.

Ons het in Havana ingery vanuit ons toeriste-oord daardie eerste Saterdagoggend. Nog ’n eerste indruk was die Revolusie Museum. Dit was soos ’n fliek. Daar was wagte op aandag in lang strepe in die een of ander militaristiese parade. Ek het my verbeel ek kon die vrees en Kommunisme voel.

Op elke straathoek kon ek manne in die blou uniforms sien. Onvriendelik, en alomteenwoordig. Ek het gevoel asof ek agtervolg word deur regeringsagente wat my enige oomblik sou voorkeer en ’n verklaring eis vir my notaboekie en nuuskierige vrae.

Daardie eerste dag in Havana was ek op ’n missie. Ek wou Kubane ontmoet. Ek wou weet wat in hulle koppe aangaan, of hulle gelukkig is, of hulle soveel anders as die kapitaliste is.

Maar eerstens moes ek besef dat die vervalle stad, Havana, ’n karakter van sy eie het. Aanvanklik het gedink dit is onmooooontlik om daar te lewe. Maar veral in Kuba kan ’n boek nie aan sy omslag beoordeel word nie.

Agter die vervalle ingange en vaal deure van die woonstelle en huisies in die Ou Havana is soms die ongelooflikste kamers en huise met pragtige courtyards, marmertrappe en hoë, versierde plafonne. In elke kleine huisie of kamertjie praat die TV heeldag, of musiek speel tot laatnag.

Kitsch poppies, plastiekblomme, kleurvolle ornamente — dit is Big Time in elke huis in Kuba.

Na ons in ons Casa Particular (private huis) ingeboek het, het ons die strate van Havana ingevaar.

Daar was nie ’n enkele robot of geverfde lyn in die Ou Havana of Centro Havana nie. Riksjas, scooters, fietse, waentjies, motorfietse en ou karre het die wêreld vol gery soos hulle wil.

Ek dink ek het soos ’n slaapwandelaar rondgeloop. Indrukke wou nie sin maak nie.

Meubels wat opgehys word in hoë geboue in met toue; emmers vol water of kos wat opgehys word; kinders wat volleyball of albasters speel in die strate; ou mans met voosgevatte sigare; vrouens wat klets; bure wat kaart speel — die Lewe van Havana het my stom gehad.

Almal was vriendelik, en wou met ons gesels. Natuurlik was my Spaans beperk tot “Hola” en “No Entiendo” (Ek verstaan nie.)

Ek het foto’s geneem asof my lewe daarvan afhang, want ek wou elke indruk vir ewig in my geheue ingraveer. Die groentemarkie met die trae, verwelkte groente en vrugte; die uitbundige gepraat en gelag van die mense;soms moeë, deurleefde gesigte; die gedurige gebedel om ’n dollar; of iemand wat sigare op special aanbied — daar was te veel indrukke vir my breintjie. Ons was op ’n straathoek toe ’n ou man skielik roep: “Do you want to change your country for mine?”

Sy vraag het my daardie hele dag gepla. Die ou man kon Engels, Spaans, Portugees en Italiaans praat. Sy broer was glo ’n dokter in Suid-Afrika. Hoekom wil jy nie hier bly nie, wou ek weet (versigtig, omdat ek gehoor het Kubane kan gearresteer word as hulle die regering kritiseer).

“We work very hard for very little money. Cuba has her problems,” het die ou man gesê.

Waar kan ek jou kontak om later met jou te gesels, het ek aan die ou man met die groewe op sy gesig gevra.

“Here on this corner, you can always find me here.”

Dit is hoe ek Havana leer ken het. Die tyd verloop stadig, alhoewel die lewe die stad nooit verlaat nie. As jy ’n paar maal deur die straatjies van Centro Havana geloop het, herken jy die locals — So-en-so op daardie hoek; die kinders wat dans in die strate; die eienaar van die gat-in-die-muur private besigheid wat pizza of bier of roomys verkoop. ’n Lewe van min hê en baie leef. Daar is iets ongelooflik hartseer en ongelooflik aanloklik omtrent daardie lewe van oorgawe. Elke dag bring sy dinge, en jy leef net eenmaal, het ’n Kubaan vir my verduidelik. Daardie eerste dag het ek so geleeeeef, hart en siel op my mou, vir almal om te sien. Ek was hartseer en ek was bly, tegelyk, heeltyd.

Ek was verward.

Die man op straat in Kuba het ’n opinie, en is opgevoed. Ek kon sien hoekom Castro se free education vrugte afwerp. Ek het ’n swart Rastafarian ontmoet, en die interaksie tussen ons was onmiddellik ongelooflik vry — in Kuba se klaslose en kleurlose samelewing is alle interaksie tussen kulture en kleure vry. Almal kry immers dieselfde salarisse en opvoeding, en is daarom in alle opsigte gelyk.

“I love Cuba, I love the people, the country, the music, I don’t like the government,” het hy gesê.

Ek en die Rastafarian is na ’n jazz club toe, die mees bekende jazz bar in Havana. Die Kubaan was nog nooit daarbinne gewees nie. Bittermin Kubane kan dit bekostig in ’n land waar die dollar praat en die toeriste betaal.

Weereens het ek daardie gemengde gevoelens ervaar: tegelykertyd haat en onmag enersyds, en jaloesie oor wat ek as ’n ongekompliseerde lewe wou sien.

Daardie eerste dag het my niks nader aan enige antwoorde gebring nie. Ek wou terug Verenigde State toe, na my gemaksone, waar ek nie nodig het om antwoorde te soek nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.